Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Jeanetta Basson

  • 0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Foto van Jeanetta Basson: verskaf

Jeanetta Basson vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Jeanetta, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

"Blind" is basies ’n verhaal van oorlewing in die huidige Suid-Afrikaanse maatskaplike, politieke en sosiale situasie. Die geskrewe woord dien vir my as ’n terapeutiese proses, ’n ontvlugting, ’n verbeeldingsvlug en ’n klankbord vir gevoelens, gedagtes en opinies.

Ek is ’n ywerige leser. Ek lees alles vanaf wetenskapfiksie tot poësie. Ek glo dat dit, behalwe vir die kennis wat jy daardeur opdoen, ook gedurig jou brein stimuleer (asook jou verbeelding en dat dit inspirasie bied). Ek hou daarvan om mense te bestudeer. Met ’n fyn waarnemingsvermoë (kyk en luister), baie empatie en ’n bietjie verbeelding, kan baie aangrypende verhale geskep word – wat baie keer nie ver van van die waarheid af is nie.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

"Blind" is ’n tipiese voorbeeld van situasies wat algemeen in ons samelewing voorkom. En nie elke storie het ’n goeie uiteinde nie. Die skryfproses van “Blind” was ’n byna-outomatiese ontlading van empatie. Dit is vinnig geskryf, in die oomblik. Sonder enige beplanning, afronding of redigering. Net so. Ontlading.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek beplan om soveel as moontlik te sien en te ervaar by die Woordfees as wat ek kan inpas gedurende die twee dae wat ek daar kan wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top