Uncle Cyril, Zondo en ons

  • 11

...
Wel, ek bly in appelkontrei, en ek weet as een enkele vrot appel in ’n boks gelos word, gaan dit na ’n rukkie die hele boks aansteek. Die enigste manier om dit te keer is om die vrot appel uit te haal en weg te gooi.
...

Die president se eerste dag voor die Zondo-kommissie is amper ten einde, en ek is moeg.

Ek is moeg daarvoor dat daar meer toesprake gemaak word as getuienis gelewer word. Siek en sat dat die kommissie gebruik word as ’n kansel waarvandaan daar vir die volgende verkiesing campaign word. Ek is moeg daarvoor dat ons weer moet hoor dat dit ons plig as kiesers is om verkose amptenare tot verantwoording te roep.

Ja, dit is, maar wat gebeur in die jare tussen verkiesings? Moet ons dan maar toi en afbrand totdat iemand iewers iets doen? Wat het geword van partydissipline?

Die eens magtige ANC het geword soos ’n handewringende kindjie wat niks vir hulself kan doen nie – of dis die beeld wat Ramaphosa en ander amptenare wil voorhou. Is daar ’n probleem iewers? ANC-ministers march saam, pleks daarvan dat hulle hul mag gebruik om beleid te verander en sisteme in te stel wat die probleem maklik kan oplos. Behuisingstekorte? Begroot daarvoor, kry dit goedgekeur en bou die huise. Munisipale dienste skiet te kort? Neem ’n besluit, en doen iets.

Dis hoe eenvoudig dit is.

Die ANC het met elke mosie van wantroue teen Zuma gewys dat hulle die getalle, en die politieke wil, het om te stoomroller oor elke ander politieke party. Nou moet ons glo hulle kan regtig niks aan korrupsie doen nie? Nog erger, Ramaphosa wil ons laat glo dat die korruptes net ’n paar vrot appels is, en die res van die ANC is eintlik gesond. Wel, ek bly in appelkontrei, en ek weet as een enkele vrot appel in ’n boks gelos word, gaan dit na ’n rukkie die hele boks aansteek. Die enigste manier om dit te keer is om die vrot appel uit te haal en weg te gooi. As dit net begin vrot raak, kan jy dalk nog die vrot stukkie uitsny. Maar doen niks en jou hele boks is verlore.

So nee, Uncle Cyril, na  twee termyne van onverdunde korrupsie is die hele boks vrot en moet maar uitgegooi word.

En selfs al glo ek dat die meeste ANC-lede nie aktief lieg, bedrieg en steel nie, weet ek dat hulle stilswyend saamgewerk het om die stelery aan te help. Onthou daai belaglike advertensie oor die firepool? Onthou die maniere waarop Zuma oor en oor beskerm was wanneer ander partye hom tot verantwoording probeer roep het? Onthou hoedat verkose parlementslede gefoeter en uit die parlement geboender was? Onthou hoedat selfoonseine by ’n amptelike geleentheid onderdruk was?

Dan is daar die wetgewing wat vryheid van spraak onderdruk. Ek verwag die Secrecy Bill sal kort na 27 Oktober afgestof word, sodra die verkiesing verby is. Of dalk sal dit wag tot net na die volgende nasionale verkiesing.

Hoe ironies dat die President se “getuienis” net na Vryheidsdag afskop. “Freedom,” sing Kenny Rogers, “is just another word for nothing left to lose.” Ons is nou veel minder vry as wat ons op enige ander tyd na demokrasie was. Nie weens Covid, of resessie of enige sulke faktore nie. Omdat die mense wat ons gekies het om ons te lei, ons rot en kaal gesteel het, en skotvry daarvan afkom.

Wat my veral siek maak, is die wyse waarop joernaliste met groot geskal skryf dat die President vrywilliglik voor die kommissie verskyn. Nee, dis nie merkwaardig nie. Dit behoort standaard optrede te wees vir die persoon wat ’n eed afgelê het om die Grondwet te verdedig. Dis ons wat, om Malema se uitdrukking te gebruik, constitutional delinquency normaliseer en as die standaard aanvaar.

Dis ’n skande. Dis ’n klad op die ANC se naam. Dis ook ’n klad op elke landsburger se naam, want ons laat dit toe.

Sies.

  • 11

Kommentaar

  • Ooo nee Bettina daar is baaaie van ons landsburgers wat nie onder daardie klad val nie. Hulle sien hierdie dinge al jare en sodra hulle kla is hulle rassisties of regs of hulle verlang na apartheid. Hulle is ook nie die mense wat hierdie regering in beheer hou nie, hulle is in die minderheid en stem nie in groot getalle vir die ANC nie.

