Toyota US Woordfees 2020: Liza Joubert oor stilfilms en musiek

  • 0

Liza Joubert gaan tydens vanjaar se Toyota US Woordfees stilfilms begelei. Sy vertel vir Naomi Meyer wat dit behels.

Liza, jy bied ’n unieke produksie by die Woordfees aan. Wil jy vertel wat dit behels?

Ek was nog altyd ’n fliekvlooi en wou nog altyd stilrolprente begelei. Ek het grootgeword met Charlie Chaplin- en Laurel and Hardy-films. Die benamings "stilrolprent" of "silent movie" is retronieme en misleidend – byna vanuit die staanspoor is hierdie films begelei deur musiek. In kleiner teaters was daar gewoonlik ’n pianis wat óf geïmproviseer het, óf spesiaal-gekomponeerde musiek gespeel het. In die groter teaters is fliekgangers bederf met die spesiaal-ontwerpte teaterorrels (Wurlitzer was seker die bekendste vervaardiger van hierdie orrels) of selfs ’n teaterorkes. 

Charlie Chaplin, Stan Laurel en Oliver Hardy (fotobron: Wikipedia)

Ek het die vier films uit die tydperk 1912–1920 gekies met hedendaagse gehore in gedagte. Daar is twee uurlange programme wat elk twee films bevat, en elk twee keer gewys gaan word – dus vier vertonings altesaam. Daar is "slapstick" komedie, daar is tranetrekkers, daar is lag-met-'n-traan, daar is wêreldbekende name, daar is onontdekte diamante ... maar die vermaaklikheids- en historiese waarde van elkeen is hemelhoog.

Ek gaan vir my Woordfees-films inderdaad so na as moontlik bly aan die uitvoeringspraktyk van daardie tyd. Dit beteken ek gaan ’n mengsel speel van voorafbestaande musiek (bv 'n bietjie Chopin, Brahms en ragtime), spesiaal-gekomponeerde filmmusiek (bv die klaviermusiek van JS Zamecnik, wat toentertyd buitensporig gewild was onder filmpianiste), en improvisasie. Ek vermeng die drie elemente na hartelus! Omdat die Pulp Cinema-teater nie baie groot is nie, is dit ideaal om daar films met klavierbegeleiding aan te bied.

Is hierdie films wat by die Woordfees vertoon, ’n reis terug in die tyd? Was dit wat jy gaan doen, werklik soos wat filmteaters in die "ou tyd" gewerk het? Vertel my van daardie "ou tyd", asseblief. Hoe het jy jou navorsing oor die films gedoen? En wat kan jy vir Woordfeesgangers sê van die films waarvoor jy die klankbane gaan verskaf?

Die meeste van my navorsing is prosaïes genoeg op die internet gedoen. Die films wat ek gekies het, is beslis 'n nostalgiese reis na die verlede. Ek het ’n komediegleuf en ’n dramagleuf saamgestel. Die twee komedies wat ek gekies het, was nog altyd redelik bekend onder historiese filmliefhebbers, maar – baie opwindend vir my! – die twee ernstiger films het beide eers betreklik onlangs, in die 21ste eeu, weer aan die lig gekom. Buiten die nostalgiese element is daar dus ook die drang om hierdie kunswerke aan ’n nuwe geslag toeskouers en toehoorders bekend te stel. Dit sal wonderlik wees as die Woordfees-aanbod 'n nuwe belangstelling in (sogenaamde) stilrolprente kan aanwakker, tesame met die waardering vir 'n nuutgeskepte klankbaan wat nommerpas is vir elke film! 

Die twee komedies, The scarecrow (Buster Keaton, 19 min, 1920) en The immigrant (Charlie Chaplin, 24 min, 1917), is saam minder as 'n uur lank, maar gee 'n uitstekende idee van die twee meesters se verskillende style. Buster Keaton se "deadpan" gesig en sy fisiese grapjas-Vaudeville-komediestyl kontrasteer skerp met Charlie Chaplin (as "The tramp") se uitdrukkingsvolle gesig en emosiebelaaide toneelspel, maar al twee films eindig op 'n soortgelyke hoë noot - ek durf niks meer verklap nie! Die twee films wys rug aan rug Saterdag 7 Maart om 14:00 en weer Maandag 9 Maart om 18:30.

Dan is daar die twee dramas, Falling Leaves (Alice Guy-Blaché, 12 min, 1912) en Anders als die Andern / Different from the Others (Richard Oswald, 50 min, 1919), wat weer interessante kontraste skep met betrekking tot die onderwerp, die plekke waar dit gemaak is, die akteurs, asook die speellengtes. Twee aspekte wat vir hedendaagse gehore aantreklik mag wees, is die geskiedenis van hierdie films en hul uiteindelike rekonstruksie (beide was lank haas onverkrygbaar), asook die feit dat Alice Guy-Blaché van 1896 tot 1906 na alle waarskynlikheid die enigste vroulike filmmaker ter wêreld was, en dat Anders als die Andern na alle waarskynlikheid die eerste pro-LGBTQI-film was. Die twee wys rug aan rug Sondag 8 Maart om 12:30 en weer Woensdag 11 Maart om 18:00. 

