In hierdie taalgesprek, enkele vrae aan Piet Croucamp: Wat bedoel u met "goedkoop zen"; "onverstaanbare gerym"?
Indien u nie die digkuns van Breytenbach kan begryp nie, verwys ek u graag na die werk van gesiene literatore oor sy gerekende digkuns, hier én internasionaal. Onder andere het Louise Viljoen en Helize van Vuuren uitstekende werk verrig om die werk van Breytenbach oop te maak. Daar bestaan ook 'n blokboek van Brink wat u mag help om die Zen-aspek in sy digkuns te ontsluit.
Net so min as wat ek my met gesag uitlaat oor politiek-wetenskaplike kwessies, verwag ek dieselfde van diegene wat indreun op die digkuns. En die taalfilosofie.
Die punte wat al by herhaling gemaak is:
– Waarom moet 'n taal wat hiér ontstaan het, verminder word en van die tafel gevee word?
– Waarom moet jong studente in 'n Afrikaanse omgewing nie die reg gegee word om in hul moedertaal onderrig te ontvang nie?
– Waarom moet hulle onderrig word deur mense wat nie eens vlot Engels kan praat nie en 'n ruimte geskep word waar swak Engels die onderrigtaal word aan mense wat nie Engels is nie?
Enige dosent weet dat studente dikwels dink hulle weet wat hulle wil hê. En dit is die plig van die dosent om hulle reg te help, na boeke te stuur en konsepte te help verstaan oor diversiteit, transformasie, en so meer.
Ek had al die voorreg om simpatisante van Engels bo Afrikaans op YouTube te beluister in Engels en dit is skandelik.
Gaan die Universiteit Stellenbosch Afrikaanse dosente aan Maties dwing om Engels-klasse by te woon?
Of sal ons "concord mistakes" en "whiff"-geluide moet verskoon?
Joan Hambidge
![]() |
Piet Croucamp reageer op Breyten Breytenbach se ope brief aan Wim de Villiers
Piet Croucamp "Taal en kultuur het, soos verskeie ander ismes, ’n morsige verlede en hoe ook al jy die geskiedenis van Afrikaans wil oorskryf, jy sal nie die bloed van die mure af kry nie." |
![]() |
'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid
Breyten Breytenbach "Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?" |




Kommentaar
Piet Croukamp praat gladnie namens Afrikaners óf namens Afrikaanssprekendes nie. Hy sit op 'n universiteit waar hy geheel ander geluide moet maak om sy joppie te hou.. Weet gladnie hoekom RSG hom heeldag in ons kele afwurg nie.. maar dis mos SABC, en dáár moet Afrikaans óók ondergeskik wees aan die heilige koloniale taal
HOOR,HOOR !!!!!! So 'n mond kort jam !!!! Dankie Joan, kom ons hoop net dat Piet gaan verstaan, of selfs die moeite gaan doen om jou verduideliking te lees.
Dankie, Joan Hambidge en Breyten Breytenbach.
Kort en kragtig. Baie dankie vir u vrae aan Piet Croucamp. Wat ek ook wil weet: as Afrikaans aan alle universiteite nou verminder word en uiteindelik verdwyn, dan sal Afrikaanse skole en onderwysers ook onmiddellik geraak word, net soos lektore, skrywers in Afrikaans, joernaliste ens. Dis 'n feit soos 'n koei. Dit wil ook sê duisende mense gaan hulle werk verloor. Lekker vir sekere mense? Nog duisende mense en hulle families wat werk verloor... Maak dit hoegenaamd nie saak nie?
Piet, jy raak nou regtig op die kant. Jy was maar ook op die kant by die Akker, maar ons het jou gedoog as gevolg van jou kopdoek. Had ons maar geweet hoe jou mantel swaai, dan sou ons jou sekerlik nie gedoog het nie. Groete, Naude Visser
Dis 'n grondwetlike kwessie waaroor daar nooit eenstemmigheid bereik sal word nie. Die hofsaak tussen Afriforum en die US moet so vinnig as moontlik na die Konstitusionele Hof verwys word sodat die onberispelike Hoofregter Mogoeng Mogoeng en sy kollegas 'n einde kan maak aan die onverkwiklike dermuitrygery.
