US-taalbeleid: Benjamin Kock reageer op Anton van Niekerk

  • 5

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Benjamin Kock (foto voorsien)

Anton van Niekerk se brief aan Breyten Breytenbach het betrekking.

Ek is baie dankbaar vir die poging van prof Van Niekerk om, soos hy dit stel, “gemene grond” te soek tussen hom en mnr Breytenbach. Ongelukkig vermoed ek dit is te min, te laat.

Ek wil graag drie sake wisselend aan die orde stel: die mening van studente, die optrede van die US-bestuur en die praktiese probleme met die implementering van teorie.

Dit wil voorkom asof die mening van studente een van die sluitstene van Van Niekerk se standpunt is. Ongeveer 40 jaar gelede is ons in die filosofieklas deur prof Esterhuyse gevra: “Wat is ‘n universiteit?” As 18-jarige filosofiestudent was my “oorwoë” en besliste oortuiging dat ‘n universiteit niks meer as ‘n tipe poskantoor was nie. Al was my ervaring mikroskopies klein, het ek gereken ek weet presies wat vir mý tot diens sou wees. Van die inspanning om standaarde te stel en die stryd om Afrikaans as wetenskaptaal te ontwikkel, het ek geen benul gehad nie. Gemeenskaps-, nasionale en internasionale bande van samewerking en diens was vir my onbekend en onbelangrik.

Veertig jaar later is my oortuiging anders, sodat ‘n universiteit nou vir my meer is as ‘n poskantoor.

Gestel egter dat my oppervlakkige opinie destyds deurslaggewend was – soos die huidige studente se opinie – dan was Stellenbosch vandag ‘n museum met slegs hier en daar ‘n kantoortjie. Die wonderlike idee van die universiteit sou gedaal het tot die internet in jou studeerkamer. As die “markmening” destyds koning was, sou alles wat vandag op die kampus gebeur – studentelewe, interaksie met doserende personeel, diens aan die breër gemeenskap, aktiwiteite soos godsdiens, sport, politiek, kuns én die liefdeslewe – nie meer bestaan het nie. En in dié fantasiemoontlikheid sou die ramp op die rekening van die onbevoegde student van 1976 gekom het.

Maar wie sou die éintlike skuldiges gewees het? Ek reken die dosente wat so ‘n hoë premie op studente se keuses geplaas het sonder om ‘n trippens om te gee wat die uiteindelike konsekwensies is.

Dus: wie ten opsigte van die toekoms van ‘n universiteit se taalmedium studente raadpleeg, asof hulle die laaste sê het, is hoogs onverantwoordelik.

‘n Instelling wat homself ‘n universiteit noem, behoort drie aspekte in berekening te bring in die besluitnemingsproses: Eerstens moet navorsing gedoen word oor die behoeftes van die gebruikers van die universiteit wat aan die hoogste eise van die sosiale en statistiese wetenskap voldoen. Dit wil sê die universiteit sal onafhanklike top-marknavorsingsdeskundiges, statistici en bedryfsielkundiges as toesighouers van so ‘n proses moet aanstel. Tweedens sal – met inagneming van die beperkte ervaring van studente en ook die gebrek aan relevante verstaan van oudstudente – ‘n gewigsbelading aan beide groepe toegeken moet word. Dieselfde geld vir die toekomstige gebruikers en dosente. Uitgesoekte populistiese groepies behoort nie bokant hulle gewig te boks soos tans die geval is nie. Die klem moet lê op die balanseer van gewigte, om te verhoed dat die bestuur deur vigilantebendes aan die neus rondgesleep word. Derdens behoort, soos met alle openbare besluitneming, ‘n gekontroleerde inligtings- en oorredingsveldtog van stapel gestuur te word deur alle belanghebbendes.

Indien hierdie drie prosesse nie uitgevoer word nie, sou alle opinies wat te koop loop met die resultate van goedkoop klaskamersteekproewe, verwerp kan word met die minagting wat dit verdien.

