Horror-scope 2020

  • 5
Aries: die Ram (21 Maart - 19 April)

As jy ’n Aries ken – asseblief, gee die persoon ’n gratis voucher in anger management. Want Ramme, hardkoppig en impulsief soos hulle is, kan glad nie konflik hanteer nie. Al dink hulle so. Hulle werk hulle op vir ’n fight, maar wanneer die popo die fan strike, het hulle lankal vergeet waaroor dit gaan. Met Halloween raak Aries so meegevoer, hulle sal iemand donner tot hy bebloed in die oprit lê en die polisie kom ondersoek instel. Die meeste Ramme voel hulle aangetrokke tot loopbane wat bloed en spoed vereis, soos chirurge en spietkops. Hannibal Lecter en Clyde Barrow was Aries. Wel, Barrow was ’n legende in sy eie tyd, want hy het die wit waks uit die Texas-polisie gejaag met sy gesteelde Fords. Aries kan nie oud word nie; as die eerste teken in die Zodiak is die Peter Pan-sindroom outomaties deel van Ramwees. Nee, laat ek dit sterker stel: Aries het eiehandig die Ponche de León-fontein ontdek en hulle huise wemel van Dinky-toys en allerlei koddige ornamente wat aan speelgoed herinner. Die uitdrukking "rammetjie-uitnek" verwys na Aries.

Taurus: die Bul (20 April - 20 Mei)


Taurus-vroue is hedonistiese slette en boer by skoonheidsalonne in die hoop om sugar daddies te vang. Sekuriteit is van kardinale belang vir dié sterreteken, maar die waarheid is dat hulle bloot greedy is. Manlike Bulle beklink graag shady deals, wat van hulle gebore makelaars maak – aandelemarkte word nie verniet "the Bulls & the Bears" genoem nie. Inderwaarheid is Taurus baie suinig en gooi die kleingeld, wat vir karwagte bestem is, in ’n spaarvark. (Ek weet van ryk Bulle wat hulle double-ply-toiletpapier vier maal gebruik.) Taurus is almal know-it-alls en gaan Google skelm in die badkamer vir inligting as iemand meer as hulle van ’n onderwerp af weet. Ongelukkig is Bulle inherent konserwatief en koop graag eiendom in ’n denkbeeldige Volkstaat of Wolkstaat. Mark Zuckerberg is ’n Taurus. En terwyl jy hier lees, liewe leser, is die CEO van Facebook besig om al jou persoonlike inligting in ’n kosmiese databank vas te lê – een wat selfs die FBI laat sidder omdat dit ’n Derde Wêreldoorlog kan ontketen. 

Gemini: die Tweeling (21 Mei - 20 Junie)


Jy is die clown van die Zodiak, want jy's ’n tweegesig wat Janus sal laat bloos. Gemini's praat, praat, praat die heeldag en is berug as foonsnolle en skuldinvorderaars. ’n Gemini wat alleen bly, voer diep en intieme gesprekke met hul Google assistant, Siri of Cortana. Die meeste Tweelinge is biseksueel of bipolêr of beide, en dié wat in politiek land, se styl sal as "bilateraal" beskryf word. As Gemini nie soveel persoonlikheidstoornisse gehad het nie, sou hulle kon deurgaan as talentvol, maar ongelukkig het hulle die aandagspan van ’n goudvis. Donald Trump is Gemini – en omdat hy nie kan onderskei tussen waarheid en leuen nie, het hy met "alternative facts" begin. Tweelinge lieg die heel meeste van alle tekens in die diereriem en glo al wat fake news is. Nodeloos om te sê jy kan Gemini glad nie vertrou nie, maar as jy van hulle Dr Jeckell and Mr Hyde-persoonlikhede hou – sterkte. En onthou: as jy in die bed spring met ’n Gemini, is dit outomaties ’n threesome.  