Die verskil in die gebruik van Afrikaans tussen doktor Piet en Joan val op. Taal is 'n kommunikasie-middel. Die doktor poog om sy argumente en "meerdere" insig te staaf met hoe woorde en ingewikkelde sinkonstruksies. Joan skryf 'n Afrikaans waar die fokus val op haar argument. Ook opmerking is hoe die doktor van die swakste vorm van argumentasie gebruik maak - beledigings teen die persoon.
NS. Ekself het 3 grade - BA, Honneurs in Joernalistiek en die belangrikste van alles, Ruggraad.
Niel spog met sy grade. Opmerklik is hoe hy opmerklik verkeerdelik skryf/spel as opmerking. Lees sy "Ook opmerking is hoe die ......" Geen wonder jy kon net 'n BA graad behaal nie. Wonder wat doen mens met so 'n graad. Seker die rede vir die groot hoeveelheid dom afrikaners wat nie engels magtig is of wiskunde kan doen nie. Hulle het almal BA gaan studeer.
Piet is arm. Hy is gebrekkig. Sy eie skaamte vir Afrikaans knel hom. Hy probeer maar net cope.
Die Afrikaanse digters maak ons trots: dankie, Joan, dat jy die vrae stel waaroor ons almal wonder.
As 'n taal verlore gaan, gaan iets vir die hele wêreld verlore. Maar hoe nou gemaak in 'n land waar taal steeds net as 'n metafisiese middel tot 'n doel sien, 'n blote trokkie op 'n treinspoor wat dinge na 'n "final solution" toe vervoer.
Dat daar nie 'n massiewe ver-talingsinstansie en ver-talingsveldtog in Suid-Afrika bestaan nie, gaan my verstand steeds te bowe, of spreek vir my boekdele van wat begryp word omtrent wat taal in die mens se lewe DOEN. As ons nie deur Apartheid geleer het wat "name calling" doen nie, sal ons seker nooit leer nie.
Soos Derrida mens by herhaling gewys het, nie eers jou moedertaal is jou eie nie, jy het 'n vertalingsdiens selfs daarvoor nodig. Maar soos Derrida ook by herhaling gewys het, die mens is nou maar eenmaal mal daaroor om homself in die voet te skiet. Dat Kontinentale denke egter nie maklik is, om nie te praat van die feit dat dit kwansuis Europese/die kolonialiseerder se denke is, is natuurlik ook 'n feit.
So, laat ons maar maak soos ons nog altyd maak, laat die kinders maar die gelag betaal.
Joan Hambidge! Jem vir jou bek!
Die uwe (met bewondering).
Ek sal graag wil reageer op die polemiek rondom die US se beoogde taalbeleid na aanleiding van die befaamde en gerespekteerde Prof Breyten Breytenbach se ope brief aan Prof Wim de Villiers en Prof Piet Croukamp se reaksie op Breytenbach se brief, die volgende:
Prof Piet Croukamp het al berugtheid verwerf vir sy verwaande, arrogante, onbedagsame en dis-respekvolle strategie en wyse in die openbaar wanneer hy van sy akademiese eweknieë verskil. Hier verwys ek na die wyse waarop hy ʼn mede-professor in die verlede gevloek en beledig het in ʼn debat oor die bestaan van God. Selfs sy betrokkenheid as sogenaamde filantroop met betrekking tot Eugene de Kock se vrylating laat twyfel oor sy motiewe.
Sy strategie van aanval, beledig, verneder is al so voorspelbaar dat dit al vervelig begin raak het. Ek sal graag wil reageer op van Croukamp se kommentaar in sy brief: “Breyten Breytenbach het tans veel te sê oor Afrikaans, byna altyd met bytende sarkasme en ’n leksel meerwaardigheid.” Prof Breytenbach mag dalk die stryd teen apartheid ondersteun het waarvoor hy wêreldbekendheid verwerf het maar dat hy teen die taal ʼn stryd gevoer het is onwaar. Prof Breytenbach is dié hoogs aangeskrewe digter wat ons land nog ooit opgelewer het.
