
Foto: Canva
Daar is tekste wat ’n mens nie onverskillig lees nie. Nie omdat jy noodwendig met alles daarin saamstem nie, maar omdat dit iets raak wat lank reeds onder die oppervlak van ’n generasie se selfverstaan lê. Johann Rossouw se LitNet-bydrae oor geloofsbesering, verlange en die pad “huis toe” is só ’n teks. Dit is geskryf met ’n duidelike poging om ’n gedeelde Afrikaanse ervaring – veral onder mense ouer as 50 – nie bloot te beskryf nie, maar ook te interpreteer en te rig. (Dat hierdie “gedeelde ervaring” self reeds ’n bepaalde perspektief veronderstel, is deel van die gesprek wat gevoer moet word.)
Baie van wat Rossouw beskryf, is herkenbaar. Die jeugervaring van ’n geloof wat meer met vrees as met verwondering te make gehad het; die beklemtoning van leerstellige sekerheid ten koste van die emosionele en beleefde kant van geloof – dit wat ’n mens raak, dra en stil maak – sowel as poësie en stilte; die innerlike skeur wat eers werklik sigbaar word wanneer verlies, sterflikheid of mislukking aanmeld – dit alles vorm deel van ’n breër kulturele verhaal waarin baie van ons, hoewel nie almal nie, gevorm is. Dat hierdie ervaring nie ligtelik afgemaak behoort te word nie, is sonder twyfel waar. Inteendeel: Die erkenning van geloofsbesering is ’n noodsaaklike eerste stap in enige eerlike gesprek oor godsdiens in ’n post-apartheid-, post-sekulêre konteks.
.......
My huiwering begin egter nie by die beskrywing van hierdie ervaring nie, maar by die wyse waarop dit uiteindelik deur Rossouw geïnterpreteer en normatief beoordeel word. Dit is hier – by die skuif van ervaring na betekenis, van pyn na oplossing – waar ons paaie, meen ek, begin uiteenloop.
........
My huiwering begin egter nie by die beskrywing van hierdie ervaring nie, maar by die wyse waarop dit uiteindelik deur Rossouw geïnterpreteer en normatief beoordeel word. Dit is hier – by die skuif van ervaring na betekenis, van pyn na oplossing – waar ons paaie, meen ek, begin uiteenloop.
Geloofsbesering en die versoeking van finaliteit
Rossouw se teks beweeg, subtiel maar doelgerig, in die rigting van ’n bepaalde filosofies-teologiese slotsom: dat die genesing van geloofsbesering uiteindelik lê in ’n herontdekking van die klassieke Christendom, veral soos dit in die Ortodokse tradisie beliggaam word. Die pad “huis toe” word voorgestel as ’n terugkeer na ’n ryker liturgiese wêreld, ’n geoefende geestelike lewe, ’n mistieke oorgawe wat die verskraling van moderne, Protestantse en staatsverstrengelde geloof te bowe gaan.
Daar is veel om hierin te waardeer. Die herinnering daaraan dat geloof nie bloot ’n stel proposisies is nie, maar ’n geleefde praktyk; dat karakter, habitus en geduldige inoefening wesenlik is; dat stilte soms meer sê as argumente – dit alles is broodnodige korrektiewe in ’n wêreld wat deur voortdurende geraas, selfverklaring en onmiddellike meningsvorming oorheers word.
En tog: Juis hier ontstaan ’n belangrike vraag. Is die beweging wat Rossouw voorstel, werklik ’n opening van geloof, of loop dit die gevaar om ’n ander vorm van sluiting te word? Met ander woorde: Word die kompleksiteit van die historiese breuke wat as “geloofsbesering” ervaar word, werklik ernstig opgeneem, of word dit uiteindelik herlei tot ’n verkeerde afdraai wat nou reggestel kan word deur ’n terugkeer na ’n voorafbepaalde volheid?
My eie intuïsie en mening – en dit is iets wat my denke die afgelope jare diep gevorm het – is dat sulke breuke nie eenvoudig “herstel” kan of moet word nie. Hulle is nie bloot simptome van verval nie, maar dra self ’n betekenisvolle historiese waarheid. Die Reformasie, die Verligting, die moderne selfkritiek van godsdiens – dit alles was nie net ongelukke of ontsporings nie, maar pogings om geloof te red van sy eie ideologiese verstarring. Om hierdie momente uitsluitlik as verlies te lees, is om hul kritiese produktiwiteit te onderskat.
Protestantisme as gebeurtenis, nie as tekort nie
Dit bring my by ’n tweede punt van verskil. In Rossouw se genealogie van Afrikaanse geloof speel Protestantisme hoofsaaklik die rol van probleem: as draer van leerstellige instemming, as bondgenoot van die moderne staat, as tradisie wat die sintese tussen rede, geloof en affek verloor het. Daar is historiese redes waarom hierdie kritiek nie sommer van die hand gewys kan word nie – veral nie in die Suid-Afrikaanse konteks nie.
