Uiters aktueel, ’n lesersindruk van Don Bentley se Zero hour

  • 0

Titel: Zero hour
Skrywer: Don Bentley
Uitgewer: Sphere
ISBN: 978-1-4097-2770-6

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Met die huidige wêreldgebeure kan Don Bentley se Zero hour netsowel môre se voorblad wees.

Die voormalige SWAT-operateur en skepper van die Matt Drake-reeks (Without sanction, The outside man en Hostile intent) het verlede jaar met Target acquired in die Tom Clancy-franchise gedebuteer. Zero hour is sy tweede bydrae en die 17de boek in die reeks sedert die afsterwe van die techno-riller maestro. Sy derde Clancy-politieke riller, Flash Point, en sy vierde Matt-boek, Forgotten war, is bestem om vroeg in 2023 te verskyn.

Die skrywer, wat gedurende sy weermagdae in onder andere Suid-Korea gestasioneer was, se persoonlike weermagondervinding skyn kristalhelder deur en maak die boek iets om te koester. En die aksie wat Matt so gewild gemaak het, laat die boek ook soos ’n Jason Bourne/James Bond-fliek lees sonder om weg te breek van Clancy se wenresep. Inteendeel, Zero hour lees soos ’n moderne weergawe van Clancy se 1991-internasionale blitsverkoper, The sum of all fears, sonder om in die detail te verdwaal.

Die karakters het ook vir my sielkundige rypheid bereik.

Kortliks: Jack Ryan Jr is in Seoel, hoofstad van Suid-Korea, om ’n moontlike bron, Isabel Yang, vir die Campus te ondervra. Maar sy het van haar voormalige Russiese kamermaat, Kira Sidorova, ’n boodskap ontvang. Een woord: hardloop.

Soos verwag loop alles drasties skeef. ’n Bom ontplof tydens onluste. Choi Ha-Guk, die Demokratiese Volksrepubliek van Korea se hoogste leier, verdwyn spoorloos. En die Campus skakel oor na Zulu-protokol. Skielik was die derde wêreldoorlog nog nooit so naby nie.

Die liefde blom tussen Jack en Lisanne Robertson, wat Adara Sherman opgevolg het as die Direkteur van Vervoer vir die Campus en in verskeie Clancy-boeke verskyn.

Alhoewel elke Clancy-skrywer sy eie sterkpunte tot voordeel van die reeks gebruik, lees dié boek vir my vinniger as enige van sy voorgangers. Indien Hollywood nog ’n Clancy-boek wil verfilm, is Zero hour die beste kandidaat, want dit is, in Lee Child se woorde, “sensationally good”.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top