My ouma in kaneel
Margaret Bakkes
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:9780798151009
Prys: R145
“Niks en niemand verdwyn werklik uit jou lewe nie. Want daar is altyd die onthou” (Bakkes 2009:127). Dié aanhaling uit die bekende skrywer Margaret Bakkes se jeugverhaal My ouma in kaneel (eerste uitgawe 1986) dien as ’n samevatting van die tematiek in hierdie grootwordverhaal. Dit handel oor die hoofkarakter Magriet se herinneringe uit haar jeug in haar ontwikkeling tot volwassene. Hierdie ontwikkeling van meisie tot jong vrou gaan gepaard met die verlies van kinderlike onskuld deur ’n bewuswording van die tydelikheid van alle bestaan: die liefde, verhoudings, asook die lewe self. Uiteindelik kom Magriet tot die insig dat herinneringe, ten spyte van die verbygaande aard van alles, wel verlies kan temper, want deur onthou bly hierdie ervaringe en mense deel van jou lewe. Herinneringe word dus kosbare kleinode.
Bakkes is ’n produktiewe skrywer en het al meer as dertig boeke asook talle kort- en tydskrifverhale geskryf. Vir haar historiese roman Susanna die geliefde ontvang sy in 1989 die Helpmekaarprys vir ontspanningslektuur. Die skrywer Hennie Aucamp is haar kleinneef en twee van haar kinders, Johan en Christaan Bakkes, is ook skrywers – daar is dus nie ’n gebrek aan skryftalent in dié familie nie.
My ouma in kaneel is in 1986 gepubliseer en kan beskou word as ’n outobiografiese vertelling van Bakkes se herinneringe aan haar eie grootwordjare. Van Zyl (1986:10) beskryf dié verhaal as “lewende herinneringe aan grootword”. Die leser sal dit prikkelend vind om in My ouma in kaneel talle outobiografiese merkers te vind wat herlei kan word na Bakkes sélf, met verwysing na die naamsooreenkomste tussen karakter en skrywer, ruimtelike ooreenkomste met betrekking tot die Sterkstroom-omgewing asook die destydse Transvaal, skoolopleiding, ’n liefde vir letterkunde en lees, en selfs ’n verwysing na haar kleinneef “Hennie” (Hennie Aucamp) en hulle besluit “om eendag stories te skryf” (115). Bakkes noem aan Elize Botha (2005:2) dat daar nog altyd in haar werk die onderbou van herinnering was, hetsy aan haar eie ervarings of aan dié van ander wat aan haar oorvertel is of wat sy nagevors het.
Dit is egter nie noodsaaklik vir lesers om met Bakkes se persoonlike geskiedenis vertroud te wees om Magriet se verhaal te waardeer nie. My ouma in kaneel is ’n universele verhaal wat die ontwikkelingsgang en verandering van kind tot volwassene karteer. Bakkes beeld hierdie verandering en die kompleksiteite wat daarmee gepaard gaan, op ’n boeiende wyse deur die loop van 12 hoofstukke uit. Magriet se storie en hoe sy dit onthou, word uiteindelik ’n katalisator wat die leser noop om ook sy of haar eie grootwordverhaal weer in herinnering te roep.
Met verwysing na die titel My ouma in kaneel word dit duidelik dat geure en reuke ’n rol kan speel in die oproep van herinneringe. Dié titel verwys intertekstueel na die bekende gedig “Sproeireën” deur DJ Opperman (in Brink 2008:277):
My nooi is in ’n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ’n vrou in elke geur!
As ek ’n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met nartjies om my heen
weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.
O my nooi is in ’n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ’n vrou in elke geur!
Die spreker in Opperman se gedig koppel sekere geure aan vroue, onder andere aan die beminde en die ouma. Terselfdertyd neem die reuk van die nartjieskil se “sproeireën” hom terug na ’n spesifieke tyd en ruimte. Geure soos Stella-olie, Tokalonroom en die reuk van ’n kerspit herinner Magriet ook aan haar ouma (9). Dit is dié vertroude, vertroostende reuke wat Magriet werklik tuis laat voel, “die bekende geure van die tuin en van die huis en van haar ouma se lyf [wat] haar verseker dat sy terug is, by mense en op die plek waar sy die heel graagste wil wees” (42).
In hoofstuk een sê die verteller dat “Magriet se storie begin saam met Magriet se onthou” (5). Dié onthou loop terug tot waar Magriet en haar ouers gedurende die Groot Depressie van die plaas in die Oos-Kaap na Transvaal trek en haar geliefde ouma, “Ouma Plaas” (7), agterlaat. Magriet en haar ouma het ’n besonder hegte band: haar ma sê onder andere dat Magriet van al die kleinkinders die naaste aan haar ouma se hart is (9). Die band tussen ouma en kleindogter word verder beklemtoon deur Magriet se gevoelens van veiligheid en geborgenheid by haar ouma as sy byvoorbeeld saans knus agter haar rug gaan inkruip het: “Agter ouma se rug sou selfs die dood haar nie kry nie” (9). Dit is dus te verstane dat Magriet baie hartseer is wanneer hulle van die vertroude plaasruimte moet trek na die “verre Transvaal” wat uit haar kinderlike perspektief vir Magriet klink soos “’n ander land” (12). Die benaming “Ouma Plaas” dui reeds vir die leser die nou verband aan wat Magriet tussen twee van die belangrikste elemente uit haar jeug lê, naamlik die liefde vir haar ouma en vir die plaas as bykans idilliese ruimte, soos afgelei kan word uit die volgende reëls: “Want nie alleen was haar ouma van die eerste onthou af die wonderlikste mens in haar lewe nie, maar op die plaas het daar ook die wonderlikste dinge met haar gebeur” (42).
