Tuin van digters en vertaalkuns: Hugo en T’Sjoen aan die woord oor literêre vertaling en die poësie van De Coninck, Van hee en Nolens

  • 0

Daniel Hugo en Yves T'Sjoen
Foto: Naomi Bruwer

Danksy Daniel Hugo se vertalings uit hul oeuvres het gedigte van Herman de Coninck, Miriam Van hee en Leonard Nolens deel van die Afrikaanse letterkunde geword.

Die afgelope Saterdag op die jaarlikse Tuin van Digtersfees in die Breytenbach-sentrum op Wellington het hierdie bekroonde Afrikaanse vertaler en digter met die gerekende Belgiese literator Yves T’Sjoen oor die werk van hierdie Vlaamse digters gesels.

Ter illustrasie van gesprekspunte het Hugo vertaalde gedigte gelees uit sy keure van De Coninck (Liefde, Miskien en Die Leninge Liefde), Van hee (In plaas van die stilte) en uit Nolens se ’n Digter in Antwerpen nadat sy gespreksgenoot die Nederlandse gedigte voorgelees het.

T’Sjoen is ’n belangrike voorspraakmaker vir die Afrikaanse letterkunde in die Lae Lande. As hoofdosent by die Afdeling Nederlands van die vakgroep Letterkunde aan die Universiteit van Gent en besondere hoogleraar van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, is hy ten nouste betrokke by letterkunde-gesprekke, -brûe en -bande tussen Suid-Afrika, België en Nederland.

Hy en die digter Ronel Foster, ook ’n literator op Stellenbosch, is die redakteurs van twee belangrike boeke oor Afrikaanse en Nederlandse poësie, te wete Over grenzen/Oor grense (saam met Thomas Vaessens) en Toenadering. By ’n vorige geleentheid het T’Sjoen en Foster oor literêre grensverkeer tussen Nederlands en Afrikaans en Hugo as hekwagter gesels.

Yves T'Sjoen
Foto: Naomi Bruwer

Met die vraag “Wat ís Nederlandse poësie?” het Hugo en T’Sjoen op Wellington die gesprek begin.

Vir Hugo stel die poësie van België hom voor uitdagings wat hy nie noodwendig in Nederland het nie. T’Sjoen het die situasie soos volg toegelig: “Vlaams bestaan nie. In België, in Vlaandere, spreek ’n mens Nederlands, maar ’n ander soort Nederlands as in Nederland. Wat my betref, ’n welluidender Nederlands, ’n melodieser Nederlands as wat jy meestal in Nederland hoor. Dis ’n bietjie vloek in die kerk as jy sê dat jy Vlaams praat. Nee, ek spreek Nederlands. En binne die taal, soos in Afrikaans, het jy variante.”

Is Belgiese Nederlands net so belangrik en interessant as Nederlandse Nederlands? Nie net soveel nie – véél interessanter, meen Hugo uit hoofde van die feit dat hy al werk van Vlaminge, sowel as Nederlandse skrywers vertaal het.

“Ek vind dat die Nederlands van Vlaminge veel ryker is wat woordeskat en idiome betref, maar ook wat die taalregister betref. Daarom is dit ’n groter uitdaging om ’n Vlaamse skrywer te vertaal as ’n Nederlandse skrywer.”

T’Sjoen stem hiermee saam. “Ja, dit dink ek wel. Ek kan nie vanuit die perspektief van die vertaler spreek nie, maar in Nederlands in België, in Vlaandere, het jy ook die invloed van Frans,” het hy gesê en Hugo het die voorkoms van verskeie dialekte hierby ingereken.

“As jy byvoorbeeld Hugo Claus se Het Verdriet van België (een van Hugo se vertaalprojekte tans) lees, moet jy vertroud wees met ’n aantal dialekte,” het T’Sjoen gesê. “Ek dink die impak van Frans op Nederlands in Vlaandere sorg daarvoor dat aan ons Nederlands in Vlaandere ’n ander ritme, ’n soort ander melodie hoorbaar is as jy dit vergelyk met Nederlands soos dit in die Randstad en Amsterdam gepraat word. Ek wil geen afbreuk doen aan die Nederlands van my Nederlandse kollegas of van skrywers in Nederland nie, maar ek dink inderdaad dat die Vlaamse literatuur disparater is en meer gevarieerd is as heel veel Nederlandse literatuur in Nederland vandag.”

“Eintlik het die Nederlandse literatuur sy ontstaan in Vlaandere gehad. Van den vos Reynaerde, Beatrijs en al daardie Middelnederlandse tekste kom uit die suidelike deel van die Nederlande, uit Vlaandere,” het Hugo gesê.

