Engemi Ferreira (1943– )

  • 1

Sêgoed van Engemi Ferreira

Wat bekoor, betower, boei, sjarmeer haar die meeste? “Musiek. Altyd musiek. Kleintyd wou ek altyd graag ’n harp hê.” (Aan Fanus Rautenbach, Rooi Rose, 4 Oktober 1995)

Hoe word sy geïnspireer? “Ek dink die gewone dinge wat met ongewone mense gebeur. Of ongewone dinge wat met gewone mense gebeur. Ek lees graag biografieë. My kinders inspireer my.” (Rooi Rose, 4 Oktober 1995)

Oor die mense wat haar beïnvloed het: “Die ryk stem van Elize Lindes (wat later Elize Botha geword het) en wat ek as juffrou Elize leer ken het, het my as tien jaar oue meisietjie al betower. Ook omdat sy my nie soos ’n kind behandel het nie. En verstaan het van die ding wat soos ’n vuur in my gebrand het: Die Woord – die Letterkundige Woord. Dit was vir my poetic justice (’n toegif-tekkie?) toe my uitgewer, sonder dat ek dit weet, Elize Botha vra om die flapteks vir my debuutroman te skryf – nog ’n sirkel voltooi.” (Rooi Rose, 4 Oktober 1995)

“I always found it enormously fulfilling to inspire people to discover their own truths and during the last sixteen years I have been using creative processes with words and sound, whether rhythmical or musical, as well as movement – in dance and gesture – to the background of every participator’s intrinsic biography. It is not only a fun process, but also intrinsically healing.” (http://www.temenos.org.za/blog/introducing-engemi-ferreira-participating-in-our-festival)

“I have been writing as long as I can remember, I love words in any way and know how to use them. I also love life and death, and everything in between, stones and stars and dunes and tunes.” (http://whoswho.co.za/engemi-ferreira-67294)

Gebore en getoë

Engemi Ferreira is op 19 Maart 1943 in Bloemfontein gebore as die jongste van drie susters. Sy vertel aan Fanus Rautenbach (Rooi Rose, 4 Oktober 1995) dat haar lewe baie gewoon begin het in Bloemfontein, maar soos dit gaan, “daardie plek waar jy jou eerste skree gee, vloed op jou in vir die res van jou lewe. My drie susters is nou nog kwaad vir my, want ek is gebore op hulle atletiekdag. Al die aandag was op die baba – ek het ver gewen.”

Nie lank na haar geboorte nie is haar ouers na Suidwes-Afrika (nou Namibië), waar sy haar grootwordjare deurgebring het. Haar twee oudste susters se mans het albei in Nederland studeer en op 10-jarige ouderdom is Engemi vir ’n jaar na hulle toe. Dáár het sy gereeld tussen Amsterdam en Utrecht gereis en sy meen dat dit is waar haar liefde vir reis sy ontstaan gehad het.

Nadat sy na Suid-Afrika teruggekom het, is sy na Pretoria, waar sy in 1960 op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Langenhoven matrikuleer.

Haar eerste gedigte het in Tydskrif vir Letterkunde verskyn toe sy nog maar in standerd 9 (graad 11) was. Dit was ook die jaar waarin sy sanglesse by Albrecht Lewald begin neem het. Haar joernalistieke en skryfliefde kom ook toe na vore toe sy sonder aansporing van enigiemand anders ’n skoolkoerant van stapel stuur en al die rolle – redakteur, verslaggewer en verspreider – vervul.

Musiek was nog altyd deel van haar lewe. “Toe ek nie ’n harp kry nie, wou ek sing. Soos Elizabeth Schwarzkopf,” vertel sy aan Rautenbach. “Een keer het Cecilia Wessels by ons tuisgegaan op Marienthal (in Suidwes). Sy het in die badkamer gestaan en gesing terwyl sy haar tande borsel. Wonderskoon. Tot vandag toe sing ek ook as ek my tande borsel – dis dié dat ek sulke simpel tande het.”

