US Woordfees 2019: Kleedkamer-blues

  • 0

Kleedkamer-blues

’n NATi/Feesteforum-produksie

Met: Carel Trichardt, De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius, Ludwig Binge, Greta Pietersen 

“So is die lewe,” sê ’n medeteaterganger langs my na afloop van Kleedkamer-blues. “Presies net so.”

Kleedkamer-blues kan beskryf word as ’n Afrikaanse Waiting for Godot. Die teks is geskryf deur Ludwig Binge, en is oorspronklik deur NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) vir Innibos ontwikkel. Die regie, stelontwerp en kostuums is behartig deur Marthinus Basson.

Die toneelstuk speel af in ’n kleedkamer voor die laaste optrede by ’n kunstefees. Almal is moeg en feesvoos.

In die kleedkamer sit Johan met sy oorfone en kyk rugby op sy tablet. Hy sê nie ’n woord aan sy medespelers nie, en hoor ook nie belangrike gesprekke in die kleedkamer oor onder andere liefdesverklarings wat beplan word nie.

André is kwaad omdat sy mede-akteur, Hendrik, nooit sy eenmanstuk kom kyk het nie. Hendrik is benoem vir ’n toekenning terwyl André se stuk ’n louwarm resensie gekry het. Hendrik het ’n oog op Wena, maar sy’s dalk op pad Johannesburg toe vir ’n rol in ’n sepie.

Paul, die ou veteraan, sukkel om sy woorde te onthou. Boonop is daar ’n belangrike gas in die gehoor. (Hierdie beskrywings is losweg verwoord soos op die webwerf van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief.)

In ’n onderhoud met CJ de Swardt op LitNet het Ludwig Binge gesê:

“In ’n groot mate gaan die stuk vir my oor mislukking en drome wat nie heeltemal realiseer het nie. Ons almal het naïewe vooropgestelde idees van hoe ons loopbane gaan uitspeel wanneer ons op universiteit is en ons almal gaan deur ’n mate van ontnugtering wanneer ons in die praktyk begin werk. Dis menslik en maklik om mee te vereenselwig. Dis hoe ons by daardie wrede realiteite aanpas wat belangrik is en interessant word.”

Die stuk handel oor Afrikaanse akteurs en regisseurs se angstigheid oor daar nie geld is vir die kunste nie. Maar met elke sin wat gesê word, besef  die teatergangers dat die mense op die verhoog nie net praat oor wat dit beteken om ’n akteur te wees nie, maar oor wat dit beteken om ’n mens te wees.

Die titel betrek die angs en terneergedrukte gevoelens wat gepaardgaan met die alledaagse bestaan. Die titel betrek ook die stuk se klankbaan – Amerikaanse blues.

Aanhalings wat mens bybly: die veteraanakteur  wat vertel van Sisyphus wat die rots voortdurend teen die heuwel moes opstoot, maar dan rol dit elke aand weer ondertoe rol en hy moes dan die volgende dag die taak herhaal.

Die gelatenheid (of die volwassenheid?) waarmee hy uiteindelik sê dat Sisyphus besef het dis sy taak, en dat hy daagliks sy lewenstaak bewustelik moes uitvoer, ook al weet hy hoe saai dit môre sou herhaal. Dit hoef nie ’n kruis te wees nie. “Aanvaar jou rots.”

Daar is heelwat intertekste wat deur die loop van die toneelstuk op mekaar kommentaar lewer: Shakespeare, TT Cloete, ’n film soos Tree of Life.

’n Mens moet die stuk gaan kyk om te sien hoe slim die aanhalings en verwysings ingewerk word, sodat daar deurlopend nie net die toneelstuk op die verhoog aan die gang is nie, maar ook kommentaar beleef word wat gelewer word op die toneelstuk en op die lewe self.

Die stuk is tegelykertyd skreeusnaaks en hartverskeurend.

Ten spyte van die deurlopende aanhalings wat daarop dui hoe sinloos alles is (“out, out, brief candle”), weerspieël die spel van elke akteur hoe tydloos die oomblik is.

’n Mens gee om vir die akteurs; ’n mens wil graag hê dat die karakter met die sagte hart (De Klerk Oelofse) se liefde beantwoord word. ’n Mens wil hê dat mense raaksien watter bydrae tot die kunste die veteraanakteur (vertolk deur Carel Trichardt) in sy lewe gemaak het.

Die stuk vertoon nog enkele kere by vanjaar se US Woordfees. Dit word sterk aanbeveel. Want so is die lewe. Presies net so.

Hier is Computicket se besonderhede.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top