“Die hele Middelnederlandse literatuur moet jy in die Vlaamse geweste situeer, toe van België as ’n land nog geen sprake was nie. Die skatkamer van die Nederlandse literatuur is van dié gebied,” het T’Sjoen gesê.

Oor die inval van die Spanjaarde in die 16de eeu sonder T’Sjoen as hoogtepunt Het Geuseboek van Louis Paul Boon uit. Dit handel oor die opstand van die Geuse teen die Spaanse Inkwisisie in die Lae Lande.

Die eerste van die drie skrywers van wie Hugo werk vertaal het, was De Coninck, die bundel Liefde, Miskien. “Dit is ’n keuse uit sy eerste drie digbundels wat gebundel is as Onbegonne werk. En toe later het ek ’n keuse gemaak uit sy volledige oeuvre wat natuurlik verskyn het ná sy dood. Die versamelde bundel verskyn toe ook met voorheen ongepubliseerde gedigte daarby. En daardie keuse is opgeneem in Die Lenige Liefde wat eintlik die titel was van sy debuutbundel. Dit het ’n bietjie verwarring veroorsaak in die Lae Lande,” het Hugo gesê; De Coninck het lank bekend gestaan as die pous van die Vlaamse literatuur.

“Ja, inderdaad ’n gesaghebbende stem, ’n belangrike kritikus, as digter ook heel prominent aanwesig in die literêre landskap van Nederlands,” het T’Sjoen gesê. “Ook in Nederland is hy natuurlik ’n bekende digter, met ’n heel spesifieke poëtika. Daar was in Vlaandere ’n hele diskussie omdat Van Coninck so ’n gesaghebbende stem, ook poëtikaal aanwesig was. Dit was eg, dié poësie.

“Toe kom die postmodernisme en met Dirk van Bastelaere het daar ’n hele polemiek ontstaan oor die posisie van Herman de Coninck in die literêre landskap.”

As redakteur van die Nieuw Wereldtijdschrift, maar ook as joernalis, digter en vertaler het De Coninck ’n dominante rol gespeel, ook insake die bekendmaking van Suid-Afrikaanse literatuur en spesifiek Afrikaanse literatuur in Vlaandere, volgens T’Sjoen.

De Coninck het in die Nieuw Wereldtijdschrift in Vlaandere Antjie Krog bekend gemaak, ’n gegewe wat T’Sjoen bespreek het op die Afrikaanse Letterkundevereniging-kongres wat verlede week op Stellenbosch aangebied is en waarop Krog die skrywersfokus was.

De Coninck het op reis deur Suid-Afrika skrywers ontmoet, ’n landskap van vele tale. “In die jare negentig, toe julle (Hugo en De Coninck) mekaar ook ontmoet het, het hy al in Vlaandere ’n lansie gebreek vir Afrikaanse literatuur.”

“Ek was werksaam by die radio; ek het die poësieprogram behartig,” het Hugo vertel. “Toe elke denkbare, voorleesbare gedig al op die lug uitgesaai is, het ek begin verder soek en toe onthou dat ek Herman de Coninck leer ken het, sy poësie in elk geval, toe ek in 1983 ’n jaar lank in België studeer het. Tóé reeds het ek baie van sy poësie gehou. En toe het ek besluit maar dan gaan ek van sy gedigte vertaal om op die radio voor te lees.”

Frederik de Jager, indertyd die hoof van die uitgewery Queillerie, het daarvan te hore gekom en gevra dat Hugo genoeg verse vertaal om as bundel uit te gee. Later het Die Lenige Liefde in opdrag van Protea Boekhuis verskyn.

Oor die uitdaging van die vertaling van ’n Vlaamse digter, spesifiek De Coninck, het Hugo gesê hy het ’n toeganklike soort vers geskrywe, maar dit dikwels gelaai met ironie en woordspel. “En woordspel is nou eintlik die moeilikste ding om te vertaal. Gelukkig, as ek ’n digter vertaal, kan ek self kies watter gedigte, ek maak dus ’n bloemlesing van vertaalbare gedigte uit die volledige oeuvre.”

In die Afrikaanse vertaling het daar ’n ander De Coninck gestalte gekry as die Belgiese een, volgens T’Sjoen. Hy verduidelik dit soos volg: “Vanuit Hugo se perspektief en ook in die taal waarin hy vertaal, kry De Coninck ’n ander skrywersgestalte. Dat jy ’n ander konstruksie maak met materiaal, beeldspraak byvoorbeeld, deur De Coninck gelewer, maar waarvan jy dan natuurlik ’n soort transposisie maak. Vertalings is interpretasies, dus die vertaler is ’n bevoorregte interpreteerder van ’n brontaalteks. En jy het dit op ’n skitterende manier gedoen.”

