US Woordfees 2019: Bloedbande van Verwoerd

  • 0

Wilhelm Verwoerd en Lukhanyo Calata
Foto: Elize Zorgman

Die van Verwoerd roep vandag nog verskillende emosies by Suid-Afrikaners op. Terwyl sommige steeds ’n heldeverering vir Hendrik Verwoerd het, is dit vir baie Suid-Afrikaners ’n vloeknaam. Hoe mens ook daarna kyk, die naam Verwoerd bly ’n simbool van die diep verdelingslyne wat daar onder Suid-Afrikaners is.

In sy boek Bloedbande het Hendrik Verwoerd se kleinseun Wilhelm diep in sy familiegeskiedenis gaan delf om die bloedband tussen hom en sy oupa te probeer verstaan en vrede te maak met die bloed in hulle are, maar ook die bloed op hulle hande.

Wat die jonger Verwoerd se boekgesprek by die Woordfees uniek gemaak het, is dat sy gesprekvoerder in die Boektent aan die ontvangkant van apartheid was. Lukhanyo Calata, skrywer van die boek My father died for this, se pa is tydens die apartheidsjare deur die veiligheidspolisie vermoor. Sy pa was Fort Calata, een van die Cradock Vier wat in 1985 saam met sy vriend Matthew Goniwe en Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkhonto  vermoor is. Calata was maar drie jaar oud toe sy pa vermoor is en Wilhelm Verwoerd was twee jaar oud toe sy oupa in die parlement vermoor is.

Wilhelm Verwoerd
Foto: Elize Zorgman

Die gesprek in die Boektent oor Verwoerd se boek was as’t ware ’n simboliese brug tussen die ou en nuwe Suid-Afrika waar daar na soveel jaar saam besin kon word oor die verlede, maar ook hoe om die toekoms tegemoet te gaan.

Verwoerd se spanning met sy familiebande is ’n sentrale tema in die boek. Hy het die boek doelbewus in Afrikaans geskryf om met mede-Afrikaners in gesprek te tree. Dit kan egter nie net ’n wit Afrikaanse gesprek bly nie, sê hy. Daarom het hy vir Calata gevra om die gesprek oor sy boek by die Woordfees met hom te voer. Calata, wie se oupa ook ’n belangrike pos as sekretaris-generaal van die ANC beklee het, het die gesprek met Verwoerd in Afrikaans gevoer.

Daar bestaan ’n byna onversoenbare kloof tussen HF Verwoerd die oupa en HF Verwoerd die eerste minister met wie se nalatenskap sy kleinseun grootgeword het en wat steeds deur die res van sy familie vereer word.

Die jonger Verwoerd se boek was deels ’n poging om sin te probeer maak van sy verbintenis met sy oupa en om eerlik te wees oor sy herkoms sonder om sy familiebande te verwerp of te ontken.

Lukhanyo Calata
Foto: Elize Zorgman

Om dit te kon doen moes hy sy familie – wat sy oupa steeds as ’n held vereer – probeer verstaan. Hy moes ook luister na die ervarings van vriende soos Calata en ander wat hy ontmoet het toe hy by die ANC aangesluit het.

Mense aan die ontvangkant van apartheid sien sy oupa in ’n gans ander lig as diegene wat deur apartheid bevoordeel is. Dit is deel van die verhaal waarmee Wilhelm Verwoerd in sy boek stoei en wat hy sy “ontwoerding” noem.

“Hoe kan ek eerlik wees oor wie ek is en versoening oor rassegrense heen help bewerkstellig? Wat van my eie familie en my oupa? Is ek bereid om werklik ook na sý storie luister? Ek het besef ek moet ook op ’n  dieper empatiese vlak na my eie familie terugkeer. Hoe maak ek sin van die bloed wat as’t ware in my gene is?”

Van daar die titel Bloedbande. Aan die een kant is dit ’n familieband van bloed wat nie gebreek kan word nie, aan die ander kant die bloed wat aan die Verwoerd-naam se hande kleef.

Sy ouma Betsie se dagboek het hom gehelp om sy oupa deur haar oë as mens beter te verstaan. Die tweede deel van haar dagboek beskryf hy as ’n rouboek oor ’n deel van sy familiegeskiedenis waarvan hy nie bewus was nie.

Vir Lukhanyo was Verwoerd se boek nie maklik om te lees nie, erken hy. Die Verwoerd-naam was basies ’n vloekwoord in sy gemeenskap. Hy wou by Verwoerd se kleinseun weet hoe bou mens ’n brug as mens nie kennis het van wat anderkant daardie brug is nie.

Verwoerd sê sy vier jaar in die buiteland het hom gehelp om swart mense vanuit ’n ander hoek te leer ken. Dit was die sleutel wat die kokon waarin hy geleef het, laat oopgaan het.

Vandag beywer hy hom op verskeie terreine vir versoening, oa deur middel van gesprekke met die NG Kerk waarvan hy lidmaat was. “Die NG Kerk het ’n ontstellende rol gespeel en God en taal as ’n kragdadige verblindingsmiddel gebruik om apartheid aan sy lidmate te verkoop. Dit was ’n bose konkoksie wat mense tot die punt gebring het waar ander mense se menswaardigheid vertrap is.”

Deel van Verwoerd se lewenstaak is om mense betrokke te kry by regstellende aksies. Hy sê die NG Kerk het ’n baie spesifieke verantwoordelikheid om op ’n praktiese manier te help om versoening te bewerkstellig en ’n verskil te maak aan mense se armoede.

Verwoerd se bloed was ook in ’n ander gesprek ter sprake by vanjaar se Woordfees. Dit was tydens die bespreking van Harris Dousemetzis se boek Tsafendas and Verwoerd: the murder, the madness. Daarin vertel die skrywer hoe die ware verhaal van Dimitri Tsafendas verdraai is en die vreemde storie van ’n lintwurm wat die moordenaar se dade dikteer het, gefabriseer is.

Besoek die US Woordfees se webwerf vir nog inligting.

Lees ook

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top