Trump se Amerika vs Hitler se Duitsland: enige verskil?

  • 5

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Bietjiesdag, toe ek nog kind was, was dit my en al my maatjies se droom om in Amerika te bly, waar swart mense vry kon wees en enige plek kon instap, waar daar nie “Whites Only”-bordjies bestaan nie.

Daai Amerika was toe, en is nog steeds, ’n hersenskim. Daai Amerika het inderdaad nie apartheidswetgewing op hul boeke gehad nie, maar vryheid en gelykheid vir enigeen met ’n donker vel is ook nie waar nie. Dit sou my jare neem om te leer van Japannese konsentrasiekampe en Jim Crow-wetgewing. Dit sou my ’n besoek aan Amerika neem en gesprekke met swart Amerikaners en Chinese Amerikaners en Eerste Nasie-Amerikaners om te besef “America the Brave and Free” is ’n wit droom. Ek onthou veral ’n gesprek met ’n man van Texas, sy drawl so swaar dat ek by tye moeite gehad het om hom te verstaan. Totdat ek met hom gepraat het, was Texas vir my die staat met cowboys en groot steaks. Sy Texas was ’n plek van erger onderdrukking as Suid-Afrika in die ergste dae van apartheid.

Dan is daar die reservations waar die Eerste Nasie-groepe bly. Wetgewing is van so ’n aard dat die casino’s op reservation-gronde gesetel is. Die spesifieke groep aan wie daai grond behoort, het dan gedeel in die winste van die casino. In die een reservation waar ek rondgegaan het, net buite Seattle, het daar buite elke tweede huis ’n blink bakkie gestaan. Hulle was welvarend. Maar reservations waar daar nie ’n casino was nie, het heel anders daar uitgesien. Dáár was tienerswangerskappe, swak geletterdheid, drankmisbruik, werkloosheid en gesinsgeweld algemeen. Keer op keer moes ek verhale hoor van hoedat daar teen hulle diskrimineer word wanneer hulle dorp toe gaan om inkopies te doen. Net op die reservation was hulle soort van veilig.

Daarom dat Trump se opkoms my nie juis verbaas het nie. Hy spreek tot die vooroordele wat ’n groot groep van sy landgenote deel. Hy gee toestemming vir hul rassisme om tot volle wasdom te kom. Vlae wat die Konfederasie gedenk, word nou aangemoedig. Polisiebrutaliteit teen swart mense word goedgekeur. Aanvalle op die pers neem toe. Dit kom nou al vier jaar aan. Selfs langer as sy birther-aanvalle op Barack Obama in ag geneem word.

Hierdie week is net die natuurlike uitvloeisel daarvan.

In die eerste plek het sy prokureur-generaal, William Barr, aanklaers opdrag gegee om Black Lives Matter-protesteerders van sedisie aan te kla. Dit in ’n land waar vryheid van spraak in die grondwet beskerm word.

Of Trump al ooit die VSA-grondwet gelees het, is ’n ope vraag.

Tweedens het ’n voormalige Pence-personeellid in ’n video wat wyd versprei is, beweer dat die Trump-administrasie so ver terug as Februarie vanjaar al geweet het hoe erg die Korona-pandemie gaan wees. Trump het gereken ’n hoë sterftetal kan net tot sy politieke voordeel wees in ’n verkiesingsjaar, en het besluit om niks te doen om lewens te probeer red nie. Dis nie regtig nuus nie, Trump self het in onderhoude erken dat hy besluit het om die effek van die pandemie te onderbeklemtoon.

Maar die skokkendste getuienis van hierdie week was die inligting wat die fluitjieblaser Dawn Wooten bekendgemaak het. Wooten was ’n verpleegster by ’n ICE-aanhoudingsentrum in Georgia, en het beweer dat massasterilisasies op vrugbare vroue in aanhouding gedoen was. Indien hierdie bewering korrek is, beteken dit dat Amerikaanse owerhede in effek volksmoord op ’n generasie vlugtelinge wat alreeds weerloos is, pleeg.

Neem dit tesame met die aantal kinders wat alreeds in aanhouding van hul ouers geskei is die afgelope klompie jare van Trump se bewind, en wat in die proses net verlore gegaan het, en ’n ysingwekkende, hartelose komplot begn vorm aanneem.

Hitler in Duitsland wou die Jode op elke moontlike manier uitwis. Hy het ook eers probeer om nuwe geboortes te keer. Toe dit nie meer genoeg was nie, het hy besluit om mense wat reeds lewe, uit te wis. Die uiteinde van sy obsessie was die gaskamers.

Is dit wat vir Amerika wag indien Trump tot ’n tweede termyn verkies word?

  • 5

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Nee hel Bettina, nou verloor jy dit! Om te suggereer dat Trump mense in gaskamers gaan jaag is absoluut verregaande. Ek is geen aanhanger van Amerika en sy "leiers" nie (wel, meeste van hulle), maar die gewone Amerikaner (oor partygrense heen) sal nie toesien dat so iets gebeur nie. Boonop is die stuk in sy geheel ook baie eensydig.

  • Ek stem saam met Gustaf. Hierdie bisarre vergelyking is eintlik ’n klap in die gesig van Holocaust-slagoffers. En dalk ’n teken van onkunde aangaande hierdie deel van die geskiedenis aan die kant van die skrywer?

  • Rhoda Kadalie het ‘n baie goeie berig oor die situasie ‘n paar dae gelede vir Maroela Media geskryf. Lees dit gerus hiermee saam en besluit wat is waar en wat is wolhaar.

  • Ek lees graag mense se bydraes en menings om myself te vergewis wat ander dink en hoe hulle die wêreld sien. Ek lees egter die dames se bydraes baie selde. Ek sal liewers swyg wat my redes is. Ek dink beslis die bydrae is onvanpas en ongevraagd van 'n geskoolde persoon. Die spreekwoord lui wat die hart van vol is loop die mond van oor. Ek hou gewoonlik my mond tydens gesprekke as ek nie weet waaroor dit gaan nie. Ek laat die ander persone wonder of ek onkundig/dwaas is as eerder om my bek oop te maak en te bevestig dat ek onkundig/dwaas is.

  • Sterlisasie.
    Dit was blykbaar 'n praktyk wat van die 1930 tot 1970 in verskeie state beoefen is.
    Dit het dus onder sowel Demokrate as Republiekeine plaas gevind. Vanaf 1933 tot 1952 was die Demokrate aanbewind. Vanaf 1953 tot 1960 -Republiekeine. Vanaf 1961 tot 1968 Demokrate. Daar is tans tussen 10 en 12 miljoen mense sonder enige dokumentasie in Amerika (tussen 3 tot 4 % van die bevolking.) Dit is veral hierdie mense wat uitgebuit word.
    Onwettige emigrante gebruik 'n ou taktiek wat ook deur sg bevrydingsbewegings tydens onluste gebruik is. Vroue en kinders voor want enige optrede teen hulle is wêreldnuus.
    Hitler het alle ongewenste persone geteiken. Soos bv. Euthanasia Program:
    "The goal of the Nazi Euthanasia Program was to kill people with mental and physical disabilities. In the Nazi view, this would cleanse the “Aryan” race of people considered genetically defective and a financial burden to society.”
    Om dus ’n vergelyking te tref met Hitler en Trump verantwoordelik te hou vir ’n praktyk wat begin is lank voor sy geboorte en in die genoemde tydperk langer onder Demokrate as republiekeine aangegaan het is mi belaglik en beslis ’n laagtepunt in skrywer se rubrieke en onwaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top