
Ukkasie-plakkaat met Theuns Jordaan, Dozi, Sunette Bridges, Laurika Rauch en Karen Zoid (2003)
- Foto’s deur Marius du Plooy, wat met UKkasie se publisiteit gehelp het, is verskaf en met toestemming gebruik.
In die jare 2001 tot 2004 het UKkasie as kunstefees Afrikaanse mense in Londen en omgewing op ’n besonderse wyse aan hul geboorteland verbind en kunstenaars blootstelling gegee aan Brittanje en Europa soos nog nooit voorheen nie.
Johannes Froneman het net mooi 20 jaar ná die laaste UKkasie met die hooforganiseerder, Maryna Blomerus, gesels oor die uitdagings, hoogtepunte en gevolge daarvan.
Twee dekades na die laaste fees kan ons vandag terugkyk op ’n besonderse tyd vir duisende jongmense wat met gunstige visumvoorwaardes na Brittanje kon reis en blootstelling aan die wye wêreld geniet.
Dit het nuwe, uitdagende vrae oor hul identiteit as Afrikaanse Suid-Afrikaners gestel. Die idee van ’n Afrikaanse kunstefees was vir sommige vreemd, self bedreigend. Maar daar was ’n behoefte aan, soos uit die bywoning geblyk het. Dit het “organies voortgevloei” uit gebeure wat dit voorafgegaan het, meen Maryna Blomerus, die dryfkrag agter UKkasie, in haar huis in Wellington, Suid-Afrika.
Eintlik het dit alles reeds in 1994 met die nuwe politieke bedeling begin. En toe wen die Springbokke die Wêreldrugbybeker in 1995. Vroue van die Suid-Afrikaanse Gemeente in Londen was op soek na ’n projek om geld in te samel vir uitreiking. Maryna het voorgestel dat hulle iets saam met Sportmanne vir Christus doen en die Springbokspelers wat uitgesproke oor hul geloof was.

Maryna Blomerus, hooforganiseerder. (Foto: Marius du Plooy)
Toe die Springbokke in November 1995 in Engeland toer, is ’n baie suksesvolle uitreik gehou met ’n klomp van die Springbokke asook die gospelsangers Danie Botha en Piet Smit wat opgetree het. Ekspats het die Anglikaanse All Souls-kerk in Langham Place stampvol gepak.
Gedurende die volgende aantal jare is soortgelyke byeenkomste saam met Graeme en Shaun Pollock, Hansie Cronjé en andere gehou en het Maryna en van haar vriendinne gehelp met reëlings rondom Brumilda van Rensburg se verhoogstuk Om “goodbye” te sê, wat in Suid-Afrika-Huis op Trafalgarplein aangebied is. Dit het gelyk of Afrikaanssprekendes honger was vir saamkuier, maar dit sou nog ’n tyd neem vir die gedagte om werklik vlam te vat.
In die loop van 2000 stig hulle die Suid-Afrikaanse Gemeente se kultuurklub, genaamd Kletsput, en nooi mense soos die gospelsangers Willie Joubert en Jan de Wet, asook Daleen Mathee vir ’n skryfskool, en Louw Alberts vir lesings oor Christelike apologetiek, ’n tema wat Maryna na aan die hart lê.
Daarna volg ’n baie suksesvolle konsert waarin Piet Smit van Koos du Plessis se liedjies uitgevoer het. Toe volg Lucas Maree, Coenie de Villiers, Randall Wicomb, Lochner de Kock, Jannie du Toit en Christa Steyn. Konserte het uitverkoop en kort voor lank moes die konserte in die groter kerkgebou van die Suid-Afrikaanse Gemeente gehou word.
Maryna het ’n groot databasis van e-pos-adresse begin opbou – internetgebruik was in sy babaskoene, en so ook e-pos-etiket. Maar dit het gewerk!
