Trump in die Wit Huis: hoe beïnvloed dit Suid-Afrika?

  • 20

trump650

’n Week gelede het ek voorspel dat Trump nie die Wit Huis sal haal nie, en dat Zuma nie met ’n mosie van wantroue uit die kussings gelig sal word nie. Ek was een keer verkeerd hierdie week. Ek hoop met alles binne my dat ek op my tweede voorspelling ook verkeerd is wanneer daar Donderdag so ’n mosie voor die parlement aangehoor word.

Maar wat beteken Trump in die Wit Huis vir ons in Suid-Afrika, maar ook in die breër sin vir die wêreld?

Ekonomies is sy verkiesing op kort termyn goeie nuus vir ons. Die rand het alreeds vanoggend verstewig teen die dollar. As jy oorsee wil gaan, is vandag ’n goeie dag om jou dollars te gaan koop. Op lang termyn dink ek gaan ons probleme begin optel.

Trump se hele verkiesingstrategie was dat hy Amerikaners trots op hulleself wil maak, en intern fokus eerder as ekstern. In praktiese terme verwag ek dus dat noodhulp aan die buiteland (en Suid-Afrika was nog altyd ’n groot ontvanger van Amerikaanse vrygewigheid) selfs nog meer drasties ingeperk gaan word as wat die afgelope tyd gebeur het.

In ’n sekere sin behoort Trump se oorwinning nie ’n verrassing te wees nie. Die afgelope ruk was daar ’n opmerklike verenging van uitkyk in die Amerikaanse politieke, sosiale en juridiese sfeer. Lankgevestigde regte van vroue om voorbehoed en beëindiging van swangerskappe te verkry, is in sommige state opgeskort of ingeperk. Polisiegeweld teen minderheidsgroepe het dodelik geword. Sedert die Rodney King-geval in Kalifornië is daar net toenemend teen veral swart mans dodelike geweld deur die polisie toegepas. In bitter min van die gevalle is polisiemanne aangekla. Van dié wat aangekla is, word feitlik geeneen skuldig bevind nie.

Gayregte word in heelparty state ingeperk, en verlede jaar was daar aansienlike kontroversie rondom die regte van transseksuele om die badkamer van hul keuse te gebruik.

Obamacare, voorsiening vir die gesondheidsorg van mense wat nie privaat dokters kan bekostig nie, was onder konserwatiewes baie ongewild. Amerikaanse gesondheidsorg is onbekostigbaar vir enigeen wat nie ten minste middelklas is nie. Trump, met sy bevoorregte agtergrond, sal waarskynlik sover moontlik probeer om gesondheidsorg en enige beskermende wetgewing wat nie in die volgende twee maande deur Obama beveilig (ge-ringfence) word nie, ongedaan te maak.

Boonop het die Amerikaanse ekonomie die afgelope ruk deur ’n insinking gegaan. Heelparty mense is dakloos gelaat na die kredietskandaal. Dit het groter druk op die fiskus geplaas, en Amerikaners wat in staat is om belasting te betaal, het daardie druk begin voel.

Boonop is daar in die tydperk na 9/11 toenemende verdagmaking teen Moslems.

Op hierdie stadium kom Trump op die politieke verhoog. Hy is slaggereed om enigeen wat nie soos hy lyk nie, tot in die buitenste duisternis te verban, alles onder die vaandel dat Amerika weer Amerikaans gemaak moet word. Vir Trump en sy volgelinge beteken dit wit, ryk, heteroseksueel, manlik. Enigiemand anders is ’n teiken vir sy minagting. Selfs gestremde persone het alreeds in sy verkiesingsveldtog onder Trump se tong deurgeloop. Meksikane en enige ander immigrante is onwelkom in Trump se Amerika. Gerieflikheidshalwe vergeet hy dat sy vrou ’n immigrant is. Of anders reken hy die reëls wat vir die res van Amerika geld, is nie op hom van toepassing nie.

