Suzanne-Louise Bezuidenhout is in 1983 in Bloemfontein gebore. Na haar skoolloopbaan aan die Oranje Meisieskool behaal sy in 2004 die graad BA (Taal en Kultuur) aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2005 behaal sy ’n BA (Hons) (Afrikaans en Nederlands) cum laude.
Sy behaal in 2009 haar MA-graad (cum laude) in Afrikaanse letterkunde oor die werk van HJ Pieterse. Sy fokus veral in haar navorsing op die verwerking van trauma deur narratiewe terapie. Tans is sy besig met ’n PhD-studie oor die manifestasie van geweld in John Miles se oeuvre. Sedert 2005 verskyn haar poësie gereeld in die Stellenbosse studentebundel Penseel. In 2008 word van haar gedigte in die Versindaba-bundel gepubliseer.
Sy is betrokke by die Departement Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch waar sy Afrikaanse letterkunde-tutoriale en sedert 2008 die kursus Afrikaans in die Media aanbied. Naas Afrikaanse letterkunde het sy ’n passie vir Indië, Bret Easton Ellis-boeke en sou sy graag een van die vroue in ’n skildery van Gustav Klimt wou wees.