Twintig jaar later

  • 3

...
Hoe kyk ek nou, twintig jaar later, terug na Kerkorrel en SêNet? Ek is nou, meer as tevore, bewus van “the brevity of life”. Hoe twintig jaar in ’n oogwink kan verbygaan en hoe vinnig soveel dinge onherroeplik kan verander.
...

In 2002 was die internet in sy kinderskoene, veral in Suid-Afrika. Die meeste huise en ondernemings het ’n landlyn gehad en jy moes kies: telefoon óf internettoegang. Albei was nie gelyk moontlik nie. Die “dial-up”-konneksie se geluid was ’n onthutsende lawaai: iets tussen radiosteuring en ’n fanbelt wat skreeu. Elke huis met internet het ’n modem gehad.

Ons het gepraat van “die Net”, “die wêreldwye web”, “kuberruimte ...” Dit was nie ongewoon om te sê jy “surf” die internet nie. En jy het dit dikwels by internetkafees gedoen – fisiese geboue met rekenaars en koffie.

Suid-Afrika se internetspoed was nog heeltemal te stadig om video behoorlik te akkommodeer. Jy kon in 2002 ’n DVD of selfs ’n VHS-video by ’n tak van Mr Video huur.

Van integrasie tussen die internet en ’n lomp selfoon met ’n antenne waarmee jy slegs kon bel en SMS was daar nog geen sprake nie. Wat nog te sê foto’s neem met jou foon of op WhatsApp klets ...

Yahoo! (die naam was glo ’n akroniem vir “Yet Another Hierarchical Officious Oracle”) was die mees algemene soekenjin. Baie van ons was nog effens wantrouig oor hierdie nuwe Google-besigheid. Facebook en die idee van sosiale media sou eers vyf jaar later, in 2007, hier in Suid-Afrika aanmeld.

Dit was ook ’n era toe mense in die algemeen nog e-posse met aandag gelees en beantwoord het.

Twintig jaar gelede het ons medialandskap ook heeltemal anders gelyk. Die gedrukte media het koning gekraai. Verskeie glanstydskrifte se drukoplae was in die honderde duisende. Daar was nog ink in ons are.

Koerante het ’n oppergesag gehad as draers van die nuus, wat vandag skaars denkbaar is. Redakteurs en joernaliste was die eksklusiewe kurators van wat Philip L Graham die “first rough draft of history” genoem het. Die meeste nuuswebwerwe se fokus was om die gedrukte produk aanlyn beskikbaar te stel eerder as om self nuus te genereer of te rapporteer. Vandag is dit natuurlik presies andersom, met die mantra “Digital First”. 

Skaars vyf jaar tevore, in 1997, het Arrie Rossouw, ’n vroeë pionier van plaaslike digitale media, saam met wyle Jan Taljaard eBeeld begin. Vryskutwerkers het berigte uit Beeld, Die Burger en Volksblad in Engels vertaal en aanlyn publiseer. eBeeld was die inspirasie vir Koos Bekker en Naspers se groot en duur digitale mediaspronge wat gelei het tot die stigting van News24 in Oktober 1998, met Rossouw as die eerste uitgewer.

Kort op News24 se hakke het LitNet op 11 Januarie 1999 aanlyn verskyn. LitNet se slagspreuk was “die boekehuis met baie wonings”. Dit is in die begindae as ’n “onafhanklike literêre joernaal wat slegs op die Internet beskikbaar is” beskryf. Die eerste borge was Kalahari.net (wat in 2015 by Takealot ingelyf sou word) en 24.com.  

LitNet sou egter vinnig uitbrei tot ’n veeltalige, kulturele meningsjoernaal met ’n groot verskeidenheid afdelings. Van die eerste afdelings op LitNet het ingesluit “Die mond is nie geheim nie” (onderhoude), “Koos se Spens” (’n Koos Kombuis-rubriek), “Gogga se oog” (foto’s van skrywers deur Philip de Vos) en selfs “Kannemeyer-toere”. En SêNet, die woelige brieweruimte, wat LitNet se stigter en uitvoerende redakteur, Etienne van Heerden, later “LitNet se polsslag” sou noem.

Ek het in Februarie 2002 die geleentheid gekry om SêNet se webmeester te word nadat my voorganger, Naomi Maartens (nou Meyer), na Ierland verhuis het. Selfs die woord “webmeester” klink vandag ouwêrelds.

Adriaan Basson, wat daardie jaar redakteur van Die Matie was en LitNet se Kennisgewingsblad behartig het, het my aan Etienne voorgestel. Vir my as 22-jarige BPhil-student in joernalistiek wat pas op Stellenbosch aangekom het ná ek voorgraads aan die destydse UPE (nou NMU) studeer het, was hierdie ’n ongelooflike geleentheid. Die LitNet T-hemp se slagspreuk was immers “Jonk en Befonk”.