Maar om Protestantisme hoofsaaklik as ’n tekort te lees, is om iets wesenliks mis te kyk. Die Protestantse tradisie is nie net ’n verarming van die Christendom nie; dit is ook een van die mees radikale, selfkritiese bewegings in die Westerse geskiedenis. Die appèl op die gewete, die beklemtoning van feilbaarheid, die voortdurende terugkeer na die teks, die weerstand teen finale gesag, die demokratiese aard van kerkregering – dit alles het geloof oopgebreek vir geskiedenis, konflik en morele onderskeiding.
In dié sin is Protestantisme nie die ontkenning van misterie nie, maar die weiering om misterie te besit. Dit leef vanuit die spanning tussen belofte en gebrokenheid, tussen vertroue en twyfel. Om hierdie spanning eenvoudig as ’n oorgangsfase op pad na ’n ryker, meer geïntegreerde tradisie te beskou, is om die kreatiewe en kritiese krag daarvan te neutraliseer.
Stilte, mistiek en die gevaar van verabsolutering
Nog ’n aspek van Rossouw se teks wat aandag verdien, is die hoë status wat aan stilte en mistiek toegeken word. Dat stilte ’n noodsaaklike teenwig teen moderne verbesondering en instrumentele rasionaliteit is, sal min mense betwis. Tog skuil daar ’n gevaar wanneer stilte self ’n normatiewe hoogtepunt word waarteen ander vorme van geloof – krities, talig, dialogies – by voorbaat minderwaardig lyk.
Die Christelike tradisie het nog altyd gewissel tussen stilte en woord, tussen wat teoloë apofaties noem – die besef dat God ons taal te bowe gaan – en katofatiese pogings om tog met woorde, beelde en belydenisse iets van God te sê. Om die een teenoor die ander uit te speel, is om ’n valse hiërargie te skep. Die Reformatoriese aandrang op woord, uitleg en gesprek was daarom nie bloot ’n modernistiese ontsporing nie, maar ook ’n poging om geloof aanspreeklik te hou – teenoor die gemeenskap, teenoor geskiedenis en uiteindelik teenoor die weerloses.
Bewegende denke en die moed om onderweg te bly
In my eie werk het ek probeer om die spanning tussen woord en stilte nie eenvoudig op te los nie, maar vol te hou en ernstig op te neem. Wat ek bewegende denke noem, is nie ’n relativisme of ’n ontkenning van tradisie nie, maar ’n poging om getrou te bly aan die feit dat waarheid hom nie in één oomblik of finale vorm aanbied nie, maar hom oor tyd heen ontvou. Dit vra nie net oorgawe nie, maar ook oordeel; nie net vertroue nie, maar ook onderskeiding; nie net stilte nie, maar ook kritiese dialoog en gesprek.
Vanuit so ’n perspektief raak ek huiwerig vir enige vertelling wat te vinnig van breuk na herstel beweeg, van verwarring na rus, van onderweg wees na “huis toe gaan”. Nie omdat ek teen rus of tuiskoms is nie, maar omdat ek vermoed dat geloof – veral in ons tyd – juis daar getrou bly aan sigself waar dit die moed het om nie finaal af te rond nie.
Slot: ’n oop gesprek
.......
My bedoeling met hierdie repliek is nie om Rossouw se persoonlike pad of sy erns met geloof te bevraagteken nie. Inteendeel: Dit is juis omdat sy teks belangrike vrae oopmaak, dat dit ’n kritiese antwoord verdien. Die vraag is nie of ons die rykdom van die Christelike tradisie nodig het nie. Die vraag is eerder hoe ons dit betree: as ’n finale toevlug, of as ’n ruimte waarin ons leer om met groter nederigheid, geduld en selfkritiek onderweg te bly.
........
My bedoeling met hierdie repliek is nie om Rossouw se persoonlike pad of sy erns met geloof te bevraagteken nie. Inteendeel: Dit is juis omdat sy teks belangrike vrae oopmaak, dat dit ’n kritiese antwoord verdien. Die vraag is nie of ons die rykdom van die Christelike tradisie nodig het nie. Die vraag is eerder hoe ons dit betree: as ’n finale toevlug, of as ’n ruimte waarin ons leer om met groter nederigheid, geduld en selfkritiek onderweg te bly.
Miskien lê die diepste verskil tussen ons oor tuiskoms en voortdurende kritiese interpretasie in beweging. En dalk is dit juis in hierdie verskil – wanneer dit eerlik en hoflik uitgespreek word – dat die gesprek werklik vrugbaar kan word.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Afrikaner(on)geloof en ons geloofsbesering


Kommentaar
Die saak waaroor dit hier gaan is vir die teoloog van kritieke belang en net so vrugbaar. As teoloog verkies ek die terme 'geestelik' en 'verwonding'. Dit dwing my om die twee kante van die huidige konteks post-2000 as teologiese saak naas mekaar, maar ook teenoor mekaar, te stel. Dit is enersyds liberalisme en sekularisme teenoor fundamentalisme en spiritualisme andersyds. Die Gereformeerde rasionalisme is my uitgangspunt.
Dankie Pieter Duvenhage vir die repliek. Ek voel ook tuis by die bewegende denke en die onderweg-wees-benadering, soos deur jou verwoord.