Cancer: die Kreef (21 Junie - 22 Julie)


Wanneer mense jou ontmoet, dink hulle jy is sensitief en mistiek – maar jy is gewoon ’n tranerige maanaanbidder en jou spesialiteit is selfbejammering. Alle Krewe is ruggraatloos en kan niks weggooi nie, wat van hulle hoarders per excellence maak. Cancer verskyn gereeld op Dr Phil as gevolg van hulle vuil, oorvol huise waarin soogdiere onverstoord tussen al die rommel aanteel. Krewe bewaar hulle gebruikte sakdoeke in ’n spesiale bêrelaai om hulle veilig te laat voel (skeidingsangs). In hulle middeljare ontwikkel manlike Krewe ’n obsessiewe belangstelling in hulle stamboom, en irriteer die living shit uit almal met hulle nuttelose kennis van genealogie. ’n Tipiese Kreef is die fool wat jou drieuur die oggend dronk en broke wakker maak met ’n Please Call Me dat jy hom moet gaan haal, gewoonlik by die een of ander obskure dobbelplek. ’n Vroulike Kreef word ’n "cling-on" genoem omdat sy so aan haar dates hang.   

Leo: die Leeu (23 Julie - 22 Augustus)

Jy is ’n gebore narsis en dink Buffelsfonteinbaardolie is spesiaal vir jou ontwerp. Leeus soen hulle eie spieëls en wanneer hulle ’n vertrek binnekom, is dit met ’n trompetgeskal (luister fyn). “Do you know who I am?” vergesel met name-dropping is Leo se gunsteling-sêgoed, selfs al was hulle skottelgoed by Spur vir ’n lewe. Leeus skep graag hulle eie Fan- of Celebrity-pages op Facebook en tel elke dag die likes (al is hulle geen celebrities nie). Want ’n Leeu ontvang nie komplimente nie, hy ontvang offerandes. Leeus is berug vir hulle liefdesdriehoeke, so, voor jy met ’n Leeu ’n verhouding aanknoop, doen eers jou huiswerk. Dit gaan eindig in passiemoord. Alle hoofkarakters in Puccini se operas is Leeus. Jaloesie is ’n Leeu se Achilleshiel en is dan ook die oorsaak van die slagveld verhoudings agter hulle. Mense lag in hul mou vir Leo, want drama queens sorg altyd vir hope vermaak. As ’n Leeu ’n tafelgebed doen, bid hy teatraal en met oop oë om sy gehoor se waarderende reaksie te sien.

Virgo: die Maagd (23 Augustus - 22 September)

Virgo’s eet elke oggend om 26 minute oor 6 hulle ontbyt (nadat hulle hulle horlosies op 06:26 ingestel het). Hulle rangskik die kos op hulle borde in rye en blokkies, want die meeste Virgo's lei aan OCD of is iewers op die spektrum. Hierdie neurotiese wrakke sluit hulle voordeure drie maal elke oggend en hulle perfeksionisme dryf almal tot waansin – as hulle by vriende gaan kuier, begin hulle spontaan ruite te was. As gevolg van ’n oordrewe sin vir netheid ly Maagde aan chroniese hardlywigheid en is ook die grootste gebruikers van enemas in die hele Zodiak. Hulle pynlike aanleg vir detail beloof ’n groot toekoms in forensics, want ’n Virgo sal ’n millimeter-haar met ’n tweezer op ’n misdaadtoneel uitsnuffel. Maagde streef die heeltyd na selfverbetering en woon getrou al wat ’n kursus in lewensvaardighede is, by. As die slimste teken in die diereriem het hulle die konsep "overthinking" uitgevind: Rodin se Denker was ’n Virgo.