“My databasis was die geheim agter ons bemarkingsukses. Die e-tydskrif Klets is hieruit gebore en is wêreldwyd deur ekspats gelees. Nuus24 se destydse korrespondent in Londen, Gert Coetzee, het kennis geneem van die konserte, hulle bygewoon en positief daaroor in Beeld, Volksblad en Die Burger berig.
’n Voorbeeld hiervan was ’n artikel onder die opskrif ‘Sarie Marais klink luid uit Boere se kele oor die see in Kakie-land’, waarin hy vertel het van die stampvol kerkgebou van die Suid-Afrikaanse Gemeente in Londen waar die meer as 500 geesdriftiges tydens elk van sy twee konserte woord vir woord saam met Lucas Maree FAK-liedjies gesing het.
Om Kletsput se eerste verjaarsdag te vier, is daar besluit om ’n volbloedkunstefees aan te bied wat UKkasie genoem is. Dit het onvoorspelbare oomblikke opgelewer. So het sokkie nie by die organiseerders opgekom toe hulle die eerste feesprogram saamgestel het nie. Allermins.
“Ek dink ook nie dit het by enige feesganger opgekom nie, veral nie die ‘progressiewe’ jappies wat hul neuse opgetrek het vir als wat ‘regs’ neig nie. Maar die nasionale volkspelespan het gevra om so ’n ietsie by die fees op te voer, aangesien hulle toevallig daardie naweek in Londen sou wees vir die een of ander kompetisie.
........
In die buiteland het ek ervaar dat ander kultuurgroepe gemaklik was met hul herkoms en tradisionele danse. UKkasie was daar vir alles wat Afrikaans was: van Beeskraal tot die volkspelers.
........
“Waarom nie? In die buiteland het ek ervaar dat ander kultuurgroepe gemaklik was met hul herkoms en tradisionele danse. UKkasie was daar vir alles wat Afrikaans was: van Beeskraal tot die volkspelers.
“Die mans en vrouens in hul volkspeledrag was aanvanklik ’n aardigheid by die fees, maar hulle het hulself so behulpsaam gemaak – selfs die kaartjieskantoor beman – dat hul teenwoordigheid gou soos deel van die dekor gelyk het.
“En toe, die Saterdagaand, kry hulle hul tydgleuf op die gratis oop verhoog. Toe hul orkes met boeremusiek wegtrek, het die damwalle onverwags gebars. Stalletjies en stoele en tafels is eenkant toe gestoot en almal – jappies inkluis — het begin sokkie. Jongmense het later vertel dat hulle nooit vantevore gesokkie het nie, maar net geweet het hoe toe die musiek begin speel.
“Ek was op die boonste vlak van die saal en het als van bo gade geslaan, in absolute ongeloof. Hierna het Ollie Viljoen en sy boereorkes ’n vaste instelling geword op die Saterdagaandprogram.”
Maar dit het bloedsweet gekos om by daardie vroeë sukses te kom.
........
Die KKNK het gewys hoe dit gedoen kan word.
........
Dit was tydens ’n besoek aan Suid-Afrika toe Maryna en Christine Opperman, ’n medestigter van Kletsput, deur ’n tydskrif gevra is of hulle daarin sou belangstel om te help om ’n kunstefees in Engeland te reël. Die KKNK het gewys hoe dit gedoen kan word.
“Natuurlik het ons belanggestel. Die tydskrif het egter stilgeraak en ons het besluit om dan maar self daarmee voort te gaan.
“Ons wou die eerste fees aanvanklik in Epping aanbied, waar die Suid-Afrikaanse Gemeente ’n satellietgemeente met baie gemeentelede gehad het. Die hoërskool met sy skoolsaal, sportsale en baie klaskamers het perfek gelyk daarvoor.
“Ons het volspoed voortgegaan met reëlings. Kunstenaars is genooi, vliegtuigkaartjies is vir hulle bespreek en hul verblyf is gereël. En die 80 stalletjies is uitverhuur.”
