Tuin van Digters 2017: ’n oorsig

  • 0

“Uitdagend skeppend”. Dit was die tema van vanjaar se Tuin van Digters. Die fees was volgepak met besprekings, uitstallings en musiek wat gesorg het dat daar iets op die program is vir almal.

’n Hoogtepunt op vanjaar se program was die bespreking van Carina Stander se boek Die Bergengel. Stander beskou haar nuwe boek as een van die moeilikste projekte wat sy nog ooit aangepak het en sy sê dit was moeiliker as om haar meestersgraad te kry en ook moeiliker as om twee digbundels te publiseer.

Sy vertel dat sy op agtjarige ouderdom besluit het dat sy ’n digter wil word. Sy het haar ma gevra wat sy moet doen om ’n digter te wees, en haar ma het gesê: “My kind, jy is klaar ’n digter.” ’n Tranerige Stander vertel ook sy het op daardie ouderdom geskryf omdat sy nie kon praat nie.

Die Bergengel speel af in ’n verbeeldingsland, Gabriëlle, en die genre wat dit die naaste beskryf, is magiese realisme. Ander noem dit spekulatiewe letterkunde en meen selfs dat dit ’n sprokie is. Stander sê ook verder dat die boek allegories geskryf is en dat dit as een uitgebreide metafoor gelees kan word. Die boek neem die karakters en die leser op ’n geestelike reis en Stander het gekies om ’n 13-jarige seun as hoofkarakter te gebruik omdat sy weg van haarself wou skryf.

’n Groot en aangename verrassing van die boekbespreking was die uitstalling wat daarmee gepaardgegaan het. Karakters en plekke uit die boek hang teen die mure en soos Stander gesels, verwys sy daarna, wat die gehoor help om die gebeure beter te visualiseer. Stander se energieke, eerlike antwoorde en praatjies was ’n besliste hoogtepunt.

Carina Stander

Nog ’n treffer op die program was Tribal Echo se toonsetting van party van Adam Small se gedigte. Hierdie Afrikaanse musiekgroep van Kleinmond het eer aan Small betoon deur sy werk op netjiese en respekvolle wyse voor te dra.

Frazer Barry, voorman van die groep, sê die volgende oor Adam Small: “Oom Adam se werk het my regtig gegryp op soveel maniere. Ek het dit regtig nie gaan soek nie. Dit is asof ek in ‘n dringende kolk van kreatiwiteit opgeneem is met een sending, om ’n nuwe stem aan oom Adam se werk te gee. Die wonder van oom Adam se werk is dat dit so ’n groot deel van die bruin mense se psige en bestaan dek, maar dat dit universeel deur ander kulture kan sny.

“Oom Adam beteken baie vir my as kreatiewe kunstenaar, aangesien hy baie moeite gedoen het om die gees van sy tyd vas te vang. So byvoorbeeld het hy by verskeie tydslyne van sy lewe inspirasie gevind in current affairs en die issues van die samelewing. Hy het aan diegene op die buitewyke van die Suid-Afrikaanse samelewing wat nie ’n stem gehad het nie, vir altyd ’n stem gegee. Ek voel dus dat die erns en die gewig van sy werk na ’n nuwe generasie oorgedra moet word. Ek hoor die musiek in sy prosa en digkuns en ek kan die verskeie musikale tydslyne optel, soos byvoorbeeld die doodsmarse, die rock, die ghoema, die Boland-koortjies, die riel, die rymklets ... dit is als daar!”

Tribal Echo gee as’t ware weer lewe aan die legendariese Small se woorde. En as jongmens is dit vir my opwindend om Adam Small se woorde op Tribal Echo se manier te hoor.

Tribal Echo (Oesfees 2017, foto: Naomi Bruwer)

Johan van Lill het ’n paneelbespreking saam met Rachelle Greeff en ’n paar studente wat deel was van Greeff se skryfskool, gelei. Greeff meen jy het ’n goeie sin vir humor nodig om te skryf, en in haar skryfskool probeer sy ’n veilige omgewing skep waarbinne mense kan leer en oefen om te skryf. Deelnemers doen kreatiewe oefeninge, sowel as breinoefeninge, en dit is ewe belangrik om aandag aan vertaling te gee. Greeff nooi ook gereeld gasskrywers en uitgewers om fabrieksgeheime te kom deel en moedig mense wat graag wil skryf, aan om net te gaan sit en skryf.

Dikwels maak ’n mens dit vir jouself moeiliker omdat jy die skryfwerk heeltyd uitstel. Skrywers, of aspirantskrywers, moet ook nie bang wees vir kritiek nie, want kritiek is iets wat met die beroep gepaardgaan.

Aansoeke om by die skryfskool aan te sluit is nou oop en belangstellendes kan die Breytenbach Sentrum se webtuiste besoek vir meer inligting: https://breytenbachsentrum.co.za/wp-content/uploads/2017/09/rachelle-greeff-skryfskool.pdf.

Churchil Naudé (foto: Naomi Bruwer)

Die bekendstelling van Nuwe stemme 6 het ook tydends die fees plaasgevind en dit was aangenaam om jongmense (soos Elodi Troskie, wat 19 jaar oud is) saam met ouer volwassenes op die verhoog te sien. ’n Bekende naam wat ook in Nuwe stemme 6 verskyn, is dié van Churchil Naudé, en hy het die gehoor se asem weggeslaan met sy vertolking van een van sy gedigte.

Tuin van Digters is ’n opwindende platform vir ou en nuwe talent om saam te smelt en gesprekke oor tydsgrense heen te hê. In hierdie uitdagende tye waarin ons leef, beskaam die hoop om te skep gelukkig nie.

Sien ook foto's van die Tuin van Digters 2017 hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top