Oor ander dinge wat Engemi aantrek, vertel sy aan Rautenbach dat mans haar nog altyd gefassineer het, “seker oor ek self net drie ouer sussies hadde en nooit verstaan het hoe werk ’n man se kop nie. My pa was ’n stil, teruggetrokke mens en boonop was my ma nie juis iemand wat vriendskappe tussen haar dogters en mans aangemoedig het nie; alles natuurlik teelaarde vir ’n gesonde obsessie.”

Sy het teenoor Fanus Rautenbach gebieg dat sy mal verlief geraak toe sy ongeveer agt jaar oud was, op Jasper Naudé. “Oe, vir hom sou ek die honderd treë wen, sommer so. Maar sy suster Liena was ouer, en wyser, en wou boetie beskerm teen opdringerige verliefde meisietjies met bybedoelings. Sy het my verseker ek sal met my kaal pooie nie ’n duik maak in die naelloop nie. Ek het ook nie. Toe sy en ’n maatjie na die wedloop vir my giggel, beloof ek deur my trane ‘Wag net tot ek my tekkies gekry het’.”

Maar dit was nie lank nie, of Jasper is vergete en in sy plek het mnr Brönn gekom, die standerd 2-meneer, en Engemi was sy witbroodjie. “’n Mooie man. Dis al so lank gelede, maar ek dink aan bruin hare, blou oë, lang vingers. Ek moes die klas se boeke oortrek, oor ek dit so netjies kon doen – en toe ek gisteraand na 43 jaar die miljoenste boek oortrek vir Joshua [haar seun], toe sê ek vir my man: nee, ek is nou klaar, van nou af kan hulle dit self doen, en dit sluit Wieland in, wat eers komste jaar groot skool toe gaan.

“Ek was ook mnr Brönn se stuurder. Oral, ook briewe gepos. Hy het gereeld aan Mej Iemand geskryf. Ek is jaloers en hierdie engel se groen duiwel stoom die brief oop. Ek lees en grens en storm poskantoor toe en skryf mnr Brönn af, maar mnr Brönn is nie klaar met my nie.

“Sy Mejuffrou skryf vir hom en sê van die oopgestoomde brief. Hy sê vir my ma en sy foeter my. Van toe af haat ek onderwysers. Ook my sub A-juffrou Van Rijn. Een keer toe sy uit is, klouter ek op die tafel en sing. Sy kom terug en gil: ‘Wat dink jy doen jy?’

“‘Ek thing,’ lispel ek haasbek. ‘Ga!’ ga sy en vat my na die prinsipaal toe. Hy tel my djiem op en slat my, vyf of ses of agthonderd houe. Nog ’n tekkie wat ek nooit gekry het nie, want hoewel my sangmeester, Albrecht Lewald, my oor en oor geprys het dat ek ’n stem het wat ’n klip se hart sal roer … het my stem … elke keer daarna wat ek op ’n verhoog gestaan het om te sing … het my keel toegetrek.

“Ná mnr Brönn is ek Holland toe vir ’n jaar. My ma kon nie meer met my huishou nie. Op ’n manier was Holland seker vir my ook nog ’n tekkie.”

Terwyl Engemi saam met haar ouers op Marienthal gewoon het, het ’n Ovambo haar leer lees nog voordat sy skool toe begin gaan het, vertel sy aan Rautenbach in Rooi Rose: “Van ‘Die jakaras en die orretjie’, overgezet: Die jakkals en die otjie! Dit was daar waar die roeringe van self stories vertel begin het, want ek het dit my eie gemaak. In Holland, toe ek tien was, het my swaer my Gulliver’s reizen present gegee, en ek het besef ’n mens kan enige ding op aarde skryf, mits jy ’n storie het om te vertel en dit kan inklee met jou verbeelding.

