1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?
Dit was die lekkerste en bes-georganiseerde kongres waarby ek nog betrokke was!
2. ’n Kongres vir jong navorsers was geskiedkundig binne die Suid-Afrikaanse konteks, soos Louise Viljoen in haar verwelkoming en Johan Hattingh in sy opening gesê het. Wat beteken dit vir jou om ’n “jong navorser” genoem te word?
Dit maak my opgewonde, want dit wys daar is ’n kennisname van nuweling-navorsers wat in ons breë rigting aan die werk is, ten spyte van die persepsie dat “vergrysing” en die stryd om oorlewing die primêre gesprek in taalverwante departemente vorm. Die “jong”-gedeelte dui gewoon op mense wat “jonk” is in terme van kongresdeelname.
3. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?
Ja, daar was heelwat geleentheid vir sulke gesprekke en lekker baie besprekingstyd tussen die meeste referate. Uit die aard van my eie werk het die vertaling-verwante referate my spesifiek geïnteresseer (en hierby sluit ek die breë begrip vertaling in soos dit deesdae oor dissiplines heen toegepas word, om ook daarmee te verwys na goed soos film- en TV-verwerkings, die vertel van ’n storie soos dié van Pieternella van Meerhoff deur verskillende skrywers, ensovoorts). Eintlik was die meeste van die referate op die program baie interessant. ’n Mens het telkens gevoel jy wil gelyk in die twee lokale kan sit! Ek onthou spesifiek Alettie van den Heever se uitmuntende referaat oor die heterotopie by Lauren Beukes (dit was soos om ’n begaafde chirurg te sien insny, verdeel, bestudeer en toewerk), en Zanette Meintjies en Adéle Jordaan se navorsing oor ons groot besorgdheid: die uiters gebrekkige akademiese geletterdheid waarmee ons eerstejaars op universiteit aankom. Ek was ook opgewonde oor referate oor twee van my gunstelingboeke: Die sneeuslaper en Die boek van toeval en toeverlaat – fassinerende navorsing oor Afrikaans se ryke versameling variëteite en die ontwikkeling van die taal, oor die taal se soepelheid en beweging, insiggewende beskouings van die ruimtes waarin ons leef en van hoe tussen hulle beweeg word, belangrike werk oor minderheidstale, verhelderende referate oor die poësie, oor (moeder)taalonderrig ...
4. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?
Ja, beslis, hoewel ek “gryser” hier sal sien as die omgekeerde van hoe ek “jong” hier bo beskryf het. Louise Viljoen verdien spesifiek ’n bedanking vir die waardevolle kommentaar en vrae wat sy by talle uiteenlopende referate bygedra het. Dit was ook opsigtelik hoeveel van die Departement se dosente die sessies kom bywoon het, tot die heel laastes op die program. Dit stel ’n voorbeeld wat gerus by ander kongresse nagevolg kan word.
5. Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?
Ek doen my navorsing in die eerste plek definitief omdat dit vir my lekker is om te probeer om ons vakgebied in die breë beter te leer ken en omdat daar betreklik min werk oor my onderwerp gedoen is, veral in Afrikaans. Ek is in die bevoorregte posisie om my “day job” in ’n akademiese departement te hê waar navorsing nie net aangemoedig nie, maar weliswaar vereis word, dus is my akademiese navorsing deel van my werk en dit voed ook my doseerwerk. Maar daardie passie waarna prof Hattingh verwys het, is steeds die hoofrede waarom ek my navorsing doen – ek kan nie anders nie.
6. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?
Ek dink “taligheid” en die bestudering daarvan is ’n lewenswyse. Om oor taligheid te wonder, is om te wonder oor wie ons is en waarmee ons besig is, want ons doen wat ons doen deur taal, van watter aard ook al. Oor die oorsteek van grense en die opening van diskoerse: wanneer referate oor enigiets van taalonderrig, letterkunde, taalkunde, vertaling, taalvariëteite, films, TV-reekse, digbundels, woordeboeke, romans en kurrikulums tot by minderheidstale op een kongres klink en so goed deur mekaar se sprekers bygewoon word, spreek dit seker vanself dat hier lonende ontsluiting en interaksie plaasgevind het. Dit word, terloops, ook nogal duidelik dat die opvatting van “letterkunde” en “taalkunde” as twee totaal afsonderlike dinge uitgedien is.
7. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses sinne op te som. Kan jy dit probeer doen?
Sheila Cussons is een van ons grootste digters. Sy het ook van haar eie gedigte in Engels vertaal. As vertaalstudent wil ek uitvind hoe sy dit gedoen het, want baie mense dink poësie kan nie vertaal word nie, al word daar betreklik lank al daaroor geteoretiseer. Ek het dus Cussons se gedigte aan die hand van een van die vertaalteorieë vir poësie ontleed. Dit lyk asof sy fokus op die behoud van haar Afrikaanse gedigte se woordbetekenisse eerder as op ander poëtiese elemente soos metrum of rym. Dit beklemtoon ook die waarneming dat geen enkele teorie alle moontlike vertaalbesluite kan omvat nie.

