Innibos 2018: Kleedkamer Blues – ’n teater-onderhoud met die akteur en skrywer Ludwig Binge

  • 0

Kloksgewys van links bo: Ludwig Binge, Greta Pietersen (foto: TVSA), Carel Trichardt (foto: The Movie Database), Wessel Pretorius (foto: Twitter) en De Klerk Oelofse (foto: Robert Hamblin)

Vanjaar se Innibos-vlagskipproduksie is die komedie Kleedkamer Blues, uit die pen van die akteur Ludwig Binge (29).

Ludwig het drama aan Universiteit Stellenbosch studeer en het sy debuut as Hamlet in die postmoderne verhoogproduksie van Kind Hamlet gemaak, onder regie van Marthinus Basson, wat nou ook die regie en ontwerp van Ludwig se eerste volwaardige teaterteks behartig.

Ludwig is onder meer bekend om sy rolle in die produksies Op dees aarde, Balbesit, Tjop en dop, Bloedmadrigaal en Koninkryk van die diere en die rolprente Johnny is nie dood nie (waarvoor hy kykNET se Silwerskermfees-toekenning in 2016 as beste manlike byspeler verower het), Foto en Plankekoors.

Teatergangers sal hom later vanjaar in sy eie sketskomedie My mense is die kluts kwyt (onder regie van die veelsydige Wessel Pretorius) by Aardklop sien en dan speel hy ook in Christiaan Olwagen se rolprent Kanarie. Hy skryf ook dialoog vir kykNET se sepie Suidooster en hy werk aan ’n opwindende nuwe dramareeks – én aan sy meestersgraad in drama.

Teater bruis in sy bloed. Sy ouers is immers die aktrise en stemkunstenaar Joanie Combrinck en Herman Binge, die regisseur en vervaardiger van dokumentêre rolprente. Hulle het al saamgewerk; Ludwig en Herman aan die rolprent Johnny is nie dood nie en Ludwig en Joanie aan die verhoogproduksie Koninkryk van die diere.

In sy oorspronklike produksie Kleedkamer Blues word die gehoor blootgestel aan ’n kleedkamer voor die vertoning van ’n laaste optrede by ’n kunstefees. Almal bietjie moeg, almal bietjie feesvoos ...

Diepseun Johan (Ludwig Binge) ly aan premature post-production blues, want hy sê nie ’n woord nie.

André (Wessel Pretorius) is knorrig omdat sy vriend en mede-akteur, Hendrik, nooit sy eenmanstuk kom kyk het nie.

Hendrik (De Klerk Oelofse) is pas benoem vir ’n toekenning, terwyl André se stuk pas ’n louwarm resensie gekry het. Dit grief hom.

Hendrik het Wena op die brein en vanaand is die aand dat hy sy liefde aan sy mede-akteur gaan verklaar, want hy kan nie anders nie. Wena (Greta Pietersen)  is gatvol vir die tekort aan finansiële sekuriteit en boonop knou verhoog-angs haar. Na die fees gaan sy ’n sepie-rol in Johannesburg aanvaar. En Hendrik is van Kaapstad.

Die ou veteraan, Paul (Carel Trichardt), wat na 15 jaar ’n comeback maak in hierdie alternatiewe weergawe van Beckett se Godot, ondersteun haar in haar besluit, maar sukkel self om sy woorde te onthou en blameer die ouderdom. So, die nerwe is dun geskuur.

Boonop kom ’n belangrike gas vanaand na die stuk kyk vir oorweging vir ’n speelvak in die buiteland. Kan hierdie kwesbare siele hulle verskille opsy sit en vir oulaas ’n briljante vertoning op die planke bring? Sal hulle die Kleedkamer Blues kan oorwin?

Christiaan J de Swardt gesels met Ludwig Binge

Wat was die inspirasie vir Kleedkamer Blues?

Ek wou iets probeer skryf omdat ek begin besef het dat dit nie moontlik is om van toneelspel alleen ’n loopbaan te bou nie. Daar is eenvoudig nie genoeg werk nie. Ek is versigtig om myself uit te gee as ’n “skrywer.” Ek is ’n akteur wat noodgedwonge vir myself speelkans probeer skep.

Watter uitdagings moes jy takel?