“Elke keer wat ek nie ’n opdrag van my ma uitgevoer het nie en slae gekry het as ek nie die waarheid vertel het nie, het ek geleer: volgende keer vertel haar alles wat sy wil hoor. Was die onderwysers nie tevrede met my verskonings as ek nie my huiswerk gedoen het nie, dan dink ek ’n ‘ware verhaal’ uit wat hulle dadelik tevrede stel.”

Verdere werk en studie

Ná skool studeer Engemi drama onder leiding van Anna Neethling-Pohl, Truida Pohl en Francois Swart aan die Universiteit van Pretoria. Hier kan sy haar liefde vir die toneel en teater wat al van kinderjare by haar gevestig is, verder verstewig. Sy onderleg haar ook in onder andere beeldhou- en skilderkuns aan die Pretoria Technikon. Haar kunssinnige veelsydigheid word verder onderstreep toe sy haar as liriese sopraan vestig met die klem op Lieder. Benewens drama neem sy ook moderne tale, filosofie en sielkunde aan Tukkies.

Sy was ook een van die stigterslede van die Max Stibbe Waldorfskool in Pretoria in samewerking met Mario en Margaret Schliess, waar sy ook vir ’n ruk onderwys gegee het. Engemi skeep nie haar joernalistieke werk in hierdie tyd af nie en werk vryskut, wat meebring dat sy later redakteur word van die Carletonville Herald se vroueafdeling.

Engemi is getroud met Johan, wat ’n “boomboer is. ’n Houtkapper, maar ook ’n houttowenaar”. Hulle het op ’n stadium op ’n plaas in die Houtboschloopvallei in Mpumalanga gewoon. Hulle het sewe kinders. Een van die seuns, Benedikt, het later as Benedikt Sebastian naam gemaak as model, akteur en sanger.

Gedurende die jare in die Laeveld het Engemi haar besig gehou met ’n verskeidenheid van bedrywighede, soos kurator van die plaaslike kunsforum tesame met Leigh Voigt. Hulle was onder andere verantwoordelik vir die aankoop van skilderye vir die dorp.

Sy het ’n koerantjie, Die Boekbrief, begin, wat sy op eie inisiatief na leeskringe in die hele land gestuur het sodat hulle inligting oor nuwe Afrikaanse publikasies kon bekom. Dit het ’n ernstige leemte veral op die platteland gevul. Sy het lesers ook bygestaan om boeke en bandjies in die hande te kry wat nie plaaslik te verkry was nie.

Haar debuutwerk, Die jaar toe my ma begin sing het, word in 1988 gepubliseer nadat sy in 1984 die eerste Skryfskool in Kreatiewe Kuns aan die Potchefstroomse Universiteit bygewoon het, en dit het onmiddellike sukses behaal. Dit het talle herdrukke beleef en dit was vir jare op die voorgeskrewe lys vir skole. Lizette Potgieter skryf in Die Burger van 12 Mei 1999 dat Die jaar toe my ma begin sing het tien jaar na die verskyning daarvan nooit uit druk was nie.

In die novelle kan ondertone van As I lay dying en The Hotel New Hampshire bespeur word. Dit vertel die storie van ’n gesin – ’n ma, ’n pa en sewe kinders. Die jongste, wat erg gestrem is, word op ’n baie gewelddadige wyse met ’n broodmes doodgemaak en die hele gesin se lewens word omvergegooi.

Potgieter gaan voort: “Baie boeke is al geskryf oor gesinsgeskiedenisse en familieverwantskappe. Wat lesers egter noop om hierdie klein literêre juweel weer en weer te koop (dit word dikwels weggegee en dan wil die eienaar dit weer lees) is die feit dat dit die totale mens aanspreek en vol universele waarhede is.”

