US Woordfees 2015: Saartjie Botha se visie

  • 0

Saartjie Botha (foto: Naomi Bruwer)

Die US Woordfees was vyftien jaar lank onder die bestuur van Dorothea van Zyl, wat ook stigter van die fees was. Nou het Saartjie Botha die leisels vir 2015 oorgeneem. Sy vertel vir Naomi Meyer hoe sy die toekoms van die fees sien.

Hartlik geluk van LitNet se kant af dat jy volgende jaar die US Woordfees bestuur. Tradisie by 'n troue is glo om vir die bruidegom te sê "geluk" en vir die bruid "sterkte". Ten opsigte van Woordfees 2015: Watter een is op jou van toepassing?

Hou dit maar by “sterkte” vir nou. Gelukwensing sal eers na die 2015-fees verdiend wees.

Jy is veral bekend vir alles wat jy in die teaterwêreld vermag en vermag het. Sal die klem by volgende jaar se US Woordfees dus op sterk teaterwerk wees?

Die hart van die Woordfees was nog altyd die Boektent en dit sal so bly. Die Afrikaanse kunstefeeste het elkeen 'n unieke karakter, en die Woordfees se geaardheid is literêr en in gesprek – in die wydste sin van die woord. Die Woordfees bedien 'n diverse gemeenskap en die verskeidenheid moet in die programsamestelling weerspieël word. Ons het die afgelope paar jaar 'n sterk teaterkomponent ontwikkel, en gaan volgende jaar eerder op kwaliteit as kwantiteit fokus.

Foto: US Woordfees se Facebookblad

Hoe sien jy die toekoms van die US Woordfees?

Die grootste uitdaging vir alle feeste is volhoubaarheid. Dis 'n tameletjie wat elke jaar gepak word – die logistieke en inrigtingskoste wat met die aanbied van 'n fees gepaard gaan, is enorm. Ons moet ernstig aandag skenk aan ons borgskapstruktuur en vennootskappe om die fees te maak werk. Die Woordfees toon wel konsekwente groei in ekonomies moeilike tye en het waarderende en lojale gehore. 'n Fees moet egter elke jaar bly vernuwe om gehore terug te lok en nuwe gehore te ontwikkel. Ek sou graag wou sien dat die Woordfees en WOW, ons Woorde Open Wêrelde-projek, meer geïntegreerd funksioneer en ons gemeenskap en die kunste beter dien. Afrikaans is 'n baie sterk kommoditeit en dit sou kortsigtig wees om dit te misken. My voorganger en stigter van die fees, Dorothea van Zyl, het 'n stewige fondament gelê om op voort te bou.

Kan mense nog aansoek doen vir produksies of om deel te wees van volgende jaar se US Woordfees?

Aansoeke het reeds gesluit en ons is flink besig met keuring en beplanning. Ons stel die program Maandag 8 Desember bekend.

Wat is jou visie en droom vir die US Woordfees?

Dat dit 'n fees van uitnemendheid sal wees wat mense roer en raak. Dat dit vir feesgangers 'n verrykende en verruimende ervaring sal wees en aan kunstenaars 'n platform sal bied om te eksperimenteer en te waag. Dat dit die gemeenskap sal dien. 'n Liefde vir lees sal kweek, gesprek sal stimuleer en ook 'n lekker paartie sal wees. Dat die werksomstandighede vir die klein personeel so sal wees dat hulle passie nie sal kwyn nie. Dat dit vir borge die moeite werd sal wees om weer en weer en meer en meer te belê.

Kyk hieronder na wat Saartjie Botha verlede jaar, in haar vorige hoedanigheid as toneelprogrambestuurder van die US Woordfees 2014, op kykNET se Dagbreekprogram gesê het.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top