Ek was ’n groot bewonderaar van Etienne – die vorige jaar was sy Die swye van Mario Salviati een van my voorgeskrewe boeke – en ek het self gedroom om eendag ’n boek te publiseer.

Die vooruitsig van betrokke raak by LitNet se aanlyn gemeenskap as ’n joernalis-in-wording was iets wat ek eenvoudig moes aangryp. En ek het van jongs af kans gesien vir opwindende side hustles

Naomi het my op haar simpatieke en deeglike manier touwys gemaak in SêNet se “laaiwerk”, soos ons dit genoem het. Ek het haar vroeg in Februarie daardie jaar gereeld vroegoggend ontmoet by die Taalsekretariaat se kantoor op Stellenbosch, waar die liewe André van der Walt die hoofamptenaar was.

...
Dit het só gewerk: Ek het die briewe, wat onder ’n regte naam of skuilnaam geskryf was, een-een uit ’n inboks geplak in ’n Word-dokument. Daar was gemiddeld tien briewe per dag. Dan het ek die taalversorging en die HTML-kodering in Word gedoen.
...

Dit het só gewerk: Ek het die briewe, wat onder ’n regte naam of skuilnaam geskryf was, een-een uit ’n inboks geplak in ’n Word-dokument. Daar was gemiddeld tien briewe per dag. Dan het ek die taalversorging en die HTML-kodering in Word gedoen.

Daarna het ek die briewe een-een in ’n M-Web-databasis (LitNet het toe nog daar tuis gegaan) gelaai, en LitNet se blad verfris om seker te maak daar het nie foutjies ingesluip nie. Etienne het self gereeld die briewe fyn nagegaan en my gedurig aangemoedig om “stip” te lees en na “zerodefek” te strewe.

As webmeester kon ek kortliks kommentaar lewer onderaan ’n brief, sou dit nodig wees, en in sommige gevalle het Etienne ook so gemaak. Dit was vir ons belangrik dat SêNet as ’n demokratiese dinkskrum funksioneer.

Etienne het my dikwels herinner dat die SêNet-webmeester tussen twee vure sit: die fakkel van spraakvryheid en die vagevuur van laster en ander onhebbelikhede, wat toe al deel was van die digitale landskap. Hy het ook na die web se begindae as ’n Wilde Weste of Niemandsland verwys, voor pogings om dinge te reguleer sou volg.

Soms sou ek ’n lang brief effens verkort en dit aandui. Ons het slegs in enkele gevalle weerhou om ’n brief te publiseer, wanneer daar duidelik lasterlike opmerkings was. Etienne se vroeë ervaring as ’n regsgeleerde was ’n waardevolle kompas in daardie tyd. 

Hoewel daar reeds in 2002 aanlyn kletskamers soos mIRC was, waar bydraes en opinies onmiddellik sigbaar was, was SêNet se ritme en struktuur meer tradisioneel, met die webmeester as hekwagter en taalversorger. SêNet was in wese nie baie anders as ’n koerant se brieweblad nie, hoewel kolomsentimeter nie aanlyn ’n beperking was nie.

Ek het meestal die briewe daagliks probeer laai, vroegoggend voor my klasse by die Joernalistiekdepartement in Crozierstraat begin het. Die vinniger internet op Universiteit Stellenbosch se netwerk het baie gehelp ...

...
As leser sou jy dan op SêNet se skakel klik, ’n lys van die dag se nuwe briewe sien en dit een-een lees. Sou jy op ’n brief wou reageer, moes jy ’n e-pos tik en stuur. Jy kon nie net dadelik vuur spoeg in ’n kommentaarveld onder ’n spesifieke brief nie. Die idee van ’n “like” of ’n emotikon het nog nie bestaan nie.
...

As leser sou jy dan op SêNet se skakel klik, ’n lys van die dag se nuwe briewe sien en dit een-een lees. Sou jy op ’n brief wou reageer, moes jy ’n e-pos tik en stuur. Jy kon nie net dadelik vuur spoeg in ’n kommentaarveld onder ’n spesifieke brief nie. Die idee van ’n “like” of ’n emotikon het nog nie bestaan nie.

Ek onthou steeds van SêNet se gereelde briefskrywers: Kleinboer, Jan Rap, Piet Pompies, Katvrou, Swys, Maankind, Francois Williams, Anna Vier, Klara Majola, Steppenwolf ... Dit was ’n dinamiese meningsruimte wat soms tot emosionele debatvoering en selfs bekgevegte gelei het.