Gert Basson, destyds hoofuitgewer van algemene boeke by Van der Walt Uitgewers  (vandag LAPA), het dit bevestig dat “’n hele paar mense hierdie boek al 'n paar keer gelees het”. Die eerste keer toe Basson die manuskrip van Die jaar gelees het, het hy in die trein gesit en die getikte letters was so dof dat hy dit teen die venster moes hou om dit gelees te kry, maar hy het dadelik geweet dat dit ’n besonderse boek is. Hy het ook die versorging van die manuskrip gedoen.

Verskeie faktore het saamgespan om die boek so suksesvol te maak: die akademiese mark, leeskringe, teater en boekwinkels. By ’n onderwyskollege in KwaZulu-Natal wou die eerstejaars op aanbeveling van die tweedejaarstudente ook Die jaar as voorgeskrewe boek hê.

Die jaar toe my ma begin sing het is ook deur twee akteurs in verhoogverwerkings op die planke gebring. By die eerste KKNK in 1995 is ’n verhoogverwerking van Wim Vorster van hierdie novelle op die planke gebring as ’n solostuk met Hannes van Wyk. Die spelleiding was deur Gert van Niekerk.

Die stuk is in die feesgids as volg beskryf: “Dié eenmanvertoning met Hannes van Wyk handel oor die lewe van ’n doodgewone vrou, op ’n doodgewone plaas, gesien deur die oë van haar ses kinders. Wat begin het as ’n doodgewone jaar, verander geleidelik wanneer die vrou deur ses Bybelse plae moet worstel. Die sewende een kry haar onder en dan begin sy sing.

“Konstans, die kind wat naaste aan sy ma was, vertel die storie van die ses kinders. Hy soek ná sy ma se dood na die waarheid en oplossing vir ’n geheim wat net sy ma die antwoord van ken, of dalk ook nie …” (http://kknk.co.za/nuus/hannes-van-wyk-by-eerste-fees).

In 1997 het Elma Potgieter Die jaar toe my ma begin sing het ook vir die verhoog verwerk en is dit in die Witbank Stadsteater aangebied as deel van hulle solo-aanbiedinge. Sy het dit ook in 1998 by die Aardklop Kunstefees aangebied met haar man, Schalk Jacobz, as die regisseur.

“Toe ek die roman gelees het, het ek gelag en gehuil en ek het dit weer gelees,” het Elma aan Beeld (10 Oktober 1997) gesê as verduideliking vir waarom sy die verhaal aangepak het.

Schalk Jacobz het haar gehelp om ses karakters in die roman uit te beeld. In die eenvrouvertoning is Potgieter die rasionele Wilmien, die emosionele Hermione, die neurotiese en paranoïese Trien, die flambojante Roald, die wetenskapgerigte Konstans en die vrygeestige Hjalmar. Ná haar optrede by Aardklop het Elma Potgieter ’n staande toejuiging ontvang.

Toe Engemi Ferreira haar debuutnovelle geskryf het, het sy “probeer om true te skryf, sonder pretensie, en nie om die leser te vermaak nie,” het sy aan Lizette Potgieter vertel. “Alhoewel ek André P Brink se werk bewonder het, kon ek nie in Gerugte van Rëen die Afrikaner kry wat ek gesoek het nie. Ek skryf toe oor Afrikaners waarop ek kon trots wees en sou wou ken. Soos die sentrale ma-figuur wat waarskynlik almal aanspreek: sy is wys, sterk, toon begrip en verstaan bowenal die liefde.”

Engemi het die hoop uitgespreek dat haar lesers sal besef dat “ons almal baie wyser is as wat ons dink. Ek beskou self nie my werk as ‘wysheidsliteratuur’ nie. Wyshede word kwytgeraak om ’n tafel, soos wat ons dag tot dag leef. Dit is dan ook wat ek probeer bereik het met my karakters: humane persoonlikhede wat elk sy eie lewenspaadjie volg op soek na die waarheid.”

