Tweedehandse boeke en eerstehandse gasvryheid in Yolanda Barnard se Yolo

  • 2

Melt Myburgh het in Centurion by Yolanda Barnard se tweedehandseboekwinkel, Yolo, ingeloer en afgekom op ’n oase vol winskopies vir boekvrate.

*

Yolanda Barnard tussen die rakke van Yolo in Centurion (Foto: Anthony Dalton)

Boekliefhebbers in Gauteng wat graag rondsnuffel vir winskopies kan hulself gerus trakteer op ’n besoek aan Yolanda Barnard se Yolo in Centurion. Barnard, oudjoernalis en skrywer van die 2009-topverkoper Die ponies galop se piepklein, sjarmante winkeltjie vir tweedehandse boeke is in die Kookabella Kafe-sentrum in Lytteltonweg, Clubview op die Jeanweg-afdraai vanaf die M1.

Die akroniem Yolo is ’n viering van Yolanda se spitsvondige benadering tot die lewe: You only live once. Of dalk ’n aks nog nader aan die waarheid: You only lees once!

En mens hoef net jou oë na die mure van Yolo op te slaan om te sien hoe luisterryk die herinneringe aan Yolanda se dae as vermaaklikheidjoernalis by Son, Sondag, Beeld en Rapport is. Oral pryk Yollie saam met bekendes uit die Afrikaanse celebritywêreld – Snotkop, Bobby van Jaarsveld, Loui Fish, Bianca Ferrante, die skilder Portchie en … ja, wraggies … André P Brink!

Yolanda Barnard en André P Brink in 2010 by die KKNK. (Foto: Sonja van Niekerk)

Die foto met Brink is in 2010 by die KKNK geneem. Yolanda onthou: “Die sanger Zak van Niekerk het toe nog geleef en ek het die aand saam met hom en sy vrou Sonja gekuier. Ons het toe al goed in die Karoo-wyn ingevaar. RSG het ’n boekgesprek met André gehad wat direk uitgesaai is. Ek en Sonja het daar opgedaag, want ek wou luister.

“My selfoon se luitoon was in daardie stadium die gekerm van ’n kat. So sit al die glitterati en literati en paparazzi en luister na die gesprek. Ek het vergeet om my foon af te skakel en so begin die kat toe kerm. André het die gesprek onderbreek en gevra dat almal na die arme katjie moet help soek. Ek het agter die rusbanke en stoele ingeduik. Sonja het darem my foon in die hande gekry en dit sonder om te blik of te bloos afgeskakel. Die mense wat daar was wonder seker tot vandag toe oor die kat …”

Sedert Yolanda in 2016 haar werk as voltydse joernalis vaarwel geroep het, het heelwat water in die gety gestoot. Sy is drie jaar gelede met Rigard Lemmer, die liefde van haar lewe, getroud, en dié tweetjies het in Centurion nes geskrop. Haar boekwinkeldroom het vroeër vanjaar waar geword.

“Ek is gek oor tweedehandseboekwinkels,” vertel sy. “Die reuk van boeke, daardie juweeltjies wat al lankal uit druk is, en die papiertjies wat soms uit boeke val vertel stories oor mense en hulle dinge.” Uitgewers en skrywers hou dikwels verby tweedehandseboekwinkels, want die wins is minder omdat die verkoopprys reeds eerstehands uitgemelk is. Maar vir Yolanda is dit ’n beginselsaak dat almal toegang tot boeke moet hê en dit kan bekostig. “Nuwe boeke is ongelooflik duur en by tweedehandseboekwinkels kan jy publikasies baie goedkoper kry.”

Yolanda voel nie heeltemal gemaklik met die woord tweedehands nie. “Ek haat die woord; ek verwys eerder na ‘voorheen geleeste en geliefde boeke’.”

Yolo is propvol “voorheen geleeste en geliefde boeke” (Foto: Anthony Dalton)

Yolo is klein. “Ek kan nie meer as 4 000 boeke op die rakke aanhou nie,” sê Yolanda. Maar boekversamelaars en lesers op soek na publikasies wat lankal uit druk is, sal op waardevolle skatte afkom. “Mense spoor dikwels juwele hier op, soos boeke van Piet Steyn wat uit druk is, en titels deur onbekende skrywers wat dalk net een of twee keer gepubliseer het.” En Yolo het iets vir almal: “Fiksie, niefiksie en self ’n paar selfhelp-seksboeke. Hier is boeke oor paganisme en godsdiens, oor magiese rituele en Judaïsme.”

En natuurlik straal Yolanda se persoonlikheid uit goeters en dinge tussen die boeke op elke rak. In die romanse-afdeling is daar ’n paar geel hoëhakskoene (“’n storie vir ’n ander dag!”) en ’n afbeelding van ’n naakfiguur van ’n vrou met die gesig van Frida Kahlo tussen die borste. “Ek is mal oor Frida en sy figureer oral in die winkel. Ek het ook ’n paar boekfeetjies wat tussen boekbladsye wegkruip. ’n Wonderlike oomblik was toe ’n agtjarige dogtertjie by die winkel inwals en na al die feetjies gesoek het en vir hulle name uitgedink het. Aan die einde van die dag, toe haar ouers haar kom soek, het die kind twee boeke – R10 elk – met haar sakgeld gekoop.”