Maar toe, op 20 April, verskyn die volgende berig op die plakkate van ’n Sondagkoerant wat Maryna en haar gesin teen ’n paal langs die pad opgemerk het: “African crowds to descend on Epping.” Die berig het onder andere gelui: “Up to 10 000 people could attend a South African arts festival being held in Epping in July.”

Een van Gert Coetzee se berigte oor die fees.
Een dorpenaar het beswaar aangeteken en die dorpsraad wou weet of die organiseerders aansoek gedoen het vir ’n vermaaklikheidslisensie. Dit het dinge behoorlik deurmekaargekrap. Daar was ’n lang lys vereistes waaraan voldoen moes word – van parkeerplek tot ’n brandplan. Alles in besonderhede.
“Ons was uit ons diepte met baie min tyd om die steil leerkurwe baas te raak. Selfs al kon ons aan al die vereistes voldoen, was daar die probleem met parkering wat haas onoorkombaar was. Die watervlakke was die hoogste sedert rekordneming na maande van reën, en die skool se grasperke sou nie dien vir dié doel nie. Daar was geen ander parkeerplek in ’n ou dorp met nou strate en min openbare ruimtes nie.
“Ek het besef dat ons ’n feeslokaal met sy eie vermaaklikheidslisensie moes vind, maar dit was twee maande voor die fees, in hoogseisoen, en alles was reeds uitverhuur.
“In hierdie tyd van chaos het ek Suid-Afrika besoek, waar ek op ’n paar TV-programme oor die komende UKkasie gesels het, sonder om te noem dat dit ’n fees sonder ’n tuiste is.
........
Die Britse idee van veiligheid het oorgeneem. “Ons rodeobul se prop is uitgetrek toe dit lyk of die kinders dit te veel geniet. Geen stootkarretjies vir babas is toegelaat nie. Daar was geen einde aan Wembley se puntenerigheid en red tape nie.”
........
“Terug in Engeland het Randall Wycomb op ons kombuistoonbank gesit toe die foon lui met nuus dat Wembley as geheel nog beskikbaar was vir die feesnaweek. Ek het Randall net daar gelos, in my kar gespring en na Wembley gejaag,” vertel Maryna.
Alles is na Wembley geskuif, maar nie sonder enorme moeite en implikasies nie. Wembley sou die spys en drank vir hul eie rekening verkoop – dus geen geld vir die organiseerders te maak uit braaivleis, koeksisters, bobotie en bier nie.
Die Britse idee van veiligheid het oorgeneem. “Ons rodeobul se prop is uitgetrek toe dit lyk of die kinders dit te veel geniet. Geen stootkarretjies vir babas is toegelaat nie. Daar was geen einde aan Wembley se puntenerigheid en red tape nie.”
Die Britse Home Office het die organiseerders verder in reëls verstrengel met hul vereistes vir die geldige werkspermit wat elke hoofkunstenaar moes bekom. Vir elke aansoek moes Breytenbachs – die regsfirma wat die organiseerders gratis bygestaan het – onder meer daarvan bewys lewer dat die aansoeker as kunstenaar in Suid-Afrika gevestig is.
Oorspronklike CD-binneblaadjies en gepubliseerde artikels oor elke kunstenaar was ’n vereiste. ’n Enorme klomp tyd is bestee om artikels op te spoor en CD-binneblaadjies te bekom. Maar die probleem was dat alles in Afrikaans was!
Maar ’n boer maak ’n plan en duisende het die eerste fees bygewoon.
In 2002 is die fees met groot sukses in die dorp Stevenage gehou; in 2003 was dit terug na Wembley, wat goed onthou het hoeveel geld hulle uit hul drankverkope by die vorige fees gemaak het.
Was UKkasie ’n groot partytjie met baie musiek en min kuns?
