Turksvy: ’n onderhoud met Bibi Burger en Azille Coetzee

  • 0

Logo ontwerp deur Octavia Roodt

Hallo Bibi en Azille! Dankie dat ek met julle kan gesels oor Turksvy. Diegene wat reeds van Turksvy te hore gekom het, sal weet dis ’n feministiese brief in Afrikaans wat gereeld via e-pos vir intekenaars gestuur word. Wil julle miskien verder uitbrei oor wat dit is en waaroor dit gaan?

Soos jy noem, is Turksvy ’n brief met feministiese temas wat elke tweede Sondag per e-pos gestuur word. Ons vra verskillende Afrikaanssprekende skrywers, kunstenaars en denkers om vir ons te skryf, te skep, en te dink oor feminisme in Afrikaans en ’n brief daaroor te skryf. Ons dink daaraan as ’n manier om ’n aanlyn ruimte te skep vir gesprek oor die onderwerp, om ’n bietjie van ’n feministiese gemeenskap in Afrikaans te kultiveer, en om die woordeskat vir feminisme in Afrikaans (in al die variante daarvan) te begin uitbou. Dit is vir ons betekenisvol dat hierdie gesprek juis in Afrikaans moet plaasvind – die idee is nie om bloot globale gesprekke hier te herhaal nie, maar om spesifiek in en oor Afrikaans te dink.

Bibi Burger en Azille Coetzee (Foto van Azille: Brenda Veldtman)

Wie sou julle sê moet inteken om die brief te ontvang? Is dit hoofsaaklik op vroue toegespits? En wat kan hulle verwag wanneer die eerste e-pos in hulle inboks beland?

Dis ’n interessante vraag en iets waaroor ons gereeld praat. Ons probeer doelbewus om nie onsself aan ’n spesifieke idee van ’n “mark” of leserspubliek te bind nie. Ons idee van feminisme en genderidentiteit is vloeibaar, oop, en veelkantig. Daarom het ons nie net vrouelesers en -skrywers nie, maar ook mans, queer mense en gendernonkonformistiese mense. Ons probeer ook om ’n gesprek tussen verskillende generasies oop te maak, tussen taalvariante en tussen dissiplines. Dit beteken dat enige iemand wat belangstel in vrae oor genderidentiteit, liggaamlikheid, seks en die samelewing iets in Turksvy sal vind wat vir hulle interessant sal wees. Elke brief is anders – ons gee vir ons skrywers en kunstenaars totale vryheid om daarmee te doen waarvoor hulle lus is. Sommige briewe is ernstig en teoreties, ander is diep persoonlik; soms raak dit lekker rof en sexy. Die briewe neem verskillende vorme aan: Soms is dit ’n essay, ander kere ’n onderhoud, gedigte, ’n storie, ’n gesprek. Ons probeer ook ’n sterk visuele element in baie van die briewe inbring met foto’s en kuns.

Hoe definieer julle feminisme? Waar pas dit in in ’n wêreld waar daar al minder in binêre terme na gender verwys word? Aan wie behoort die term?

Dit is altyd ’n moeilike vraag. Vir ons gaan feminisme oor die idee dat alle mense in alle verskillende liggame gelykwaardig moet wees en ewe veel kan floreer, en dat mense die ruimte en vryheid moet hê om hul geseksualiseerde liggame en genderidentiteite uit te leef en te verken en te ontwikkel soos wat hulle wil. Ons verstaan gender ook as iets wat altyd oorkruis met ander dinge, soos klas en ras – die feministiese projek behels dus noodwendig ook ’n stryd teen ander vorme van ongelykheid en onreg.

Dink julle feminisme word nog as ’n vloekwoord in die monde van Afrikaanssprekendes beskou? Is daar deesdae in Afrikaanse kringe meer geleentheid vir gesprekvoering en die uitruil van idees daarrondom? Kan Turksvy ’n rol speel in hierdie diskoers?