  • Gustaf Claassens

    Goed raakgevat Bettina. Wat onverklaarbaar is, is hoe die ANC ten spyte van alles waarna verwys word, steeds die huidige klompie tussenverkiesings met gemak kon wen. Amper asof hulle beloon word vir 'n gestelery en ongekende korrupsie. Iewers word die begrip 'demokrasie' en verantwoordelike regering misverstaan. En hoe harder die DA poog om die dinge uit te wys vir wat dit is, hoe slegter vaar hulle by die stembus.

    Inderdaad vreemde tye waarin ons leef en mens het 'n vermoede dat dit nie sommer gou gaan verander nie.

  • Henri Craemer

    Nie 'n slegte artikel nie. Die punt dat korrupsie die regering se lewenstyl is, is beslis geldig. Dit gaan al lank aan. Twee kritiese gebeurtenisse - die mosies van wantroue in Zuma wat feitlik deur die bank verwerp is deur die ANC - bewys dit. Die wat die mosie ondersteun het, is uit die ANC uit.
    Korrupsie is 'n keuse. As jy jou ogies toemaak om dit te vermy, veral as jy in 'n posisie is om iets daaroor te doen, is dit ook 'n keuse. Die klad is op jou naam. So elke persoon wat vir die ANC gestem het, is dus een van die vrot apples genoem in die artikel.
    Daar is 'n merske verskil tussen dit wat jy toelaat en dit wat jy nie kan keer nie. Ek, vir een, weier om die ANC en regering se korrupsie te aanvaar as 'n klad op my naam. Ek het nooit vir hulle gestem nie. Om te stem en op Facebook en ander sosiale media te skreeu is omtrent die somtotaal van dit wat binne my mag is.
    Ek voel ek moet baie duidelik wees oor hierdie punt.

  • Beste Bettina
    Jy het nie hier met engele te doen nie maar met mense van wie sommige 'n bedenklike bevrydingstryd agtergrond het. As jy Inside Quadro gelees het, moes jy die op die volgende afgekom het:
    "The next hot spot for the ANC was in Zambia, where the headquarters of the ANC was based and where most of the leadership was living. This was in 1980. MK cadres, who had been drilled for months in 'communist ideology' of the Soviet-East European type to denounce all luxuries and accept the hazards of the struggle, here came into direct confrontation with the opposite way of life lived by the ANC leaders. It became clear that the financial support extended to the ANC was used to finance the lavish way of life of the ANC leadership. Corruption, involving rackets of car, diamond and drug smuggling, was on a high rise. The security department itself was rocked by internal dissent between those who supported a heavy-handed approach and the predominantly young cadres who opposed it."

    Uit die aanhaling is dit duidelik dat korrupsie maar altyd 'n deel van die bevrydingsorganisasie was en waarskynlik moeilik uitgeroei sal word want daar is nog te veel kamerade met 'n bedenlike verlede en hede.
    Dat daar wel korrupte NP lede was en dat van hulle, inteenstelling tot dusver met die ANC, in die tronk beland het, is duidelik uit die volgende.
    "Die volgende het in Times Live verskyn oor bedrog en diefstalskuldigbevindings onder NP bewind. Wag vir die ANC om dieselfde te doen.
    "• Hennie van der Walt, Schweizer-Reneke MP, sentenced in January 1988 to 10 years in prison (five years suspended) for 15 counts of theft of R800 000 in trust money while deputy minister of co-operation and development.
    • Leon de Beer, former National Party MP for Hillbrow, jailed in 1989 for two years on 70 counts of electoral fraud. He served eight months.
    • Peet de Pontes, resigned as the MP for East London city in 1989, fined R35 000 in 1991 for fraud, theft, bribery, forgery and uttering. He cheated a residence permit for controversial and alleged mafia financier Vito Palazzolo, bribed a public servant and stole a government file.
    • Pietie du Plessis, a former cabinet minister, received a nine-year jail sentence in 1993 for 17 counts of fraud involving R30 million. He served two years and eight months, qualifying for early release because he was over 60 and ill."

    Solank die dooie apartheidperd opgesaal word om mense agter die ANC te skaar, sal die ANC aan bewind bly, want opgesweepte kiesers en 'n 17 miljoen sosiale hulpafhanklikes sal altyd 'n wenresep bly totdat die jonger geslag tot besinning kom en besef dat 'n floreerende ekonomie nie met slagspreuke gebou word en dat jou kwalifikasie en ondervinding niks sonder dit beteken nie.

