Traak-my-nie-agtigheid: “the most insidious danger of all”

  • 10

bettinawyngaard250x250Veroorsaak die klap van ’n skoenlapper se vlerke hier regtig ’n orkaan aan die ander kant van die wêreld? Is die Boeddhiste reg in hulle geloof dat ons ons eie moordenaars uitkies? Hoekom bly staan ons reg onder die fan as ons sien die paw-paw is op ’n intercept course daarmee?

Of anders gestel, is ons kortsigtig as ons nie oorsaak en gevolg vroegtydig voorsien en keer terwyl daar nog keerkans is nie? Ons kry die leiers wat ons kies. Ons kry die diens waarmee ons tevrede is. Dit wat ons toelaat, gaan voort.

Die taxi-geweld in Mamelodi herinner ons net weer daaraan. Forseer ’n groot groep mense in ’n te klein omgewing met te min hulpbronne, en jy het ’n wenresep vir konflik. Dis maklik om die apartheidsregering die skuld te gee vir die feit dat daar in die eerste plek ’n Mamelodi bestaan. Dorpe en stede is doelbewus beplan om swart mense so ver as moontlik van die sentrums van die dorpe weg te hou. Dit veroorsaak ’n behoefte aan openbare vervoer, want daar is eenvoudig net nie genoeg werk binne ’n plek soos Mamelodi, of Khayelitsha of Lwandle of enige van die ander townships nie. En mense verdien nie naastenby genoeg geld om hulle eie voertuie te bekom nie. Maar waar moet die blaam gelê word vir die feit dat daar die afgelope twintig jaar steeds nie doeltreffende beheer oor openbare vervoer bestaan nie? Lendelam busse en taxi’s is aan die orde van die dag. Daar is nie behoorlike treindienste nie. Enigeen wat soggens in spitsverkeer na ons stede sit, is bekend met die toneel van ’n bus wat breek en die verkeer ophou, of ander busse en taxi’s wat teen hoë spoed jaag en veiligheidsrisiko’s vir alle padverbruikers veroorsaak. Busse en taxi’s word nie gediens nie, en hulle word toegelaat om aan te hou ry totdat hulle breek, of in ’n noodlottige ongeluk betrokke is.

Ons is nou al so gewoond aan beurtkrag dat dit ons feitlik nie meer pla nie. Net wanneer Eskom vir tariefverhogings vra, begin ons mor, maar niemand roep Eskom op ’n behoorlike manier tot verantwoording vir die gemors waarin hulle ons land en ons ekonomie dompel nie.

Die regters van ons land het in ’n buitengewone stap bymekaargekom om stem dik te maak teen die politici. Miskien is ek onnodig sinies, maar ek wonder of dit sou gebeur het as die regering hulle nie op so ’n openbare manier die gesigvel afgetrek het met die al-Bashir-sage nie. Die hele wêreld het gesien hoedat die regering die howe die middelvinger wys.

Die Griekse ekonomie het inmekaar gevou op ’n manier wat nie onvanpas sou wees in ’n distopiese wetenskapsfiksieverhaal nie. Nou skielik onthou almal dat hulle die oudste Westerse beskaafde kultuur is. Maar het Plato nie juis in die grot-analogie van Die Republic ’n situasie voorsien waar ons so verblind sal wees deur ons eie leuens dat ons die waarheid as fabelagtig en agterdogwekkend beskou nie? En die waarheid is, baie eenvoudig: die Griekse situasie moes jare terug reggestel gewees het – die skrif was immers lank reeds aan die muur.

In Suid-Karolina is daar nou uiteindelik, na vele sielswroeging en gewring van hande, gestem om die gewraakte Confederate-vlag van die Capitol-gebou se gronde te verwyder. Sou dit gebeur het as ’n lid van die senaat nie onder diegene was wat gesterf het in die kerkaanval nie? Na elke onnodige swart sterfte op Amerikaanse grond was daar rassegeweld, en dit het nie die besluitnemers in die minste beweeg om radikale stappe te doen nie. Ergo, die feit dat een slagoffer ’n vooraanstaande persoon in ’n magsposisie was moes die besluit beïnvloed het.

Ek sien egter nie dat daar regtig hand in eie boesem gesteek word nie. Al-Bashir was die tipping point vir ons regters, maar hoeveel keer voor dit was die howe nie as politieke speelballe gebruik, en hulle het dit stilswyend aanvaar nie. Al verskil is dat hulle hierdie keer voor ’n wêreldgehoor, met rolspelers op internasionale vlak wat betrokke is, in die skande gesteek is. Dit kon nie meer net onder die mat ingevee word soos al die ander kere nie.

