US Woordfees 2019: Vlagskipproduksies

  • 0

MI(SA): ’n Nuwe mis-orde vir die universum – Krog besin oor ons plek in die heelal

            Ek glo in heilige stuurstof
            Ek glo aan heilige sianobakterieë, fotosintese
                                                en die gemeenskap van bome

Die almag van water
Dié seëviering van die son
Die wederopstanding van die planeet
En ’n lewe van ewige omgee en dankbaarheid

 - ’n Kort greep uit Antjie Krog se Misa         

Een van die Woordfees 2019 se vlagskipproduksies is die MI(SA), ’n nuwe Suid-Afrikaanse mis, geskryf deur Antjie Krog onder regie van die teaterveteraan Marthinus Basson. Die musiek vir die MI(SA) is deur Antoni Schonken gekomponeer en is soortgelyk aan die Kongolese Missa Luba en die Latyns-Amerikaanse Misa Criolla.

Antjie Krog

Die sentrale eietydse tema van Krog se MI(SA) is die planeet as ons blyplek in die heelal. Dit is daarmee ook ’n besinning oor geloofsvrae en ’n pleidooi vir beskerming van die aarde en medemenslikheid wat wentel om die besef: As ons nie vir mekaar omgee nie, kan ons ook nie vir die planeet omgee nie. Krog noem dit ’n “wetenskaplike mis wat die skade wat die mens aan mekaar, sowel as die planeet aanrig, besweer.”

Hierdie tematiek, sê die komponis Antoni Schonken, plaas dit in ’n ander konteks as die Missa Luba en Misca Criolla wat, hoewel dit plaaslike verwysingsraamwerke het, steeds baie tradisioneel is. Die nuwe Misa is, volgens Schonken,  veel langer en werklik inheems dog universeel. Schonken beskryf Antjie se teks as “ongelooflik mooi en dig”. Die mis is oorwegend in Afrikaans, maar bevat ook Latyns, Grieks, Engels, Xhosa en ou Khoisan-woorde.

Die MI(SA) is ’n drieledige uitvoering bestaande uit die Missa Luba, die Misa Criolla en die nuwe Suid-Afrikaanse mis Krog en Schonken. Hiermee tree Krog en Schonken in gesprek met die geliefde Misa Luba en Misa Criolla. Marthinus Basson vermeng rite en liturgie en skep ’n grensverskuiwende eietydse klankbeeld van Suid-Afrika.

Die MI(SA) word ook nie net deur die Kaapstadse Operakoor gesing nie – die stories van die koorlede en waar hulle vandaan kom, vorm deel van die mis.

“Empatie,” sê Schonken, “was uit die staanspoor een van die kernwoorde vir die skepping van hierdie werk – nie net om ’n mis te skryf nie, maar om iets te skryf wat empatie kan wek met waar ons is en wie ons is, tussen en teenoor mekaar. Dit is ’n hele herverbeelding van die tradsionele misvorm.”

Die MI(SA) word deur die Kaapstadse Operakoor in die Adam Small Teater (voorheen die HB Thom) uitgevoer met bydraes deur soliste Amanda Strydom, Cecilia Rangwanasha (sopraan), Makudupanyane Senaoana (tenoor) en Ané Pretorius (mezzo-sopraan).

Wessel Pretorius

Afrikaan

In 2012 het Janine Neethling en haar man, Deon Opperman, saamgespan om die eerste volwaardige Afrikaanse oratorium, Die Skepping, op die planke te bring.  Vir Woordfees 2019 doen hulle dit weer met Afrikaan.

“Deon ‘pla’ my al vir ’n geruime tyd om weer saam met hom ’n grootskaalse projek te skryf maar die vraag was wat. Uiteindelik was dit tyd vir die indiening van ’n voorstel. Ek het na hom toe gegaan met die idee van Thabo Mbeki se I Am An African as inspirasie.”

Deon sluit aan: “In Suid-Afrika se huidige politieke klimaat word daar gedurig klem gelê op die verskille wat die land se verskeie volkere skei. Sentraal tot hierdie debat is die kwessie van wie is werklik ‘n Afrikaan, en wie nie? Met Afrikaan wil ek en Janine, met woord en musiek, die lang pad uitbeeld wat al die homo sapiens wat hier in Suid-Afrika woon, gestap het om hier te kom, en daardeur die erfenis wat ons deel, eerder as dit wat ons skei, vier.”

Met haar toonsetting van Deon se libretto word Janine Neethling se veelsydigheid as komponis ten toon gestel – soms a capella, soms met orkestrale onderskraging en begeleiding, maar altyd, soos net Janine kan, ontroerend, opheffend en musikaal skouspelagtig. Die aanslag is kontemporêr en toeganklik, maar die fondament is klassiek.

“Stephanie Baartman is ’n besonderse talent,” sê Janine oor een van die akteurs/sangers wat gaan deelneem. “Haar sangstem is werklik uniek en onder benut.” Hulle kombineer haar stem hoofsaaklik met mansstemme van die Akustika Chamber Singers. Dizu Plaatjies het hulle gehelp om nog vroue stemme, “vir ’n ander klank”, te identifiseer.

Oor Wessel Pretorius se deelname sê Janine: “Hy gaan grotendeels prosa stukke voordra, maar ook vir ons visueel verskeie elemente van die reis van die mens uitbeeld. Daar sal musiek sonder woorde wees, prosa met musiek begeleiding asook beweging met musiek.”

Sy skryf die groot klem op stemme toe aan die nodigheid om ‘n deurlopende en onderliggende klankbaan te hê: “Om die stemme te ondersteun, kombineer ons Afrika en Westerse instrumente. Byvoorbeeld: klavier en klassieke slagwerk saam met die umhrubhe (die oudste instrument in Afrika) en ander inheemse slagwerk instrumente.”

Katrina: Die dansende taal

Van klank en vlerk – Katrina: Die dansende taal

Een van die laaste sprekers van die oertaal N/UU se verhaal word met musiek en dans vertel.

Die musikant Coenie de Villiers weet al lank van die storie van die 85-jarige Ouma Katrina Esau, die laaste een wat nog die oertaal N/UU kan praat. Eers toe hy en die choregraaf Kirvan Fortuin opsoek was na ‘n projek om saam aan te pak, het hy besef Ouma Katrina se verhaal kan dien as die grondslag vir ‘n verhoogproduksie.

“Ouma vertel haar verhaal in haar eie stem, woorde en taal, met die musiek daarby,” vertel Coenie meer oor die produksie wat in September by die Kunstekaap-teater te sien was. “Sy is nie fisies op die verhoog nie, maar die dansers wel. Dit is dus ‘n bietjie soos die subtitels by ‘n kunsrolprent.” Hy vertel ook hoe hy en Kirvan, wat die San-dans opteken as deel van sy nagraadse studies, na die Kalahari gereis het om navorsing te doen. “Die dansers is almal professionele en opgeleide dansers, maar die dans-“woordeskat” kom uit die gemeenskap.”

Hoe maklik was dit om die ondersteuning van die verteenwoordigende San-raad te kry? Om aan hulle te bewys dat hierdie nie ‘n foefie is om geld te maak op die rug van die San se erfenis nie? “Ons moes beslis ons bona fides bewys, en loop saam die pad. Dit is ontsettend belangrik om te besef dat die kultuurgoedere van die San-gemeenskap aan hulle behoort. Die werk wat ons doen, is met hulle toestemming en leiding.”

Lees meer oor die toneelstukke te sien by die Woordfees of kry die volledige program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top