US Konvokasie 2020: Ons kan nie oor taalsake saamwerk sonder basiese vertroue nie

  • 1

....

‟Uit die staanspoor moet ons aanvaar dat daar om geldige geskiedkundige redes wantroue jeens Afrikaans se wit voorstanders bestaan.”

....

Die 2020-Konvokasie-verkiesing se belangrikheid staan veral uit indien jy in ag neem dat die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid in 2021 vir herevaluasie geskeduleer is. Die idee is om tevredenheid met die taalbeleid, asook die uitvoerbaarheid daarvan, te evalueer. Op dié stadium is die 2016-taalbeleid van krag, nadat dit onder omstrede omstandighede in 2019 deur die Konstitusionele Hof goedgekeur is, ten minste op prosedurele gronde.

Die verkiesing het self talle oomblikke van sy eie omstredenheid gehad. Vroeg reeds het Pierre de Vos in ’n twiet regstreeks na die voorsitterskandidaat adv Jan Heunis SC as die leier van ’n behoudende organisasie verwys met die doel om swart studente uit te sluit. Die twiet is natuurlik onsinnig in die lig van Heunis se eerbare geskiedenis as kernrolspeler in die demokratiese-staat-vorming van die 1990’s, en De Vos kon bloot ’n oorsigtelike studie van Gelyke Kanse en sy stryd gedoen het om in te sien dat ons nie hier met ’n span brandewyngevulde stormtroepe te doen het nie. Onderskrywers soos Breyten Breytenbach en JM Coetzee is beslis nie bekend omdat hulle terug hunker na Afrikaner-oorheersing van alle ander mense in Suid-Afrika nie. Boonop is gesaghebbende Suid-Afrikaanse mediahuise en meningsplatforms, onder andere LitNet, gevul met skryfwerk wat Afrikaans se Matie-voorspraakmakers se standpunte uiteensit. In die lig hiervan, asook die groter Suid-Afrikaanse veeltaligheidsdroom in artikel 6 van die Grondwet, kan toondowe wantroue jeens die voorstanders van Afrikaans op tersiêre vlak net aan dogma, of vooroordeel, of vrees of ’n kombinasie hiervan toegeskryf word.

Ironies genoeg kan ’n verdere wortel van hierdie verbymekaarpratende partye juis wees dat voorstanders en teenstanders van Afrikaans op Maties nie mekaar se polemiek lees nie, want dit word onderskeidelik in Afrikaans en Engels gepubliseer. Ek vermoed sterk dat die pro-Afrikaanse kant dalk wel die Engelse polemiek lees, maar kommentaar lewer in die Afrikaanse pers. En die pro-Engelse kant lewer kommentaar in die Engelse pers (dikwels via IOL en Mail & Guardian), waar min voorstanders van Afrikaans die geleentheid kry, of neem, om hul saak te stel.

Oplaas kan die nuwe drie leiers van die US-konvokasie, wat eensgesind is rondom die idee dat Afrikaans steeds ’n proaktiewe plek op Maties verdien, nie veel vir hierdie saak doen as daar nie onder Afrikaanssprekende leiers ’n basiese vertroue in mekaar se bona fides bestaan nie. Ek hoor gereeld vooroordele, soos dat bruin Afrikaanssprekende stemme net gaan waar die wind waai en net daarin belangstel om hul loopbane op koers probeer kry. Of dat die wittes eintlik net die bruines as kanonvoer wil gebruik, met die taal as front vir hernude Afrikaner-oorheersing, of vir die behoud van wit bevoorregting. Ons moet erken dat hierdie vooroordele sy rondtes doen.

Hierdie bevooroordeeldheid sal nie deug nie. Nie nou of later vanjaar, wanneer die US-taalbeleid onder die vergrootglas beland nie. Dan behoort Afrikaanssprekende leiers met ten minste ’n basiese eenstemmigheid by evaluasiegesprekke op te daag.

....

‟Wat Afrikaanse leiers nou te doen staan, is om geskiedkundige pyn enersyds te verstaan, maar andersyds te besef dat ons mekaar se heel basiese doelwit – om Afrikaans ’n proaktiewe plek in hoër onderrig en leer te gee – moet vertrou.”

....