Het die Grieke nie goed geweet hulle is in die verknorsing nie en nogtans steeds voortgegaan op dieselfde pad, dieselfde manier, sonder om met enige erns die brieke te probeer optrek?

In elkeen van die voorbeelde hier bo genoem, is daar ’n skaal van swaarkry wat volg. Die armste mense word die swaarste getref deur enige ramp, ekonomies, natuurlik of moreel, juis omdat hulle nie oor die middele beskik om ’n buffer as voorsorg in te bou in hulle beplanning nie. Die rykes ervaar ’n bietjie ongerief, maar hulle kan iets doen daaromtrent, in stede van kla met ’n Banting-brood onder die arm. Sit Eskom die krag af, dan is daar ’n kragopwekker, of toestelle wat met gas werk, of ’n kaggel om hitte te gee. Die townshipbewoners het nie daai luukses nie – dis gellieblik en die gevaar van versmoring, of niks.

Staak die taxibestuurders, dan ry ons net in die gerief van ons eie voertuig met ’n ander roete werk toe, en kla oor die ekstra tyd wat ons op die pad deurbring. Vir diegene wat afhanklik is van taxi’s om by hulle werke te kom, beteken dit die verlies aan ’n dag se loon, dalk al wat tussen hulle en ’n week van tekorte staan.

En wat doen die res van ons? As die oortreders, en die besluitnemers, nie verantwoordelikheid neem nie, is daar nie ’n plig op ons gewone mense om hulle tot verantwoording te roep nie? “Speaking truth to power” is ’n frase wat mense graag in die rondte gooi, maar word dit gedoen?

Is ons nie stadigaan besig om toe te laat dat ’n nuwe “Kingdom of the Night”, soos wat Elie Wiesel die totale oorname deur die bose (in sy geval Nazi-Duitsland) genoem het, in ons wêreld en in ons tyd verrys nie?

In sy toespraak toe hy die Nobelprys vir Vrede ontvang het, maak Wiesel die volgende stelling: “Neutrality helps the oppressor, not the victim. Silence encourages the tormentor, not the tormented. Sometimes we must interfere. When human lives are endangered, when human dignity is in jeopardy, national borders and sensitivities become irrelevant. And action is the only remedy to indifference: the most insidious danger of all.”

Elke keer as Eskom die krag afsit en ons dit gelate aanvaar, word ons indifference groter. Elke keer as die regering sy eie mense, sy eie wette, sy eie reëls vertrap en ons stilbly, word die indifference groter. Elke keer as ’n enkele reg van ’n enkele persoon ingeperk word en ons niks doen nie, word dit makliker om die volgende keer stil te bly. En elke keer as ons net kyk na ons eie klein kringetjie en sorg dat net daai groepie oukei is, maak nie saak wat van die res word nie, dan word dit makliker om te vergeet ons is deel van ’n groter geheel. En dit word oor en oor en oor bewys dat indien een vergryp toegelaat word om voort te gaan, dit makliker is om ’n volgende, erger vergryp toe te laat. Bietjie vir bietjie, stukkie vir stukkie, word die Kingdom of the Night groter en ons keuses ten goede kleiner. En ons laat dit toe.

Wanneer Afrikaanssprekendes, en Afrikaners spesifiek, gal braak oor die feit dat hulle taalregte ingeperk word, en hulle vergeet van al die ander inheemsetaalsprekers wie se regte nog al die jare ingeperk was, verloor ons alreeds die morele hoë grond. Afrikaans aan universiteite word bedreig, ja. Maar wat van Xhosa, en Zoeloe en Sotho en al die ander taalsprekers wie nog nooit geleentheid gehad het om onderrig in hulle eie taal te ontvang op tersiêre vlak nie (en tot onlangs, nie eers op skoolvlak nie)? Ons is nie alleen nie. Ons word nie alleen verontreg nie, maar dis so maklik om net vir die behoud van ons eie stukkie te veg en te vergeet dat ons net een enkele noot in ’n hele simfonie is. Is ons blind vir die feit dat ons regte versterk word wanneer ons ander help om te verseker hulle regte word erken en uitgebou?

Of het ons alreeds ingegee aan die “most insidious danger of all”?

