Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Journal entries vannie eeste dag.

  • 0

 Die jaarlikse Toyota Stellenbosch Woordfees vind plaas 3 tot 11 Oktober 2026. Dié jaa is my kortverhaal “Nagwaak” opgeniem innie Woordfees-kortverhaalbundel. Ek was uitgenooi na die bekendstelling vannie bundel waarie wenner vannie kortverhaalkompetisie oek announce was. Ek vertel graag oo die die eeste dag vannie fees gevul met teater, boeke, skrywers en wyn.

Saterdag 3 Oktober 2026

12h00–13h00: My kind druip

Ek hou van ’n stage wat reeds movement het assie gehoor instap. Joshwin Dyson vertolk die rol van Theodore Beukes, ’n wiskunde-onnie wat dwaal oppie stage wat lyk soese klaskamer. En as allie kaartjiehouers hulle sitplekke ingeniem het, kom Shimmy Isaacs ingery op ’n bike. Sy speel ’n skoolkind met haa eie demons en struggles. Sy sukkel om in te pas innie tradisionele skoolsisteem, wat betieken die kind gan druip. Die play onthul meneer Beukes se liewensverhaal om haa te usher na ’n twiede kans.

Die play is ’n comedy wat die gehoor laat swel met laughter. Beide Dyson en Isaacs, wat verskeie rolle speel innie show, se comedic choices voel natuurlik en effortless. Dit scaffold die spelers se spoedige spring tussen karakters en wardrobe changes. Wannee die skoolkind ’n boek getitel My kind druip optel, ontvou die toneelstuk in ’n snaakse dog teer coming-of-age story.

Innie play issie boek geskryf deu meneer Beukes se ma. Dit track sy liewe as iemand wat kom vanaf ’n long line of teachers en rugbyspelers. Meneer Beukes was ’n uitblinker oppie rugbyveld, maa hy het gesukkel mettie skoolwêk. Dit het daa’toe gelei dat hy graad 10 druip. In regte liewe is My kind druip ’n boek oorie ware verhaal van Charisse Beukes. Isaacs het dit adapt into a play. Dit is skerp om gebruik te maak vannie source material as ’n prop en story catalyst.

Die play is minner suksesvol assit attempt om emosionele en intieme oomblikke te skep. Terwyl die spelers gevoelens van hartseer en teleurstelling meesterlik embody, smag die karakters se woorde en narrative choices na meer diepte en gewig. As gevolg hievan voel die play by siekere scenes te stadig. Veral wannee stilte gebruik wôd om emotional stakes te heighten wens ek die karakters het liewers tyd gevat om hulle seer, verlies, wanhoop en guilt te investigate.

Die moral van My kind druip kom crystal clear deu. Ek dink dis ’n belangrike offering an kinnes, en ouers, wat sukkel om te voldoen annie exclusionary expectations van archaic skoolstrukture. Die play skyn ’n lig op twiede kanse en alternatiewe maniere om te leer. Dit skree dat niemand hoef agte’gelaat te wôd nie.

13h00 tot 14h00: ’n Dubbeldosis kortkuns

Die gesprek was tussen Anna-Bet Stemmet en Frederick Botha oo hulle debuutbundels. Stemmet se Goed wat gebeur het met mense op plekke wôd beskryf as ’n samestelling van “meestal selfbeleefde dinge”. Die boek, uitgegee deu Turksvy Publications, experiment met kortvormige fiksie, essays, family photos en prentjies.

Stemmet noem dat meeste van haa writings is ’n opportunity om vi ieman te sê: “Hey man, ek het hierdie ding ervaar, kom ek vertel jou daarvan.” Wannee Botha haa vra hoekom sy gekies het om te skryf oo persoonlike ervaringe, bring Stemmet ’n quote van Ernest Hemingway op: “All you have to do is write one true sentence. Write the truest sentence that you know.”

Botha se debut short story collection, Seuns weet, is ’n coming-of-age narrative wat deal met sexuality, manlikheid, familieverhoudinge en geloof. Die stories map die liewe van ’n central ek-verteller, sy relationship met plek, tyd ennie mense en gebeure om hom.