“UKkasie het teen die einde ’n musiekfees geword, maar ons het altyd vir verskeidenheid gesorg: opera, kabaret, pop, sokkie-orkeste, kore ... Op die gratis ‘oop verhoog’ wat gehuisves is in wat altyd bekendgestaan het as Die Betonplaas, het baie kunstenaars gratis opgetree en hul CD’s verkoop.
“UKkasie het baie kunstenaars verwelkom wat eenvoudig opgedaag het en hul ding sonder vergoeding gedoen het, onaangekondig, net vir die lekker en saamwees. Daar was ‘standbeelde’, a capella-kore, dansers, orkeste ...
“Verder het kunstenaars elke jaar hul skilderye, fotografie ens by UKkasie uitgestal. Ons het trouens elke jaar ’n amptelike feeskunstenaar gehad.

Coenie de Villiers, Mathys Roets en Karen Hougaardt (Foto: Marius du Plooy)
“Maar aanvanklik, in 2001, was daar ’n algehele ooraanbod aan toneel. Daar was Trix Pienaar, Bettie Kemp, Patrick Mynhardt en ander. Die konserte is egter swak ondersteun en om die volgende rede, wat ons eers later gesnap het: Iemand wat UKkasie bygewoon het, het beperkte tyd gehad om gunstelingkunstenaars te sien. Dit was hulle een kans per jaar om mense soos Laurika Rauch en Theuns Jordaan te sien.
“Dan wou hulle nog ook rugby kyk, sokkie en sommer net kuier. Feesgangers het tipies net op een dag gekom – baie het ver gewoon – en tyd was dus goud werd, tyd wat nie op iets anders as die top 5 spandeer is nie.
“Ons het dus in daaropvolgende jare net die heel gewildste kunstenaars genooi en minder maar groter sale vir hulle gehuur sodat meer mense hul konserte op een slag kon bywoon. Dit het ons kostes ook gesny, omdat daar minder klank en beligting en personeel nodig was.”
........
Die hoofkonsert van UKkasie 2004 het in die wêreldberoemde Royal Albert Hall plaasgevind en was volgepak. Dit was die eerste keer dat Afrikaans daar gehoor is en was ’n hoogtepunt, die slotbedryf van UKkasie.
........
Die hoofkonsert van UKkasie 2004 het in die wêreldberoemde Royal Albert Hall plaasgevind en was volgepak. Dit was die eerste keer dat Afrikaans daar gehoor is en was ’n hoogtepunt, die slotbedryf van UKkasie.
Na die konsert, terug by die hotel in Londen waar baie kunstenaars tuisgegaan het, het almal wat die wiele laat rol het, asook die kunstenaars, gesit en kuier en nabetragting gehou.
Dit was ongeveer twee-uur die oggend toe die hotel se brandalarm opklink. Almal in die hotel is aangesê om buite in die straat te gaan wag. So, daar het hulle almal gestaan: sommige steeds uitgetof en ander reeds in hul nagklere.
Dozi het op die toneel verskyn met sy kitaar en in die middel van die straat begin sing ... Ander kunstenaars het met hul eie instrumente saam begin speel en daar is in die middel van die straat gesokkie in die ligte reën wat begin val het.
“’n Oomblik soos hierdie het die brandhout verskaf vir die kopvure van onthou in die jare wat sou volg,” aldus Maryna.
Is UKkasie nie effe deur politieke partye en ander belangegroepe gekaap nie?
“UKkasie is uit die staanspoor gebruik as platform vir politieke partye om hulself onder ekspats te bemark. Dalk was UKkasie net ’n verskoning vir ’n kuier in die buiteland, maar wie gee om. Ons is in 2002 hewig in koerante gekritiseer oor die VF+ se stalletjie by UKkasie, maar my antwoord was dat hulle daarvoor betaal het en dat ons feesgangers daar kon stilstaan of verbyloop.
