Innibos 2018: Kleedkamer Blues – ’n teater-onderhoud met die bekroonde teaterveteraan Marthinus Basson

  • 0

Kloksgewys van regs bo: Marthinus Basson (foto: Naomi Bruwer), De Klerk Oelofse (foto: Robert Hamblin), Greta Pietersen (foto: TVSA), Wessel Pretorius (foto: Twitter), Ludwig Binge en Carel Trichardt (foto: The Movie Database)

Daar het 20 jaar verloop sedert Marthinus Basson die De Kat/Herrie-prys in 1998 gewen het vir sy omstrede en veelbesproke produksie van Breyten Breytenbach se toneelstuk Boklied. Die (manlike) naaktheid daarin het talle feesgangers ontstel en mense het die teater met afgryse uitgestrompel om selfs gelaaf te word! Dit is as pornografie bestempel!

Ondank die gehoor se afkeer en weersin destyds, het Boklied ook Vita-pryse gewen vir beste produksie, beste regisseur, stel-, kostuum- en beligtingsontwerp. Dawid Minnaar was die beste akteur en Antoinette Kellerman die beste vroulike byspeler.

Skrywers, regisseurs en spelers meen egter die uitbeelding van realiteit – al word dit as ontvlugting aangebied – moet gemotiveer word en ’n oomblik van eerlikheid en kwesbaarheid uitbeeld.

Verlede jaar het Basson weer twee puik produksies by die KKNK aangebied: die Hertzogbekroonde dramaturg Reza de Wet se Asem en ʼn vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Koninkryk van die diere; albei stukke waarin manlikheid tot op die been gestroop is. Dit het aan hom, Minnaar en Kellerman verlede jaar weer Kanna-erkennings besorg.

Vroeër vanjaar het Basson gehore verslae uit die teater laat strompel oor die bloedige wending waarmee Marina Albertyn se sielkundige verhoudingsriller Melk & Vleis (met bekroonde puik spel deur Ilse Roos en Neels van Jaarsveld) die gewete treiter.

In ’n loopbaan van oor die 40 jaar het hy oor die 40 toekennings verower – van die Standard Bank Young Artist’s Award in 1989 tot talle Fleur du Cap-,  Vita-, Fiësta- en nasionale kunstefeestoekennings. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom in 2003 met ’n Erepenning vir Toneelkuns vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse teater vereer.

Nou bied dié veelsydige akteur, regisseur, ontwerper, vertaler en teaterdosent gehore sy eiesoortige interpretasie van Ludwig Binge se debuutkomedie, Kleedkamer Blues, wat by Innibos debuteer en ook later vanjaar by Aardklop opgevoer word.

Christiaan J de Swardt gesels met Marthinus Basson

Meen jy gehore het meer verdraagsaam en/of volwasse geword ten opsigte van sosiale realiteite?

Ek vind gehore meer konserwatief deesdae as in die verlede – selfs soverre satire, kritiek, bereidwilligheid om hulle bloot te stel aan idees, tekste van elders, stories wat nie “ons” is nie.  Dit geld nie net gehore nie, maar ook akteurs. ’n Mens kan hulle seker nie kwalik neem nie. Die druk is so groot. Veral die jonges sien ek meer en meer gemaklike sloganeering en selfgeregtigdheid aanhang as insig ontwikkel of ’n bereidwilligheid om die grense van die gees te ontgin. Dit spoel natuurlik met gemak oor na ander aspekte soos: wees dapper, neem risiko’s, dink buite jou gemaksones en trap op tone.

Kom ek stel dit so: Alles voel vir my meer voorskriftelik as in die verlede. En ek sluit daarby die sensuurstelsel in wat jy met sukses in howe kon beveg. Hierdie is ’n ondermynende selfopgelegde stelsel wat in bloedarmoede kan ontaard ...

Wat is ’n regisseur se verantwoordelikheid rondom naaktheid op die verhoog?

Naaktheid, wat maar ’n klein aspek van die teatrale spektrum uitmaak, is ’n baie potente “effek” wat ’n mens uiters oordeelkundig moet aanwend, nie net uit die behoefte van die stuk of die idee nie, maar ook oor wat jy by die gehoor wil ontlok terwyl jy werk met ’n akteur wat ook ’n volledig komplekse mens is. Dus verg dit smaak, sensitiwiteit, begrip vir die waarmee jy besig is en bleddie goeie redes oor hoekom. En dapper akteurs wat werklik verstaan wat die groter waarde daarvan is – verby hul persoonlike, inherente weerstand teen iets wat jy so genadeloos blootstel.