Indien iets verduideliking verg, verkies Hugo om ’n oplossing daarvoor in die gedig self te vind. Hy weier om ’n gedig te vertaal met voetnote. “Dit lei die aandag af van die gedig, dis inhiberend vir die leser, jy versteur ook die bladspieël waarop die gedig afgedruk is daardeur.”

Dit ’n groot misvatting in die Nederlandse taalgebied dat De Coninck die soort digter was wat heel sterk gerig was op die werklikheid, op die verhouding tussen taal en werklikheid; hy is meer ’n romantikus as wat hy ’n soort mimetiese digter is, het T’Sjoen verduidelik.

Iets wat De Coninck dikwels gedoen het, is om die natuur te beskryf in terme van taal en van letters. Hy sê byvoorbeeld die wind maak V’s op die oppervlak van die see, het Hugo bygesê.

“Die taalrefleksie of metataligheid is ’n aspek van De Coninck se poësie wat onvoldoende aandag kry in die kritiek,” het T’Sjoen gesê. “Meestal word sy poësie gelees as ’n soort romantiese bieg en ’n eksplisiete uitspraak, iets wat jy outobiografies moet lees.”

Hy het verduidelik waarom hy nie ’n literêre teks vir outobiografie aansien nie: “Dit is outobiografies net op die manier waarop die taal gehanteer word. In dié sin is dit ’n outobiografie. Dis ’n heel persoonlike diskoers.” Maar tematies gesproke, is wat hom betref ’n gedig nooit ’n outobiografie nie, omdat dit ’n talige konstruksie is – ritme en idiomatiese, verstegniese aspekte maak van ’n teks ’n literêre teks.

“In die geval van De Coninck het mense meestal gefokus op die biografiese agtergrond. Terwyl hy natuurlik ook ’n fantastiese taaldigter was. Dis goed om af en toe ook die kombinasie te maak van ‘taal’ met ‘digter’, ’n digter is meer as ’n persoon, hy of sy is veral taal en bestaan in taal. Danksy die taal ontleen hy of sy hul identiteit presies aan die taal van die poësie. Die gedig is die paspoort van die digter. Dit is die talige aspek wat van ’n skrywer ’n skrywer maak en van ’n ander skrywer ’n kollegaskrywer. Vir my het dit nie soseer met tematiek te make nie. Dit het veral met ritme en styl te maak.” Dít maak vir hom van ’n gedig ’n gedig.

Daniel Hugo
Foto: Naomi Bruwer

Teenoor De Coninck is Van hee – soos Hugo ook digter en vertaler – ’n teruggetrokke figuur wat selde in die openbaar verskyn. Sy dring op ’n fluisterende en huiwerende manier deur tot gemoedstoestande waarvoor ons gewoonlik ontoereikende woorde gebruik, soos weemoed en verlange, verwagting en teleurstelling, besluiteloosheid en onsekerheid, aldus ’n kensketsing van haar poësie in In plaas van die stilte. Ook dat sy dit waag om byna onvatbare gevoelens te beskryf sonder om sentimenteel te raak.

“Die gedig kom in die plaas van die stilte, maar dit is asof sy die stilte verkies,” het Hugo verduidelik. “Die gedig beweeg die hele tyd op daardie rand van swygsaamheid. Elke woord wat sy gebruik, is fluisterend. En geen gedig gaan hier oor hewige emosies nie. Dit gaan meestal oor mense wat swak kommunikeer of mense wat op die punt is om uit mekaar te gaan, maar sonder rusie. Hulle verdwyn net so stilweg.”

Volgens T’Sjoen word sy die fluisterstem van die Nederlandse poësie genoem, omdat sy op ’n heel intieme manier aanwesig is in die Nederlandstalige digkuns. Hy ag Van hee méér as ’n romantiese digteres.

“Sy het ’n poësie met ’n duidelike filosofiese inslag. In Gent het sy onder meer Russies gestudeer en sy het onder andere van ’n Tsjeggiese skrywer, Miroslav Holub, ’n heel mooi essay vertaal. In Nederlands is die titel ‘Poëzie is het zijn tegen de leegte’ en ek dink dat dit byna programmaties is vir die poësie van Miriam Van hee.” Syns insiens stel sy heel interessante, onbeantwoordbare filosofiese vrae en roer sy eksistensiële kwessies aan.

“Wat my fassineer, Daniel, is ook die manier waarop bepaalde Vlaamse digters soos De Coninck en Van hee gelees word, gefiltreer deur jou taal, jou vertaling, hoe die digters híér staan, ook deur die seleksie wat jy maak. Want deur ’n seleksie te kies konstrueer jy ’n ander digter.”