“Hoe moes jongmense in die VK in elk geval op hoogte bly van politiek in Suid-Afrika as iemand hulle nie kom vertel nie? Ek het ander partye genooi om dieselfde te doen en die volgende jaar was almal daar.”
En dit het alles uitgeloop op ’n suksesvolle veldtog om stembusse in die vreemde te kry vir Suid-Afrikaners wat tydelik oorsee is?
“Ek het die VF+ gehelp met hul veldtog om stemreg vir ekspats te bekom en het selfs ’n perskonferensie in die Parlementsgebou daaroor toegespreek. Sukses sou egter eers later deur ander gepluk word, maar ons en die VF+ het ons rol in hierdie jare gespeel.”
Ander belangegroepe en individue het ook die saamtrek van Suid-Afrikaners benut ...?
“Net so. In 2001 veral is daar van die lokale en restaurantspasies by Wembley onderverhuur aan universiteite om alumnibyeenkomste te hou. Firmas wat professionele dienste aan ekspat gelewer het, het stalletjies gehuur, maar ook praatjies gelewer. Hier dink ek aan Hugo van Zyl se Wegkaner wat belastingadvies aan ekspats gegee het. Hy was elke jaar by die fees.
Wat van voorgeskrewe gesprekke en debatte soos wat by kunstefeeste in Suid-Afrika aangetref word?
Nee, die jongmense wou jol. Daar was nie tyd vir wroeg nie. Hulle het dít vir die ooms en tannies in Suid-Afrika gelos.
........
Die jongmense wou jol. Daar was nie tyd vir wroeg nie. Hulle het dít vir die ooms en tannies in Suid-Afrika gelos.
........
Waarom het UKkasie tot ’n einde gekom?
Die kort antwoord is dat die gesin om persoonlike en sakeredes terug is na Suid-Afrika. Maryna voeg by: “In ’n sin was ons werk voltooi. Kunstenaars was teen dié tyd straatslim en het hul eie konserte in die buiteland begin reël. UKkasie het die ys gebreek, die deur oopgestoot.”
Maryna verduidelik die “ongelooflike leerproses” waardeur sy gegaan het. “Ek het soos ’n amateur visvanger gevoel wat, heeltemal uit sy diepte, met ’n selfgemaakte visstok sy lyn in die diepsee gegooi en per abuis ’n walvis aan die hoek beetgekry het.”
Anders gestel: “UKkasie was van begin tot einde suiwer kulkuns. Dit was ’n fees wat teen alle hoop in deur winde en storms gedryf is met brute energie en wilskrag, ’n fees wat teen alle waarskynlikheid, sonder borge of ervaring, net-net sy vlag regop laat wapper het.
“Ek het geweet wanneer om die aandag af te lei en die donker hand vinniger te beweeg as wat die wit oog kan volg. En ongeag hoe naby enigeen aan my sou kom, sou hulle nooit die geheim omtrent ons oorlewingstryd raai, sou ek dit nooit uitlap nie – alles was onder beheer. Dit was soos om ’n valskerm te bou terwyl jy val,” sê Maryna.
Het UKkasie ooit geld gemaak?
“Nee, die verliese het net kleiner geword. Dit was ’n liefdesdaad vir Afrikaans, befonds deur een gesin en die baie harde werk van talle medewerkers wat nooit vergoed is vir hul bydraes nie.
“Ekspats regoor die wêreld is aangemoedig om hul eie feeste aan te bied. Aukasie is kort na die eerste UKkasie in Australië aangebied, en in daaropvolgende jare is Eurokasie in Nederland, Kanasie in Kanada, en Kiwikasie in Nieu-Seeland aangebied.”
Wat was die betekenis van UKkasie en al die susterfeeste?
