Tuin van Digters-persverklaring: Ons Klyntji – klein boekie met groot impak

  • 0

Foto van Ons Klyntji-omslag as persmateriaal verskaf

Die 130ste jaargang van Ons Klyntji is beslis ’n lekker ronde getal om te vier, en ja, die positiewe terugvoer jaarliks oor die inhoud van die zine is ook goed om te hoor. Die grootste plesier wat hy egter uit elke nuwe uitgawe kry is om te sien hoedat ontluikende, dikwels haas onbekende digters daardeur kans kry om hul name saam met dié van legendes in die lange inhoudsopgawe te sien. So vertel joernalis Toast Coetzer, een van die gereelde redakteurs van dié monochroom broeksak-grote publikasie met heelwat oemf.  

“Ek wil vanjaar vier dat ons steeds die één plek is waar jy skrywers, hetsy ervare of onervare, nuut in die ’game’ of ’n gesoute hand, saam tussen die blaaie sal kry. Dis vir my lekker om deel te wees van so iets,” sê hy.

Die 2026-uitgawe bevat die bydraes van meer as 110 deelnemers wat uit honderde gedigte, kortverhale, sketse en foto’s gekies is. Die voorblad is ontwerp deur Paula Kruger, met Lara-Louise Venter wat met die uitleg gehelp het. Dit word deels befonds deur die LW Hiemstra Trust, en gepubliseer in samewerking met die oorkoepelende Klyntji-inisiatief.

“Vir heelwat mense is dit die eerste keer dat een van hul gedigte in ’n bundel ingesluit word. Vanjaar het ons ook weer eens ’n lekker mengsel van gevestigde skrywers wie se werk jarelange aanhangers amper al verwag wanneer hulle ’n Ons Klyntji oopslaan. Dit sluit name soos Sjaka S Septembir in, wat al sedert die publikasie se 1990’s Koos Kombuis-era bydraes lewer, asook gevestigde digters soos Danie Marais en meer onlangs ook Tom Dreyer.”

Sowat ’n 1 000 word gedruk en versprei by feeste, onder digters wie se werk daarin verskyn, en by deelnemende boekhandelaars.

Dit is nou lank reeds tradisie dat die zine by die Breytenbach Sentrum op Wellington se Tuin van Digters-feesnaweek die eerste keer die lig sien. Ter viering van die 130ste jaargang, Saterdagaand 12 September, sal Coetzer en mede-redakteur Erns Grundling spesiaal terugblaai deur die argiewe en voorlees uit van hul gunsteling uitgawes sedert die tyd wat Koos Kombuis die redakteur was, tot nou.

“Dit bly ’n hoogtepunte elke jaar om by die Tuin van Digters te staan met die boekie in die hand, te luister na heelwat van die bydraers op die verhoog, en te sien hoe mense dit geniet!” sê Coetzer.

Die zine word deur ’n span vrywilligers saamgestel, onder wie Joe Botha as redakteur, en Jaco du Plooy, Andréa Müller, Rebecca Kahn, Elodi Troskie, Elzanne Coetzee, Natasha Harmse, Leanne Rencken en Willow Ruby as bydraende redakteurs.

Coetzer verklap dat dit dikwels ’n redelike gespook afgee om die keuring, redigering en uitleg alles betyds klaar te maak voor die eerste bekendstelling. Soms het dit al gebeur dat hulle eers op die dag van die fees self die eerste keer ’n gedrukte kopie onder oë het. Tog bly dié spanpoging elke keer die spanning, laat nagte en die kort spertye werd.

“Vir my is die belangrikste die geleentheid wat ons span van sowat tien vrywilligers vir mense gee om te publiseer, en hul werk in druk te sien. Hul werk en woorde versprei onder die honderde, selfs duisende mense wat ’n kopie daarvan lees,” sê Coetzer.

“Hierdie jaar se uitgawe sluit in 'n foto van 'n man wat 'n baie groot sneeubal rol, 'n skets van 'n kat genaamd Grace Mugabe, 'n kort-kortverhaal oor hoe dit moes gevoel het om Lot se vrou te wees, en miskien die eerste gedig ooit wat oor Vioolsdrift geskryf is. En 'n gedig oor hoe Bart Simpson jou in 1990 uit die vaalheid van die Vrystaat kon red,” noem hy.

Lees ook:

Program: Tuin van Digters 2026

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top