Hy noem ook dat sy ’n uitstekende reputasie as vertaler het en dat sy deel is van ’n vertaalwerkswinkel in Gent. “Ek het gesels met haar oor vertaalpoëtika en vertaalstrategieë. Sy weet op ’n heel presiese manier hoe om om te gaan met bepaalde aspekte van Russies wat sy dan in Nederlands moet vertaal. Elke woord, elke komma, elke punt, elke spasie, elke reëlbreuk is betekenisvol in poësie in die algemeen, maar sy gaan op ’n heel presiese manier daarmee om.”

Ook in die kader van ’n eksistensiële beskouing van poësie, het Hugo ’n keur gemaak en vertaal uit dié van Nolens.

Hoewel ’n uiters gedissiplineerde skrywer wat selde reis, was hy in Suid-Afrika as ’n gas van die US Woordfees op Stellenbosch en het met onder andere studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland gesels voor die verskyning van sy bundel Manieren van leven.

Nolens is volgens T’Sjoen stellig een van die produktiefste Nederlandse skrywers. Vroeër vanjaar is hy aan die Universiteitvan Gent vereer met ’n eredoktorstitel. Dit was die eerste keer in 200 jaar dat ’n Nederlandse digter aan die universiteit ’n institusionele doktorsgraad behaal het. “En ek is daarop besonder trots dat ons rektor bereid was om aan Nolens die titel toe te ken, omdat hy een van die mees toonaangewende stemme is in die Nederlandse taalgebied op die gebied van poësie. Hy skryf alleen dagboekprosa en poësie.”

Nolens staan bekend as ’n kluisenaar van Nederlandse poësie. Hy het ondertussen 25 digbundels geskryf. En ’n heel besondere stem, vind T’Sjoen hom wel. “As jy die vroeëre poësie van Nolens lees wat in die jare sewentig verskyn het, of jy lees die mees onlangse bundel, dan hoor jy dieselfde stem. ’n Stem wat altyd weerklink sonder dat die poësie in herhaling verval. Dit is die ongelooflike krag wat uitgaan van die poësie van Nolens.”

Hugo het hom “eintlik die moeilikste van die drie” gevind om te vertaal, omdat hy dikwels ingewikkelde sinne maak. “En hy werk met paradokse, dan kry ’n mens ’n soort persoonsverwisseling in die gedig, ’n mens is nie altyd seker wie die ek, jy, hy of sy is nie.”

T’Sjoen het die geleentheid benut om vir Hugo te bedank dat hy met soveel affiniteit en soveel gretigheid die poësie vertaal. Hy het ook Zandra Bezuidenhout bedank vir werk van Anna Enquist (Arsenaal van klank) en Alfred Schaffer (Mens Dier Ding) wat sy in Afrikaans vertaal het.

En daar is nóg planne vir vertalings, van werk van Benno Barnard, Peter Holvoet-Hanssen en Peter Verhelst, het T’Sjoen aan Hugo gesê. “Ek het met Francois Lötter (die bestuurder van die Tuin van Digters) gepraat en die bedoeling is om van volgende jaar weer Nederlandstalige digters uit te nooi. Ek het binnekort ’n gesprek met die Vlaamse verteenwoordiger om fondse te voorsien om ook die Tuin van Digters te ondersteun, deur ’n aantal Vlaamse digters volgende jaar uit te nooi soos wat dit enkele jare gelede die geval was.”

Vir T’Sjoen is poësie wonderlik, dat ’n mens deur ’n gedig jou aangesproke voel en sodra jy jou aangespreek voel – deur iemand, maar ook deur ’n gedig, en deur ’n stem in ’n gedig, deur ’n taal – dan kruip daardie gedig onder jou vel in.

*Benewens die gesprek met Yves T’Sjoen het Daniel Hugo gesels met Egonne Roth, skrywer van die biografie Olga Kirsch - ’n lewe in gedigte wat hy vertaal het. As ’n samesteller van die eerste Avbob-bundel met opdragverse wat in 11 tale verskyn het, het hy ’n gesprek met die digters Jolyn Phillips, Danie Marais en Johan Myburg gelei. Op die program was ook Myburg se gesprek met Hugo oor laasgenoemde se gebundelde artikels en rubrieke Vers en kapittel.

* Daniel Hugo is van 3 Oktober tot 30 November na die Universiteit van Gent genooi waar hy  onder meer sal gesels oor ’n tweetalige bloemlesing van sy eie gedigte, Planetarium. Gedichten 1982-1998. Hy sal ook lesings oor literêre vertaling op verskeie plekke lewer en deelneem aan die vyfde Afrikaans-kollokwium wat op 5 en 6 Oktober plaasvind en waar hy as ’n hoofspreker sal optree.

 

Foto's en video's: Naomi Bruwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top