Trisa Hugo onthou vir Engemi Ferreira (19 Maart 1943–10 Oktober 2019)

  • 4

'n Vreugdevolle foto van Engemi Ferreira en Diana Ferrus by Tuin van Digters 2015 (foto: Naomi Bruwer)

In principio erat Verbum, et Verbum erat apud Deum, et Deus erat Verbum. (In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.) Dit is die woorde waarmee Benedikt Sebastian, akteur en filmmaker, sy ma uit Los Angeles groet.

Woorde was inderdaad van vroeg af deel van Engemi se lewe. Sy het op eie inisiatief ’n skoolkoerant begin en haar eerste gedigte verskyn in Tydskrif vir Letterkunde toe sy slegs 16 jaar oud is, en hierna publiseer sy gereeld gedigte in daardie tydskrif. Van haar gedigte word opgeneem in As die son kom oogknip, ’n versamelbundel oor sonsverduistering saamgestel deur Fanie Olivier.

 In 1985 woon sy die ATKV se eerste skrywerskursus in Potchefstroom by en die novelle Die jaar toe my ma begin sing het, was die resultaat. Dit word onafhanklik deur twee skrywers in verhoogstukke verwerk en by kunstefeeste opgevoer en was in aanmerking vir verskeie pryse. Daarna volg nog ’n kortverhaalbundel, Brood vir die engele.

Engemi was ook die samesteller en regisseur van die baie gewilde en suksesvolle Jannie en die tannie, met Jannie du Toit en Christa du Toit.

Sy het verlede jaar haar MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Engemi se voelers het ver en wyd gestrek. Sedert 1993 is sy ’n ingeskrewe lid van Cosaw (Congress of South African Writers), sover bekend die enigste Afrikaanse lid van hierdie organisasie. In 1993 is sy een van vier Suid-Afrikaners wat genooi word na die gereelde vierjaarlikse International Women’s Playwright Conference, wat daardie jaar in Adelaide in Australië gehou is.

Al hierdie dinge kan mense met ’n eenvoudige Google-soektog lees. Maar mense moet ook weet van die mens Engemi. Vir my was Engemi ’n baie diep spirituele mens wat liefde geleef het, nie daaroor gepraat het nie. Sy het mense se harte geraak sonder dat sy dit besef het of probeer het.

My eerste kennismaking met haar het my geleer van vertroue. Ek het haar leer ken as Kamiljoen op ’n boekforum. Natuurlik het ek haar as skrywer bewonder, en ek het gedink mens spreek dit uit En-ghêmi. Eers hier in die Overstrand het ek haar leer ken en tot my verbasing gehoor mens spreek dit uit “Engem-i”, soos “Engel-i”. Sy het my gebel en gevra om namens haar ’n duur geskenk te gaan koop vir iemand anders en was doodverbaas toe ek vra hoe sy my as vreemdeling met so iets kan vertrou. So intuïtief was sy oor mense dat sy gelag het en gesê het sy ken my siel, al ken sy my nog nie.

Haar hartroerende stuk op Facebook, “Oscar se Dolorasa”, het in 2014 ’n vinnige einde gemaak aan ’n verdeelde volk se virtuele heksejag wat selfs ’n regter se uitspraak beïnvloed het. Haar lewensuitkyk, net soos haar verhale, spruit diep uit die psige van die kollektiewe mensdom. Haar spirituele diepte was onlosmaaklik deel van haar en vervleg in haar verhoudings, haar skryfwerk en haar lewensuitkyk. Sy was ’n baie diep intellektueel wat met eenvoudige woorde tot mense kon deurdring. Sou mens haar verhale net oppervlakkig lees, sou jy dink sy het domestic noir geskryf, dekades voordat dit ’n erkende genre was. Haar verhale is filosofies; sy ondersoek die teenstrydighede in menswees en delf diep in die menslike psige.

Engemi Ferreira – skrywer, kunsliefhebber, joernalis, sanger, onderwyser, kunstenaar en wynsmokkelaar.