Vir Yolanda demonstreer dié insident presies dit wat Yolo uniek maak. “Grootmense en kinders kan hier kom droom – op die poewe sit, snuffel en selfs af en toe koffie saam met die boekoppasser drink.” ’n Koffiemasjien prut eenkant sodat besoekers hul gestelle met kafeïen kan lawe. En Yolanda se kat, ’n tweejarige Russian Blue, is die “amptelike vennoot” van die besigheid. “Ek bring haar soms saam en besoekers is mal oor haar. Wat is ’n boekwinkel dan nou sonder ’n katjie?”

Yolanda se Russian Blue, die “amptelike vennoot”. (Foto: Yolanda Barnard)

Onder die versamelaaritems in Yolo tel ’n Kinderbybel wat in 1956 gedruk is, ’n digbundel van Dan Roodt waarin die gewraakte “Volksmoeder” verskyn, en eerste uitgawes van onder andere Totius, André P Brink en Etienne Leroux. “Ek het ook die eerste uitgawe van Jan Rabie se 21 gehad,” vertel Yolanda, “maar my mamma, wat ek uit haar aftrede gepluk het om by die winkel uit te help, het die boek per ongeluk vir R50 verkoop. My skuld, want ek het nie ’n prysetiket daarop gesit nie!”

Aan interessante klante is daar geen tekort nie. Dikwels kom mense na Yolo om praatjies met die bekende Yolanda Barnard te maak. “Party tannies bring hulle Ponies sodat ek dit kan teken, en knoop dan geselsies aan. Tannies kan vreeslik baie gesels! Interessant genoeg is my klante almal Afrikaanssprekend en hulle lees nie sugromans of romanza nie; hulle mik gewoonlik na die Brink-rak of koop ’n paar Joanne Harris-boeke.”

En dan was daar die tante van 60-plus met pers hare en twee neusringe wat na ’n eksemplaar van die Kama soetra gesoek het. Toe Yolanda die boek opspoor en aan haar oorhandig, sê sy: “Nou moet die ou oom maar bene buig.”

Maar hoe werk die oorgang van joernalis na boekwinkeleienaar nou eintlik?

Yolanda en Bobby van Jaarsveld in die dae toe sy joernalis was. (Foto: verskaf)

“Ek sal seker nooit ophou om ’n joernalis te wees nie,” sê Yolanda. “Ek is vreeslik nuuskierig en ek sien elke dag stories in my winkel afspeel, soos die afgetrede generaal wie se vrou aan Alzheimers ly, die voormalige dominee wat nie meer sin in die lewe het nie en begin tob oor God se bestaan, die gewese onderwyseres wat soos ’n dogtertjie giggel as sy ’n paar winskopies raakloop.”

Yolanda skryf nog maandeliks vryskut artikels vir tydskrifte – “oor rose en parfuum en geen skandes nie”. Sy is haar lewe lank leesgierig en stories is in vele opsigte ’n weerspieëling van haar eie lewe. “Sonder stories kan ek nie asemhaal of eet nie. Régtig, ek het altyd ’n boek in die hand as daar ’n bord kos voor my staan. En ek versamel al die afgelope dertig jaar boeke.”

Nadat Yolanda tot onlangs as skakelbeampte by Centurion Hospice gewerk het, en baie mense sien sterf het, was haar siel gekneus. Op ouderdom 42 het sy, soos die afgetrede dominee wat hier bo genoem word, begin tob oor menswees. “Ek wou lewe. In Desember verlede jaar het ek na my duisende boeke gestaar – geliefde boeke, geleeste boeke, boeke wat vertroosting bring. En ek het gewonder wie hulle eendag gaan erf.”

Boonop was daar nie meer plek vir nóg ’n boekrak in die huis nie. “Daar was tot ’n boekrak in ons badkamer. Mens kon op die troon sit en lees! Ek het toe begin droom van ’n boekwinkel – in ’n teetuin. Teetuine het gewoonlik ’n geskenkwinkel, en nie ’n boekwinkel nie. En so het ek op Kookabella Kafe afgekom. Die dekor is ’n mengelmoes van oud en nuut, van vintage en modern. Van spiksplinternuut en oupagrootjie-oud. Alles word ook herwin – ’n ou bad word byvoorbeeld ’n visdam, ’n stoel word ’n boekrak. Die winkelruimte, wat voorheen ’n geskenkwinkel was, was beskikbaar en ek het besluit om dit te huur.”

Yolanda en Snotkop – herinneringe teen ’n Yolo-muur. (Foto: verskaf)

Kookabella se teetuin is lowerryk met plante, water en hoë bome. Besoekers kan drankies en versnaperinge teen billike pryse geniet. Vir ’n skamele R42 kan mens byvoorbeeld weglê aan heerlike kerriefrikkadelle en slaai, en vir die blatjang saam met die frikkadelle sal jy jou siel aan enigiemand verkoop.

En in Yolo kan jy vir ’n wyle ontsnap uit die wêreld en die sleur van wêreldse dinge. En jou verlustig in die skerpsinnige gasvryheid van Yolanda Barnard en haar viering van ’n liefde vir woorde en stories. Met haar celebritystatus steek sy graag die draak: “Ek is nie meer bekend nie, ek is sommer ’n ou has been wat nou ’n boekwinkeleienaar is.”

 

* Yolo is by die Kookabella Kafe in Lytteltonweg 60, Clubview, Centurion.

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Jacques Wessels

    Dis so pragtig, dié. Ek het ook rakke vol digbundels wat my na aan die lewe-vuur hou.

  • Ek is op soek na boeke van Emily Richards. Ek het "Wedding ring" van haar gelees en dit baie geniet. Dit was 'n baie ou boek en kry dit nie in biblioteek nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top