  • 10

Kommentaar

  • Want daar het nog nie 'n leier opgestaan wat meer oortuigend is as die media oor die magteloosheid van die individu nie. Sal jy ons lei? Ek belowe jou ek staan reg agter jou! As jy my kan oortuig dat jy Zuma en Putin kan verhoed om kernkragsentrales te bou en dat my twee wit dogters (m.a.w pale faces) hier in die land veilig kan bly tot hul as ou vrouens in hul beddens stil heengaan, en dat jy gaan verseker dat die reeds besoedelde water nie ook gaan opraak soos die elektrisiteit nie, dan word ek jou mees getroue ondersteuner! Asseblief die massas smag na 'n leier wat volgenswaardig is!!!!

    • Die probleem is dat ons in Suid-Afrika sit met 'n 'vervaardigde konsensus' waarin media, akademici, studente, skoliere, en elite almal dieselfde taal praat van die regeerder. Hulle almal het dit tot op ’n punt gemaak omdat hulle 'gehoorsaam' en 'passief' is en nie onafhanklik dink en optree nie. Die massamedia is pro die huidige regering, en geen afwykings word toegelaat nie. Daarom stel die mense nie meer belang in die politiek nie, ontleed eerder rugby en krieket, met groot sukses -want- daar kan hulle nog ’n verskil maak en ’n opinie uitspreek. Die massamedia gaan nie sommer alternatiewe leiers enige publisiteit gee nie. Diegene wat wel op die internet en sosiale media aktief is, is in 'n minderheid van ’n paar honderd duisend. En dit is nie genoeg om iemand bekend te stel, of om nuwe beleide te implementeer of nuwe leiers te skep nie. Die burgers se ontledende denke is in die wurggreep van propaganda vasgevang, en min weet hoe die wêreld werklik werk.

  • Anthony Wilson

    Bettina ek wil vir jou dankie sê vir ʼn baie profound artikel. Jammer maar die woord diepsinnigheid gee of het net nie dieselfde waarde nie. Glo my ek kyk uit vir jou artikels met elke eksemplaar. Jy en Jason Lloyd is twee mense wie ek nie graag mis wil loop nie. Ek het ʼn vrou, Baie groot Christen, wat my daagliks berispe oor betrokke raak en dat ek soms beter sal doen as ek net kan leer om dinge te ignoreer. Sy bedoel eintlik shut up maar sy’s te goed groot gemaak om so ongeskik te wees. Ek is nou eenmaal net nie so aanmekaar gesit nie. Ek moet mense soms daaraan herinner wanneer ek baklei of kritiek lewer dan is dit nie die Evangelie nie maar die Speedo die kunstenaar wat praat. Want ek glo kuns MOET eerlik wees, want indien nie, kan jy maar los! Kom ek vertel jou oor ons hier in Eersterust wat net langs Mamelodi is waaroor jy so goed skryf. In Eersterust in Nantes is daar tweekamerhuise gebou en daar was op ʼn kol besluit dat dit nie goed is vir mense om so te bly nie en daar word toe ʼn gebied Nellmapius ontwikkel om juis dié mense te verskuif. Toe gebeur demokrasie en die mense is almal hulle huise kwyt want toe kom die ANC en jy weet waarvoor gebruik hulle huise en Food Parcels! Dieselfde het gebeur in Midrand met ʼn plek met die naam Rabie Ridge, geen bespiegelings na wie dit vernoem is nie, en die huise word weereens uitgegee nie aan mense vir wie dit beoog was nie. Die ANC het net kom oorvat soos met alles – niks self gebou nie behalwe RDP huise en Stadions vir die Wêreldbeker en nuwe name kom uitdink soveel so dat jy met ʼn GPS in die land verdwaal. Eersterust self is net so oortrek vanaf ons skole, stadsrade en die begraafplaas is heeltemal vol want selfs dié mense se dooies neem ook oor! En dit gebeur omdat, soos jy tereg sê, ons toelaat dat die “Kingdom of the Night”, oorneem! Alles gebeur omdat ons anderkant kyk en as ek goed daaraan toe is, is die armes wie so geboelie word nie my probleem nie.

