
Cintaine Schutte en Crystal-Donna Roberts (foto: Nardus Engelbrecht)
............
Judy en Johnny is ’n paartjie wat vreeslik gelukkig getroud is. Soos wat mense in die 1950’s gelukkig getroud was. Byna soos in die ou grappie - die een is gelukkig en die ander een is getroud.
..............
Judy en Johnny is ’n paartjie wat vreeslik gelukkig getroud is. Soos wat mense in die 1950’s gelukkig getroud was. Byna soos in die ou grappie - die een is gelukkig en die ander een is getroud.
Judy, gespeel deur Cintaine Schutte, het haar goed betaalde werk opgegee om eerder ’n tuisteskepper te wees. Letterlik. Die tuiste wat sy vir haar en Johnny skep, is reg uit die 1950’s, kompleet met gevulde eiers, ’n geel emaljetafel en ’n temperamentele blou yskas wat darem soms werk. Hulle hele bestaan in die hedendaagse lewe weerspieël die 50’s. Hulle kyk nie TV nie, gebruik nie selfone nie (of so sê hulle), luister net na musiek uit die era en Judy dra vir Johnny (Wessel Pretorius) op haar hande in haar pragtige rokke in die styl van die tyd. Hulle kuier ook gereeld saam met hulle vriende, vertolk deur Crystal-Donna Roberts en Carlo Daniels, en two-step die sitkamer aan die brand.
Judy se ma is die stem van rede. En wat ’n stem! Amanda Strydom steel die hele vertoning met haar vertolking van die ma wat sukkel om haar dogter se keuses te verstaan en ook uiteindelik uitwys hoe die lewe werklik was, veral vir vrouens, in die 1950’s. Amanda het kort-kort die gehoor laat skater met van die beste en snaakste dialoog in die toneelstuk. Een voorbeeld hiervan is waar sy na die blou yskas kyk en haar bedenkinge het oor die kos wat daarin is en nie regtig koud is nie. Sy sê dan iets in die lyn van ’n yskas wat nie werk nie, is seker maar net ’n kas.
Soos te verwagte, val die wiele dan uiteindelik van die Cadillac af, by wyse van spreke. Johnny moet uitvind dat Judy dinge vir hom wegsteek en Judy vind uit dat die 50’s dalk nie vir Johnny so rooskleurig is as wat sy glo nie. Boonop het sy baas, vertolk deur Veronique Jephtas, moontlik iets daarmee te doen. Of dalk nie.
Die akteurs was almal uitmuntend en die stel laat ’n mens verlang na jou ouma. Miskien lewer dit ook kommentaar oor hoe jong mense van vandag dalk hunker na ’n tyd wat hulle glo meer eenvoudig was. Dis natuurlik nie die geval nie, want elke era het sy eie probleme. Die toneelstuk gaan jou laat lag, maar ook laat dink oor die rolle wat mense speel en van mekaar verwag.
Lees ook:
Tuis, ek’s liefie by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Cintaine Schutte
Tuis ek’s liefie by die Toyota US Woordfees 2023: ’n Instagram-resensie