Universiteitskoor Stellenbosch hou jaar se eerste optredes

  • 1

Buiten vir twee stampvol konserte tydens vanjaar se US Woordfees in Maart, tree die Stellenbosch Universiteitskoor eersdaags vir die eerste keer vanjaar op.

En natuurlik is dit hul tuisgehoor, Stellenbosch, wat hierby gaan baat met drie van die vier konserte wat vir Mei geskeduleer is, in die Endlersaal.

Met sy kenmerkede entoesiasme sê dirigent André van der Merwe gehore kan hulle gereed maak vir ’n musikale reis. “Ons sing vanjaar vyf werke wat vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer word, onder andere die Switserlandse komponis Michael Ostzyga se Jupiter. Die sub-titel van die werk is ’n Kosmiese Reis. Dit is ’n kaleidoskopiese werk wat die gehoor letterlik op ’n reis neem!”

Nog ’n Suid-Afrikaanse premiere is Bronze Triptych, deur Dan Forrest. Hierdie duet tussen koor en klavier word saam met Elna van der Merwe en Zorada Temmingh uitgevoer.

Van der Merwe sê voorts die program sal tot vele musikale smake spreek. Buiten musiek van Lady Gaga en A Great Big World, is daar ook Afrikaanse werke van Niel van der Watt en Peter Klatzow. Dit is nou bo-en-behalwe die meer ‘tradisionele koormusiek’ wat gehore van hierdie wêreldkampioen-koor verwag. 

Die program vir Mei:

*Op Donderdag 7 en 14 Mei is daar om 13:00 middaguurkonserte by die Endlersaal, Konservatorium, Universiteit van Stellenbosch. Toegang is gratis.

*Op Sondag 10 Mei hou die koor ’n volle konsert wat om 16:30 begin. Dit is ook by die Endlersaal, Konservatorium, Universiteit van Stellenbosch. Kaartjies is te koop by Computicket en kos R145.

*Op Vrydag 15 Mei hou die koor sy tweede volle konsert, hierdie keer by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow. Dit begin om 20:00 en kaartjies beloop R120 vir volwassenes en R100 vir studente en pensioenarisse.

Die Universiteitskoor word voortaan bestuur deur die US Woordfees.

Om die Stellenbosch Universiteitskoor vir ’n optrede te bespreek, kontak vir Jana Hattingh by 021 886 5036 of stuur ’n boodskap na adminfees@sun.ac.za.

Vir meer inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Frieda le Roux by 082 742 4156 of friedaleroux@sun.ac.za.

  • 1

Kommentaar

  • Kan u asb vir my sê of die Universiteitskoor se DVD's van hul optredes beskikbaar is en waar kan ek dit koop?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top