Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Isabel Martinson

  • 0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Isabel Martinson vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Isabel, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

My verhaal spruit uit my absolute romantisering van die idee van ’n gesonde gemeenskap. ’n Gemeenskap in die sin van die woord waar mense nog vir mekaar omgee. En besef dat hulle nie afsonderlik kan bestaan nie. Dat ’n mens nie onaangeraak deur die lewe kan gaan nie.

Die teenoorgestelde daarvan is superindividualisme. Die siekte van ons tyd. Waar elke stokstertmeerkat, vreeslik trots, op sy eie mishoop probeer wurms uitgrawe. Heel te trots om te erken dat hy/sy kniediep in die moeilikheid is.

Wat sake vererger, is dat die pretensie verder gevoer word op sosiale media. Totdat mens te bang is om te erken dat dit nie besonder fantasties met jou vandag gaan nie. Dat dit eintlik al jare nie besonder fantasties gaan nie. Dat jy 3 000 vriende op Facebook het, maar niemand het om jou hart mee uit te praat nie.

Onlangs, tydens die piek van die brande in Australië, het iemand gesê dat die mens gaan moet van voor af leer om kollektief te leef. Want die rampe tref ons as ’n eenheid. Nie as individue nie.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Ek wou graag iets hogere skryf. My styl is gewoonlik baie lig. In my kop is “hogere” = ernstige kwessies. Toe dwing ek myself om oor iets te skryf wat my al lankal pla. Maar, helaas, op die ou end was die storie toe nie iets “hogere” nie.

Dit is ook uit die oogpunt van ’n optimis geskryf. Menige realis sal kan daarop kan wys dat die verhaal waarskynlik in die regte lewe heel anders sou verloop het.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek sal baie graag eendag die Woordfees wil bywoon. Op die oomblik is dit ongelukkig nie vir my beskore nie. As ek vanjaar sou kon kom, sou ek Die avonture van Robin Hood, Goeienag, edele prins en Dude, wa’s my bakkie? wou sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top