US Woordfees 2019: Nicole Holm gesels oor Drie susters

  • 0

Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck en Nicol Holm (foto: Robert Hamblin)

Nicole Holm praat met Naomi Meyer oor die produksie Drie susters wat binnekort orals speel: onder andere by die US Woordfees, sowel as by Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville. (Sien heel onder vir datums en omgewings waar die produksie vanjaar opgevoer word.)

Nicole, jy vertolk die rol van Bianca in 'n produksie wat al by baie feeste gespeel het en nou binnekort by Die Boer-teaterrestaurant en by die US Woordfees. Vertel my asseblief eers van jou karakter. 

Bianca is die onskuld self. Al het die lewe haar al heelwat klappe toegedien, het sy gaan wegkruip op ‘n sagte plek waar niemand en niks haar kan seermaak nie, want evil en ongeluk bestaan nie daar nie.

Ek weet nou al, weens 'n paar sinne in 'n ander onderhoud met jou, dat daar sekere aspekte van jou lewe is wat nie met Bianca s'n ooreenstem nie. Hoe vind mens as akteur binne jou raakpunte tussen jou karakter en jouself?

Bianca is die deel van my wat ek deny en met verbete rasionaliteit in toom hou. Sy woon in la-la-land waar alles mooi en almal gaaf is. Ek is so jaloers op haar ek wil vrek. In daardie opsig is hierdie rol maw vir my tot ‘n mate fantasievervulling. Dat sy nie kinders het nie en ek wel is deel van daardie fantasie. Dat sy nie rook, drink of vloek nie en ek tot onlangs nog al drie gedoen het (is al twee maande rookvry!) ook. Ook dat sy van blomme hou en ek nie, want die vraag bly immers "hoekom?" (vir beide karakter en akteur). En daar lê jou antwoorde.

Nicole Holm (foto: verskaf)

Die vraag van agentskap: Die toneelstuk is deur Louis Pretorius geskryf, 'n man wat oor drie vrouerolle geskryf het. Hoe het dit vir jou gevoel, as vrou, om Bianca te wees, iemand wat deur Louis geskep is? Of weer eens: Dink mens nie so oor mens se rol nie? Nie oor die skepper daarvan nie, maar eerder oor die karakter self?

Louis skep mooi karakters, want hy hou van mense. Of altans, hy hou van wat mense kan wees. Ek spekuleer nou, maar my vermoede is dat daar heelwat ooreenkomste tussen hom en Bianca is mbt gesindheid jeens die lewe.

Vertel my die storie van die drie susters in hierdie toneelstuk, asseblief? 

O griet, ek kan nie! Ons het nog te veel shows oor die jaar en netnou lees iemand hierdie onderhoud voor hulle ‘n show kan sien en dan het ek die hele storie vir hulle bevark. Ek kan wel oor die situasie waarin ons ons bevind, vertel, nl dat ons op die lughawe sit op pad Thailand toe want die vlug is vertraag. Dis ‘n laaaaaang aand en daar is baaaaaie baggage.

Hoe is jou susters in die toneelstuk? Familieverhoudinge het mos maar 'n komplekse aard. 

Die verhoudings tussen die drie susters is beslis kompleks. Ek en Margit speel tweelingsusters (ja, die play is ook ‘n komedie) en Lizz ons ouer suster. Die onmin tussen spesifiek Margit en Lizz se karakters lei tot skreeusnaakse momente veral aan die begin van die play, maar soos die aand verloop begin mens besef wat agter al drie se fasades steek.

Wat is vir jou lekker van hierdie betrokke toneelstuk – van jou rol, van jou mede-akteurs s'n, van die storie?

Soos reeds genoem is dit nie gereeld dat ek die geleentheid kry om ‘n sagte mens te speel nie en dis vir my baie lekker. Ek ken vir Lizz van die Teaterbystandsfonds en vir Margit van altyd af, maar dis die eerste keer dat ek saam met beide van hulle werk en dit is ‘n absolute fees. Ons lag en praat ontsettend baie. Maar regtig verskriklik baie. Probably bietjie te veel.

En watter aspekte is vir jou die mees uitdagende hiervan?

Die grootste uitdaging vir my met die show is die hoeveelheid publisiteit wat Margit ons laat doen, en ook maar net omdat ek nie gewoond is daaraan nie. Vir die eerste keer sien ek dat geen dingetjie te klein is as dit beteken dat daar een ekstra gehoorlid gaan wees nie. En dat dit ontsettend harde werk is. En onthou nou, nè, ek reël nog steeds niks hiervan nie; ek voer net opdragte uit!

Dis natuurlik nie die eerste keer dat jy in 'n stuk speel wat Louis geskep het nie, want jy het immers ook in Die boekklub 'n rol vertolk. Wat is vir jou verskillend van teater- en TV-werk? En as regisseur? Dit ken jy ook baie goed. Is dit vir jou lekkerder voor of agter die kameras?

Die lekkerste plek bly maar naby die verhoogplanke. Afhangende van watter dag jy my vra, sal ek sê óf as akteur óf as regisseur. Televisie sal altyd derde kom. Ek's ongelukkig maar ‘n bok vir onmiddellike bevrediging en dit bied die kameras jou nie.

Na watter ander toneelstukke sien jy by vanjaar se Woordfees uit?

Ooeee, beslis Samson van Brett Bailey en dan Gemma Kahn se Borrow Pit en beslis hierdie keer Babbelagtig, want ek't dit vorige kere gemis. 

Wanneer en waar kan mense Drie susters gaan kyk?

Atterburyteater, Pretoria

20–23 Feb om 20:00

24 Feb om 16:00

Bespreek: itickets

US Woordfees, Hoërskool Stellenbosch

1 Maart om 15:00; 2 Maart om 17:00; 3 Maart om 19:30; 4 Maart om 20:30

6 Maart om 20:30; 9 Maart om 20:30; 10 Maart om 15:00

Bespreek: Computicket

KKNK, Hoërskool Oudtshoorn

21 Maart om 18:30; 22 Maart om 09:30; 25 Maart om 14:30; 26 Maart om 13:30; 27 Maart om 13:30

Bespreek: Computicket

RSG Kunstefees Op Die Water

15–18 April

Bespreek: Computicket of Op Die Boot

Die Boer-restaurantteater, Durbanville

21–25 Mei om 20:30 en Sondag 26 Mei om 13:30

28 Mei – 1 Junie om 20:30 en Sondag 2 Junie om 13:30

Bespreek: 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Optogtoer: Bespreek: iTickets

Dinsdag 16 Julie        Malmesbury

Woensdag 17 Julie    George

Donderdag 18 Julie    Port Elizabeth

Vrydag 19 Julie         Oos-Londen

Saterdag 20 Julie      Durban

Woensdag 13 Nov     Ermelo

Donderdag 14 Nov     Sasolburg

Vrydag 15 Nov          Welkom

Saterdag 16 Nov       Krugersdorp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top