Waar was Croukamp toe Breytenbach nie geskroom het om teen die euwels van apartheid te rebelleer nie? Die ander vraag is wie is Croukamp om om homself aan te matig deur te verkondig dat Breytenbach te veel te sê het oor Afrikaans. Wat het van Croukamp se eie moedertaal trots geword?
Hoe ironies is dit dat Croukamp - Breytenbach beskuldig van: “byna altyd met bytende sarkasme en ’n leksel meerwaardigheid” Ek dink die tyd het aangebreek dat Croukamp die balk in sy eie oog verwyder.
Croukamp se straattaal-opmerking laat veel te wense: “Breytenbach het duidelik iets in sy twaksak wat horingdroog geword het en die frustrasie sweet nou uit sy mondhoeke.” Ek wonder hoe iemand wat homself as intellektueel voorgee dit nie vir homself kan uitwerk dat respek wek wedersydse respek nie. Die grootste leiers in ons samelewing is die soos Gandhi en Mandela wat ten spyte van hulle aansien nederig gebly het. Ons sal Croukamp definitief nie daarvoor onthou nie.
Croukamp se opmerking: “Dit bly maar ’n morbiede vermaaklikheid hoe reaksionêres altyd die bruin mense se gebruik van die kombuistaal aan die nekhare insleep by die argumente teen verligting, so asof die lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister nou weer voorgestoot kan word om te dien as menseskild teen die werklikhede van ons benepe opinies oor “eenvormigheid”. Probeer Croukamp beweer dat sy moedertaal bloot die kombuistaal van bruin mense is. Hierdie neerhalende eensydige verwysing grens nie net aan diskriminasie nie maar is ʼn belediging vir ons Afrikaanssprekende gekleurde broers en susters. Indien dit sy uitkyk is waarom dan nog in Afrikaans kommunikeer.
Met betrekking tot Croukamp se ongestaafde bewering: “Breyten, wat al vir dekades, sedert van agter die tralies, Afrikaans soos ’n hoer behandel het; wanneer nodig het hy geskryf in Afrikaans en wanneer nodig geswets en geskel op die taal. Maar slagofferskap en vroomheid kom beide maklik vir die “Fransman”. Dieselfde bedompige gedagtegange vaardig in die reaksionêre verwyl – wat hy nou ter wille wil wees – was sy teiken toe dit maklik was om ondertoe te skop. Die volgende: Breyten mag dalk gerebelleer het teen die destydse Nasionale party met sy “boorish” uitkyk en beleid maar hy het nooit sy herkoms en sy taal verraai nie. Breyten was nooit ʼn huigelaar nie en het met trots die las van sy straf vir sy oortuigings gedra. Hoeveel van ons wit Afrikaners is nie vandag spyt dat ons nie vir Breytenbach gevolg het nie. Hy mag dalk daardie tyd as uitgeworpene beskou gewees het maar hy is een van die ware Afrikaanssprekende helde in ons samelewing. Anders as Croukamp sal Breytenbach se naam nog vir lank in die geskiedenis behoue bly.
Die res van Croukamp se siek gekerm weerspieël sy onvermoë om sy meerdere te respekteer en erkenning te gee aan Breytenbach se superior intelligensie. Dit is ʼn vermorsing van tyd om verder te antwoord op sy waansinnige en sinnelose gebabbel. As Namibiër skaam ek my vir Croukamp en hoop ek van harte hy bly waar hy is.
Alle eer aan Breytenbach wie nie skroom om op te staan vir ons moedertaal nie. Dit is danksy leiers soos Breytenbach wat die bal aan die roer sit om ons eie identiteit en taal te beskerm.
Lank leef Afrikaans en baie dankie Prof Breyten ons het jou baie bitter lief.
Oswald Rall Theart
Piet Croucamp het maar altyd 'n klippie in sy skoen.