Omdat dit my eerste poging tot ’n toneelstuk is, het ek dit goed gedink om te begin by mense en omstandighede wat ek goed ken, naamlik die plaaslike teaterbedryf en in hierdie geval die fees-opset, omdat hierdie jaarlikse gebeurtenisse verantwoordelik is vir meeste Afrikaanse teater wat in die hierdie land plaasvind. Natuurlik, as iemand in ’n program-sinopsis lees: “’n Toneelstuk wat oor toneelspelers gaan,” kan hul maklik dink: “Hoe self-koesterend! Wie gee om?” maar ek dink dat die temas wat aangespreek word tog universeel is.

Wat is die breër tema wat ook tot mense buite die vermaakbedryf sal spreek?

In ’n groot mate gaan die stuk vir my oor mislukking en drome wat nie heeltemal realiseer het nie. Ons almal het naïewe vooropgestelde idees van hoe ons loopbane gaan uitspeel wanneer ons op universiteit is en ons almal gaan deur ’n mate van ontnugtering wanneer ons in die praktyk begin werk. Dis menslik en maklik om mee te vereenselwig. Dis hoe ons by daardie wrede realiteite aanpas wat belangrik is en interessant word.

Jou karaktername – soos André en Wena – lui klokkies na die verlede. Waarom?

Ek wou ook my generasie-teatermaker se storie vertel. Ons is op baie maniere waar die pioniers soos André Huguenet, Paul de Groot, Hendrik Hanekom en Wena Naudé in die twintiger- en dertigerjare was: Actor-managers wat ons bakkies, kombi’s, minibusse en sleepwaens laai en ons stukke na die gehore in die platteland neem. Ons lewe van fees tot fees. En natuurlik, sou die meeste van ons, in ’n ideale wêreld, deel van ’n heeltydse geselskap wou wees wat infrastruktuur en stabiliteit het. Daar bestaan ongelukkig nie meer so iets nie en ’n mens moet aanpas.

Hoe het jy te werk gegaan om nie in die slaggat van karikature te val nie?

Ek het onderhoude gedoen met jong akteurs om ’n gevoel te kry van wat hulle verwagtinge van die bedryf is, wat hulle dryf en wat hulle bekommer oor hul loopbane. Ek het gehoop dit sou die karakters outentiek laat lees en meer menslikheid gee, maar natuurlik is hulle ook oordrewe. Hulle moet wees. Dis ’n toneelstuk; nie ’n dokumentêre program nie. Of ek daarin geslaag het, is vir die gehore om te besluit …  

Wat wil jy met dié gegewe bereik?

Ek wou gehore die geleentheid gee om te voel asof hulle ’n tipe backstage pass  kry tot ’n kleedkamer terwyl akteurs voorberei vir die vertoning wat voorlê. ’n Kleedkamer is tradisioneel nogal ’n intieme, private ruimte waar die publiek nie toegelaat word nie. Dit is egter juis die plek waar die gehoorlid die mens agter die karakter kan leer ken. Akteurs is regtig ook nét mense!

Ervaar jy soms kleedkamer-blues?

Toe ek jonger was, het dinge soos post-production blues my nogal geknak. Dat dit alles so tydelik is. Jy sit vir vier weke soveel toewyding en passie in ’n projek en dan is dit alles skielik net verby en almal se paaie skei. Dit het bietjie gevoel soos ’n familie wat uitmekaar uit spat en niemand weet of die stuk nog ’n speelvak sal hê nie. Ek hanteer dit nou al heelwat beter. ’n Mens leer mettertyd dat dit deel van die beroep is en dat die lewe aangaan en dat ’n mens ander goed in jou lewe moet hê wat vir jou net so belangrik is.

Hoe hanteer jy kritiek?

Negatiewe terugvoer of kritiek kan ’n mens nogal die blues kan gee. Niemand pak ’n stuk aan met die doel om swak werk te lewer nie; veral nie in die teater nie. Dis harde werk vir min geld. Daarom is dit partykeer moeilik om te hoor of te lees hoe baie ’n resensent jou werk verpes. Kritiek het sy plek en ek het ook nou al myself geleer om meer gebalanseerd daarmee om te gaan.

  • Kleedkamer Blues is ’n Innibos-vlagskipproduksie, ondersteun deur NATi.
  • Met Ludwig Binge se teks, Marthinus Basson se regie en ontwerp, beligting deur Chris Pienaar en spel deur Ludwig Binge, Wessel Pretorius, De Klerk Oelofse, Greta Pietersen en Carel Trichardt.
  • By die Nelspruit-stadsteater; 120 minute.
  • Lees ook die onderhoud met die regisseur, Marthinus Basson.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top