Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Wilhelm Verwoerd

Wilhelm Verwoerd is die kleinseun van HF Verwoerd. Sy ontnugtering met apartheid lei tot sy vervreemding van die familie, veral toe hy aansluit by die ANC en by die WVK inval as navorser. Hy werk in Ierland met versoening tussen voormalige vyande en is tans ’n navorser by die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die US.


Opsomming

Bloedbande: ’n donker tuiskoms
Wilhelm Verwoerd
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624085171

Is of breek of bewaar werklik die enigste twee opsies vir bande van bloed?

Na jare van versoeningswerk tussen eertydse vyande in Ierland wil Wilhelm Verwoerd vrede maak met sy eie omstrede familie. Hy kom terug Suid-Afrika toe en sonder hom af in die Verwoerd-strandhuis. Teen die muur hang ’n gesinsfoto waarop sy oupa, die berugte HF Verwoerd, hom as baba teer vashou en ’n melkbottel gee. Hoe versoen hy dié menslike oupa met die gehate onderdrukker wat in die stories van sy swart bure en vriende na vore kom? Wat as kinders gedans het toe sy oupa vermoor is?

In sy soektog na begrip kom hy af op ouma Betsie Verwoerd se dagboeke, en voer hy openhartige gesprekke met sy swart buurvrou, sy vriendin Pumla Gobodo-Madikizela, en sy ma.

’n Intieme, openhartige blik op wat dit beteken om vandag in Suid-Afrika met integriteit te leef.

“Unieke materiaal, insiggewend en aangrypend – ’n belangrike boek” – Annemarie Mischke


Uittreksel

Voorbrief

Blaas ’n Bietjie, Bettiesbaai
25 Januarie 2014

Liewe oupa Hendrik

Amper 50 jaar het verloop vandat ek rustig op Oupa se skoot gelê en melk drink het. Dis ook al byna 50 jaar ná Oupa se bloedige dood, tog voel dit vreemd reg om nou hierdie brief vir Oupa te skryf. Waar sal ek begin? Dalk met die rede waarom ek vandag hier in Blaas ’n Bietjie se ruim woonkamer sit?

Ná twaalf jaar van vredeswerk in Ierland en Noord-Ierland het ek onlangs na ons geliefde Suid-Afrika teruggekeer. Gedurende die tyd in die buiteland het ek openhartige dialoog tussen voormalige vyande help fasiliteer. Ten spyte van ’n bloedige verlede en te midde van ernstige politieke verskille het ons veral oudstryders aangemoedig om diep na mekaar se lewenservaring te luister en sodoende mekaar bloot as mense te aanvaar. Sonder uitsondering.

Hierdie opdraande laatnagtelike werk het my toenemend laat wonder: Kan ek dieselfde binnepad met Oupa stap? Hoe kan ek gehoor gee aan my groeiende behoefte om juis Oupa as méns te ontdek? Durf ek Oupa probeer verstaan – in eerlike, selfondersoekende nederigheid, met hart en siel en verstand – gegewe die gevaar dat diegene wat onder dr. Hendrik Verwoerd se beleid gely het (en steeds onder die gevolge daarvan gebuk gaan) my empatiese strewe na insig as sout in hul wonde mag ervaar? Is dit moontlik dat ek as kleinkind ook Oupa kan vermenslik sonder om die rou verband wat soveel Suid-Afrikaners tussen Verwoerd en hul historiese ontmensliking lê te onderskat?

Hier waar ek by die ovaal etenstafel sit, word ek feitlik deur Oupa omring: Agter my is ’n enorme skildery waar Oupa in die Vaalrivier visvang en aan my regterkant ’n wit marmerborsbeeld van Oupa in profiel. Op die laaikas teen die oorkantste muur staan ’n effens verbleikte foto van Oupa en Ouma wat glimlaggend buite op die grasperk daar aan die berg se kant staan en langsaan, in die verste linkerhoek, is ’n foto van ’n trotse Oupa langs ’n allemintige sewe voet lange tuna, met bokant die foto ’n groot gedroogde visstert en die stewige vishoek en lyn waarmee Oupa manalleen daardie bielie ingekatrol het. En voor my, teen die westemuur, hang hierdie Huisgenoot-familiefoto met sy byskrif: “Oupa en Ouma Verwoerd met hul kleinkinders, Libertas, Pretoria, 8 September 1964”.

