Vreemdeling: ’n plofbare versameling kortverhale

  • 0


Titel: Vreemdeling: ’n Keur uit die kortverhale van Welma Odendaal
Skrywer: Welma Odendaal
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-5257-0
Prys: R160

Klik hier om Vreemdeling te koop by Kalahari.com.

Die Amerikaanse skrywer Paulo Bacigalupi merk die volgende op oor die impak wat ’n geslaagde kortverhaal kan hê: “Short fiction seems more targeted – hand grenades of ideas, if you will. When they work, they hit, they explode, and you never forget them.” Welma Odendaal se Vreemdeling (2011) getuig by uitstek hiervan – dit is ’n versameling treffende kortverhale wat die leser konfronteer, onthuts en bowenal bybly lank na die bundel neergelê word.

Hierdie keur van kortverhale karteer die ontwikkeling van haar oeuvre vanaf die publikasie van haar eerste bundel, Getuie vir die naaktes, in 1974, die omstrede Keerkring in 1977, wat destyds ook verbied is, en die daaropvolgende Verlate plekke in 1991 tot en met Landskap met diere in 2009. Francois Smith sê in die voorwoord van Vreemdeling dat een rede vir die samestelling van hierdie keur was om te toon “hoe ’n oeuvre reageer op tyd en plek”. Die ander rede is om lesers wat eers met die publikasie van Landskap met diere van Odendaal kennis geneem het, die geleentheid te bied om met haar vorige werk vertroud te raak en so die ontwikkeling na te speur, maar ook te laat begryp waarom Getuie vir die naaktes “as ’n trompop aanval op die Afrikaanse verhaaltradisie” beskou is.

Odendaal was inderdaad ook vir my ’n “vreemdeling”. My eerste kennismaking met ’n kortverhaal van dié skrywer was in my eerste jaar tydens ’n tutoriaalklas oor Afrikaanse prosa. Die verhaal wat op daardie snikhete somermiddag behandel is, was “Mamy Blue” (32) uit Getuie vir die naaktes. Die tutor het ietwat senuagtig aan die studente genoem dat die verhaal wat bespreek gaan word, “ontstellend” kan wees vir “sensitiewe” lesers. My aandag was onmiddellik geprikkel – ten eerste wou ek weet wat “ontstellend” omtrent die verhaal is en tweedens of ek moontlik ’n “sensitiewe” leser is, een van die mense wat “bysiende [en], so donners verkramp” is (“Baker”, 71).

“Mamy Blue” is ’n inisiasieverhaal wat handel oor ’n jong vrou se bewuswording van haar seksualiteit wat nie noodwendig strook met wat die samelewing as “normaal” beskou nie. Odendaal beeld die hoofkarakter se innerlike konflik en onsekerheid op ’n boeiende wyse uit. Reeds in hierdie verhaal val een van die tegnieke op wat Odendaal se oeuvre kenmerk, naamlik die aanwending van suggestie. Nêrens in die verhaal word eksplisiet genoem dat die hoofkarakter moontlik lesbies is nie, daar is bloot suggesties - kolletjies wat die leser self moet verbind om ’n beeld te vorm. Selfs dan noop hierdie verhaal, soos ook talle van haar ander verhale, die leser om wéér die verhaal te lees, op soek na verdere leidrade om vermoedens te bevestig.

In ’n verhaal soos “Mamy Blue” gaan dit oor die persoonlike ervaring van ’n vrou, spesifiek die seksuele ontwaking, maar die persoonlike is meermale verknoop aan die sosiopolitieke. Feministiese kwessies, magsverhoudings en marginalisering op grond van gender, ras en klas is aspekte wat in die verhale na vore tree. As daar gekyk word na die titel Getuie vir die naaktes, dui die woord “naak” op ’n tipe weerloosheid wat die karakters kenmerk. Die weerloosheid wat die ouderdom meebring, word uitgebeeld in verhale soos “Dambord” (11) en “By die Lido” (20). In “One for the sorrow” (24) is Alwyn die weerlose slagoffer van verlies wat onder andere verband hou met sy ras en onregverdige magsverhoudings; terwyl die vroulike liggaam as weerloos uitgebeeld word met betrekking tot gewelddadige seksuele aanslae in “Vir Lisa” (32). Deur die skryf van hierdie verhale tree Odendaal as 't ware as getuie op vir die magteloses en die weerloses.

