US Woordfees 2017: Totally twins

  • 1

By die bekendstelling van die US Woordfees se kortverhaalbundel het Nico Koopman, viserektor van die Universiteit Stellenbosch, ’n treffende woord gespreek.

"Wat is die betekenis van 'woord'?" vra hy en verwys na die Grieks in die Bybel: πρᾶξις, εως, ἡ. Dit word vertaal as "praxis". ’n Handeling. "Woord" as woord is nie net ’n soortnaam nie, dis ’n werkwoord. Meer as dit: dis ’n skeppingsdaad.

"Welkom by die Woordfees!" sê hy.

Hierdie aktiewe woorde, die skeppings, kom in verskillende gedaantes by die Woordfees voor: in die vorm van boeke, teaterstukke, kuns, musiek. Die skares stroom na die bekende name, die teaters sit vol en die boekprogram word goed ondersteun.

Maar daar is ook heelwat minder-bekende mense wat tydens die Woordfees optree, en soms gaan luister mens na iemand en voel spyt dat mens nie kans het om na nog baie meer geleenthede te gaan nie. Wie weet wat mens alles misloop?

Die musikale susters wat hulself Totally Twins noem, het op 4 en 5 Maart in die intieme Drostdyteater opgetree.

Die Woordfees se programbeskrywing van hierdie geleentheid is:

Die talentvolle tweelingsusters Annemarie van Eeden en Lizanne Barnard span eg Europese akkordeonklanke en Suid-Afrikaanse ritmes in om vlerke aan geliefde liedjies soos "Lisa se klavier" en "My Sarie Marais" te gee.

Maar wie is hierdie twee en is hulle werklik ’n tweeling?

Op die verhoog is daar drie mense, ook ’n man.

Annemarie van Eeden is een van die twee vroue, die vrou met die rooibruin hare. Sy is ’n sanger, liedjieskrywer, eggenote en ma wat in Switserland woon.

Haar suster, Lizanne Barnard, het blonde hare en sit by die ander klawerbord.

Die man met die kontrabas is Leon Ecroignard.

Hy praat heel eerste en heet almal welkom. Hierna praat die twee susters en vertel wie hulle is en waarvan hulle hou. Die twee maak al van kleintyd af saam musiek. Hulle is al deur soveel: skooldae, universiteit, saam bruinbrand langs die swembad (met groter en met minder sukses), en vandag nog skryf hulle saam aan produksies en maak musiek.

Hulle skryf meestal oorspronklike musiek. Verskillende instrumente word bespeel: klawerbord, fluit, trekklavier, kontrabas, tromme.

Die vertoning word afgewissel met musiek en staaltjies. Leon sing ook ’n lied op sy eie. Die susters besing ook sy lof: hy is ’n man wat "enige instrument kan bespeel".

Hoe oefen mens vir ’n vertoning as die drie musikante in verskillende lande woon? vra hulle. Met Skype, met WhatsApp, met tydsverskille. Mens oefen as mens ’n aanvoeling het vir mekaar.

Soms sing hulle ’n lied wat die een sussie vir die ander een geskryf het.

Die senior koor van Laerskool Stellenbosch vul die vertoning mooi aan. Hulle sing saam aan "My Sarie Marais" en die pragtige "Mag jy (lied vir die vroue van Suid-Afrika)".

Voordat die twee susters "Lisa se klavier" sing, verklap hulle dat “Lisa” die aand in die gehoor is. Wat hulle nie weet nie, is dat hulle lof ook toevallig net voordat ek die saal betree het, deur die einste Lisa Joubert aan my besing is.

’n Tegniese aspek om te opper: Daar kan aandag geskenk word aan die klankversterking van die instrumente; soms is die klanke van die begeleiding gewoon te hard.

Annemarie van Eeden vertrek terug na Switserland en laat die Suid-Afrikaanse gehoor agter met ’n kennismaking van haar en haar suster se talent.

Dalk is hierdie die belangrikste boodskap, dink ek toe ek daar wegstap, sonder dat daar dalk ’n bedoeling was aan ’n boodskap, net soos met Nico Koopman se onbedoelde boodskap, sy spirituele preek by die Woordfeesbundel se bekendstelling: susters se liefde sal seëvier. Familie is familie, maak nie saak waar hulle woon nie.

En: musiek bou brûe as mens in verskillende lande woon.

Mag elke woord by die Woordfees van krag tot krag gaan.

70 min

Met: Annemarie van Eeden (sang, klavier, klawerbord, akkordeon), Lizanne Barnard (sang, klavier, klawerbord, fluit) en Leon Ecroignard (perkussie, kontrabas, kitaar, stem)

Produksiehuis: Totally Twins Productions

Bindingsteks: Lizanne Barnard

  • 1

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    Hierdie vertoning was so pragtig. Die tweelingsussies het 'n verruklike meelewende musikale aanvoeling vir mekaar en hulle program was treffend, ontroerend en ook blymoedig. Die stemme, klawers en ander klankinstrumente was 'n genot vir hulle vaardigheid daarop en as die twee sussies so saamspeel en sing op hulle klaviere kan die klank maar laat waai.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top