Dit is een van my mooiste herinneringe aan Engemi, die dag toe ek die ouer vrou wat moeilik sien en met die kierie sukkel, aan haar elmboog ondersteun om by ’n Stef Bos-konsert in te loop waar al die jonges deursoek is en hulle drank gekonfiskeer is. Terwyl Engemi ’n paar bottels wyn onder haar jas indra. Maar van wyn alleen kan die mens nie leef nie en Engemi se brood-en-kaas-tafels was legendaries. Kuiers, huiskonserte, sangaande en kuns. Haar vriende het haar liefde in al sy vorme beleef, maar vir die wêreld het sy haar liefde in woorde agtergelaat. En haar boeke op my boekrak.

I have been writing as long as I can remember, I love words in any way and know how to use them. I also love life and death, and everything in between, stones and stars and dunes and tunes.

Engemi was belese en berese, en het ’n liefde behou vir Afrika, haar grootwordplek Namibië, en haar land, Suid-Afrika. Die volgende word geplaas met vergunning van haar jare lange vriendin, Petrovna Metelerkamp. Dit is wunderbar, ’n woord waarvoor sy lief was.

Afrika, my Afrika

Afrika, jy het my gemaak wie ek is.
Jou riviere mere putsonderwaters leef in my
Jou berge duine woestyne vorm my –
ek wat wordend mens bly.
Afrika, jou uitspansel is my verhemelte
waarin my taal se proegoed kougoed word
en diep gesluk word om te groei in my,
soos bome skadu skenk om mee te deel.
Jou grootsheid hou my klein genoeg
om nederig hier, so ver en woes
omring deur wilde waterweë te vertoef.
Die punt is, jou savannas is my koerant.
Ek lees dit daagliks, selfs dié kant
waar ek uitkyk op berg en wolke,
want jy het my be-indruk met jou ooptes.
Afrika, jy het my genoeg gegee om te leer
hoe om in lewe en dood die storms te verteer.
Jou sterre is my diskoteek, ek hoor hulle sing,
vind in Suiderkruis en Orion seëning en verligting.
Deur vensters, oral oor, neem ek waar hoe
rye skilderye soos in galerye na my terugstaar,
elk ’n landskap ingekleur deur mý verydeling
of een of ánder emotiewe binne-handeling;
ek behoef geen psigoanalis of dwelm nie
want as bootsman in my stuur jy die helm.
Jou kosmiese vibrasies en jou mistieke vistas
keer my om Mercuriaal lukraak mis te tas.

Soms glo ek ek is Afrika; die bloed in my are
uit jou argaïese agrariese waardes deur jare
gekarteer met eet uit en leef en boer in jou grond –
waarskynlik so ook deel gemaak van elke verbond,
al voel ek myself vry van die jukkens en jukke
afgedwing deur Calvyns-geveinsde voorstukke.
Dan merk ek hoe ons verminder, ek en jy,
kleiner word deur druk wat ons van binne kry:
in elke dorp en stad is 'n buite vuil Sjinese spaza
met binne toe 'n vreemde taal wat myne kamikaza;
eens genoem die spens van Afrika, lê gevierde plase
nou verwaarloos en geplunder sonder base,
om nie te praat van druglords in die rykste voorstede,
hoerhuise en straathoeke waar kinders speelgoed word.
Of die vrye woord wat in 'n blik gedruk verstil
– hoe klein al opeens hierdie wye en droewe land
geen wonder elke tronk en malhuis is oorvol.
Ja, ek sou graag president word, want ek het 'n plan:
Laat onderwysers skoolhou en betaal hulle wat hul toekom;
dié wat verstaan hoe om kinders tot vol-wassenheid te bring
(in eie balans wat van geboorte reeds na buite dring)
kry dubbeld meer as dié wat naels vyl en staak vir die saak.
Laat predikante preek, net waar en hoe die wil repliek
maar weer hulle met mag en mening uit politiek.
Wend dan alle politici aan sonder besoldiging
as klerke en hoofde van casino’s met genoeg spieëls.
Haal dié wat nie kan tel nie uit banke en laat hulle spit.
Reklassifiseer alle medici, ingedeel in vakkies
vanaf loodgieters, koppelaars en mekanieks –
benoem bg met name wat hul toekom:
Uit die res sal helers vorendag kom.