Ek het al vele kere na dié toneeltjie gestaar. Omring deur nefies en niggies, sit Oupa met my op Oupa se skoot en ek drink melk uit ’n bottel in Oupa se hand. Natuurlik kan ek niks van daardie oomblik onthou nie, maar ongelukkig het ek ook geen latere persoonlike herinnerings aan Oupa nie. Ek was net twee en ’n half toe Oupa vermoor is, maar ek het grootgeword met ’n oorvloed positiewe beelde van Oupa. Ek is eers ongeveer 30 jaar gelede die eerste keer werklik gekonfronteer met die beeld van “Verwoerd, die argitek van apartheid”. Dit was die begin van ’n intense innerlike worsteling, Oupa, ’n langdurige geloofskrisis en uiteindelik ’n politieke distansiëring van daardie Verwoerd. Uit lojaliteit aan Oupa het ek my bes gedoen, maar teen die vroeë 1990’s kon ek regtig nie meer dr. Verwoerd se afsonderlike ontwikkeling versoen met my medemense, en veral mede-Christene, se ervaring van apartheid nie.

Vir my, as een van Oupa se kleinkinders, het ’n baie moeilike tyd gevolg. Sommige familielede, veral Pa, het gevoel ek het Oupa en die familie in die skande gesteek. Hulle het my openbare kritiek op dr. Verwoerd se beleid en optrede as verraad beskou.

Ek wonder hoe Oupa daaroor gevoel het? Ai, ek wens so ek kon Oupa self vra! Ek kon Ouma darem pols. Sy wou weet of my besluit deur my beginsels en geloof gemotiveer is. Toe ek opreg ja kon sê, het sy – sover ek kon oordeel – haar daarin berus. Sy het nooit my kleinkindskap bevraagteken nie.

Weet Oupa hoe dikwels ek al gewens het dat ek Oupa behoorlik kon leer ken het? Oupa is die eerste persoon wat ek graag sal wil ontmoet wanneer ek eendag in die hemel kom. Intussen voel dit egter of daar ’n onoorbrugbare kloof tussen ons gaap. Dis so moeilik om ’n betroubare aanvoeling te kry van wie Oupa werklik was. Ek wens Oupa het soos Ouma dagboek gehou, of ook persoonlike briewe geskryf – getuienis wat my vandag sou kon gehelp het om te verstaan wat destyds binne-in Oupa aangegaan het: die vrese en vrae en gevoelens waarmee Oupa geworstel het, die vreugdes en drome wat Oupa gekoester het, Oupa se geloofspad ...

Ek is bang om so eerlik vir Oupa te skryf. Ek weet nie eens hoe om Oupa aan te spreek nie. “Oupa” kom natuurlik, ook die instinktiewe vermyding van jy en jou. Ek hoop regtig dat ek as kleinkind nou oud genoeg is om ook van man tot man te skryf, openhartig en met min doekies omdraai, sonder dat Oupa dit van meet af aan as oneerbiedig teenoor ’n voorouer afskryf.

Ek is nie seker hoe om te groet nie. “Vriendelike groete” klink te koud. “Liefde” is lomp, veral omdat ek dikwels nie seker is wat ek werklik teenoor Oupa voel nie. So, in hierdie stadium volstaan ek dus met:

In eerlike, nederige soeke
U kleinkind
Wilhelm

  • 2

Kommentaar

  • Ek dink nie jy verstaan jou oupa se visie nie, hy is vermoor omdat hy die padkaart van Suider Afrika na n super staat uitgelê heten die visie gehad het van dit wat nou in Suid-Afrika gebeur.

  • Ek het dit 'n aangrypende eerlike boek gevind waarop ek verskeie vlakke mee kon aanklank vind.

    Ek was in Matriek toe Dr Verwoerd vermoor is en het die bruisende Afrikanernasionalisme en vooruitgang van daardie tyd eerstehands ervaar. Ook die agteruitgang en gebrek aan visie wat geleidelik na sy dood ingetree het.

    Ek sien in die spanning tussen Wilhelm en sy pa baie van die generasiespanning wat ek glo baie Afrikanergesinne ervaar.
    Die ouer geslag onthou Dr Verwoerd as 'n staatsman wat met Afsonderlike Ontwikkeling gepoog het om die veelvolkige tameletjie op te los terwyl die latere geslagte vaskyk teen die magsvergrepe wat onder latere NP-regerings plaasgevind het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top