Lizette Potgieter het afgesluit: “Ons lewe in ’n tyd van radikale vereensaming van die individu. Die jaar toe my ma begin sing het bied voedsel vir die gees, ’n lied vir die hart. Met kenmerke van die esoteriese en aanduidings van ’n religiositeit wat privaat en subjektief is, bied hierdie novelle ’n spirituele belewenis. En boonop seëvier die liefde. Dit is waarom hierdie boekie ná meer as ’n dekade steeds gekoop word.”

Elize Botha het in die 1999-uitgawe ’n voorwoord geskryf: “Dit is ’n klein gesinsgeskiedenis, waarin subtiel en met piëteit getas word na die soet dwingelandy van liefde en lojaliteit wat deur familieverwantskappe tot stand gebring word. Dit is ’n verhaal van buitengewone dinge: ’n sonderlinge gesin en ’n sonderlinge gebeurtenis, vir ’n goeie storie.” (Beeld, 29 Maart 1999)

Die verhaal is in sewe hoofstukke ingedeel en ses kinders vertel die storie, want die sewende kind is as ernstig gestremde gebore. In die sewende hoofstuk is een van die dogters vir die tweede maal die verteller en dan vind die leser uit wat gebeur het in die jaar “toe my ma begin sing het”.

Vir Heilna du Plooy (Beeld, 28 November 1988) is die ma die figuur wat alles oorheers. “Sy bepaal die atmosfeer in die huis, vorm die kinders en versorg hulle met wat beskikbaar is. Haar dryfkrag dra die gesin, en haar insinking bring almal tot verslaenheid. (...) Dit is ’n boeiende storie, ’n dramatiese en sterk verhaal. En miskien moet dit net so gelees word. Vir my smaak is alles en almal uiteindelik te uitsonderlik om te bly oortuig en die talle artistieke verwysings na die literatuur, die teater, ensovoorts, bly vir my los en soms selfs kunsmatige invoegsels.

“Die materiaal waaruit die verhaal opgebou is, is myns insiens sowel die groot bate as die groot probleem in die novelle, want die skryfster skryf gemaklik en vloeiend.”

In Volksblad (8 Oktober 1988) skryf Anna van Zyl: “Die novelle praat met die leser, en by herlees vang jy al meer drade wat inmekaar geknoop is, staan die mens, Ma, al duideliker as heroïese, grootse figuur, en die kinders bly maar kinders in hul siening van hul ma al is dit 21 jaar waaroor hulle terugkyk. Met dié besondere novelle het die skryfster iets treffends bygedra tot ons literatuur, miskien selfs ons wysheidsliteratuur. Die verhaal voltrek hom op meer as een vlak; gesinstorie en diepe ontrafeling en het daarom wye trefkrag.”

Ook Barrie Hough het gunstige kritiek oor Die jaar uitgespreek in Insig van Oktober 1989 en het Engemi beskryf as ’n “skryfster met vars en oorspronklike idees, iemand wat iets het om te sê en dit met ’n slag doen”.

Dit was net André P Brink in De Kat van November 1989 wat nie oorgeloop het van opgewondenheid oor die debuutnovelle van Engemi Ferreira nie. Volgens hom het die werk wel “die grondstof vir ’n boeiende en verwikkelde teks, maar dit was krimineel van die uitgewer om dit in dié konsepvorm te publiseer, voordat dit déúrgewerk is”. Hy eindig sy bespreking as volg: “In ’n verhaal wat by uitnemendheid ingestem behoort te wees op die ‘vroulike grammatika’, bly die skrywer uiteindelik self gevange in manlik-bepaalde vertelstrukture wat nòg haar hoofkarakter nòg sy self kan deurbreek.”

Engemi het in die De Kat-uitgawe van Februarie 1990 op Brink se resensie gereageer. Sy het so afgesluit: “En voor man en vrou nie grootword om mens te word en dié intrinsieke tweeledigheid van die godhead erken nie, sal die ragnarok bly voortduur.”

