Bertie Coetzee van De Plate Kompanjie is die koördineerder van die musiekprogram vir 2013 se US Woordfees. Hy vertel meer oor wat feesgangers te wagte kan wees.
Goeiedag, Bertie. Hoe vorder die voorbereiding vir die US Woordfees?
Die voorbereidings gaan baie goed. Aangesien die program al lankal gefinaliseer is, is dit nou al die logistieke, infrastruktuur en admin wat gebeur.
Die musiekprogram is ongelooflik divers. Watter inslag moet ’n mens hê om so ’n program saam te stel en wat was jou mikpunte in hierdie opsig?
Die program is inderdaad divers. Ons as DPK se inslag was nog altyd om dinge uniek en vars te doen, en die Woordfees is ’n briljante platform daarvoor, omdat die feesgangers net so divers is en almal oop is vir interessante kombinasies en genres. Die mikpunt vir ons, die Woordfees en Sanlam is dus om iets vir almal te hê, maar die iets moet iets nuuts wees.
Hoe verskil vanjaar se program van dié van vorige jare? Met ander woorde, watter nuwe elemente is daar en wat het agterweë gebly?
Die program verskil meestal van verlede jaar in die kunstenaars wat optree: daar is baie nuwe gesigte en/of nuwe produksies. Die meeste venues is dieselfde, maar daar is kos en wyn by die meeste musiekvenues vanjaar. Die Straatfees is geabsorbeer deur Neethlingshof, wat vanjaar elke aand ’n vertoning of produksie het.
Die tema vir vanjaar se US Woordfees is “Hemels”. Hoe skakel die musiekprogram hierby in?
Musiek is hemels, en blues, veral, is hemels!
Na watter items of elemente op die musiekprogram sien jy self die meeste uit?
Ek kan nie eintlik uitsonder nie, maar die Drostdy-Hof blues sessions by De Vette Mossel gaan definitief elke aand die dag se program mooi afsluit. En Jimmy Dludlu, wat saam met Jan Blohm optree by Neethlingshof, gaan iets besonders wees. (Dankie Sanlam!)


