US Woordfees juis ’n platform waar mense kan verskil

  • 2

Saartjie Botha, direkteur van Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees, het bevestig dat Afriforum nie deel is van die Woordfees 2016-program nie. Dit is in reaksie op bewerings deur ’n groep van sowat twintig protesgangers wat Vrydagaand ’n geleentheid by die fees probeer ontwrig het deur die verhoog oor te neem, te sing en te dans.

Die protesgangers het voorts beweer dat hulle op Donderdag 4 Maart tydens ’n EFF-optog op die kampus deur “lede van Afriforum met verkragting gedreig is”.

Volgens Botha is Flip Buys, die uitvoerende hoof van die vakverbond Solidariteit, Zwelinzima Vavi, voormalige sekretaris-generaal van Cosatu, en arbeidsjoernalis Jan de Lange wel genooi om aan ’n paneelbespreking oor die toekoms en rol van vakverbonde in Suid-Afrika te debatteer.

Die protesgangers het na sowat 10 minute die terrein van De Vette Mossel, waar die protesaksie plaasgevind het, verlaat en in die rigting van die Administrasie-gebou beweeg en toe verdaag.

Botha het gesê die fees gun die protesgangers hul stem en, waar daar op ’n verantwoordelike wyse teen ongeregtigheid beswaar gemaak word, steun hulle dit selfs. “Voorvalle soos hierdie maak dit egter baie moeilik om op ’n sinvolle wyse oor werklike brandpunte in die Suid-Afrikaanse samelewing te besin. Dit is juis waarom die fees geleenthede soos die gesprek oor vakverbonde skep, sodat Suid-Afrikaners mekaar kan hoor. Die US Woordfees is deeglik bewus van ons rol as transformerende fees in ‘n baie diverse omgewing en ons werk baie hard daaraan om die gemeenskap wat ons dien, te weerspieël.”

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Cilliers van Niekerk

    Rêrig, Saartjie? As dit so 'n oop debatsforum is, waarom nie wie ook al van beide Afriforum en die EFF (byvoorbeeld) nooi en oor wat ook al gesels nie?

    En hoe is dit oop en vrygeestig om sonder verhoor of verweer te veroordeel? Om sonder slag of stoot as evangelie die protesteerders se woord te aanvaar - sonder geleentheid tot weerlegging of ontkenning van 'n lasterlike aantyging?

    En selfs sou daar gronde voor wees - engeltjies, soos almal weet, is deesdae maar skaars - is julle oop fees nie die beste plek om deur ontmoeting en gesprek, natuurlik sinvol en regverdig deur julle bestuur en gemodereer, die soort van onderlinge begrip te stig wat die rúwer gesprek van standbeeldskending, boekverbranding, rassehaat in beide rigtings, ens. ens. genadiglik sou beskaaf nie?

    Sou dít nou nie, watsitnouweer, o ja, te gaaf "transformerend van die gemeenskap wat julle dien" (én tydig!) wees nie?

    Of is julle nou nie só hardekwas (vir "hardcore", en mooier!) "transformerend" nie?

  • Avatar
    Leonie de Lange

    Om 'n geleentheid te ontwrig, is juis hierdie meisies se styl. Hulle kleredrag stuur vir my 'n "interessante" nie-verbale boodskap uit. Ek glo hulle wou maar net 'n statement maak om te wys hulle SAL ONTWRIG WAAR EN WANNEER HULLE OOK AL WIL. Dat dié Afriforum manne gedreig het om hulle te verkrag, vat ek ook met 'n knippie sout. Ek glo hulle het heel waarskylik gesê "FOK julle" en vir dié meisies beteken dit verkragting, want hulle WIL dit so hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top