  • Baie insiggewende artikel en dit laat mens bepaald dink en noop om bietjie dieper na ons samelewing en die huidige verval van basiese dienste en strukture te kyk. Maar het ons enigsins nog die energie, of bloot 'n intense belangstelling?
    Bettina Wyngaard krap hier aan senuwees wat daagliks, weekliks en jaarliks meer en meer disfunksioneel raak. Wat sy sê in terme van my en baie van ons se reaksie in die algemeen oor al die nie-voldoening van ons regering en stelsel is so raak, binne in die kol.
    Ons het stelselmatig afgestomp geraak en gee deesdae nonchalant die koue skouer vir meeste van die fiasko’s. Solank ons net OK is. Ons kyk nie meer die movie nie want ons het belangstelling in die storielyn verloor en die akteurs staan ons ook nie aan nie.
    Sy skryf egter die volgende en ek haal aan: "In elkeen van die voorbeelde hier bo genoem, is daar ’n skaal van swaarkry wat volg. Die armste mense word die swaarste getref deur enige ramp, ekonomies, natuurlik of moreel, juis omdat hulle nie oor die middele beskik om ’n buffer as voorsorg in te bou in hulle beplanning nie. Die rykes ervaar ’n bietjie ongerief, maar hulle kan iets doen daaromtrent, in stede van kla met ’n Banting-brood onder die arm. Sit Eskom die krag af, dan is daar ’n kragopwekker, of toestelle wat met gas werk, of ’n kaggel om hitte te gee. Die townshipbewoners het nie daai luukses nie – dis gellieblik en die gevaar van versmoring, of niks."
    En dis ook in die kol maar ek kan nie help om te wonder waar sien sy die "middelklas" in terme van die hele debakel en daaglikse verswakte sosio-ekonomiese toestande? Of het dit reeds waar geword? 'n Suid-Afrika met net twee klasse in die samelewing? Die een waarvan ek vir jare al lees en 'n goeie vriend teen gewaarsku het in die middel neëntigs.
    Ek glo nie die middelklas het al verdwyn nie Bettina. Daardie groot klas saamgestel uit die landsburgers wat nog werk en ook klein besighede het. Die wat die grootste gedeelte tot die staatskoffers bydra in die vorm van belasting. Derhalwe het hul nie altyd geld vir kragopwekkers, sonkrag, tolgeld en windgat nuwe karre nie. Hulle begroting skud elke maand in sy fondasie met ’n verhoogde petrolprys, kragtariewe en pryse vir basiese behoeftes in winkels. So hierdie klas kan nie ongekend gelaat word, of uit die prentjie gelaat word nie. Hulle is hopeloos te belangrik en sonder hulle het ons niks ... soos in NIKS. Hierdie gedeelte van ons samelewing kry net so swaar soos enige agtergeblewene wat staat maak op die goedgunstige hand van die Regering wat die geld aan hulle uitdeel wat hul van die middelklas kry. Dit natuurlik na hul hulself en amptenary gevoed en hul groot finansiële dors geles het.
    Vraag behoort ook derhalwe te wees: " Hoe lank nog voor die borrel bars en hierdie middelklas-gans wat die goue eiers lê ophou lê?"

  • Christo Du Toit

    Baie insiggewende artikel, ek is bevrees dat hierdie artikel by hoofsaaklik afrikaners gaan uitkom en hulle sal 99% daarmee saamstem. My kommentaar is dat hierdie artikel in Engels vertaal moet word en op enige denkbare wyse by die besluitnemers van hierdie mooi land van ons moet uitkom, anders het hierdie mooi woorde waarskynlik net op dowe ore geval.

  • Marieka Visage

    Ek het dit geniet om die artikel te lees. Komende uit 'n vroeër geslag as die skrywer moet ek egter daarop wys dat die gewraakte Bantoe-onderwys juis vir moedertaal onderrig in die laerskole voorsiening gemaak het.

    • Juis, dit is swart mense wat nie hulle eie taal in die skole wil toelaat nie. Daar word al lank deur Afrikaanssprekendes gevra dat laerskool-onderrig in hul moedertaal moet wees.Sonder sukses.

  • Al wat oorbly is dat ons nie meer 'n sê het nie en alles gelate moet aanvaar volgens hulle "wille". Dit is so tragies, maar ons is in die minderheid. Stadig maar seker gaan ons hierdie afdraande pad na 'n groot afstorting tegemoet en op die ou einde sal die ou siniese lot dan eers besef wat gebeur het. Dit sal te laat wees!

  • Ek herinner my aan die padda in kookwater-eksperiment. Daardie een waar padda se kind doodtevrede in de pot water sit terwyl dit verhit word. Stelselmatig. En hy word gewoond en aanvaar die verandering. Tot die water kookpunt bereik en hy die einde van sy lewe bereik. Ek is ook skuldig aan hierdie niksdoen-sindroom! Want ons word geleer om nie "waves" te maak nie, dis mos glo barbaars! Dankie, hierdie artikel speek in duidelike terme tot my rebelse self!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top