Veral die geskiedenis van Anders als die Andern lees soos ’n dramatiese speurverhaal! Die film gaan oor die vernietigende impak wat die berugte Paragraaf 175 van die Duitse regstelsel gehad het op veral homoseksuele mans. Die paragraaf, wat in verskeie vorme van 1871 tot 1994 in Duitsland van krag was, het homoseksuele dade tussen mans as onwettig verklaar en ongeveer 140 000 mans altesaam is hieraan skuldig bevind. Een van die akteurs is Magnus Hirschfeld (1868–1935), ’n Joodse gay sielkundige en seksuoloog wat as homself in die film optree en in die film 'n openbare lesing gee ter aanvaarding van alternatiewe seksualiteite. Die film was vir die eerste jaar na die uitreiking daarvan baie gewild en het voor propvol sale in Duitsland gedraai. Toe is dit verban nadat dit wydverspreide kontroversie veroorsaak het, en die Nazi's het uiteindelik alle bestaande kopieë verbrand – op een gehawende kopie na, wat in die 1970's in die Oekraïne gevind is. Uit hierdie kopie, en met verskeie slim planne om die vermiste dele ten beste te probeer invul, is daar in die afgelope dekade dan van die oorspronklike 80–90-minute-film een gemaak van net onder die 50 minute – en dit is al wat ons seker ooit sal ken as Anders als die Andern.... (Conrad Veidt, wat die manlike hoofrol speel, het in 1920 internasionale roem verwerf as die moordlustige slaapwandelaar in The cabinet of Dr Caligari.)

Ek kan nog soveel interessanthede kwytraak oor al die films, waarvan ek ’n paar maande gelede nie een geken het nie. Die navorsing vir hierdie filmprojek is ’n nimmereindigende en fassinerende doolhof waaruit ’n mens net nooit wil ontsnap nie! 

Uit ’n musikale oogpunt: Hoe weet mens watter musiek hoort by watter beeld? Speelsheid, drama, ens? Ek neem dus aan jy (a) komponeer of improviseer gereeld en (b) ken filmklankbane goed! Dalk kan jy sommer ook vertel van ander navorsing waarop jy jou al toegespits het. Ek dink nou aan ’n aanbieding by ’n leeskring ’n jaar of meer gelede toe jy Amerikaanse salonmusiek gespeel het. Brei asseblief uit oor die soort musiek waarin jy geïnteresseerd is en wat jy graag speel.

Die lekker deel vir die pianis is natuurlik om die klankbaan op te maak! Ek was verras om te hoor hoeveel verskille daar in die beskikbare klankbane vir dieselfde film is. Dit is dan ook wat die lewende uitvoerings van stilfilmklankbane so spesiaal maak – letterlik elke uitvoering kan totaal anders wees, in sterk teenstelling met spesifiek-gekomponeerde klankbane vir latere films. Ideaal gesproke (en hier haal ek graag die klankbaanspesialis en -skepper Ben Model aan) moet die musiek mooi genoeg wees om na te luister, maar nie so mooi dat dit die aandag weglok van die film nie. Die pianis skep basies die stemming vir elke toneel. Wat die toeskouer hoor, hang dus noodwendig van elke pianis se ervaring af. In my geval het ek oa geput uit my ervaring en kennis van Romantiese klavierkomponiste, ragtime-klaviermusiek, Oos-Europese en Jiddisje volksmusiek, Amerikaanse parlour-musiek, Duitse en Franse kabaretmusiek, improvisasie en musiek van gay ikone soos Zarah Leander, Edith Piaf en Prince. My ervaring van improvisasie in die kontemplatiewe styl van die Taize-kerkmusiek, asook my kennis van avant-garde uitgebreide speeltegnieke van komponiste soos Cage, Cowell en Stockhausen en Fazil Say het ook ’n invloed. (Verlede jaar het my produksie Vredeklawers op die Woordfees gedebuteer in ’n stampvol Fismersaal – maar hierdie projek is weer iets heel anders.)

My oogmerk is om elke film op subtiele wyse te ondersteun sodat dit vir elke toeskouer die beste ervaring moontlik kan wees!

Na watter produksies sien jy self op die program uit?

Ek sien die meeste uit na Goeienag, edele Prins, 'n soloherverbeelding van Hamlet, wat die naweek van 13–15 Maart deur Pieter van Zyl aangebied word, asook na Gerhard Marx se visuele-kuns-aanbieding. 

 

Kom kyk by die Toyota US Woordfees na
Liza Joubert begelei stilfilms: 8 & 11 Maart by Pulp Cinema Neelsie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top