Tuin van Digters 2019: Onderhoud met Lieke Joosen

  • 0

Lieke Joosen is ’n Nederlandse musikant wat op Afrikaans verlief geraak het. Alhoewel sy nog nooit vantevore in Suid-Afrika was nie, het die taal haar so bekoor dat sy in Nederland in Afrikaans begin sing en skryf het. Die Breytenbach Kultuursentrum in Wellington het van haar te hore gekom en haar uitgenooi om by vanjaar se Tuin van Digtersfees op te tree, maar sy en haar musikante het nie die fondse gehad om die reis te onderneem nie. Sy het haar tot die internet gewend en ’n crowdfunding-projek van stapel gestuur en mense versoek om haar te borg. Sy het op die uiteindelik genoeg donasies ontvang om na Suid-Afrika te reis en hier in Afrikaans te kom sing. Marchelle van Zyl het met Lieke gesels.

Dit is ongewoon om 'n Nederlander te ontdek wat in Afrikaans sing en skryf. Waar het jou pad met Afrikaans gekruis?

In 2015 het ek in Ierland gaan reis. Terwyl ek in die noordelike deel van Ierland gebly het, het ek ’n droom gehad. Ek het gedroom ek sou iemand spesiaal ontmoet. Twee dae later het die persoon in my droom in die paadjie na die gastehuis opgestap gekom. Dié persoon was Leon van Suid-Afrika. Toe ons begin gesels, het ek dadelik onthou dat ek altyd mal was oor die klank van Afrikaans. My ouers het altyd na Gert Vlok Nel geluister, so ek was bekend met die taal. Ek het ’n paar dae saam met Leon spandeer en hy het vir my kinderliedjies geleer. Terug in Nederland, het ek besef ek moet iets met die taal doen en ek het in Afrikaans begin sing. Eers het ek ander mense se liedere gesing en later het ek my eie werk begin skryf.

 Wat het jou laat verlief raak op die taal?

Afrikaans is baie dieselfde as Hollands, so as ’n Hollander kan jy die taal soortvan volg. Met al die ander tale se invloed op Afrikaans, is dit tog anders genoeg vir ons ‘Dutchies’ dat dit eksoties klink. Afrikaans is ook vir my baie ritmies en dit voel vir my op ’n manier bekend - amper soos ’n misterieuse, vergete taal. Dit herinner my aan my kinderdae toe ek meeste van die tyd in ’n droomwêreld van my eie geleef het. Afrikaans is die taal dat die kind in my sing (sic).

Jy het dit nou reggekry om deur crowdfunding na Suid-Afrika te reis. Wat het die ondervinding jou geleer? Hoekom dink jy het mense hul beursies vir jou oopgemaak?

Dit was ’n spesiale paar weke. Hoe mense in my musiek en my droom glo, is so 'n humbling ervaring. Ek glo vas in ubuntu. Ons as ’n spesie kan nie sonder mekaar leef nie. In hierdie tyd, in die wêreld waar ons leef, is ons so ver verwyderd van ons innerlike self en van mekaar. As ons en Moeder Aarde en al haar spesies wil oorleef, moet ons ‘reconnect’. Ek hoop dat mense deur middel van my musiek weer die pad terug na hul binneste en na mekaar sal vind en weer sal “reconnect”.

Die ondersteuning wat ek en my medekunstenaars gekry het met die crowdfunding het my laat besef dat daar meer mense is wat ook hierin glo as wat ek besef het en dit is dalk die hoofrede waarom hulle ons help om die reis te onderneem.

Waarna sien jy die meeste uit? Wat is op jou wenslysie om te sien en te doen in SA?

Om eerlik te wees - ek het nog glad nie na die toerisme-attraksies gekyk nie. Ek wil Suid-Afrika met ’n oop gemoed en hart ervaar. Laat die musiek, die mense en die natuur ons lei waar ons moet gaan. Ek is seker daarvan die ondervinding gaan onvergeetlik wees. Die hoogtepunt sal definitief die Tuin van Digtersfees in Wellington wees. En hopelik sal ons van die dierelewe sien soos die walvisse by Hermanus of ’n paar staptogte in die natuur onderneem. 

Ek was nog nooit vantevore in Suid-Afrika nie, so ek is baie nuuskurig om te sien wat gebeur as ek uiteindelik my voete op Afrikabodem plant. Elke greintjie in my lyf sê vir my dit is waar ek moet wees.

 Wat kan Nederlanders en Suid-Afrikaners by mekaar leer, dink jy?

Ek glo dat jy iets by elkeen wat oor jou lewenspad kom, kan leer. So ek kan nie wag om by die Suid-Afrikaners, hul taal, die natuur, hul lewenstyl te ervaar nie. Ek wil dit in lewenslesse omskep wat ek weer met die mense in die Nederlande kan deel. En ek is seker mense in Suid-Afrika sal hul eie ondervindings en lesse ervaar wanneer hulle na my en my musikante en ons musiek kom luister. Dit is egter belangrik dat ons met ’n oop kop en ’n oop gemoed mekaar tegemoetkom en reconnect.

 

Lieke Joosen tree op saam met Sven Kunenborg (kitaar) en Mark Teeuwen (perkussie) op 14 September om 20:45 by die Tuin van Digtersfees by die Breytenbach-sentrum op Wellington. Laai die volledige program hier af.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top