Reeds vroeg in my termyn as SêNet-webmeester het die vonke tussen verskeie bekendes begin spat. Daar was ’n debat oor backtracks (oftewel geblikte musiek) in die Afrikaanse musiekwêreld. Anton Goosen en Steve Hofmeyr was gereeld warm onder die kraag oor hierdie onderwerp.

...
Dit was ’n dinamiese meningsruimte wat soms tot emosionele debatvoering en selfs bekgevegte gelei het.
...

In April 2002 het ’n bitter briefwisseling tussen Dagga-Dirk Uys en Johannes Kerkorrel op SêNet losgebars oor onder meer outeurskap van enkele treffers uit die Voëlvry-era. Dit het dadelik die gedrukte media se aandag getrek. Destyds was dit ’n pluimpie vir ons by LitNet as ’n SêNet-debat oorgespoel het na die koerante.

Hoewel ek opgewonde was oor die blootstelling vir SêNet, was ek bekommerd oor die intensiteit van die bekgeveg, en die woede agter die skerms. Dagga-Dirk Uys en Johannes Kerkorrel was albei helde in my oë, en ek het albei geken uit my voorgraadse studentedae toe ek by Die Burger Oos-Kaap in Port Elizabeth vryskutwerk gedoen het. Hulle het my albei gebel as ’n tipe klankbord toe die SêNet-debat op sy ergste gewoed het. Ek het hard probeer om ’n mate van objektiwiteit te behou, maar ek wou eintlik net hê dat hulle die strydbyl begrawe. Want is die lewe nie reeds moeilik en kort genoeg nie?

En toe gebeur 12 November 2002. Op my 23ste verjaarsdag het ’n SMS op my Nokia gebliep: “Johannes Kerkorrel was ’n ware profeet. RIP.” Vroeër daardie dag is sy lyk aan ’n boom naby Kleinmond gevind. Johannes Kerkorrel, gebore as Ralph John Rabie, het op 42-jarige ouderdom onverwags gegroet. Dieselfde man wat in die CD-boekie van sy bekroonde album ge-trans-for-meer die volgende geskryf het: “ons oorlewing hang af van die bome”.

Ek was die res van daardie dag in ’n toestand van skok en ontkenning. Kerkorrel het enkele weke tevore nog langs my gesit in Beeld se feeskantoor tydens Aardklop op Potchefstroom en ’n artikel geskryf. Hy was daardie dag vriendelik en rustig en het self vir drie desperate aanhangers gratis kaartjies na sy vertoning gereël. ’n Paar maande tevore het ons gou gesels by die Hidden Cellar in Dorpstraat, Stellenbosch, en hy het my nog genooi om te kom kuier op die kleinhoewe naby Somerset-Wes waar hy en sy lewensmaat, Demetrios Demetriou, gewoon het.

Ek wou nie glo “die bleek sanger met die bleek oë en die groot, diep stem”, soos Toast Coetzer hom later in ’n LitNet-huldeblyk sou beskryf, is dood nie. Dat die skepper van treffers soos “Sit dit af”, “Hillbrow” en “Halala Afrika” – wat in 1999 by Thabo Mbeki se inhuldiging by die Uniegebou ’n gehoor van 120 000 uit sy hand laat eet het – se stem finaal stil geword het nie.

Niks kon my voorberei het op SêNet se e-pos-inboks die volgende oggend nie. Daar was vroeg reeds meer as tagtig huldeblyke wat van regoor die wêreld ingerol het. Die gewone SêNet-bydraers was natuurlik daar, maar vanuit nêrens was daar ’n stortvloed van emosie van vele, nuwe stemme. Ook kunstenaars en vriende van Kerkorrel, soos Koos Kombuis, Amanda Strydom en Stef Bos, het bydraes ingestuur.

Ek het tot laat daardie nag by die Joernalistiekdepartement gesit met die briewe se taalversorging en HTML-kodering. Eensklaps het SêNet – dieselfde arena van die giftige bekgeveg – ’n virtuele toevlug vir roubeklaers geword. En in die dae daarna het die huldeblyke bly instroom. News24 het selfs ’n berig oor die SêNet-briewe gedoen: “Kerkorrel tributes pour in”.

Amanda Strydom het hierdie tydperk later treffend verwoord in haar lied “Ek het gedroom” waarin sy en Kerkorrel ná sy dood gesels:

Ek skink die wyn, sny die brood, ek sit die blomme in ’n pot
terwyl jy giggel oor die knipsels uit die Beeld en die Rapport
Daar’s meer, sê ek, lees Marie Claire en die Huisgenoot
En LitNet het ontplof met huldeblyke na jou dood
Van Amsterdam tot Sydney is daar oor jou gerou
En RSG speel sedertdien elke dag ’n lied van jou.