Wêreldwyd is daar die laaste dekade of wat ’n hernude belangstelling in feminisme. Party mense skryf dit toe aan sosiale media, ander sien dit as ’n reaksie op hoe politiek toenemend regs draai en dit regte wat verband hou met geslag en seksualiteit bedreig. Feminisme beleef ook ’n oplewing in Suid-Afrika in die breë, hier veral in reaksie op Suid-Afrika se ondenkbare vlakke van seksuele geweld – dink maar aan protesbewegings soos die #RUReferenceList, #AmINext en die One in Nine Campaign. Daar het ook in die afgelope paar jaar minstens twee boeke in Suid-Afrika verskyn waarin daar verken word wat dit beteken om vandag feminis te wees in ons konteks. Daar was Feminism Is: South Africans speak their truth, geredigeer deur Jen Thorpe (Kwela, 2018). En dan was daar Surfacing: on being black and feminist in South Africa, geredigeer deur Desiree Lewis en Gabeba Baderoon (Wits University Press, 2020). Hierdie ontluiking is ook aanwesig in Afrikaans – ons sien dit in die eksplisiet feministiese artikels deur jong vroue op Klyntji; in films soos Jenna Bass se Flatland; in die poësie van Ronelda Kamfer, Lynthia Julius, Jolyn Philips; in podsendings soos Mannetjiesvrou. Maar, anders as in die ander Suid-Afrikaanse kulture, het ons nie in Afrikaans ’n sterk tradisie van feministiese diskoers en aktivisme nie (en die enigste prominente vrouebemagtigingsbeweging wat in die taal gebeur het, was met Afrikanernasionalisme verweef). Met Turksvy probeer ons ’n platform skep vir ’n kollektiewe en publieke omgang met die idee van feminisme in Afrikaans, ’n tipe speelterrein waar idees oor die onderwerp ontwikkel en gedeel kan word, sowel as ’n argief waardeur hierdie gesprekke bewaar kan word.

Hoe het dit gebeur dat julle in feminisme begin belangstel het en iets konkreet oor die onderwerp wou doen? En hoekom het julle besluit om hierdie projek saam aan te pak?

Ons het ’n gemeenskaplike vriendin wat ons aan mekaar en aan feminisme voorgestel en bekendgestel het toe ons nog studeer het. Van daar af het daar ’n vriendskap tussen ons (Bibi en Azille) ontwikkel wat van die begin af heeltemal verweef was met ons akademiese en beliggaamde belangstelling in gender. Ons is al vir jare in voortdurende gesprek oor die dinge wat ons kyk, lees en ervaar en toe het dit soos ’n lekker volgende stap gevoel om hierdie gesprekke en belangstellings op ’n manier met ’n breër gemeenskap te begin deel.

Watter terugvoer oor Turksvy het julle tot dusver van lesers ontvang?

Ons lesers is toegewyd en opgewonde en dit gee vir ons baie energie. Iets wat ons al by ’n paar mense gehoor het, is dat Turksvy vir hulle ’n heerlike soort Sondagritueel geword het – wanneer die brief op ’n Sondag verskyn, gaan sit mens met ’n koppie koffie of ’n glas wyn en jy verdiep jou vir ’n tydjie in wat ook al dit is wat Turksvy daardie dag vir jou het om te gee. So ’n lekker gedagte!

Kan julle miskien iets sê oor waarna julle lesers in 2023 kan uitsien? Of moet ons maar geduldig wag?

Ons is baie opgewonde oor volgende jaar – ons het ’n line-up van baie interessante skrywers, onder andere Mia Arderne, Ingrid Winterbach, Christi van der Westhuizen. Maar voor ons daarby uitkom, skop ons Januarie af met ’n sarsie heerlike queerpornografie!

Indien iemand na die lees van dié onderhoud besluit hulle wil inteken, waar kan hulle dit doen?

Vul jou e-pos-adres by hierdie skakel in: turksvy.substack.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top