Karoonag en ander verhale: Op die spoor van skop, skiet en speur

  • 0

Karoonag en ander verhale
Deon Meyer
Human & Rousseau 2009
R160
ISBN 9780798151177
 


Christopher Booker skryf in The Seven Basic Plots: Why we tell stories (2004: 505) dat ’n raaisel die spil is waarrondom ’n speurverhaal draai. Die protagonis moet dan hierdie raaisel oplos en sodoende wet en orde herstel. In sy kortverhaalbundel Karoonag en ander verhale neem die bobaas Afrikaanse spanningsverhaalskrywer Deon Meyer lesers op ’n reeks speurtogte om die een na die ander raaisel op te los. Die leser word as 't ware medespeurder. Saam met karakters soos Bennie Griessel (wat onder andere ook in Meyer se Feniks, Infanta en 13 Uur verskyn) en Lemmer (die hoofkarakter in Onsigbaar) volg die leser ’n spoor van skop, skiet en speur.

Op die buiteblad van Karoonag en ander verhale word Deon Meyer beskryf as “die gewildste spanningsverhaalskrywer in Afrikaans. In ’n genre wat gewoonlik as 'ligte' letterkunde beskou word, lewer Meyer nie net besonder vermaaklike werk nie, maar boeiende tekste van hoogstaande gehalte." In Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004 merk JC Kannemeyer ook op dat Meyer die standaard van die Afrikaanse speurroman tot ’n "vroeër ongekende peil" opstoot (2005:614).

Meyer se plaaslike en internasionale sukses getuig hiervan. Hy ontvang onder andere die ATKV-Prosaprys in 2001 (Orion), 2003 (Proteus) en 2005 (Infanta). Die vertaling van sy boeke in twintig tale (selfs in Bulgaars en Fins) lei daartoe dat die internasionale leserspubliek ook nou op die punte van hul stoele gehou word deur Meyer se spanningsverhale. Hy ontvang buitelandse toekennings vir die Franse vertalings van Feniks en Orion en in 2006 word die Duitse Misdaadfiksie-prys vir Proteus toegeken. Boonop skryf Meyer die televisiedraaiboeke van gewilde reekse soos Orion en Transito. Meyer-aanhangers kan reeds hulle tande in afwagting slyp vir die film Jakkalsdans,wat binnekort begin draai en waarvan Meyer die draaiboek geskryf het.

Intussen kan lesers egter ’n sewevoudige dosis spanning kry in Karoonag en ander verhale.

Die bundel bestaan uit ses kortverhale en een lang-kortverhaal, “Stiltetyd”; almal handel oor aktuele misdaadgebeure wat wissel van kapings tot moord. Die meeste van hierdie verhale is reeds voorheen in tydskrifte en koerante gepubliseer. “Stiltetyd” was byvoorbeeld ’n vervolgverhaal wat Meyer vir Die Burger geskryf het. Alhoewel die verhale nie almal nuut is nie, hoef lesers se belangstelling nie gedemp te word nie. Die verhale is almal spanningsbelaai, daar is verskeie onvoorspelbare kinkels, lesers “ontmoet” weer karakters wat in Meyer se ander romans gefigureer het, en die grootse bonus van hierdie bundel is die nawoord by elke verhaal. In die nawoorde tree Meyer in ’n gemoedelike gesprek met sy lesers om die oorsprong van ’n betrokke verhaal en die skryfproses daarvan te verduidelik. Twee nawoorde wat veral uitstaan, is die titelverhaal “Karoonag” s’n en die slotverhaal “Stiltetyd” s’n. Met betrekking tot die ontstaan van “Karoonag” vertel Meyer letterlik vir die leser die storie agter die storie én nog ’n storie binne dié storie (die komiese “Okkie Wiehahn se vark”). In die nawoord van “Stiltetyd” voer die hoofkarakter Johnnie October se vrou Pearlie ’n fiktiewe “onderhoud” oor die Kaap-Maleise geregte en disse wat sy met soveel passie in haar restaurant Kaapse Kos berei.  In hierdie verhaal, asook in die “onderhoud”, besef die leser weer eens dat een van Meyer se sterkste eienskappe as skrywer sy vermoë tot karakterisering is. Hy noem juis dat die skryf van dié onderhoud ook ’n goeie oefening in karakterisering vir hom was (246). Die leser kan as 't ware vir Pearlie in sy of haar geestesoog aan die werskaf sien agter pruttende potte waar sy met behendige hande van boeber tot sabanang berei.