Ook Magriet se ma speel ’n prominente rol in haar lewe. Sy sê byvoorbeeld voor haar “onthou” van gebeure is dit as gevolg van die stories wat haar ma vertel het dat sy dinge geweet het (5). Die stories van haar ma verskil egter van die “oumensstories” (9) wat haar ouma vertel oor voorbodes en spoke en dat sy, Magriet, met die helm gebore is.
In teenstelling met Magriet se liefde vir haar ouma, blyk dit dat daar konflik in die verhouding tussen haar ma en haar ouma bestaan. Haar ma is baie gelukkiger wanneer sy byvoorbeeld in Pretoria en nie op die plaas is nie, terwyl die plaas die plek is waar Magriet die graagste wil wees, juis omdat haar ouma daar is. Die konflik tussen skoondogter en skoonma word veral duidelik wanneer die gesin, as Magriet 11 jaar oud is, moet terugtrek plaas toe omdat haar oupa oorlede is. Magriet se ma sê aan haar pa dat dit onmoontlik is om saam met sy ma in dieselfde huis te bly (71). Die spanning tussen Magriet se ma en ouma lei ook tot konflik in die verhouding tussen haar ouers. Haar ma sê op ’n dag moedeloos aan haar pa: “Jou ma se eie kind” (41) met betrekking tot sy gebrek aan geduld en dat hy nie kan verdra as iemand hom teëgaan nie.
Dit mag vir die leser moeilik wees om die beeld wat Magriet van haar ouma het, te versoen met die beeld wat haar ma van dié ouma het. Lei Magriet se kinderlike onskuld dalk tot ’n té geïdealiseerde en rooskleurige beeld van Ouma Plaas? As gevolg van die grootwordproses begin Magriet egter anders kyk na gebeure en mense rondom haar. Met hulle terugkeer na die plaas besef Magriet dat haar ouma verander het: “Die bekende ouma het verdwyn en in haar plek was iemand wat Magriet nie geken het of kon begryp nie” (74).
Op die vraag aan haar ma of haar oupa se dood gelei het tot die verandering in haar ouma, antwoord haar ma: “Nee, my kind, eintlik was sy maar altyd so” (74). Hier besef die leser dat die moontlikheid bestaan dat Magriet se geliefde ouma nie verander het nie, maar dat Magriet anders begin kyk.
In die loop van die verhaal is daar ook ander gebeure wat die jong Magriet ontnugter. Sy word gekonfronteer deur die dood en verlies. Die dood van haar vriendin Lea aan meningitis het ’n groot impak op haar. Die gebeurtenis laat haar vir die eerste keer werklik besin oor verganklikheid. Bakkes beskryf hierdie kennismaking met die dood op ’n besonder oortuigende wyse vanuit die perspektief van die jong kind: “Dood was so doodstil. Jy roer of loop of eet nie meer nie. En later ruik iets wat dood is sleg. Soos die muisvoël wat sy opgetel het. En Lea was ook dood” (34). Die dood van ’n ander maat, Nohaitutu, verdiep dié verganklikheidsbesef: “Alles gaan verby. […] Deur al die jare en op al die plekke waar hulle was, het mense in haar lewe gekom en weer daaruit verdwyn, asof hulle nooit daar was nie” (102).
In Magriet se ontwikkeling van jong meisie tot vrou maak sy ook kennis met liefde, sowel as die verlies daarvan. Van Oubaas (die eerste kêrel wat haar gesoen het), wie se ouers verplaas is, tot Henk, wat universiteit toe moet gaan. Dit is egter die jong onderwyser Clive Fuller se woorde wat Magriet troos: “[D]aar is altyd die onthou” (128). Magriet besef dat solank sy die mense wat uit haar lewe weggegaan het, onthou, hulle nooit werklik sal verdwyn nie, omdat die herinneringe aan hulle blywend is – die herinneringe aan Lea, Nohaitutu, Oubaas, Henk en eindelik ook haar ouma.
My ouma in kaneel is ’n oortuigende beskrywing van die grootwordproses. Alhoewel dit ’n jeugverhaal is, sal ouer lesers ook aanklank kan vind by Magriet en haar ervarings op die pad na volwassenheid. Bowenal illustreer Bakkes in dié verhaal hoe blywend en kosbaar herinneringe is. Teenoor onvermydelike verlies en verganklikheid, word ons vermoë om te onthou die troos teen die vrees van vergeet.
Bronne
Brink, AP. 2008. Groot Verseboek. Tafelberg: Kaapstad
Botha, E. 2005. Die saampraat van herinnering. Beeld, 14 Desember, p 2.
Van Zyl, A. 1986. Herinneringe aan grootword lééf. Volksblad, 14 Junie, p 10.


Kommentaar
Absoluut pragtig.
Ek hoor iemand sing "my ouma in die meel". Kan dit reg wees?