Verder is dit skrikwekkend dat afleidings gemaak word oor die saak omdat sekere (veral pro-Afrikaanse) groepe studente in gebreke bly om van hulle te laat hoor. Volgens watter proses moes hulle van hulle laat hoor het? Waar is dit afgekondig? Wat is die waarborg van die uitkoms daarvan? Wie is in beheer daarvan? Hoe is die studente bemagtig om hulle opinie oor hierdie saak uit te spreek? Studente kan nie verantwoordelik gehou word vir ‘n opinie wat hulle nie gee nie en nie mee te koop loop nie. Maar hulle, sowel as die breedsprakiges, sal ons oor 30–40 jaar erg kwalik neem as hulle besef watter keuse aan hulle oorgelaat was. Hulle sal dán eers besef dat hulle, sonder insig, deel van ‘n makabere kulturele moord was.

Nie net die behoefte van die huidige verbruikers moet dus in aanmerking geneem word nie. Die holistiese omgewing moet in gedagte gehou word om werklik ‘n strategiese, eties verantwoorde besluit te kan neem.

Daarmee saam moet al die deelnemers aan die besluit goed onderleg wees in die geskiedkundige wortels, die geregtigheidseise en die toekomstige invloede van so ‘n besluit. Is daar al ooit so ’n poging aangewend om so ‘n proses van stapel te stuur? Wie moes oor hierdie saak ‘n konferensie gereël het? Toe Daniel Hugo, Pine Pienaar, Graeme Rennie en ek self in 1976 ‘n petisie vir die oopstelling van die universiteit vir alle rasse die lig laat sien het, dink ek nie ons het ooit in der ewigheid gedink dat die oopstelling van die universiteit die Trojaanse perd sou word om alle taalhistoriese wortels van die universiteit af te sny en by te dra tot die kastrasie van Afrikaans as akademiese taal nie.

Natuurlik maak die huidige “kolonialisering” van die Universiteit nie die aanvanklike oopstelling verkeerd nie, net soos wat die misbruik deur die Zuptas van die demokrasie nie die aanloop en besluite van 1990–1994 verkeerd maak nie. Maar dit verskoon ons nie om te kyk waar dinge verkeerd geloop het en waar dit in die toekoms reggestel kan word nie.

Van Niekerk skryf: “Taal [...] ontsluit (betekenis-)wêrelde; [...] gee ‘n eie, unieke, dikwels onvervangbare toonaard aan die werklikheid.” Wanneer ‘n mens hierdie stelling aanvaar, dan is dit voor die hand liggend dat die siening van taal en die taak van die universiteit verstrengel is. Op ‘n gegewe historiese oomblik word, deur middel van minstens een spesifieke taal, die werklikheid veral in die sosiale wetenskappe op ‘n unieke manier ontsluit. Dit is die “waarheid” soos dit op daardie moment in ‘n sekere taal verstaan word. En dit bly tog ‘n onmiskenbare taak van die universiteit se sosiale- wetenskappe-departemente om die waarheid te soek. As hierdie taak om een of ander rede prysgegee word sonder besonder goeie opgaaf van redes, versaak die universiteit sy plig ten opsigte van die ontsluiting van die werklikheid en waarheid. Hy ontduik ook sy verantwoordelikheid om daardie ontslote werklikheid en waarheid toeganklik te maak vir die gemeenskap waarin hy werksaam is.

Indien dit verder sou blyk dat die besluite geneem word terwyl

– dit gebaseer is op een of ander vorm van gemaklikheidsoorwegings

– die huidige studente onbewustelik dienstig is aan ‘n verbruikersmentaliteit

– die studente salig onbewus daarvan is dat die ontslote werklikheid wat hulle so najaag, aan hulle aangebied word in ‘n kommunikasiemiddel wat aan ‘n kultuur behoort,

dan beteken dit dat die universiteit nalatig is in sy oorsigplig.

Van Niekerk kan nie een oomblik die byvoegende kwaliteite van taal in die ontsluiting van die werklikheid volmondig erken, en dan in die volgende paragraaf sê nie: “Die probleem wat ‘n hersiening van die US se taalbeleid tans noodsaak, is egter ‘n heeltemal ander kwessie.” Dit is geensins ‘n “heeltemal ander kwessie”, of soos hy dit stel: “’n ander, baie meer praktiese probleem” nie. Die twee sake, die beginsels en die praktyk, kan geensins geskei word asof die graad van problematiek enigsins ‘n vetoreg op die beginsels het nie.