In 1995 verskyn daar ’n bundel kortverhale getiteld Brood vir die engele, weer by Van der Walt Uitgewers. Johann de Lange skryf in Rapport (12 November 1995) dat Engemi met hierdie bundel die belofte wat haar debuut daargestel het, bevestig. Vir hom het sy in Die jaar toe my ma begin sing het gewys dat sy groot sensitiwiteit aan die dag kan lê as dit kom by die sielkundige dimensies van haar karakters. Sy het ook ’n fyn begrip aan die dag gelê vir die intrige en menseverhoudings.

Daar is ses verhale in die bundel en al ses beïndruk De Lange as gevolg van hulle “rypheid en insig, soms die oer-wysheid van die verteller. Dis verhale dié wat vir die leser ’n ‘slice of life’ gee, bittersoet en vrank; en haar karakters in hulle aspirasies en falings bly vir ’n ruk lank in die gedagte.”

Van die onderwerpe in die verhale is vigs, ’n huwelik wat na dertig jaar nie wil doodloop nie, twee skoolvriendinne wat mekaar na ’n lang tyd herontmoet en mekaar se lewenstyl begeer. Daar is ook ’n novelle getiteld Die metateks oor haar ervarings tydens die Wits Winterforum in 1993.

Vir Helize van Vuuren in Karring van Somer 1995 was die bundel van Engemi ’n teleurstelling en was dit nie op dieselfde vlak as Die jaar nie, behalwe “Die metateks”.

Joan Hambidge het Brood vir die engele beskryf as ’n “klein bundel met ’n lieflike omslag na Carvaggio, met sterk, filosofiese verhale wat die teenstrydighede van menswees ondersoek”. Ook vir Hambidge is die interessantste en beste verhaal “Die metateks”. “Ferreira se verhaal is nie net ’n verhaal wat op sigself inbuig nie; dit word ook ’n knap ondersoek na hóé ’n mens op verskillende vlakke onthou en interpreteer. (...) Op ’n ander vlak is dit ’n skerp analise van ons literêre toneel met sy nydighede, rugstekery, gewaande roem en media-beheptheid.”

Die verhale in Brood vir die engele is volgens Hambidge nie net toeganklik vir die gewone leser nie, maar vir die leser wat filosofies lees en postmodernisties ingestel is, is daar baie eksperimente wat kan interesseer.

PC van der Westhuizen (Beeld, 23 Oktober 1995) is dit eens met die meeste van die ander resensente dat Engemi Ferreira met Brood vir die engele haar duidelike talent bevestig en dat dit ’n bundel is wat, hoewel daar enkele swakkere verhale is, soos “Tee op die stoep” en “Wiegelied”, nie ligtelik beskou moet word nie.

In Insig van September 1995 het Ia van Zyl egter voorbehoude, net soos wat sy gehad het met Die jaar. “Aan die een kant boei die verhale weens hul broeiende intensiteit en – weer eens – die uitsonderlike verhaalgebeure. Aan die ander kant lei juis hierdie eienskappe ten slotte tot ’n gevoel van oordaad. (...)

“‘Die opvallendste aspek van hierdie bundel is die popular-filosofiese trant daarvan.’ Aldus die lokteks. Hier lê egter die knoop. Terwyl sommige verhalings as vertellings boei, word ander ondermyn deur filosofiese konsepte – soms vir die leser duister. Ek dink hier aan ‘Die herder van Torrabilly’, ‘Die Wiegelied’ en enigermate ook die tegnies nogal vernuftige ‘Die metateks’.”

Oor hierdie resensie van Ia van Zyl was daar in die Januarie 1996-uitgawe van Insig ’n brief van HA van Emmenis van Sunnyside waarin hy dit stel dat Van Zyl nie die gebreke in die boek uitgewys het nie, maar dat daar groter gebreke in die insig van die resensent was.