Libra: die Weegskaal (23 September - 22 Oktober)

Libras is intellektuele snobs en op hulle gelukkigste wanneer hulle besig is met huisvlyt, wat hulle verwar met Groot Kuns. Arts & Crafts-winkels sluit hulle deure wanneer Weegskale hulle skeppings aan hulle probeer afsmeer. Ramme haat Weegskale, want ’n Ram se motto is "me", en ’n Weegskaal s’n "we". Libra is van nature ruggraatloos en hol na ’n prokureur toe as iets hulle ontstel. Libra is mal oor plastiese chirurgie en dink vroue se silikoonlippe (ja, daai wat twee bar gepomp is), lyk sexy. Eintlik is ’n Libra ’n flegmatiese pyn in die agterent omdat hulle so hard probeer om polities korrek te wees en in die geheim briewe skryf om Steve Hofmeyr se gigs te saboteer. Die meer liberale Weegskale voel aangetrokke tot Zen, maar het nie die selfdissipline om dit uit te leef nie. ’n Tipiese Libra is daardie oom in jou familie wat al vir die afgelope twintig jaar elke Sondagmiddag oor twee glasies dooswit stry oor die groot- versus die kleindoop. Mens sien dikwels ’n Libra in ’n speelpark waar hy vir entertainment alleen op die see-saw ry. 

Scorpio: die Skerpioen (23 Oktober - 21 November)

Skerpioene is berug vir hulle ongesonde belangstelling in die okkulte, en hulle gunsteling-paartie-truuk is om mense se handpalms te lees. Baie Skerpioene bereik die hoogste sport in die samelewing as gevolg van ’n volkome gebrek aan etiek – CEO's, generaals, dekane en sekteleiers is gewoonlik Scorpio. Skerpioene is oversexed en hulle angel jeuk om iemand by te kom of om die doodsteek toe te dien. Charles Manson was Scorpio. Wanneer jy ’n Skerpioen ontmoet, dink jy hy's misterieus – tot jy uitvind hy's besig om te plot (Skerpioene beplan nie, hulle plot). Alle Skerpioene is agterbaks. En paranoïes. As ’n Skerpioen ná werk stilhou voor sy hek, slaan hy dekking voor hy leopard crawl voordeur toe, ’n klein flitsie vasgeknyp tussen die tande. Moet nooit ’n Scorpio se dark side onderskat nie, dis húlle wat tydens ’n skattejag die kindertjies se paaseiers steel. Op ’n skaal van boosheid score Skerpioene 10/10.  

Saggitarius: die Boogskutter (22 November - 21 Desember)


Jou Wanderlust maak jou mal en jy verveel almal met jou avonture in die Krugerwildtuin toe jy die buffels geterg het. ’n Boogskutter hou sy kuiergaste gyselaar met die honderde foto's (van reise) op sy selfoon ... en die gaste maak later net instemmende geluide, want alle tussenwerpsels en byvoeglike naamwoorde is reeds opgebruik. In die dae voor die Internet het ’n Boogskutter jou gemoedelik vasgekeer met ’n klomp selfkleef-selofaanfotoalbums. Saggitarius sien hulself as Wilhelm Tell, Robin Hood, of Kupido. maar inderwaarheid is hulle nader aan Don Quixote wat windmeulens bestorm. Daarom is die enigste gehoor wat na ’n Boogskutter se stories luister, sy dronk pêlle om ’n kampvuur. Want sien, Saggitarius glo hy is ’n gebore stand-up comedian omdat hy die hardste kan lag vir sy eie grappies. Hm, loop maar lig, dis die enigste teken wat jou op ’n afstand kan seermaak. Die meeste snipers op die Dark Net is Boogskutters. 

Capricorn: die Steenbok (22 Desember - 19 Januarie)