Die praktiese oplossings mag nooit

– die wese van die universiteit ignoreer of onderploeg nie

– wesensaspekte soos diversiteit, geregtigheid en gelykheid saboteer of ignoreer net omdat die probleme te uitdagend is nie

– sienderoë toelaat dat een van die diverse rolspelers in die stilligheid nek omgedraai word nie.

Die praktyk kan dus nooit die vertrekpunt word nie. Die praktyk moet juis hanteer word in die lig van die beginsels van die taal se ontsluitingswaarde van die werklikheid en die taal se unieke bydrae tot gestaltegewing van die waarheid as behorende tot die wese van die universiteit. En dit is juis hier waar die verdere gemeenskaplikhede kan toeneem en die alumni die universiteit se hande kan vat en sterk, noudat meer klarigheid oor die beginsels gekry is.

Die bestuur van die US moet goed weet dat indien hulle nie ‘n radikale paradigmaskuif maak nie, hulle deur die nageslag verantwoordelik gehou sal word vir die begrafnis van Afrikaans. Stellenbosch is min of meer die laaste slagaar van Afrikaans wat nog effens klop, maar die slagaar word met mening deur die bestuur van die US deurgesaag.

Benjamin Kock

(Alumnus)

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dankie vir 'n nugtere uiteensetting van die saak en dat twee van die Afrikaanssprekende akademici wat reeds jare lank aktief meewerk om Afrikaans te benadeel, Anton van Niekerk en Willie Esterhuyse, by die naam genoem word.

  • Beste Ben,
    Dis lekker om na al die jare weer van jou te hoor. Dit is 'n goed beredeneerde stuk. 'n Universiteit is beslis meer as 'n poskantoor waarheen jy gaan om kennispakette af te haal. (Dit kan jy net so goed op die internet doen. Dit het mos al klaar die poskantoor vervang, of hoe?) 'n Universiteit is, soos jy uitwys, 'n kulturele ruimte wat altyd ten nouste verbonde is aan 'n spesifieke, inheemse taal of tale wat die draer word van kennis, sosiale vaardighede, waardes en 'n lewens- en wêreldbeskouing. Koloniale Engels kan sekerlik nie daardie rol speel nie. Toe ons in 1976 (die jaar van die Soweto-opstand) gepleit het vir die oopstelling van die US vir alle rasse, wou ons Afrikaans juis van sy apartheidstigma bevry. Veertig jaar later gaan Afrikaans nog steeds gebuk onder daardie las, ondanks talle pogings deur 'n groot groep Afrikaanssprekendes om die taal van sy politieke weerhake te bevry. Almal vergeet klaarblyklik dat apartheid ook in Engels en deur Engelssprekendes bedryf is. Maar hulle angels was net beter gekamoefleer. Om Afrikaans nou as tersiêre onderrigtaal op te offer ter wille van nasiebou, versoening en ander mooi ideale, is natuurlik louter onsin. Daar is iets soos 'n kulturele ekologie waarin die behoud van verskeidenheid ewe belangrik is as in die natuur.
    Nogmaals baie dankie vir jou betoog. Ek hoop hierdie poskaart bereik in die geeslose virtuele ruimte van die internet.
    Met vriendelike groete,
    Daniel.
    Ns. Onthou jy hoe die destydse universiteitsbestuur ons gedwing het om die petisie - gerig aan die kanselier, John Vorster - te staak deur ons te verbied om eindeksamen te skryf as ons daarmee voortgaan?

  • Hoe bring 'n mens sulke nugtere en verantwoordbare menings tuis by gatlakeie en ander kopdoekiges? Dit is myns insiens die ware uitdaging in hierdie debat.

  • Bruce du Plessis

    Ek hoop nugtere en logiese denke dien as ’n " stent" om hierdie arterie oop te hou. Is daar enige ander taal in Suid-Afrika wat ’n volwaardige akademiese vaktaal is? Korrigeer my asb. Ons kan dit nie afwater nie. Ek sou dieselfde ondersteuning gee aan ’n universiteit wat ’n volwaardige ander akademiese vaktaal het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top