Engemi was ook in die jare 1990 ’n gereelde deelnemer aan die ATKV-Kampustoneelfees met haar dramas. In 1991 is haar drama Sewe stasies, oftewel, Een aand op die trein na Pretoria deur studente van die Universiteit Stellenbosch onder regie van Herman Pretorius opgevoer. Diane de Beer (Pretoria News, 9 April 1991) het gevoel dat die stuk te lank was en dat die redigering strenger kon gewees het. In die produksie, wat ’n kabaret is, word daar na die sewe doodsondes getoer. Die reisiger word deur duiwels en ’n Rooi Engel op ’n treinrit deur die land gelei, skryf Gary Kitching in Beeld (9 April 1991). Die reis se begin is in Kaapstad en sy einde in Sin City, waar siele uitverkoop word. Ook Kitching meen dat die stuk net sou gebaat het by ingrypende besnoeiing en herstrukturering.

In 1992 is Engemi se Des Coninx Bode op die planke gebring. Die kunsredakteur van Insig (Mei 1992) het gemeen dat daar ’n “verhoogstuk vol ideërykdom vasgestrengel is” in die stuk, maar dat daar wat betref die tema van die stuk om ’n “duideliker omlyning vra en die struktuur skree om vereenvoudiging en ’n duideliker kern”.

Engemi is ook lief vir kinderteater en het stukke soos Ghwarriebos en Nxharra – kinderteater met Boesmans – en Lepel hou konsert – in opdrag van haar kinders se destydse plaasskool vir die kleuterklasse – geskryf. Ander stukke sluit in Die Verhemeltes – effens dramatiese stuk oor depressielyers, Die vierde Wyse Man – ’n Kersspel en Bidsprinkaan en Maan – ’n sprokie vir die verhoog.

Engemi stig ’n skrywerskring in Nelspruit, waaraan 20 lede met meerdere en mindere sukses deelneem. Tussen 1990 en 1996 woon sy in die gesin se dorpshuis in Lydenburg ter wille van skool vir die kinders. Hier tree sy op as impresario en gaan voort met wat vandag algemene praktyk is, maar in daardie jare effe meer ongewoon was en waarmee sy reeds in die vroeë tagtigerjare in Nelspruit begin het: sy nooi die opkomende kunstenaars van die land uit vir Afrikaanse Aande met Konsert en Kos, waartydens ook Afrikaanse boeke en CD’s verkoop is. Sy word deel van die Bacchus-kwartet, ’n a capella-groep wat oral in die Laeveld en in Pretoria opgetree het.

Engemi was ook die samesteller en regisseur van die baie gewilde en suksesvolle Jannie en die Tannie, met Jannie du Toit en Christa du Toit. Hierdie aanbieding was nie net plaaslik ’n sukses nie, maar ook oorsee.

Engemi woon tans op Vermont, naby Hermanus, in die Suid-Kaap.

Publikasies:

Publikasie

Die jaar toe my ma begin sing het

Publikasiedatum

  • 1988
  • 1993
  • 1994
  • 1999
  • 2000
  • 2003

ISBN

  • 0799313335 (hb)
  • 0799326216 (sb)
  • 0799331392 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Naaswenner ATKV-Prosaprys 1988

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brood vir die engele

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799321834 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Engemi Ferreira beskikbaar op die internet:

Nota van samesteller:
Aan die einde van die onderhoud met Fanus Rautenbach in Rooi Rose van 4 Oktober 1995 het hy gevra: “Jy’t alles opgemaak, nè?” en Engemi het geantwoord: “Omtrint. Alles.”

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-08-27
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

  

  • 1

Kommentaar

  • Antoinette Klein

    WAT 'n voorreg om Engemi te ken. Persoonlik. Dankie vir Vermont, Engemi. Vir die gesels verby woorde, lesse van die lewe wat jy my oornag geleer het toe ek hees gelees was. Vir jou raad, jou brood, olywe en rooiwyn. As êppie sal ek dit NOOOOOIT vergeet nie. Dankie vir jou.

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top