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Niks nuut nie Bettina! Die artikel van jou herhaal eintik wat 'n klomp joernaliste en gewone mense al gesê het en nog steeds sê. President Ramaphosa het gepraat van 'n vuur wat gebruik word om die fynbos uit te brand sodat daar nuwe lewe kan kom. Dit is wat die ANC nodig het. 'n Groot vuur om ons van hulle te verlos. Want die Here weet jy kan nie iets wat so inherent vrot is transformeer of herstruktureer nie. Ek het nooit gedink ek sal ooit so iets sê of selfs skryf nie. Ek ek het vir Madiba gestem die eerste keer my kruisie by sy foto gemaak. Ek sal nooit vergeet toe ek nog Regisseur by die SAUk was hoe ek en Joan Lee uitgestap het by die Henley Uitgant en in een van die dwarstraaitjies by 'n tent daar gaan stem het. Ek sal nooit vergeet hoe ek langs die joernalis Amin Akawya in Broadcast Centre gesit het toe die finale syfers uitkom nie. Toe ANC met meer as 10-miljoen stemme gewen het nie. Ek sal nooit vergeet hoe ek Tweemaal vir Thabo Mbekhi gestem het nie. Maar die dag toe hulle Jacob Zuma op Polokwane gekies het, het ek die volgende oggend op Facebook gesê, "This man never was, is or ever will be fit and proper." En ek is nog nooit verkeerd bewys nie. Nou wil Cyril sê hy het die kaderontplooing verby geskiet en net sy eie ding gedoen. Maar die kiesers sal wel sê wie die nuwe regering moet wees. Daar gaan 'n dag kom wat selfs Swart mense moeg gaan word vir dié verneukspul!

  • Dankie Bettina. Ek's opgewonde oor die DefenDemocracy-beweging wat momentum kry. Dis 'n groot klomp organisasies oor 'n breë front wat verskeie belange verteenwoordig wat saamkom om die voet neer te sit. Hierdie burgerlikesamelewingsbeweging verdien elkeen se aktiewe steun wat nie net van die kantlyn wil kla nie. Saam met die anti-korrupsie-agenda moet egter 'n diepgaande verbintenis tot sosiale verandering gaan waaraan baie van die organisasies hul bestaansreg aan te dankie het... Dis nie maar 'bussiness as usual' vir die toekoms nie, maar 'n direkte aanspreek van die ongelykheid wat ons samelewing kenmerk en die ekonomiese beleid wat dit onderlê.

  • Gerhard Jansen van Rensburg

    Mooi gestel Bettina, wil net weet wanneer word die president gekruis ondervra? Dit is tans, soos jy sê, 'n platvorm vir soetkoekies bak en 'n poetsing en lansering vir die ANC se vlg verkiesingsveldtog en huidige swak beeld. Die beeld word voorgehou dat alles nou reg is, alles en almal word met handskoene aangepak en die polities-oningeligte publiek word weer mislei tot ANC-oorreding. Politiek is agendagedrewe en party mense is maar net meer gelyk as ander; alles opgesluit in die politieke landskap van die dag. Hoeveel keer/maal sal ons nog moet hoor: Ons sal verseker dat niks gesteel sal word nie. Net om weer na 'n paar maande te moet hoor van korrupsie in die fonds/dept/instansie en die aanstelling van nog n kommissie om die saak te ondersoek. Dit wil voorkom soos 'n piramiedeskema wat kaders in die ANC werk gee. Die regering se onvermoë om te bestuur is die laaste ding op die president se agenda. Toesmeer deur mooi toesprake het ons nog nêrens in die regering gebring nie, 27 jaar tenspyte. "It is a long road to freedom", ek dink hierdie optrede op hierdie pad hou almal in hierdie geliefde land terug, 27 jaar nou al, danksy hierdie tipe ongemotiveerde toesprake/optrede, van 'n man wat veronderstel is om te weet. Wag vir die volgende stap, kruisondervraging...

  • Martie Meirng

    In die kol, Bettina. Veral die moontlikheid van die op- of herlewing van die Secrecy Bill. Stem saam met Laurie Gaum dat die Defend our Democracy-veldtog groter momentum moet kry.

  • Maureen lê Roux

    Ek kan nie glo hoe dat Ramaposa so gladweg die ANC en kaders se gedrag van korrupsie verdoesel in mooipraatjies nie. Sy aandeel in die korupsie smeer hy toe en neem geen verantwoordelikheid nie. Inteendeel, hy poets nog die ANC se vrot beeld. Wat 'n verskoning vir 'n president.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top