
Foto: Woordfees
Naomi Meyer praat met drie van die akteurs in Woordedief, wat vanjaar as deel van die Kinderfees by die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke is.
Hallo! Wie is jy in Woordedief? Vertel my bietjie van jouself en van jou karakter.
Kerscha: Hallo, ek is Kerscha Titus. Ek is maar ’n eenvoudige meisie van Parow Valley wat hou van kinders vermaak (en koekies eet). Ek vertolk die rolle van Slimmie Bimmie, Howard Hond en Zietie die By. Slimmie Bimmie is die slimste woordboukabouter en sy is versot op lees. Howard hond is ’n spelerige plaashond in die storie “Pol Pou kry ’n werk”. Zietie die By is deel van die storie “Diere en hulle maniere”, en sy is ’n by wat eintlik net ’n feetjie wil wees.
Mia: Hallo, my naam is Mia van der Merwe. Ek speel Riekie Tiekie, die jongste woordboukabouter. Dan is ek ook Keeza Kat en die Uwe Koningin By! Ek is 24 en act al vandat ek kan onthou. Die kinderteater voel vir my soos speel en my ma spog altyd dat ek as kind regtig geweet het hoe om te speel. My verbeelding is eindeloos!
Eldon van der Merwe: Ek vertolk vier van die karakters in Woordedief en elkeen van hulle het sy eie, unieke persoonlikheid. Eerstens is dit Sokkie Tokkie, ’n energieke kabouter wat eerder net die heeltyd wil dans. Tweedens is dit Hendrik Haan, ’n streng hoenderhaan wat in beheer van alles wil wees. Derdens vertolk ek die rol van Robbie die Robot, met ’n lyf van staal, maar ’n baie sagte hart. Laastens is ek Hommel die Heuningby.
Wat is vir jou die lekkerste deel van hierdie storie?
Kerscha: Die lekkerste deel van hierdie storie is al die karakters wat lewendig word soos die boeke gelees word. Daar is altesaam 14 karakters wat deel is van die storie, en elkeen is uniek op sy eie manier. Dis vir my lekker om te sien hoe my kollegas vlugtig en sonder moeite in elke karakter verander.
Mia: Die deel van die storie wat ek as mens die meeste geniet, is vir seker Wian Taljard se vertolking van die eintlike woordedief. Dit is ongelooflik snaaks en eg en die kinders is mal daaroor!
Eldon: Die lekkerste ding vir my in hierdie storie is die feit dat daar so baie verskillende stories ineen vertel word. Buiten die feit dat al die akteurs op die verhoog so talentvol is, is die storie vars en maklik om te verstaan. Nog een van die lekker dinge in hierdie storie is die feit dat die gehoor ook deel van die storie word op noodsaaklike oomblikke. Kinders leef hulleself in die storie in en so word ons as akteurs ook verryk.
Hoekom MOET jy hierdie vertoning by die Woordfees kom kyk?
Kerscha: Jy gaan definitief uitmis as jy hierdie produksie by Woordfees misloop. Woordedief is nie net opvoedkundig nie, maar dis kleurvol, komedies, magies en groot pret.
Mia: Almal moet die show kom kyk, want dis regtig ’n uur van pure pret! Die kleintjies geniet die vertoning op een vlak en die grootmense op ’n ander een. Mens kan jouself verras as jy jou toelaat om deel te neem en jou kinderlikheid in te leef.
Eldon: Woordedief is ’n gesinsvriendelike produksie, alhoewel dit op kinders gemik is. Daar is humor waarby beide oud en jonk aanklank vind. Dis definitief ’n moet-sien by vanjaar se Woordfees.
Klik hier om kaartjies te bespreek.
Lees ook:
Suidoosterfees Junior 2025: Woordedief, ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Mel vertel, Portchie paint!