In dieselfde week het Dagga-Dirk Uys my een aand kom besoek by die Joernalistiekdepartement toe ek juis besig was om SêNet-briewe te laai. Hy was ontroosbaar en het enkele handgeskrewe briewe uit die vroeë ’90’s met my gedeel wat ons op LitNet gepubliseer het. Daar is by my geen twyfel dat Kerkorrel en Uys later vrede sou gemaak het as die geleentheid daar was nie.

Iewers het ek dit al geskryf, maar ná Kerkorrel se dood was SêNet – én LitNet – nie meer dieselfde nie. Die momentum van die huldeblyke het ’n groot verskeidenheid nuwe bydraers na SêNet gelok en daar was selde daarna minder as dertig of veertig daaglikse briewe.

Teen Desember 2003, ’n raps meer as ’n jaar later, het SêNet gemiddeld 180 briewe per week gepubliseer en LitNet se maandelikse unieke gebruikers het tot 22 000 gegroei. In daardie tyd het die groot God-debat ook op SêNet gewoed, wat op die ou end meer as 3 000 briewe sou ontvang.

Hoe kyk ek nou, twintig jaar later, terug na Kerkorrel en SêNet? Ek is nou, meer as tevore, bewus van “the brevity of life”. Hoe twintig jaar in ’n oogwink kan verbygaan en hoe vinnig soveel dinge onherroeplik kan verander.

Dit bly ’n groot voorreg om destyds by SêNet en later LitNet te kon werk, waar ek my tande geslyp het vir ’n loopbaan in die media. Ek kon nie vir ’n meer betekenisvolle leerskool gevra het nie. 

En die goeie ou “wêreldwye web”? Ons dink vandag nie meer aan die internet as iets wat “daar” is, waartoe jy toegang het slegs as jy ’n kabel by ’n muurprop ruil nie. Die internet is alomteenwoordig en onlosmaaklik deel van hoe ons dink en doen. En voltyds binne ons bereik, behalwe soms tydens beurtkrag.

Die geniale komediant Bo Burnham som die internet deesdae perfek op in sy lied “Welcome to the Internet”:

Could I interest you in everything?
All of the time?
A little bit of everything
All of the time
Apathy’s a tragedy
And boredom is a crime
Anything and everything
All of the time.

En Kerkorrel? Sedert 2002 het ek elke jaar gemengde gevoelens op my verjaarsdag. Dit voel vreemd dat ek nou, op 43, ouer is as toe hy gesterf het. Ek mis hom, en om hom te sien optree, of dit nou op ’n groot verhoog of in ’n intieme venue by ’n vleuelklavier is.

Ek wonder dikwels watter musiek hy nog sou maak indien hy steeds geleef het. Waaroor hy nuwe songs sou geskryf het. Aardverwarming? Phala Phala? Nog wêreldklas love songs soos “Hoe ek voel”? Hy sou sekerlik soms saam met Stef Bos opgetree het, en sy geliefde Miss Mandy (Amanda Strydom). En Koos Kombuis.

...
Hy was ’n ikoon en ’n legende in sy eie tyd. En dit is hy steeds, twintig jaar later
...

Hy was ’n ikoon en ’n legende in sy eie tyd. En dit is hy steeds, twintig jaar later. Op sy grafsteen staan geskryf: “Al lê die berge nog so blou / Jou woorde sal ons steeds onthou.”

En mag jonger generasies sy musiek aanhou ontdek op plekke soos Spotify en Apple Music. Maar ek dink ons gaan oukei wees. Ek het pas op TikTok gaan kyk, en daar sit die tieners met kitare en sing: “Hillbrow”, “Halala Afrika”, “Hoe ek voel” en die einste “Al lê die berge nog so blou”.

Lees ook:

Amanda Strydom se lied aan Johannes Kerkorrel

Who killed Johannes Kerkorrel?

Who killed Johannes Kerkorrel?

EET KREEF!: Die verhaal van PW Botha se wysvinger en Johannes Kerkorrel se middelvinger

Johannes Kerkorrel

Johannes Kerkorrel?

  • 3

Kommentaar

  • Mooi geskryf, Erns! Die nostalgie loop dik, maar hoekom dan nou nie? Dis hoe ons almal voel.

  • Albert du Plessis

    En baie dankie vir jou en Etienne en Naomi se duisende ure. Dit was 'n opwindende tyd van nekuitsteek, ontdek, avontuur, uitdaag en verken. Goed om te sien jy loop steeds voor en is steeds op koers op pad na ... elders.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top