Trump is gevaarlik omdat hy geen respek vir menseregte het nie. Onder sy bewind sal daar waarskynlik ongekende inperkinge kom op alreeds gevestigde regte. Tensy hy hom omring van gematigde adviseurs, en daar is geen aanduiding dat hy dit sal doen nie, gaan die polisie ongebreidelde mag verkry om protes teen sy bewind te onderdruk.

Elke Amerikaanse president wat nog in moeilike ekonomiese tye aan bewind gekom het, het ’n oorlog begin. Oorlog was in baie opsigte gebruik as ’n ekonomiese hartstimulering, ’n taktiek wat ek vermoed Trump met oorywerigheid sal aanwend.

Sy buitelandse beleid was nog altyd onduidelik. Inderwaarheid het dit by tye gevoel asof hy maar net die eerste die beste ding wat in sy kop opkom, kwytraak wanneer hy daaroor gevra is. Sy houding teenoor die vlugtelingkrisis, Turkye, Sirië en die Koerdiese kwessie, veral, sal baie binnekort aanduiding gee van watter Amerika ons in die toekoms mee te doen sal hê.

Soos die man, sal dit waarskynlik ’n ongenaakbare, ontoegeeflike, heethoofdige boelie wees. Nie juis wat mens van ’n land met kernkragbomvermoë wil hê nie.

Die ou filosofiese vraag vra of ’n skoenlapper wat sy vlerke in een deel van die wêreld klap, ’n tornado in ’n ander deel kan veroorsaak. Ek ys om te dink aan die effek van ’n Trump-orkaan in die res van die wêreld. Beslis het ons nie in Suid-Afrika onder die huidige regering die tipe leierskap en diplomatieke betrekkinge wat ’n boelierige Trump die hoof kan bied nie.

Die beste waarop ons kan hoop, is dat ons leierskap landsbelange voor persoonlike belange sal stel wanneer hulle Donderdag moet stem.

  • 20

Kommentaar

  • Bettina, jou totale afkeur van en vooroordeel teenoor Trump is opmerklik - veral voordat hy nog as president 'n kans gegun is om sy voet verkeerd te sit. Ek dink jy gaan in baie opsigte weer verkeerd bewys word, want nog nooit het 'n individu Amerika regeer nie. Trump se troefkaart was dat die geraamtes in sy kas minder gestink het as die Clintons s'n. As 'n onervare akteur soos Reagan Amerika se president kon wees, behoort 'n suksesvolle besigheidsman soos Trump dit ook te kan doen - met 'n bietjie hulp van sy vriende natuurlik - gee hom ten minste 'n regverdige kans.
    Daar is groot ooreenkomste tussen Brexit en Clintonexit. Die gewone mense - die stil meerderheid - het moeg geword dat polities korrekte, liberale idees van globalisering en oordrewe menseregte deur politieke manipulasie en sosiale ingenieurswese in hul kele afgedruk word. Leiers moet die meerderheid se belange beskerm, sonder om minderhede te onderdruk of voor te trek. Die regte van die individu kan nooit te alle tye bo groepsregte staan nie. Die mens was nog altyd en gaan nog vir baie lank 'n tropdier bly. Dit is ongelukkig 'n feit soos 'n koei dat ons nie almal in een trop gaan of kan loop nie.
    Wat die afgelope dekade in ons land gebeur het, is baie hartseerder deurdat 'n bewese swak leier soos Zuma twee keer tot leier verkies is en nog steeds die meerderheidssteun geniet - soos jy Donderdag weer sal sien. In daardie opsig is SA besig om, wat demokratiese beginsels betref, 'n mislukte staat te word. Ek is baie meer bekommerd oor menseregte en demokratiese beginsels in SA as daaroor in Amerika. Ons is die laaste mense wat vinger kan wys na Amerika. Mense wat in glashuise woon moet liewer in die donker hul klere uittrek.

