Uit 'n klaskamer op die Kaapse Vlakte 4 | Diary of a teacher

  • 0

Lees nog oor Ms January en die eerste rubriek.

Lees ook die vorige rubriek van "Diary of a teacher".

Lees ook die vorige rubriek van "Diary of a teacher".


swaaie650

Bron: evapoetex.wordpress

Dag 11

Dit is weer sulke tyd. Almal wag geduldig (party is ongeduldig) vir die ouervergadering om te begin. Daar word van ons onderwysers verwag om verslag te gee.

Ek kyk rond in die skoolsaal na al die ouers, leerlinge en onderwysers en ek weet die spanning is hoog. Daar is rye tafels en stoele waar ouers en onderwysers kan vergader om die prestasie van leerlinge te bespreek. Elke onderwyser is bewus van die feit dat sulke byeenkomste gewoonlik vol drama is. By die laaste vergadering het ons beurtkrag gehad. Ons moes gebruik maak van kerse. Party ouers het gekla, ander het paniekerig geraak, iemand se selfoon is in die donker gesteel, maar die res van die mense het darem kalm gebly. Iewers tydens die vergadering het iemand aan ʼn tafel gestamp, ʼn kers het omgeval en skielik is daar vlamme. Niemand is beseer nie, maar nodeloos om te sê het die vergadering vroeër tot ʼn einde gekom. Dit maak dus sin dat almal vanaand ʼn bietjie senuweeagtig is.

Na ʼn paar van hierdie vergaderings kom ek agter dat daar min of meer vier soorte ouers is wat hierdie byeenkomste bywoon en dit is belangrik, want jy as onderwyser moet voorbereid wees vir dit wat kom.

Daar is die ouer wat vergadering toe kom met die doel om elke onderwyser onder kruisverhoor te plaas. Hierdie ouer wil weet waarom hul kind so swak gedoen het, waarom die onderwyser nie meer gedoen het om die ergste te verhoed nie en wat gaan in die toekoms gedoen word om die kind te help verbeter? Só ʼn ouer soek antwoorde by die onderwyser en is dikwels onder ʼn wanindruk oor die gedrag van hul kind op skool.

Dan is daar die ouer wat gedwonge hierdie vergaderings bywoon. Hulle is moeg en moedeloos en wil so gou as moontlik by die huis kom. Hierdie ouer het opgegee en is nie juis gretig om te hoor wat die onderwysers oor hul kind te sê het nie. Vir die res van die aand lyk hulle moeg en soms uiters verveeld en hulle verdwyn die oomblik wanneer die vergadering verby is.

Uiteindelik is daar die puntenerige ouer wat streng by die reëls hou. Hulle daag altyd betyds op vir die vergaderings en het altyd pen en papier byderhand om notas van alles te maak wat tydens die vergadering gesê word. Hierdie ouer is gewoonlik bewus van wat in hul kind se skoolboeke aangaan en hulle het navorsing gedoen oor dinge soos ekstra wiskundeklasse of musieklesse. Hierdie ouer behoort ook heel waarskynlik aan een of ander komitee.

Vir my het hierdie vergaderings slegs ʼn formaliteit geword. ʼn Geleentheid om die goeie of die slegte nuus aan die ouer te gee. Vir sommige van die leerlinge is dit te laat in die jaar om enigiets te verander. Ek dink byvoorbeeld terug na die laaste paar maande aan al die tye wanneer ek ʼn ouer moes bel om te verduidelik dat ʼn leerling sukkel om iets in die klas te verstaan of dat ʼn leerling nie tuiswerk gedoen het nie of om uit te vind of ʼn leerling probleme by die huis het wanneer punte begin daal. Ek weet hoe dit voel wanneer ʼn ouer die telefoon in jou oor neergooi want hulle het eenvoudig nie tyd vir ʼn onderwyser se gekerm nie, maar ek het ook dikwels kontak gemaak met ouers wat behulpsaam is en wat verstaan.

Verder is daar ouers wat nie die tyd of die hulpmiddels het om vir hulle kinders die nodige ondersteuning te gee nie. Ek het al verskeie kere voor ʼn enkelouer gesit wat in trane uitgebars het omdat hulle nie skoolfondse of skoolklere kan bekostig nie en omdat hulle die kind (of kinders) alleen moet grootmaak. Met ʼn voltydse werk en min inkomste is daar skaars tyd en moed om te kyk na tuiswerk of om te sukkel met dissipline. Die onderwyser moet maar intree en asseblief kyk wat hulle kan doen.

Ek skrik effens toe ek sien hoe ʼn ouer sy vuis op een van die onderwysers se tafel slaan. Die ouer is rooi in die gesig en vreeslik ontsteld, maar die onderwyser bly kalm. Ek ken die ouer goed en ek ken ook sy dogter. Sy is een van die leerlinge wat nie hierdie kwartaal geslaag het nie en met haar punte sal sy heel waarskynlik hierdie jaar druip. Ek maak oogkontak met die onderwyser, wat nog steeds rustig by die tafel sit. Ons lees mekaar se gedagtes en ons weet albei wat voorlê. Ons weet dat dieselfde ouer met dieselfde vrae en angs by die volgende vergadering sal wees. want sy kind sal dieselfde graad moet herhaal en dit is te laat in die jaar om enigiets daaraan te doen. Ek en my kollega kyk na mekaar met die wete dat baie dinge dieselfde sal bly en sonder woorde wens ons mekaar sterkte met die volgende vergadering toe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top