Ook in die ander verhale val die karakterisering op. Meyer se karakters is selde eendimensioneel. Lemmer, Griessel, Dekker en veral Verruca is onder andere karakters wat nie net moet worstel met die oplos van raaiselagtige ontvoerings of moorde nie, hulle worstel ook met persoonlike swakhede en die foute in hul verlede. Die karakters word dus meer menslik uitgebeeld; daar is byvoorbeeld nie die stereotiepe uitbeelding van die speurder as superheld nie – inteendeel, die karakters word meer genuanseerd geskets, wat hulle geloofbaarheid versterk. Die uiterlike spanning tussen goed en kwaad trek onmiddellik die leser se aandag, maar dit is ook die innerlike spanning in die karakters wat die leser boei om verder te lees. Die vryskut-lyfwag Lemmer in die titelverhaal “Karoonag” worstel met die verwerking van gewelddadige gebeure in sy verlede asook om aanvaar te word in die Loxton-gemeenskap, waar hy hoop om ’n nuwe begin te maak. In “Die perfekte moord” maak die leser weer kennis met speurderkaptein Bennie Griessel wat moet stry teen “die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares” (39). “Die Nostradamus-dokument” se speursersant Fransman Dekker word verblind deur sy ambisie en sal “enigiets doen om te beskerm wat [hy] het” (61) om nie weer te verval in die armoede van Atlantis se plakkershutte nie. Dit is juis die feit dat hy enigiets sal doen om sy beroep én sy huwelik te beskerm wat een van die grootste struikelblokke vir hom word in dié verhaal. “Die skoen in Maria” is by uitstek ’n verhaal waarin die grens tussen goed en kwaad, en skuld en onskuld geproblematiseer word met verwysing na die “goeie” Italiaanse speurder Verruca se optrede. In die verhaal kom die leser uiteindelik agter dat daar veel meer ooreenkomste is tussen die speurder en die misdadiger op wie se spoor hy is.  

Meyer hou hoofsaaklik by die patroon van ’n manlike protagonis (meestal iemand in die polisiediens) wat gekonfronteer word met ’n misdaad en dit dan moet oplos te midde van verskeie struikelblokke om uiteindelik te sorg dat reg en geregtigheid geskied. In drie verhale, naamlik “Die Nostradamus-dokument”, “Die ontvoering van Leendert le Roux” en “Stiltetyd” tree die vroulike karakters wél sterker op die voorgrond met betrekking tot die oplos van die misdade. Dit kan egter steeds vir die leser voel of hierdie vroulike karakters slegs ondersteunende rolle speel ten opsigte van die manlike protagoniste in hulle pogings om die raaisels te ontrafel. In die verhaal “Die Nostradamus-dokument” werk Fransman Dekker saam met speurder Mbali Kaleni, sy “Zoeloe-nemesis” (73). Hulle staan lynreg teenoor mekaar wat speurtegnieke betref: sy is “metodies en stadig, streng volgens die boek” (57), waar Dekker meer instinktief en impulsief optree. Hierdie verskille tussen die twee karakters dra verder by tot die spanning wat in die verhaal geskep word. Kaptein Paul Els van die SAPD se Elektroniese Misdaadburo en Sarah le Roux, die ma van die ontvoerde Leendert le Roux, span saam om Sarah se seun betyds op te spoor en te red uit die kloue van die gewetenlose Yasin en sy trawante in “Die ontvoering van Leendert le Roux”. Dit is egter steeds die manlike protagonis, Els, wat as eintlike held uit die stryd tree. In die wetenskapfiksieverhaal “Stiltetyd” speel die karakter Nita wel ’n kardinale rol in die oplos van ’n reeks eienaardige misdade. Nita se vermoë om tyd letterlik te laat stilstaan in kombinasie met die ouer, ervare superintendent Johnnie October se meer tradisionele speurtegnieke maak van hulle ’n gedugte span. Terselfdertyd gee Nita ook aan October die geleentheid om hom weer te bewys en te laat geld as speurder ten spyte van die ontmoedigende gebeure in sy verlede. Hy gee aan die ander kant vir haar die vertroue om haar metafisiese talente te gebruik en te ontwikkel juis omdat hy tog glo: “Jy maak energie met jou denke, jy maak dinge los daarmee, jy laat goed gebeur” (168).

“Stiltetyd” is dan ook een van die boeiendste verhale in dié bundel van Meyer. Omdat dit ’n lang-kortverhaal is, lei dit die skrywer daartoe om meer in diepte te fokus op karakterisering en karakterontwikkeling. Tweedens word die tydmotief ’n sentrale aspek wat eenheid skep in die verhaal, asook ’n element wat ontgin word in die skep van spanning. Meyer noem self in die nawoord dat tyd ’n “wonderlike meganisme” is vir ’n spanningsverhaalskrywer (243). Deur die vertraging en versnelling van die tempo word die leser se aandag behou deur die wipplank-beweging tot die raaisel(s) finaal opgelos word. Boonop is dit interessant om te sien hoe Meyer die wetenskapfiksie-genre kombineer met dié van die speurverhaal. Hopelik sal lesers ook in die toekoms meer van dié eksperimentering in Meyer se werk sien.

In Karoonag en ander verhale bewys Deon Meyer dat hy in die bestek van ’n kortverhaal die leser met dieselfde intensiteit, aksie en spanning kan vermaak as in sy langer speurromans. Terwyl lesers op hete kole wag vir sy volgende speurroman, is dié kortverhaalbundel net die regte leesstof om die Sherlock Holmes, of dalk eerder die Bennie Griessel, in jou aan te wakker.

 

Bronne
Booker, C. 2004. The Seven Basic Plots: Why we tell stories. Londen: Continuum.
Kannemeyer, JC. 2005. Die Afrikaanse Literatuur 1652-2004. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top