Maar as ek omdraai en in die spieël of skerm kyk
sien ek myself en elke ander lewende lyk
in hierdie Suiderland, met bose oë terugkyk:
Ons veg vir vryheid en moor vir grond
Ons haat elkeen wat nie soos ons is nie
en veroordeel elke een wat anders is.
Die wittes het die swartes onderdruk,
dit gee swartes die reg om wittes te verdruk.
Wie tussenin met Januskoppe staan
is outomaties van verantwoordelikheid ontdaan
en sal vir ewig neul: Hulle word van alle kante af geslaan.

Dis nie jy nie, Afrika, dis jou kinders wat in die see wil eilande bou vir geld
Of 5-ster-hotelle vir toeriste in Bophuthatswana toeberei
terwyl die enigste ware Afrika-kinders sans water in dorre streke ly.
Dis jou kinders wat uit benepenheid AFRIKAans se nek omdraai
op sy kop trap en daarmee saam alle klank in die sloot wil gooi.
Ai, die SAUK is siek, maar nie so siek soos dié wat kleuterskole bedryf in geweld nie
of dié wat kinders gebruik as kanonvodder, of human traffic – om nie te praat van móór
vir die wins aan 'n selfoon of oorringe nie, of in dronkenskap sy vrou slaan nie.
Ewe erg is dat banke ontluik as rugbykenners en hulle beste advertensie doen
in bemarkingsfoefies wat meer lede wil lok vir bedrywe wat hulle nie kan bekostig nie
(dit sluit dan alle wittes uit; het ek reg gehoor? Dié bank se topstruktuur pie nou so te sê noir?).
Ons kan voortaan nie meer siek word nie, dis beter om beet en uie te eet.
Cosatu herskryf die Koran geklee in woord en lied met die klinkende klank van geld.
Intussen goeie nuus: Shell is OK, hy het ten minste 'n De la Rey.
Al hierdie dinge haal ek uit jou kinders se Sondagkrant, Afrika, en per slot van sake
is die beste stories – ook heel veel drek – te vind in “tyd”; oftewel “my tyd”.
As dit nie daarvoor was nie, liewe Afrika aan wie ek so verknog is,
het ek my goed verkoop en getrek na 'n ware woestyn, waar mens nog vry kan asemhaal.
Intussen skryf ek maar die ou-ou stories wat ek uit jou maag leer ken het,
en uit jou verhemelte versamel het. Ek het jou lief my Afrika, moenie verander nie.
Ek sal praat met al die ondermaanses, miskien kan ons nog iets regkry
met al jou aweregse kinders, en met myself, sela ...

Engemi het Saterdag geval en haar sleutelbeen gebreek, waarna sy in die Mediclinic Hermanus opgeneem is. Weens haar diabetes het haar toestand versleg en is sy vroeg Donderdagoggend oorlede. Sy word oorleef deur haar man, Johan Jordaan, haar ses kinders en ses kleinkinders.

Daar is Sondag 13 Oktober 2019 ’n samekoms vir haar naastes in die Hermanus omgewing gehou.

2019 – die jaar toe my vriendin ophou skryf het.

Lees hier Engemi Ferreira se ATKV-skrywersalbum:

Engemi Ferreira (1943–2019)

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Wieland Jordaan

    Pragtig, na ny moeder se afsterwe besef ons almal eers hoeveel mense se lewens sy geraak het. Sy was sowaar n ikoon.

  • Te vroeg, te vroeg. Ja, altyd te vroeg, die vertrek. Dankie Trisa en Petrovna vir hierdie pragtige huldeblyk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top