US Woordfees 2013: Nicki Spies oor die eintlike storie van seks

  • 0

Nicki Spies, ’n praktiese teoloog, narratiewe en pastorale praktisyn in privaat praktyk en gender-konsultant vir individue, korporatiewe en gemeenskapsorganisasies, sal by die US Woordfees 2013 in gesprek met Christina Landman wees oor haar boek Seks – Nou wat is die eintlike storie. Sy beantwoord enkele vrae oor die boek en die vooruitsig van die gesprek.

Goeiedag, Nicki, hoe gaan dit?

Henry, dit is goed om so by wyse van hierdie skrywe met jou kennis te maak. Ek is baie opgewonde oor my deelname aan die Woordfees en om my werk aan ’n wyer gehoor bekend te stel – dankie vir die geleentheid!

Jou boek Seks – Nou wat is die eintlike storie is in 2012 bekendgestel. Hoe ervaar jy die algemene ontvangs van die boek tot dusver?

Ek was aanvanklik nogal bekommerd oor hoe die boek ontvang sou word, veral omdat ek moeilike kwessies soos seks, genderrolle, geslagsgelykheid en geloof bespreek. Die boek was tegnies ook ’n uitdaging, want ek wou akademies-gefundeerde kennis in ’n meer toeganklike en in Afrikaanse idioom verwoord om sodoende my navorsing met die groter leserspubliek te deel.

Alhoewel ek verskeie heilige koeie aanvat en slag in die boek, is die boek geweldig positief ontvang. Ek skryf dit toe aan die feit dat ek deurentyd gepoog het om met sensitiwiteit en verantwoordelikheid hierdie moeilike kwessies aan te spreek. Ek is veral verbaas oor die wye ouderdom-spektrum wat die boek bereik. Ek het byvoorbeeld terugvoer van ’n tienerseun van 17 gehad en dieselfde dag ook van ’n pensionaris wat 77 jaar oud is. Dit is bepaald verblydend om te sien dat beide mans en vroue aanklank by die boek vind, en so ook gelowiges én ongelowiges. Om die waarheid te sê, ek is in ’n sekere sin verstom oor die reaksie op die boek. Nie soseer oor die feit dat soveel mense terugvoer aan my gee nie, want ek is oortuig van die groot behoefte wat daar bestaan om oor seks in terme van geloofskontekste te gesels. Ek is egter aangenaam verras oor die oorweldigend positiewe reaksie op die boek en mense se gewilligheid om hul eie konstruksies oor seksualiteit en geloof te ondersoek en aan te spreek.

By vanjaar se Woordfees tree jy in gesprek met die teoloog Christina Landman oor jou jare lange navorsing oor seksualiteit en geloofskonstruksies. ’n Mens se eerste instink, gegewe die konserwatiewe aard van Afrikaanssprekendes se geloofsopvattings oor die jare, sou wees dat dié twee elemente tradisioneel amper ’n blinde oog vir mekaar draai. Hoe sou jy antwoord op dié stelling en wat vind ’n mens wanneer jy ordentlik onder die oppervlak begin krap?

Vir eeue was die dominante storie rakende seks dat daar nie oor die onderwerp gepraat word nie, veral nie in geloofstrukture nie. Om die waarheid te sê, so onlangs as die jare sewentig was seks ’n taboe onderwerp in die algemene Suid-Afrikaanse samelewing. Openlike gesprek oor seks was ondenkbaar en as gevolg van hierdie stilte het baie mense seks aan sonde gekoppel of as iets onwelvoegliks bestempel. Tog het daar oor die afgelope dekade ’n wesenlike skuif begin plaasvind wat daartoe bydra dat mense nou met groter vrymoedigheid oor seksualiteit gesels. Een van die mees opvallende uitkomste van my navorsing is die groot behoefte wat daar by mense bestaan om oor seksualiteit te gesels, maar dan in ’n konteks van inligting en nie op ’n platvloerse manier nie. Mense is uitgehonger vir openlike, verantwoordelike en verantwoordbare gesprekke oor seksualiteit en geloof.

Dit is geen geheim dat daar enorme genderongelykheid in Suid-Afrika te vinde is nie. Hoe sou jy die probleem met Suid-Afrikaanse genderrolle wat spesifiek seks en intimiteit betref, beskryf?

In die Suid-Afrikaanse konteks word die voorskrifte vir en oor seks direk aan genderrolle gekoppel. Die rolverdeling van mans en vroue, veral soos voorgehou in geloofstrukture, het ’n enorme impak op hoe mans en vroue hul uitleef binne hul seksuele en intieme verhoudings. Hierdie geslagsrolle speel dikwels ’n belangrike rol in terme van ’n paartjie se seksuele aanpassing en geluk en kan dit selfs ondermyn. Seks is aanvanklik vir baie mans slegs ’n doen-ding en nie ’n gevoelsding nie, terwyl vroue hul eie seksualiteit dikwels in diens van hul liefdesmaats/mans se seksuele genot en nie hul eie nie sien. Geslagsrolle bepaal dikwels hoe ’n man sy potensie beskou, aangesien hy homself as onfeilbaar, sterk en in beheer wil ervaar en voorstel. Vroue, daarenteen, glo dikwels dat hulle slegs die passiewe ontvangers van seks behoort te wees en seks ’n manier is om hul huwelik en man te versorg. Voorts is seks vir baie mans die bewys van man-wees, terwyl vroue dit meermale beskou as ’n definisie en bevestiging van liefde. Historiese diskoers, soos byvoorbeeld dat ’n vrou (en so ook haar seksualiteit) aan haar man behoort, plaas ’n vrou in ’n ondergeskikte posisie relatief tot haar man. Dit bring mee dat ’n vrou se seksualiteit en seksuele vervulling gereeld in terme van haar man se seksuele konstruksies gedefinieer word. Meermale het dit tot gevolg dat beide die man en die vrou nie seksuele vervulling ervaar nie en dat hul intimiteitsbelewing hulle van mekaar vervreem.

Wat hoop jy sal mense wat jou boek lees, uit die ervaring put?

Die belangrikste oogmerk van die boek is om die stilte rondom seks te verbreek en aan mense die geleentheid te bied om oor hul eie konstruksies van seks, genderrolle en verhoudings te dink en te gesels. Voorts is dit vir my belangrik dat ons seks normaliseer en die wyse waarop die huwelik verseksualiseer word, bevraagteken. Die boek het ten doel om mense te help om gemaklik met hul eie seksualiteit te raak. Daarbenewens glo ek dat beter begrip van ons konstruksies oor seks, veral in terme van geloofsvoorskrifte, vir mense ruimte sal skep om hul konstruksies te ondersoek en aan te pas en sodoende tot seksuele vervulling en geluk kan bydra.

 

7 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R50

Lees nog inligting oor Seks – die eintlike storie?.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

Klik hier om Seks – Nou wat is die eintlike storie te koop by Kalahari.com.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top