    • Marius, jy is heeltemal reg. Daai lot wat so in die glashuise bly moet nie net die ligte afsit as hulle hul klere uittrek nie, maar hulle moet sommer onder die bed inkruip wanneer die donderweer kom.

  • Bettina
    Ek hoop regtig ek kan die reg oordra sonder dat jy of iemand dink ek is maar net nog ’n Trump-ondersteuner. "Charity" stop by jou eie huis. Ek glo dat Amerika die afgelope tyd onder Obama agteruit beweeg het en geensins ekonomies iets positief kon bydra nie. Daar is magte buite mens se beheer wat politieke leiers gebruik tot een wêreld-orde.
    Die feit dat Trump sy visier op sy eie land bo enige ander plek, is vir my ’n positiewe ding. Hoe kan jy ander help as jy jouself nie kan help nie?
    Daar is ’n fyn lyn om te praat oor vlugtelinge wat in nood is en dan ook mense wat parasiteer op ’n land se sosiale "grants". Kyk na ons land, daar is mense wat kinders kry net vir die maandelikse geldvoordele. Dan ook die hartseersaak dat as jou kind gestrem is jy meer geld kry. Daar is mense wat kinders breek om geldelik meer te trek. Dit is nie menslik nie en ek glo Amerika sit met dieselfde probleem.
    Ons leef in ’n wêreld waar ons slegte dade regverdig omdat die media dit goed praat. Sondige dade is maar net iets van die verlede. Dis wedersyds vir die Clinton- en Trump-beweging gemik.
    Amerika is ’n land wat besigheidsbesluite moet neem en wie beter op die stadium as Trump? Hy is ’n reguit mens en staan by sy beginsels en sal nie deur ander beïnvloed word nie.

  • Beste Bettina
    Wat jy skryf is eenvoudig nie waar nie. Trump se immigrasie-beleid is bv eenvoudig daarop gemik om die stroom onwettige immigrante te verminder. Ek weet van twee Suid-Afrikaners wat ook nie kon kwalifiseer nie.
    Die dae is verby dat Amerika die wêreld se probleme moet oplos. Trouens dit sal mi
    'n goeie ding wees want Afrika het 'n bodemlose put geword en soos in Suid-Afrika is korrupsie aan die orde van die dag.
    In politiek is daar 'n radikale verskil tussen wat in 'n verkiesingsveldtog gesê word
    en wat in praktyk uitvoerbaar is. Indien Trump ernstig is om werksgeleenthede terug te bring na Amerika en verouderde infrastruktuur op te gradeer, gaan hy elke dollar nodig hê en kan 'n mens verwag dat al hoe meer lande hulself moet speen van Amerikaanse hulp.
    Jy sê: "Beslis het ons nie in Suid-Afrika onder die huidige regering die tipe leierskap en diplomatieke betrekkinge wat ’n boelierige Trump die hoof kan bied nie."
    Dit is miskien net wat ons nodig het, iemand wat sê kry jou huis in orde, stop korrupsie en staatskaping en selfverryking ala Zuma en dan kan daar dalk beter handelsbande gesmee word waarin daar wedersydse respek is.

  • Ek haal die outeur aan: "Die afgelope ruk was daar ’n opmerklike verenging van uitkyk in die Amerikaanse politieke, sosiale en juridiese sfeer. Lankgevestigde regte van vroue om voorbehoed en beëindiging van swangerskappe te verkry, is in sommige state opgeskort of ingeperk. Polisiegeweld teen minderheidsgroepe het dodelik geword." Ek verskil daarmee. Die verkiesing van Trump is nie die gevolg van 'n toenemende verenging nie, maar eerder 'n woedende reaksie van 'n swyende, maar nietemin verergde en vernederde Amerikaanse, hoofsaaklik wit hoofstroom teen 'n hiper-liberale beleid wat nie die werklike probleme aanspreek nie. Waar sien sy enige verenging na agt jaar se regering van die mees linkse president wat die VSA ooit gehad het? Mense is moeg vir 'n linkse elite wat almal wat vir die tradisionele gesin, vir wet en orde, vir 'n Amerika met 'n Christelike karakter, vir die reg op lewe ook van ongeborenes en vir 'n rustige en veilige lewe is, as rassiste, xenofobe, homofobe en nog wat uitkryt. Ook die Suid-Afrikaanse media, elite en meningsvormers maak die fout en beweeg toenemend in hulle eie skynwêreld en forseer goed in ons kele af wat ons nie wil hê nie.

