US Woordfees 2018: Irna van Zyl gesels oor Gifbeker

  • 0

Irna van Zyl (© Joanne Olivier)

Hallo Irna, baie geluk met die verskyning van Gifbeker. Wil jy dalk iets van die titel vertel?

Baie dankie, ja, die titel Gifbeker verwys na die giftigste sampioen in Suid-Afrika. Sy Latynse naam is Amanita phalloides en hy is verleidelik mooi, smaak glo heerlik, maar binne ses ure nadat jy dit geëet het – blykbaar selfs net ’n klein happie – besef jy iets is verkeerd. Dit is gewoonlik te laat teen die tyd dat jy mediese hulp gaan soek en binne ses dae gee jou organe in en sal jy sterf.

Natuurlik sinspeel die woord gifbeker ook op meer as net sampioene. Iemand moet ook figuurlik uit die “poison chalice” drink en hoekom en waarom is die vrae wat ter sprake is.

Dis ’n spanningsroman en hier verbind jy dit, deur middel van die titel, met spys en drank. Mens dink dadelik aan Daisy de Melker. Is dit ook vir haar wat jy in gedagte gehad het, of waar het jou inspirasie vandaan gekom?

Die storie het eintlik by kos en restaurante begin en nie by gif nie. Natuurlik moes ek ’n manier kry waarop die moordenaar sy slagoffers om die lewe kon bring en die toenemende gewildheid van sampioenversameling was die inspirasie daarvoor.

 Een van New Media (waarvan ek een van die stigtersdirekteure was) se bekendste publikasies is www.eatout.co.za en ek het toe ek in 2016 aan Gifbeker begin werk het, ’n rukkie lank ’n restaurantrubriek vir die webwerf geskryf. Eat Out het ook ’n jaarlikse prysfunksie waartydens die beste chefs in die land geëer word. Die storie is amper op ’n skinkbord vir my aangebied deurdat ek so baie van die kossterre of celebrities in aksie gesien het, asook natuurlik die kosresensente en bloggers, wat amper net so beroemd (en sommige berug) is as die chefs.

Wat kan jy van die komplot van Gifbeker verklap?

Die boek begin toe die mees berugte kosblogger in die land dood neerslaan in sjef Zeb Tswalo se deftige restaurant in die Hemel-en-Aarde Vallei buite Hermanus. Speuradjudant Storm van der Merwe eet in die restaurant saam met haar beste vriendin Kat Vermaak, wat ook die redakteur is van ’n koswebwerf, fooddotcom. Later die aand blyk dit dat giftige sampioene moontlik die blogger se dood veroorsaak het. Intussen word Storm se oudkollega Andreas Moerdyk uit die polisie geskop en kom soek hy ’n heenkome by haar op Hermanus. Sy is glad nie lus om vir ou Moerdyk op te piep nie terwyl sy aan ’n moordondersoek werk en boonop moet cope met ’n nuwe baas en ander dinge wat in haar persoonlike lewe gebeur nie.

Waarom skryf jy misdaadromans?

Ek dink ek was een van Deon Meyer se eerste “fans”! Nee, meer ernstig, ekself lees graag misdaadromans vir ontvlugting en ontspanning en omdat ek ’n joernalis was wat onder meer ook misdaad as my “beat” gehad het, is dit seker ’n logiese keuse. Dis wel ’n genre waarmee ek lank gesukkel het en steeds vind ek dit uiters kompleks en letterlik vol slaggate, veral soos wat dit al hoe meer mededingend word en mens nogal regtig oorspronklik moet dink oor jou storie en karakters.

Die item op die Woordfeesprogram, "Die restaurant as misdaadtoneel" verwys na nog meer romans wat 'n eetplek as ruimte vir misdaad aanwend. Wil jy iets hieromtrent sê? Of oor wie saam met jou gaan gesels?

Natuurlik is kos nie ’n oorspronklike tema in romans nie, selfs nie in die misdaadgenre nie. In onlangse voorbeelde hiervan in Suid-Afrika skitter Sally Andrew veral. Kerneels Breytenbach gesels met my en Schalk Schoombie. Schalk se satiriese roman Rooi haring het verlede jaar verskyn en speel ook in ’n restaurant af. Ons is op Vrydagoggend, 9 Maart om 11:30 aan die woord in die Drostdy-teater op die Stellenbosse Woordfees.

Hoe skryf jy 'n roman? Beplan jy vooraf, ontwikkel die verhaal organies?