Jy stink na bok en vis, ongeag die ontwerpersparfuum wat jy dra en die feit dat jy spog met jou mitiese herkoms. Steenbokke is werkoliste, maar party werk só hard, hulle is niks anders as donnerse kommuniste nie. Die hartseer waarheid is egter dat Capricorn doodvervelig en konvensioneel is en dat voëls op hulle tjorts want hulle verwar hulle met standbeelde en voëlverskrikkers. ’n Steenbok se grootste ambisie is om ’n pos by SARS los te slaan. Niemand wil ’n gesprek met Steenbokke voer nie; hulle stemme klink soos drones, dan val almal aan die slaap. In hulle vrye tyd is Capricorn undercover taal-nazi’s, of proeflees hulle selfpublikasies, want hulle raak kinderlik opgewonde as hulle ’n spelfout bespeur. Steenbokke is doodbang vir die microchip (die merk van die dier). Hulle bly lewenslank tegnologies weerstandig en kyk ná jare nog televisie op ’n bokstiewie met haasore en bel van ’n landlyn af, want slimfone is bo hulle vuurmaakplek. Capricorn vul blokkiesraaisels in op die toilet en wen groot pryse, wat uiteindelik van hulle wandelende woordeboeke maak.     

Aquarius: die Waterdraer (20 Januarie - 18 Februarie)


Jy is ’n hutspot van kontradiksies. Jy droom om ’n Groot Rewolusie te begin, maar al wat jy kan regkry is om ’n grootkop (waarskynlik Aries) se gras uit te spin. Jy het ’n humanitêre streep en voel aangetrokke tot gemeenskapsdiens, want dis al waar jy kan vriende maak. Waterdraers is diep gegrief omdat hulle sedert die antieke tye ’n vervloekte spulletjie is (die houthakkers het nie die Zodiak gehaal nie). Hulle hou van opwindende stokperdjies soos om seëls te versamel en om skippies uit roomysstokkies te bou. Waterdraers kan bad nie verduur nie – jirr', wát is dit met die watertekens dat hulle so sku vir water en seep is? Die meeste aspirant-rockers is Waterdraers. Psigiaters is altyd bly om ’n Waterdraer te behandel, want hulle bou nie net yslike lugkastele nie, hulle woon daarin én die dok vorder elke maand die huurgeld in. Aquarius is sinoniem met conspiracy theories en raak by tye so paranoid dat hulle spieëls vermy of hulself begin verdink. Over geset synde: as jy ’n Waterdraer ken, wees goed vir hom, want verreweg die minste mense is gebore onder Aquarius, wat van hulle die bedreigde spesie van die Zodiak maak. 

Pisces: die Vis (19 Februarie - 20 Maart)

Visse ly erg aan delusies. Hulle vertel graag hulle is "old souls", maar die waarheid is dat hulle min, of geen kontak met die werklikheid het nie. Pisces is die grootste suckers vir piramiede- en Ponzi-skemas en hulle steek hulle drank weg in die geiser, toiletbak, swembadpomp, of in die bure se vistenk (waar water is). Visse is ontsettend sentimenteel. Hulle sulk by kerslig met goedkoop rooiwyn en skryf dan gedigte wat hulle in strepe op Facebook post. Verreweg die meeste Facebook-digters is Visse. As jy vir Vis gaan kuier, wys hy jou sy kamers vol kristalle – maar hy het spesiale klippe vir beskerming nodig om al die ontstuimige energieë in toom te hou. So byvoorbeeld kry ’n Vis onmiddellik ’n gemoedsbekakking as hy hom verbeel hy het ’n haai gesien. Moenie verbaas wees as Pisces jou herinner dat brains en beauty die kenmerk van hulle sterreteken is nie, want Einstein en Liz Taylor was Visse. Pisces word nogal gereeld opgemerk in die geselskap van Rastas (wat kakiebos in plaas van dope aan hulle verkoop), maar omdat hulle so deluded is, raak hulle maklik hoog op rooibostee (wat die Rastas ook aan hulle verkoop).  

  • 5

Kommentaar

  • Julio Agrella

    Ja nee kyk, hierdie Vis, vol kakiebos en rooibostee, het hierdie Horroscopes so geniet, hy skryf sommer 'n Facebook-vers!

  • Gerhard Potgieter

    Ja toe as gesoute Aquarius het ek vinnig deur die stort gespring net om seker te maak ek het dit vanoggend ook beleef.

    Dankie vir die lag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top