Die tema van geweld, veral politieke geweld gedurende apartheid in Suid-Afrika, staan sentraal in die verhale uit Keerkring, wat in Vreemdeling opgeneem is. Die verhale “Vryheidsvegter” (61), “Baker” (71) en “Grens” (87) handel spesifiek oor die Grensoorlog en die geweld waaraan soldate blootgestel is, veral die emosionele verwonding waardeur hulle is. As betrokke skrywer skroom Odendaal nie om die onregverdigheid en wreedheid van dié oorlog aan die kaak te stel nie.

Die verhaal “Baker” (71) gaan oor ’n soldaat wat terugkeer van die Grens en weer sy jonger stiefbroer Raven sien wat intussen ook opgeroep is om te gaan veg. In die loop van die verhaal kom die leser agter watter trauma die hoofkarakter ervaar het en word die vrees geskep dat dieselfde lot of nóg erger op sy “kleinboet” wag. Die sensitiewe beskrywing van Raven se jeugdigheid en onskuld staan in skrille kontras met dit wat die leser vermoed hy as soldaat mee gekonfronteer gaan word: “Hy is Raven, my klein stiefboet. Hy is winteraande voor die kaggelvuur, hy is piepie-in-die-kooi, hy is stories in die vroegaand, hy is sapryp perskes wat droog op die sinkplaatdak, hy is bang vir die donker, hy is knopknieë en kakiebroek. Hy is twintig” (72). In die daaropvolgende verhaal, “Raven”, word sy “kleinboet” dan wel ’n slagoffer van die oorlog as hy een van sy kamerade probeer red en sy dood des te meer ontstellend is: “Ek was daar toe hulle sy slap, verskeurde liggaam uit die water haal. In die kant van sy kop was ’n wit skoongewaste gat so groot soos die vuis van ’n man” (91).

Veertien jaar na die verskyning van Keerkring, wat verbied is deur die destydse owerhede as gevolg van die woord “vryheidsvegter” (!), verskyn Verlate plekke. Waar die fokus in Keerkring onder andere was op die politieke ruimte in Suid-Afrika teen die agtergrond van die Grensoorlog, is daar nou ’n fokus op die private ruimte van die gesin en gesinsverhoudings – alhoewel selfs dié ruimte nie afgesonder van die groter Suid-Afrikaanse aktualiteit is nie. Smith sê immers in die voorwoord dat Odendaal se verhale gaan oor “die politieke implikasies van ’n alledaagse bestaan, die komplekse, haas onmerkbare vervlegting van die politieke en die persoonlike” (8).

In “Sara en die kinders” (110) gaan dit oor ’n bruin vrou wat as gevolg van ’n onregverdige politieke bestel as ’n huishulp vir ’n wit gesin gaan werk. Sara word die versorgster van die kinders, maar ook haar eie ouers as slagoffers van dié bestel. Die titel verwys nie net na die gesin se kinders vir wie sy werk nie, maar ook na haar jeugervaring van rasseklassifikasie en haar pynlike interaksie met ander kinders. Gevolglik kan daar afgelei word dat die geweldsfantasieë wat sy koester jeens die huisgesin se kinders (111), herlei kan word na haar traumatiese jeugervarings.