Wat is die impak van naaktheid op akteurs?

’n Mens werk uiters versigtig met akteurs tot hulle genoeg nie meer “hulself” voel nie en meer die karakter aangeneem het wat hulself in ’n situasie bevind waar naaktheid ’n behoefte is vir die gegewe storie om tot wasdom te kom. Emosionele naaktheid kan net so kompleks wees. En net soveel skade berokken. Ek voel nie gemaklik met lukrake naaktheid nie. Daar moet ’n dringende behoefte en ’n duidelike doel daaraan geheg word voor ek daarvoor val. 

Is daar ooreenkomste tussen Koninkryk van die diere en Kleedkamer Blues?

Die enigste ooreenkomste tussen Koninkryk van die diere en Kleedkamer Blues is dat dit in ’n kleedkamer plaasvind en teater as tema het. Waar die Schimmelpfennig-stuk na die mens kyk as ’n dier en die teater gebruik as metafoor vir ’n oorlewingstryd, is Binge se stuk ’n baie realistiese blik op die realiteite van teatermaak en kop bo water hou, en dan nog, hopelik ’n dak daaroor.  Vir teatermakers, in ons huidige bestel waar die strukture byna heeltemal verval het, is dit ʼn stryd. Dit kyk terug na die pioniers wat dit moontlik gemaak het vir teater om in hierdie barre land tog te kon gedy en die siklus wat homself weer eens herhaal. Dit is op eerstehandse ervaring gebaseer en met ’n goeie dosis humor en komedie aangebied – maar wráng. 

Hoe relevant en outentiek is die inhoud, regie-styl en die ontwerp (stelinkleding en beligting) en hoe ontgin en ondersteun dié elemente die teks?

Die stuk speel in ’n kleedkamer by ’n kunstefees in ’n “stowwerige dorpie” af. Die stelontwerp put uit die eindelose nagmerrie-ervarings oor die afgelope 25 jare van onvoldoende ruimtes, geen infrastruktuur, min geld en groot drome om teater op die verhoog te hou. Die stel is tekenend. Dis ’n vorige stel met ’n nuwe laag verf en al die goed wat dit moontlik maak om te staan waar dit staan, en normaalweg nie gesien word nie, is op die verhoog as rekwisiete. Soos die mankolieke stoele, opslaantafels, vuil toilette en dies meer.

Alles in die stuk is so na as moontlik aan deurtrapte, deurleefde realiteit en elkeen van die rolverdeling ken die situasie deur en deur. So hopelik is die regie en ontwerp onsigbaar en dien dit die nodige doel. As ontwerper en regisseur probeer jy nie in die pad van die akteur staan nie terwyl jy die ruimte orden as plek vir hulle om onvoorwaardelik in te kan “leef”. 

Het jy al in jou loopbaan kleedkamer-blues ervaar?

Regisseurs word grotendeels geaborteer op openingsaand en jy moet maar gewoond raak daaraan. Dus gun ek my nie blues nie. Maar die musiek maak my wel opgewonde. 

Hoe hanteer en beheer ’n kunstenaar kreatiewe blues?

Ons s’n is ’n harde wêreld wat, soos jy dit skep, verdwyn. Ook is ons in ons proses konstant blootgestel aan kritiek, selfkritiek, selfondersoek en daaruit bou ons lugkastele. Dan is daar die kritiek van joernaliste, publiek, resensente en toeskouers. En dan is dit verby. En weg. En so hoort dit.

En wat behoort uit daardie “leegheid” te spruit?

Teatermense is taai, maar ons pad lê bestrooi met tragiese verhale, opofferinge en verlies. Maar vir die wat kans sien, is daar die eindelose verryking deur te werk aan grootse tekste, komplekse karakters waaruit jy jouself beter kan leer verstaan en soms, maar net soms, ’n gevoel dat jy deel kon wees van iets veel groter as die eng omvang van jou eie oortuigings of bestaan.

  • Kleedkamer Blues is ʼn Innibos-vlagskipproduksie, ondersteun deur NATi.
  • Met Ludwig Binge se teks, Marthinus Basson se regie en ontwerp, beligting deur Chris Pienaar en spel deur Ludwig Binge, Wessel Pretorius, De Klerk Oelofse, Greta Pietersen en Carel Trichardt.
  • By die Nelspruit-stadsteater; 120 minute.
  • Lees ook die onderhoud met die skrywer, Ludwig Binge.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top