USAN-kongres 2014: Suzanne Potgieter

  • 0

1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?

Dit was ’n waardevolle leerskool om te sien hoe jonger navorsers van verskillende universiteite se navorsing daar uitsien en wat op die oomblik gedoen word mbt taalnavorsing.

2. ’n Kongres vir jong navorsers was geskiedkundig binne die Suid-Afrikaanse konteks, soos Louise Viljoen in haar verwelkoming en Johan Hattingh in sy opening gesê het. Wat beteken dit vir jou om ’n “jong navorser” genoem te word?

Die benaming “jong navorser” dui bloot vir my daarop dat dit iemand is aan die begin van hulle navorsingsloopbaan en dit hoef nie noodwendig met letterlike ouderdom gepaard te gaan nie. Verskeie navorsers begin ook eers op ’n latere stadium navorsing doen.

3. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?

Referate oor die letterkunde, spesifiek oor die eudaimoniese wending in Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper, asook Amid se referaat oor Deon Meyer se misdaadfiksie en konvensies rondom dié genre.

4. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?

Ek was bevoorreg dat my twee mentorsfigure, Louise Viljoen en Ronel Foster (beide van die Universiteit Stellenbosch), teenwoordig was en besonder interessante vrae rakende my en ander kongresgangers se referate geopper het.

5.  Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?

“Intellektuele genot” is natuurlik een van die hoofredes vir navorsing – jy doen immers navorsing oor dit wat jy interessant vind. Verdere oorwegings vir navorsing is dat dit ’n vereiste vir ’n beroep in die akademie is. Laastens doen ek navorsing om ’n bydrae te lewer oor veral die aktuele diskoerse rondom trauma (mbt my MA-studie) en geweld (mbt my PhD-studie) in die Afrikaanse letterkunde.

6. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?

Taligheid, spesifiek Afrikaans as taal, is my studiegebied. Tale kan beslis grense oorskry en kommunikasie (veral ten opsigte van die uitruil van idees) tussen verskillende groepe moontlik maak, en hier moet daar besonder klem gelê word op die rol van vertaling, asook die waardevolle diens wat tolke van die US tydens die kongres gelewer het.

7. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses minute op te som. Nog moeiliker, kan jy probeer om dit in ses sinne te doen?

My navorsing, en spesifiek hierdie referaat, gaan oor Johan Galtung se konsep van “strukturele geweld” in die Afrikaanse skrywer John Miles se oeuvre. In die referaat wil ek aantoon dat die grense tussen mag en geweld in die tekste van John Miles, spesifiek in Donderdag of Woensdag,vervaag. Mag gee aanleiding tot geweld, hetsy in die stryd daarteen of om bestaande mag (met geweld) te probeer behou. Hierdie teks beeld Heinrich Popitz (1992:48) se beskouing van geweld uit: “Violence is power in action.” Om in opstand teen onderdrukkende magstrukture te kom, wend die slagoffers van geweld hulle dikwels ook tot geweld. So ontstaan ’n geweldskringloop waaruit die individu of groep moeilik kan ontsnap.
 

Lees die ander USAN-navorsers se indrukke.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top