Slagofferskap speel verder ’n rol in van die ander verhale in Verlate plekke. In “Die wit Chevvie” (101) word die jong meisie Loerie ’n slagoffer van die manlik-gedomineerde wêreld waarvan sy deel wil wees, maar nie kan nie as gevolg van haar geslag. Reeds op ’n vroeë ouderdom maak sy kennis met die marginaliserende magsverhoudings in die samelewing. Die jong vrou Adrienne in “Die vierde dag” (138) word ’n dubbele slagoffer van geweld: eers as sy sien hoe haar vriend vermoor word en later, wanneer sy self ’n slagoffer van brutale seksuele geweld word. Dit is ironies, asook ontnugterend, dat dit juis die polisiekaptein is wat haar saak behartig wat haar verkrag. Die polisiekaptein is in ’n magsposisie en die vroulike slagoffer des te meer weerloos, as dit juis hý is wat veronderstel is om haar te beskerm. Die leser sal in die lees van Vreemdeling opmerk dat dit veral vroue en kinders is wat in Odendaal se verhale dikwels die slagoffers is.

Landskap met diere verskyn in 2009. In hierdie bundel is die postapartheid-aktualiteit in Suid-Afrika ’n sentrale gegewe. Die Suid-Afrikaanse verlede word teen die agtergrond van uiteenlopende plekke of ruimtes (van dorpe, voorstede, die ruimte van die huisgesin tot ’n reis per motor en trein) uitgebeeld. Diere maak “letterlik” hulle verskyning in verskeie verhale en meermale moet die simboliek van hul verskyning ook in gedagte gehou word wanneer die verhale gelees word, soos die likkewaan in “Vreemdeling” (161), die troetelkat Flenter in “Johannes gaan huis toe” (164) en die dooie koei en pasgebore kalfie in die titelverhaal (173). Die “verdierliking” van die mens word op ’n treffende wyse in “Uithaal en wys” (204) geskets. Die psigologiese gevolge van apartheid en geweld lei tot die polisieman se “transformasie” – hy word deur die samelewing as dierlik gesien deur sy gebruik van geweld. As hy deur sy terapeut aangesê word om ’n beeld van homself uit afvalstukke te maak, blyk haar onbegrip vir hom duidelik. Die beeld wat hy “uithaal en wys” lyk vir haar na ’n dier – ’n “ding”, maar vir hom is dit iets veel meer: “Kyk goed, sê hy, dis ’n man wat op sy knieë staan” (208).

Onbegrip tussen mense is ook ’n tema in “Goodwood” (184). Jakes en Clinton wat saam ’n boubesigheid bedryf, is nou “gelykes”, maar elk se verlede en jeugervaringe verskil steeds – Jakes wat in die vorige bedeling bevoordeel is teenoor Clinton by wie herinneringe oor “Casspirs en traanrook en die honde en die rubber bullets” (188) steeds spook. Jakes se onbegrip vir Clinton se verlede gedurende apartheid word in dié ironiese stelling in die slot van die verhaal uitgebeeld: “Dis maar hoe ons grootgeword het, verstaan” (189). Clinton was nie deel van die blanke bevoorregte “ons” nie, dus sal hy hom ook nie met Jakes se jeugbelewenis kan vereenselwig of dit kan verstaan nie.

In “Goodwood” maak Jakes die stelling: “[V]ir my lyk dit maar na dieselfde stront. Net andersom, verstaan?” (186). Dit is ook hierdie stelling wat in “Landskap met diere” (173) geëggo word. Die verhaal wissel in tyd tussen 1986 en 2007. Die hoofkarakter was ’n politieke aktivis gedurende die struggle, maar is in die hede ontnugter deur die gebrek aan werklike verandering en leë beloftes deur dié wat nou oor die mag beskik. Die koei is dood, maar die pasgebore kalf “begin gulsig suig” (183) – die magshebbers van ouds mag dood wees, maar die gulsigheid van die nuwe magshebbers is reeds aanwesig: “[S]onder agting en verweer is hulle almal eintlik een” (180).

Odendaal kan steeds as ’n betrokke skrywer beskou word, omdat sy nie huiwer om onregverdige magsverhoudings en die gevolge daarvan in die samelewing aan te spreek nie. Op die flapteks word dit duidelik gestel dat “goeie letterkunde per definisie gevaarlike letterkunde is”, en met die lees van Vreemdeling blyk dit dat Odendaal gevaarlik goed is in wat sy doen – elk van die verhale is plofbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top