USAN-kongres 2014: Marike van der Watt

  • 0

1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?

Die kongres was goed georganiseerd en het ’n wye spektrum onderwerpe gedek - dit was baie interessant om te hoor waarmee ander (jong) navorsers besig is/was.

2. ’n Kongres vir jong navorsers was geskiedkundig binne die Suid-Afrikaanse konteks, soos Louise Viljoen in haar verwelkoming en Johan Hattingh in sy opening gesê het. Wat beteken dit vir jou om ’n “jong navorser” genoem te word?

Ek voel skielik baie jonger (ek het ná drie kinders weer begin studeer om te sien of daar darem nog breinselle oorgebly het)! En ek het besef daar is inderdaad meer geleenthede as wat ek gedink het. Dit hang van myself af of ek dit gaan aangryp of nie.

3. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?

Tydens die teepouses of middagete was daar genoeg tyd om oor die voorafgaande sessie te gesels. Daar was heelwat referate wat tot my gespreek het: Barbara Burger (US) oor Jeanne Goosen se Louoond, Nadine Hamman (NWU) oor Pieter Boskma se Doodsbloei, Janien Linde (UJ) oor die eudaimoniese wending en Marlene van Niekerk se Sneeuslaper, Lelanie de Roubaix (US) oor vertaling en migrasie in André Brink se werk, en Franci Vosloo (US) se referaat oor Antjie Krog en vertaling.

4. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?

Beslis – dit was baie inspirerend om op hierdie vlak kontak te maak met mense soos Joan Hambidge, Rufus Gouws en Louise Viljoen. Dis bevrydend om te hoor dat iemand soos DJ Opperman gevrees het dat sy werk as “onoorspronklik” beoordeel (geoordeel?) kon word – dit bied in ’n sekere sin troos vir ’n mens se eie vrese. Prof Gouws se entoesiasme vir sy vakgebied is aansteeklik, terwyl hy ook die belangrikheid van die wisselwerking tussen teorie en praktyk op ’n baie interessante wyse kon illustreer (iets wat in my eie navorsing ’n belangrike kwessie is). Die kongres het dan ook ’n veilige omgewing gebied om jou navorsing met hierdie gesoute navorsers te deel.

5.  Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?

As iemand wat ’n loopbaan in die finansiële sektor die rug gekeer het, kan ek my nogal vereenselwig met navorsing as “intellektuele genot” – ek het my navorsing uiters verrykend gevind, meer as wat ’n goeie salaris my sou kon bevredig. Natuurlik wil ’n mens graag hê dat jou navorsing ’n impak op die wêreld daar buite maak – in my geval sou ek graag wou sien dat opgeleide vertalers hoër agting geniet (enigiemand wat tweetalig is of wat selfs ’n graad in tale verwerf het, kan net so min ’n vernuftige vertaler wees as wat iemand wat rekeningkunde in matriek geslaag het, die finansiële bestuurder van ’n maatskappy kan wees – selfs met jare se ondervinding, wil ek my verstout om te sê). ’n Teoretiese basis is vir my onontbeerlik vir die vertalersberoep. Ek hoop dan om nou my kennis in die praktyk te gaan toepas, en oorweeg ook verdere studie in dié rigting.

6. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?

Taal beteken om ’n stem te hê – en hoe beter ’n mens taal kan aanwend, hoe groter is jou stem. Die kongres het my “woordeskat” uitgebrei, nuwe rigtings ontsluit waarheen ek later weer wil terugkeer.

7. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses minute op te som. Nog moeiliker, kan jy probeer om dit in ses sinne te doen?

Ek wou hê my kinders moes die hele Narnia in hulle moedertaal geniet, sonder dat ek (of my man) die laaste drie boeke in die reeks, naamlik The Voyage of the Dawn Treader, The Silver Chair en The Last Battle,sommer so in die lees moet vertaal (ek het groot agting vir tolke – my vertaalvermoë is nie naastenby so vinnig soos hulle s’n nie, en boonop is ek ook nie so kreatief op my voete soos ’n sekere tolk wat onlangs berugtheid verwerf het nie). Human & Rousseau het aangedui dat hulle nie verdere vertalings van die reeks oorweeg nie, en dit word toe ’n wonderlike onderwerp vir my tesis. My studie het dus hoofsaaklik gefokus op die praktiese vertaling en annotering van ’n gedeelte van Voyage, wat ek vertaal het as Die Vaart van die Dagbreekdanser, binne die teoretiese raamwerk van Vermeer en Nord se funksionalisme, Toury en Chesterman se vertaalnorme uit deskriptiewe vertaalstudies, Venuti se vervreemding en domestikering, en Klingberg se kulturele konteksaanpassing. Weens die tydsbeperking van die referaat het ek slegs die kulturele aspekte van die vertaalproses bespreek, asook ’n paar voorbeelde van my vertaalkeuses ter illustrasie van die praktiese toepassing van die teorie.
 

Lees die ander USAN-navorsers se indrukke.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top