US Woordfees 2019: Die nag behoort aan die recce’s

  • 2

Alexander Strachan in gesprek

 Die recce’s se superfiksheid, onverskrokke dapperheid en veelsydigheid gryp talle mense se verbeelding al vir dekades lank aan. Baie apokriewe stories oor hierdie spesialiseenheid van die ou Suid-Afrikaanse Weermag het oor die jare die lig gesien. Daar is selfs diegene wat nooit in die recce’s was nie wat hulle vandag nog valslik as oudrecce’s voordoen wanneer hulle bewondering wil afdwing onder die manne.

Diegene wat ware oudrecce’s ken, weet egter dis nie mensewat in kroeë of om braaivleisvure spog dat hulle ʼn recce was nie. Dekades lank is daar tot ʼn groot mate geswyg oor die recce’s se hoogs geheime sendings.

Na al die jare se geheimenis en swye oor die recce’s het daar die afgelope tyd byna gelyktydig ʼn hele paar publikasies oor hierdie spesialiseenheid verskyn. Alexander Strachan se jongste boek, 1 Recce, is waarskynlik een van die interessantste en akkuraatste weergawes van hierdie bykans mitiese verkenningskommando. Dit gee ʼn totaal nuwe blik agter die skerms op die geheimsinnige werk wat hulle tydens die Bosoorlog in klein groepies van tussen vier en agt op ʼn slag gedoen het.

Die operasies wat hulle uitgevoer het, was hoogs geheim. Die rateltaai soldate, wat gewoonlik in die nag beweeg het, moes telkens hulle lewe op die spel plaas in die uitvoering van hulle operasies.

Van daar die subtitel van sy boek – “die nag behoort aan ons” – het Strachan tydens ʼn gesprek by die US Woordfees verduidelik. Die nag was immers die recce’s se vriend, omdat hulle dan onsigbaar was vir die vyand.

Hierdie boek is die eerste van ʼn trilogie wat Strachan besig is om oor die recce’s te skryf. Gordel dus vas, want hier kom nog sommer baie inligting en vertellinge waarin lesers hulle sal kan verlustig.

Die geloofwaardigheid van Strachan se boek lê veral daarin dat hy nie die maklike uitweg gekies het om net op sy eie herinneringe en op weermagverslae staat te maak nie. Hy het na die mense self gegaan wat deel was van die operasies en persoonlike onderhoude met hulle gevoer. Die meeste van hulle het aantekeninge gemaak van hulle ervarings tydens operasies en daarom is die inligting besonder akkuraat.

Alexander Strachan

Hy het 30 onderhoude gevoer met offisiere en onderoffisiere wat as recce’s diens gedoen het, onder andere met die enigmatiese kolonel Jan Breytenbach, wat die stigter van die recce’s was. (Dié onverskrokke militaris is die broer van die ewe enigmatiese digter Breyten Breytenbach, wie se lewe ʼn gans ander pad as dié van sy broer geloop het. Vir jare het die twee broers aan die teenoorgestelde pole van die land se politieke bestel gestaan, wat eintlik ʼn boek op sy eie regverdig.)

Die soldaat Breytenbach het oor die jare ʼn besondere reputasie opgebou. Hy word vandag nog deur talle beskou as een van die beste soldate wat die land opgelewer het. Strachan beskryf hom as een van die mees onverstaanbare en komplekse figure wat hy ooit ontmoet het, maar iemand wat almal se verbeelding aangegryp het. Hy sou in die middel van ʼn gevegsituasie opstaan as dinge warm raak en self die voortou neem om die aanval verder te voer.

Strachan glo die recce’s se sukses kan toegeskryf word aan die uiters taai maar buitengewoon goeie opleiding wat hulle ontvang het, en die oor-en-oor inoefeningsessies voor elke operasie wat hulle moes uitvoer. Sulke inoefeningsessies sou tot in die fynste besonderhede gedoen word op presies dieselfde tyd van die dag of nag wanneer die operasie uitgevoer moes word.

Daar is verskeie onthullings in die boek oor hoe hulle tot in die doodsnikke van die apartheidsera gestuur is om sleutelfigure in die ANC op te blaas, maar op die laaste oomblik verhoed is. Dit was deel van hulle werk om in uiters gevaarlike omstandighede dokumente van die destydse vyand in te win en dan die teiken te vernietig.

Daar was verskeie recce-eenhede – 1 Recce, 2 Recce, 3 Recce, ens. – maar altesaam was hulle nooit meer as 100 man sterk nie. Hulle het in klein groepies van vier tot ses soldate beweeg wanneer hulle operasies uitgevoer het. 1 Recce was die moedereenheid waar almal se streng keuring ook plaasgevind het. Die keuringsproses het aan die onmoontlike gegrens en slegs enkeles het daarin geslaag om gekeur te word.

Alexander Strachan lees voor uit sy boek 1 Recce

Eers heel aan die einde van die keuringsproses het die voornemende recce’s  geweet die keuring is verby, maar selfs dan was hulle nie seker of dit nie dalk nóg ʼn toets is wat hulle moet slaag om gekeur te word nie. In Strachan se geval was daar aan die einde van sy uitmergelende keuringsproses ʼn yslike tenk vol water. Hulle kon kies of hulle die water alles net daar opdrink en of hulle die loodswaar tenk kilometer ver moes dra. Toe hulle besluit om die tenk liewer leeg te drink het hulle agtergekom die tenk is vol bier. Dit was die teken dat hulle die keuring geslaag het, maar selfs tóé was hulle nie seker of dit nie dalk net nóg ʼn slenter is om hulle uithouvermoë te toets nie. Minder as tien persent van die soldate wat recce’s  wou word, het die finale keuringsproses geslaag.

2 Recce is voor die verkiesing in Maart 1994 ontbind. Omdat die spesifieke eenheid uit burgermagsoldate bestaan het, was daar geen waarborg dat hulle enige beskerming sou geniet na die verkiesing nie.

Die doel van die boek is egter geensins om enige politieke ideologie te probeer verdedig of regverdig nie. Dit is ook nie ʼn akademiese of militêre doktrine nie. Strachan wil geen politieke stellings maak in sy boek nie. Dit handel oor die wel en wee van ʼn klein groepie geharde soldate wat soms duisende kilometer ver onstuitbaar in vyandelike gebied moes veg.

Dit was manne dié wat in die meeste gevalle nie deur veglus, ʼn haat vir die vyand, die Nasionale Party se apartheidsideologie of selfs een of ander geloof aangespoor is nie, maar deur ʼn onblusbare avontuurlus.

Die kameraderie onder die oudrecce’s  wat mekaar met hulle lewe vertrou het, is vandag nog net so sterk. Sommige van hulle het tydens die afgelope Woordfees die bespreking van Strachan se jongste boek bygewoon en mens kon die kameraadskap tussen hulle selfs daar in die Boektent aanvoel.

  • Foto's geneem deur Gerrit Rautenbach

Lees ook

1 Recce, die nag behoort aan ons: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 2

Kommentaar

  • Om vir die beskerming van huis en haard, vryheid en selfs 'n ideologie aan 'n oorlog deel te neem, maak vir my sin.
    Maar vir die avontuurlus ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top