“Dit was in die eerste plek ’n stelling,” meen Maryna na al die jare. “Dit het die lig gesien in ’n tyd toe ’n gesonde Afrikaner-identiteit herbedink moes word, opnuut geregverdig moes word, ongeassosieer met politiek en ras. Die anti-Afrikaanse sentiment onder polities korrekte Afrikaners self was byna onhoudbaar, en enigiets wat gesien is as onprogressief, konserwatief en hunkerend na ‘beter dae’ moes wortel en tak uitgeroei word.”
“Ons was onapologeties trots Afrikaans. Omdat ons in die buiteland gewoon het, het ons gesien hoe subkulture in multikulturele samelewings trots omgaan met hul eie identiteit en dat hoewel almal doodpragmaties Engels gebruik vir besigheid, daar nie van hulle verwag is om hul identiteite prys te gee nie.
“Ander taal- en kultuurgroepe het presies dieselfde as ons gedoen en UKkasie het bygedra tot hierdie normaliseringsproses. Dit het ook aan jongmense die moontlikheid voorgehou dat hulle as Afrikaners by ’n geglobaliseerde gemeenskap kon inskakel sonder om hul identiteit te verloor.
........
Ons was onapologeties trots Afrikaans. Omdat ons in die buiteland gewoon het, het ons gesien hoe subkulture in multikulturele samelewings trots omgaan met hul eie identiteit en dat hoewel almal doodpragmaties Engels gebruik vir besigheid, daar nie van hulle verwag is om hul identiteite prys te gee nie.
........
“Dit was belangrik in ’n tyd toe ons ’nuwe’ identiteit nog vloeibaar was en ons nie eens geweet het wat om onsself te noem sonder om iemand uit te sluit of aanstoot te gee nie – Afrikaners, Afrikaanssprekendes, Afrikaanses …?”
Maryna beklemtoon dat UKkasie nie in isolasie plaasgevind het nie. Die Suid-Afrikaanse Gemeente het ’n groot rol gespeel in die saambind van die Afrikaanssprekendes. Maar dis kompleks. Kerk is nie ’n kultuurinstelling nie. Die twee het soms verstrengel geraak.

Lede van die eerste bestuurspan: Hennie Blomerus, Maryna Blomerus, Hannes Breytenbach en Brink Gardener. Almal was verbonde aan die SA Gemeente in Londen. (Foto: Marius du Plooy)
Ander groot rolspelers en gebeure in hierdie vormingstyd van internasionale blootstelling en vlerke ontwikkel was die SA Times, Breytenbachs, ’n prokureursfirma wat deur Hannes Breytenbach en sy vrou in Mayfair geopen is en eksklusief na Suid-Afrikaners se belange omgesien het.
Maryna voeg by dat UKkasie sonder die praktiese, emosionele en finansiële ondersteuning van haar man (Hennie) en twee dogters (Erika en Lica) nooit die lig sou gesien het nie.
Dit was dus altyd ’n spanpoging wat tot ’n aantal onherhaalbare oomblikke gelei het wat duisende Suid-Afrikaners nooit sal vergeet nie – daar waar hulle steeds in ’n verre land woon of lank reeds terug is in hul eie land.

Borge het UKkasie help moontlik maak.
Lees meer oor UKkasie en Afrikaans in Londen uit OuLitNet se argief:
Om goodbye te sê: Afrikaans in Londen deur Carien Loubser, OuLitNet (2000)
UKkasie - die groot jollifikasie deur Charles J Fourie, OuLitNet (2001)
Kunstefeeste en die media: Simbiose, bloedskande en teekoppiestorms deur Waldo Müller, OuLitNet (2003)
’n Londense leksikon (nie in alfabetiese volgorde nie) deur Naomi Meyer, OuLitNet (2003)
Londen tans vól SA teaterlui deur Jean Meiring, OuLitNet (2004)
In UKkasie-sirkus tog êrens 'n sprankie hoop te vind deur Ingrid Bremer (OuLitNet, 2004)


Kommentaar
Dankie, Johannes. Dis 'n baie mooi artikel, propvol nostalgie.