  • Die Suid-Afrikaanse regering pleeg bedrog met miljarde rande, Zuma is teenoor niemand verantwoordbaar nie. Neem jy Trump kwalik as hy nie meer geld op die manier wil mors nie? Ek sal nie my hardverdiende geld in hierdie bodemlose put mors nie.
    Bettina dit voel vir my of jy ook in die Afrika-mentaliteit van "ek soek" verval het. As bedrog in ons land opbou, as "social grants" ophou, sal SA nie nodig hê om bekommerd te wees oor ’n Trump nie.
    Gee Trump ’n kans, tyd sal leer. Obama het gemors aangejaag.

  • Nee wat, hierdie is net weer n eensydige liberale komentaar. Ek stel nie gelang in wat jy sê nie.

  • Amen op al die vorige kommentaar. Politieke kommentators moet asb poog om objektief te wees, maar Bettina mis dit heeltemal. Trump kan amper nie meer skade aanrig as wat Obama in die laaste paar jaar aangerig het nie, en Clinton sou die finale spyker in die kis geslaan het. Soros is nie verniet die een wat agter hulle staan nie.

  • Nou is daar darem 'n ander land se president ook om oor te lag!

    Kom ons kyk wat kry die kaartmannetjie reg. As hy genoeg steun kry kan hy Europa wakker maak voordat hulle heeltemal uitmekaar spat. Die Britte het alreeds hulle trekbrug opgetrek. As die fosiele in China vinnig genoeg beweeg kan dit 'n interressante besigheid word

  • En DIT is hoe Fascisme vatplek kry ...
    "Fascism begins by promising to make the country strong again, to restore pride. It wants to help, it wants to build a better country, it wants to improve your life. It wants to challenge a corrupt establishment and change a broken system. It wants to get people working again and get tough on crime. It doesn’t present an image of violent thugs to you, instead it shows the face of ordinary respectable people, people just like you, who have had enough."
    Don't be fooled. It is everywhere.
    https://whistlinginthewind.org/2016/10/16/how-fascism-takes-over/

  • Ag jaaa, of moet mens hardop sê (soos Hillary) SIGH ...
    Huffington Post is nou die nuwe slang in Suid-Afrika se reeds totaal liberaal-linksmarksistiese pers. Verwag maar meer van dieselfde. Sargon het hier 'n bietjie sin gemaak oor Trevor Noah https://www.youtube.com/watch?v=fY9xGRZjUUI
    Weet mense ooit van Sargon of Akkad en van Paul Joseph Watson en 1000 ander nuusTUBES?

  • VERENGING? Dit is so neerhalend wanneer dit absoluut niks met enigiets te doen het nie. Europa is so te sê vernietig en niks is nou verenig nie, almal se oë het oopgegaan.

  • Andre Barnard.

    Ek lees die berig nou laat. Trump is president. Ons, die ware boere, wat in soveel nood is, besef hy gaan iets doen. Die swartes hier kan maar die "victim act" laat staan. Die wêreld word wakker. Ons word so gemoor en die mainstream media is stil. As ons ’n leier soos Trump kan hê kan die mainstream media stilbly en ons land herstel word.

  • En nou behoort omtrent al die nuus wat op Suid-Afrikaanse TV afgespeel word aan ... tarrraaaa, die HUFFINGTON POST- Die pratende koppe. Ongelukkig kyk my ma die nuus en ek gaan nie haar borrel bars nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top