Ai, met hierdie boek het ek so mooi vir myself belowe ek gaan meer beplanning doen as met die eerste, en ek hét. Hoewel ek destyds ook gedink het ek het baie beplan aan Moordvis, maar steeds neem die storie sy eie loop. So dit is maar ’n kombinasie van beplanning en organiese ontwikkeling. Wat dit natuurlik lekker en kreatief maak terwyl jy skryf.

Het jy 'n vaste skryfroetine en wanneer kry jy of maak jy die tyd?

Omdat ek drie jaar gelede al vroeg afgetree het en wel nou en dan nog vryskut skryf vir publikasies – meer eintlik as in die afgelope tien jaar – het ek steeds nogal tyd op hande. Ek hou daarvan om teen soggens sesuur in my studeerkamer te wees met ’n breuk tussenin om met die honde te gaan stap en al om die tweede dag gym toe te gaan. Gewoonlik rus ek bietjie ná middagete en hervat dan weer teen laatmiddag tot so agtuur saans. Partykeer neem die skryfwerk my naweke en sogenaamde vakansies oor en met Gifbeker het ek selfs ’n jaar gelede op Kersoggend gesit en skryf.

Wat lees jy?

Amper enigiets: dit kan misdaad, nie-fiksie en letterkunde insluit. Onlangs het ek Redi Tlhabi se Kwezi-boek gelees. Tans is ek besig met Chris Karsten se skitterende Die koms van die motman. Vroeër in Desember was dit die pragtige en interessante Little Fires Everywhere van Celeste Ng en Michael Robotham se The Secrets She Keeps, waar hy nogal afwyk van sy gewone karaters en opnuut ’n baie goeie spanningsroman geskryf het.

Ek het vroeër vanjaar met Etienne van Heerden en SJ Naudé onderhoude gedoen by Open Book in Kaapstad oor hulle skitterende boeke, Die wêreld van Charlie Oeng en Die derde spoel onderskeidelik. Dit was heerlik en verrykend om ernstige Afrikaanse letterkunde te lees, veral twee sulke goeie boeke. Ek dink natuurlik Etienne se boek behoort in Engels uitgegee te word sodat hy die Statebonds- en Man Booker-pryse kan wen, want hy verdien beslis daardie internasionale erkenning.

Ek was ook verlede jaar ’n beoordelaar van die nie-fiksie boeke vir die ATKV en het so onder meer Elsabé Brits se gewilde Emily Hobhouse-boek gelees.

Enigiets anders wat jy geniet om te doen, behalwe skryf?

Ek is ’n gholfspeler. Nie dat ek nou eintlik ’n voorgee het om op trots te wees nie, maar ek geniet dit om een keer ’n week in die Paarl of op Hermanus te speel. Gholf is bietjie soos skryf. Jy is net so goed soos jou bleddie laaste hou. Elke keer begin jy van heel voor af en nes jy dink jy het iets goed gedoen, hap hy jou. Dit hou jou beslis nederig.

Ek hou ook baie van reis en het pas teruggekom van twee weke in die Maldives en probeer een keer ’n jaar in die bosveld en/of in Europa uitkom.  Verlede jaar was ons in Griekeland waar ons een van Frederik de Jager en Douw Steyn se kursusse bygewoon het (’n kunskursus deur Michèle Nigrini) en dit was “lewensveranderend”, om nou ’n cliché te gebruik.

Ek gaan ook vir die eerste keer in my lewe binnekort druiwe oes en help wyn maak en het onlangs ’n branderry-les gedoen, maar ek dink nie dis heeltemal vir my nie.

Die lekkerste deel van my dag is soggens kort ná agt wanneer ek en my metgesel, Bridget, met ons twee honde, Oscar en Jake, gaan stap.

Waarna sien jy uit op vanjaar se Woordfeesprogram? Gaan jy tyd kry om nog produksies by te woon?

Jissie, ek het vir so baie goed bespreek! Hoofsaaklik die boekdinge. Ek gaan na die Elsa Joubert-sessie Maandagoggend, die vyfde, wanneer Ena Jansen se onderhoud met haar gespeel word, beplan om die Franz Marx-onderhoud daarna by te woon en Woensdag gaan ek na Antjie Krog, Eben Venter en SJ Naudé luister. Donderdag wil ek Jolyn Phillips se Tjieng tjang tjerries bywoon en Vrydagoggend Marlene van Niekerk voor my en Schalk se sessie met Kerneels. Die middag is dit Marita van der Vyver wat met Gerda Taljaard praat. Tussendeur hoop ek om Karin Hougaard se show en miskien Ingrid Winterbach se Freaks te kan sien. En dan praat ek en Marita, Marion Holm en Errieda du Toit Donderdagaand by Neethlingshof oor ons jare – die stormagtige einde van die sewentigs en begin van die tagtigs – op Stellenbosch.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top