Stemmet plaas Seuns weet, uitgegee deu Protea Boekhuis, binne die genre van auto-fiksie. Botha stem saam en bevestig dat hy deu dié genre sy persoonlike ervaringe kan verweef in ’n groter tematiese narratief. Maa wat is genre nou rêrag, voel ek Botha vra wannee hy die idea van autobiographical writing uitdaag. Hy argue dat elke artist, maakie saak in watter medium of genre hulle wêk nie, se approach tot kuns kom uit ’n persoonlike plek.

Tydens die gesprek hettie writers gereeld verwys na the art of short prose writing. Albei skryf al kortverhale van jongs af en is oek gepubliseer innie Woordfees-kortverhaalbundel. Daa is vanaf hulle ’n genuine passion en concern virrie vorm. Botha maak it clear dat kortverhale nie net kort stories is nie. Hy noem dattie vorm maak gebruik van allie narratiewe elemente wat romans tot hul beskikking het.

Wat hom bekoor van kortprosa issie beknoptheid daarvan: dat dit die skrywer challenge om te eksperimenteer met woordekonomie. Hy sê dit laat jou toe om ’n hele wêreld vas te vang met min woorde.

Stemmet is wee fascinated deu die opportunities wattie lengte van short prose haa biet. Asse working mom issit ’n manier om aktief annie skryf te bly. Dit allow haa om stories daa buite te kry. Dan kyk sy vooruit na die toekoms. Stemmet mention dat terwyl sy die kort genre beoefen gee dit vi haa kans om te droom, te beplan en te begin skryf aan langer stukke.

14h00–16h00: PEN Afrikaans Skrywersrus

Na ’n Dubbeldosis kortkuns het Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans, en Bibi Burger, onnevoositter van PEN Afrikaans, my raakgeloep en genooi na Ou Hoofgebou. Hie maak PEN Afrikaans lokaal 1028B available an writers, journalists en book discussants om dalk ’n blaaskans te vat, dalk met behulp vannie free wi-fi en lessenaars bietjie wêk te doen, of om net ’n koppie drinkgoed te geniet.

Toe ekkie kamer instap het ek onmiddellik gebruik gemaak vannie plugs om my phone te charge. Wessels explain dat, as eeste dag vannie ruskamer en fees, is daa ekstra snacks en ’n glasie wyn beskikbaa vi PEN-lede. Nie lank nie en ek sit met ’n glas chenin blanc, biltong en sausage rolls in ’n piering biesag om te gesels saam Naidene Lottering oo alles poetry.

17h30–18h30: Writers on writers: The Young Guns

Die boekgesprek moes gebeu tussen Mia Arderne, met haa nuwe boek How to stop being a naai, en Zubayr Charles wat dié jaa ’n poetry collection en sy debut novel, Haram (Kwela Books), uitgebring het. Maa Arderne kon dit ongelukkag nie maak. Dianne du Toit Albertze, wat al geskryf het oo Charles se boek en stage plays, het dus die gesprek gelei.

Albertze het onmiddellik weggespring met ’n onnesoek oo hoe queerness en religion intertwine across Charles se skryfwêk. Veral in Haram vind die leser ’n queer Muslim-karakter wat kom vanaf ’n strict en sheltered upbringing. Omdat die verteller struggle met shame, identity en belonging innie context van sy religion en community, kom solace vi hom net innie vorm van alcohol (wat haram oftewel forbidden in Islam is). Die moeilikhede lei tot addiction, recklessness ennie verswakking van sy mental health.

Charles veduidelik dat hy wou reflect oo Cape Town se nightlife culture en hoe ’n jong queer persoon wat unsure is oo hulleself vinnag daa’deu mislei kan wôd. Hy vertel dat vi meeste 17- en 18-year-olds, especially nuwe matriculants, het partying in Long Street ’n rite of passage gewôd. Growing up Muslim het hy altyd gewonne wat die first-night-out tradition vi hom betieken. En mettie skryf vannie boek wou hy die conflict explore. Sowel as watte opportunities en dangers dit sou bied vir ’n queer persoon wat nog lee om deurie liewe te navigate.