Een van die hoofredes waarom die korrupsie en wanbestuur van die dag in ons land so gemaklik voortvloei, is dat die Suid-Afrikaanse publiek met sy uiteenlopende groepe en belange nie daarin kan slaag om ’n breë koalisie rondom basiese gedeelde doelwitte te vorm nie. Sodoende woeker die magtiges en korruptes voort met ’n neerbuigende voortsetting van die koloniale “verdeel en oorheers”-strategie. Ter illustrasie: Daar is honderde koerslose politieke partytjies. Hoewel drukgroeppolitiek ’n waardevolle kruistog om verantwoordbaarheid lei, word hulle deur ’n handjievol weldoeners gefinansier en is hulle dikwels van beperkte personeel afhanklik. Hulle is hoofsaaklik ’n middelklasverskynsel, bestaande uit mense wat ’n bietjie oorskiettyd en -geld op hande het. Hulle kan nie die nis van die politieke klub, koalisie of party vul nie.

Uit die staanspoor moet ons aanvaar dat daar om geldige geskiedkundige redes wantroue jeens Afrikaans se wit voorstanders bestaan. Wanneer sekere mense my of Jan Heunis se velle sien en Afrikanertonge hoor, raak hulle dadelik skepties oor ons agenda. Ek begryp dit. Vir jare en jare het mense wat soos ek lyk en klink, die septer bo-oor alle ander mense se koppe geswaai; oor dood, lewe en waardigheid besluit; die bewegingsvryheid en toekomste van miljoene mense van kleur gedikteer. Ek is afkomstig uit ’n bevolkingsgroep wat aan my ’n golf geskiedkundige voordele laat oorspoel het. Ek kon meters voor talle lede van kleur van my portuurgroep wegspring. Bruin Afrikaanssprekendes is baie sleg deur my voormense behandel. Daardie wantroue sal nie oornag verdwyn nie, en enige poging deur ’n Afrikaner om vir gedeelde belange soos taal op te staan, gaan noodwendig met ’n wantroue bejeën word. Kan ons dit hier los, in ’n onopgeloste bose kringloop van selfgelding en vergelding?

Geen politieke koalisie kan slaag sonder dat die betrokkenes ooreenkom oor ’n basiese vertrouensverhouding nie. In die 1990’s moes struggle-groepe eers onderling die strydbyl begrawe en op gedeelde doelwitte ooreen kom voordat daar met die NP-regime onderhandel kon word. Die oud-NI-hoof Niel Barnard se onderhandelingstyd-memoires, Vreedsame revolusie, vertel ons ook hoe die agterkamergesprekke tussen die NP en struggle-groepe seminaal was om ’n basiese vertroue in mekaar se bona fides te bou. Sonder so ’n fondasie kon geen gesprekke vorder nie.

Selfs al kan al die ongelykheid, pyn en woede nie eersdaags opgelos word nie, is die taalinfrastruktuur van die groter Afrikaanse taalgemeenskap ’n belangrike gedeelde raamwerk. Die Afrikaanse Taalraad, die ATKV, die DAK Netwerk, Adam Tas op Maties destyds en soveel Afrikaanse media- en meningsplatforms is voorbeelde van wat reeds in die laaste twee dekades probeer is om die grond vir ’n breër politieke koalisie vir Afrikaanse taalregte voor te berei. Wat Afrikaanse leiers nou te doen staan, is om geskiedkundige pyn enersyds te verstaan, maar andersyds te besef dat ons mekaar se heel basiese doelwit – om Afrikaans ’n proaktiewe plek in hoër onderrig en leer te gee – moet vertrou. As voorbeeld: Al is ek en Jan Heunis Afrikaners en gedagtig aan ons herkoms se onlangse bagasie, rus die onus ook op ons skeptici om ons openbare polemiek na te vors. Op sterkte daarvan sal hul moet insien dat ons ernstig is oor Afrikaans vir alle Afrikaanssprekendes, en vir ’n billike plek daarvoor in ’n universiteitsomgewing wat toenemend tot soveel miljoene se geestelik-akademiese verarming aan die verengels is.

Afrikaans is ’n sambreeltaal met ’n uiteenlopende komvandaan. Ons diverse mense verryk en versterk die taalgemeenskap, of jy nou Afrikaner-Afrikaans, Bo-Kaapse Afrikaans, Namakwa-Afrikaans of Kaaps besig. Die Konvokasie-leierskap van 2020 bied vir jou ’n geleentheid om op grond van ’n basiese vertroue in ons goeie trou deel te word van die kiemwortel van ’n breë koalisie Afrikaanssprekendes wat ernstig is oor ons geliefde, dinamiese sambreeltaal.

Lees ook:

US Konvokasie-verkiesing en Merlyn van der Rheede: "Hieraan wy ek my toe"

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top