
...
“Maar dis hoe hulle die kinders vang! Sonde lyk altyd lekker en aantreklik.”
...
Met Halloween om die draai, gaan daar weer ’n klomp mense wees wat ontsteld is dat kinders in kostuums rondhardloop en vra vir lekkers. Is Halloween werklik so boos? Daar is ’n paar maniere waarop ons ’n antwoord kan ontdek.
As jy die saak vanuit ’n meer fundamentalistiese leerstelling benader, ja. Enigiets in ’n fundamentalistiese raamwerk wat nie pas binne die nou leerstelling van die kerk nie, is boos. Ek dink byvoorbeeld aan die Westboro Baptist Church in Topeka, Kansas, wat berug is daarvoor dat hulle almal buite hul klein kerk beskou as verkeerd en onredbaar. Dis mos die mense wat gaan protesteer het by soldate se begrafnisse en by LGBT+-byeenkomste plakkate dra wat sê: “God hates fags”. Die Southern Poverty Law Centre het hulle bestempel as ’n haatgroep. Louis Theroux het ook op ’n tyd hierdie groep ondersoek, maar dis bloot vir volledigheidsonthalwe.
Dis mos die ding met fundamentalistiese leerstellings – alles kan as boos beskou word. Kersbome – heidense praktyk waar die natuur bewaar word in jou huis tot die winter verby is. Die Paashaas – heidense simbool waar hase vrugbaarheid verteenwoordig. Halloween – die aand wat die okkult bose magte in die lug oproep en katte slag. Ek wens ek het hierdie voorbeelde self besin, maar dit is wat ek al deur die jare gehoor het uit die mond van vele Christen-predikers wat dit werklik geglo het. As jy regtig wou, sou jy ook seker kon aanvoer dat Valentynsdag boos is.
Ook, waarom is dit altyd die katte wat aftjop in hierdie stories?
Dit help eintlik ook nie ek skryf ’n lang geskiedenis oor die oorsprong van Halloween, of die Jack-o-lanterns, of die historiese en godsdienstige belangrikheid van Halloween, of die feit dat Suid-Afrikaners eintlik Halloween moet vier in April nie. As jy vas en blindelings glo dat daar booshede bedryf word op 31 Oktober, dan gaan ek jou nie anders oortuig nie. Ek wil ook nie ’n uitgerekte, godsdienstige gesprek hou nie. Nee, beslis nie. Ek wil praat oor dekolonisering.
Daar is ’n beduidende invloed van kulturele en ideologiese uitvoere vanuit die noordelike, Engelssprekende halfrond. Soos Stephen Fry op ’n dag gesê het: “Where America leads, England soon follows.” Die res van die wêreld is ook dan nie ver agter nie. In films en TV-reekse sien ons Amerikaanse mense wat op Halloween rondhardloop in kostuums en lekkers loop vra by elke huis in die buurt. Lekker man. Niemand preek of doen enigiets daaromtrent nie, want dit het alle godsdienstige konnotasies verloor. Dit gaan daardie dag net oor lekkers en kostuums, veral as jy ’n kind is. En omdat Halloween altyd in die noordelike halfrond op 31 Oktober val, is dit wat hier maar ook gebeur.
Die Neopagans (om ’n laaste punt te maak oor godsdiens) vier in Suid-Afrika Halloween (of Samhain) in April, om aan te pas vir die verskille in seisoen tussen die noorde en die suide. Hulle maak tans reg vir Beltane, wat heeltemal ’n ander fees is. Hierdie aanpassing veg eintlik teen die koloniale invloede, maar ook net soveel.
Die vrees vir Halloween het ook saam met die kultuurinvloed gekom uit Amerika. Gruwelfilms en die invloed van Amerikaanse predikers het nie Halloween noodwendig die beste reputasie gegee nie. Dit is waar dat vele buite die christelike geloof glo dat die skeiding tussen die lewendes en dooies op sy dunste is op Halloween, maar ek’t nog nooit in die dae wat daarop volg, gelees oor okkultiese moorde of vermiste katte wat gevind is in rare posisies nie. Dis iets wat die gruwelfilms en die predikers bedink het. Dalk haak hulle nog vas in die Satanic Panic van die 1980’s.
In die praktyk gaan dit oor kostuums en lekkers, weer eens omdat daar nie meer godsdienstige konnotasies aan Halloween geheg word nie. Daar is bittermin mense wat omgee oor die historiese konteks van Halloween, die feit dat ons dit eintlik hier in April moet vier, of die betekenis agter “trick or treat”. As jy my vra, is dit ’n trick genoeg om Amerikaanse sjokolade te voer aan kinders, juis omdat dit onaangenaam smaak.
Ek gaan myself nou ook skuldig maak aan die aanhang van noordelike invloede. Hecate Hardbroom is ’n karakter in The worst witch, ’n reeks boeke deur Jill Murphy wat later verfilm is deur Netflix. In die reeks sê Hardbroom: “Halloween is hardly a happy occasion, more a time for solemn reflection and gratitude for our magical gifts.” Ek kan sien waar die dankbaarheidsaspek betrokke raak, veral net so voor die noordelike winter al daardie eeue gelede.
Meer belangrik is die idee van iemand wat wil veg vir ’n doel. Almal wil tog voel dat hulle deel is van iets en dis baie maklik om ’n meme te deel oor die booshede van ’n saak en te voel jy is deel van iets. Dis eintlik die minimum wat iemand kan doen om te voel hulle is deel van ’n groep. Myns insiens is daar beslis meer belangrike sake in die wêreld as die verbeelde boosheid van ’n dag waar kinders lekkers soek. As jy werklik ’n verskil wil maak, doen iets vir jou plaaslike DBV, kinderhuis of ander liefdadigheidswerk. Dit kan so maklik wees soos geld wat jy skenk, of jy kan so betrokke wees soos hokke loop was oor die naweek. Dis beslis meer sinvol as jou meme wat sê: “Halloween is the Devil”.
“Maar dis hoe hulle die kinders vang! Sonde lyk altyd lekker en aantreklik.” As jy werklik dink dat ’n kind wat een keer ’n jaar ’n kostuum dra en lekkers vra, gaan lei tot ’n toneel soortgelyk aan iets uit Jennifer’s body of The craft, het jy dalk groter probleme rakend die onderskeid tussen realiteit en fantasie.
Dink bietjie voor jy iets bestempel as boos. Jy gee dan mag aan daardie saak. Of is dit bloot dat jy nie die saak verstaan nie? Daar is ook baie ander dinge wat meer boos is as mense in kostuums wat partytjie hou.