Albertze het vir ’n oomblik parkeer by die shame wat soveel LGBTQ bodies ervaar. Die theme of shame point sy uit innie ek-verteller se relationship met sy ma. Charles het daa’oo uitgebrei: Die hoofkarakter hette close en ampe boundaryless verhouding met sy ma. Sy moes hom alleen grootmaak nadat sy pa weggeloep het. Charles noem dat even though hulle soes beste vriende is, issie karakter nog steeds te bang om sy onsiekerheid oo sy sexuality met haa te verbalise. Wannee Albertze vra watte advies die skrywer het vi jongmense wat deal met daai shame, joke Charles dat TikTok is ’n goeie therapist.

Op ’n ernstager noot sê Charles dis belangrik dat kinnes toegelaat wôd om language te gie an wat om, en met, hulle gebeu. Die author wonne of struggles met shame dalk gecombat kan wôd as queer kinders iemand het saam wie hulle openlik kan gesels.

19h00–20h00: Bekendstelling vannie 2026 Woordfees-kortverhaalbundel: Dis Hoog Tyd!

 Die jaarlikse Woordfees-kortverhaalbundel was gelaunch in Stellenbosch Stadsaal. Soes gewoonlik issie titel vannie bundel Dis Hoogtyd!, benoem na die current fees se theme. By die die event was my storie, “Nagwaak”, announce assie wenner vannie elfde kortverhaalbundelkompetisie. Ek het ’n oversized novelty tjek van R30 000 ontvang vanaffie borge, EasyEquities, die LW Hiemstra Trust en PEN Afrikaans.

“Nagwaak” is ’n studie oorie leemtes, vrae en openbarings wat kom mettie grief vanne oorlede kind. Dit fokus oppie ervaringe van dié kind se bedroefde ouers en hoe loss hulle relationship met mekaa, ennie self, beïnvloed. Die setting vannie storie is Paarl ennit gebruik my hometown se taal, en geografiese features en omskep my mense se persoonlike en historiese loss into an elegy. Suzette Myburgh, wat al vanaffie eeste bundel in 2016 sameroeper vannie judges is, het genoem dattie storie “is ’n meesterklas in subtiliteit”.

Dis Hoogtyd! bevat 25 stories wat gekies was uit 471 inskrywings. Award-winning poet Lynthia Julius, wattie kortverhaalprys in 2022 gewen het, se storie “Koue derms” is oek innie boek opgeniem. In haa 2022-wenverhaal, “Plat lê soos ’n Minora blade”, het Julius vi Jesus Christus reimagine en immerse innie liewe van ’n working-class man wat Vrydae na chaila-tyd biere drink en as hy dronk is, huilend Judy Boucher se songs sing. In “Koue derms” beoefen sy dieselle sharp technique.

Julius verdrai en verbreed religious myths om spasie in te skryf virrie daaglikse bestaan van coloured persone. Die bestaanswêreld is van queer vroue innie Noord-Kaap sowel as mans wat domestic abuse ervaar ennie polisie en gemeenskap se interaksie daa’mee. Nes Julius se poetry collections ontleed sy oekie saamleef met suicidal ideation en attempts.

Gaireyah Fredericks se verhaal “Journal entry No 3046” verskyn oek innie kortverhaalbloemlesing. Nes haa bekroonde debuutkortverhaalbundel, een voet innie kabr, is die storie oek geskryf in Kaaps en Cape Muslim Vernacular. Annie einde vannie storie is daa ’n glossary wattie Arabiese woorde en uitdrukkings verduidelik. Fredericks laat die leser toe om in te loer oppie dynamics tussen twie jong susters. En op watte maniere disability en family expectations dit kompliseer. Sy gebruik die beauty en gevaar vannie see en weave dit met religious recitation om ’n soeke na individualism te explore.

Myburgh explain dat dié jaar wassie meeste inskrywings wat hulle al ooit ontvang het. Sy contemplate offie toename dalk as gevolg is van verbeterde AI-generating programmes. Terwyl dit moeliker raak ommie gebruik van large language models te spot, versieker sy die deelnemers dattie gekiesde 25 stories kry reg om te doen wat AI nie kan nie. Sy noem daa is subtle keuses, quirks en inclinations in die stories wat net deu mens se kreatiwiteit gemaak kan wôd.

Lees ook:

Persverklaring: Paarliet wen 11de Woordfees-kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top